Die vesting se mure het geval

Die Hohensalzburg en die Salzachrivier (Foto: Verskaf)

In die magtige vesting, Hohensalzburg, wat uitkyk op die pragtige Salzachrivier, speel ʼn strykorkes die beste Mozart-musiek in dié komponis se geboortestad.

Hulle doen dit ook die beste. Hohensalzburg, die Mozart-komposisies en die kunstenaars wat dit uitvoer, is alles simbole van die ware, die goeie en die skone – die ou waarhede waarop die Weste gebou is. Kultuur in diens van iets groter.

Die indrukwekkende vesting is nou al langer as 1 000 jaar ʼn skans teen vyande. Op een van die toerismebordjies staan daar dat Hohensalzburg nog nooit ingeval is nie.

Dit was bykans onmoontlik om parkering in Salzburg te kry. Dit is ʼn gejaag. Almal hardloop rond, ʼn kaart van Salzburg in die hand, op soek na plekke wat herinner aan ʼn beskawing wat was. Die plek is totaal gekommersialiseer. Die winkeltjies is vol aandenkings, baie daarvan uit China.

Die Salzburg Katedraal staan al vir meer as 1 200 jaar daar. Deesdae is dit ʼn toeriste-aantreklikheid en ʼn mens moet betaal om daar in te gaan. Die kerk het ʼn spektakel geword en die imposante gebou en die vesting op die berg kla die mense aan sonder dat hulle dit besef.

In Amsterdam sien ons die grootsheid van ʼn goue eeu. Ons ry die stad plat op fietse. Wat ʼn indrukwekkende ou beskawing! Fyn, afgerond, oud en mooi. Daar is fyn blomme, mooi argitektuur en bruggies oor gragte.

Ons is die dag die gaste van Martin Bosma, ʼn Nederlandse parlementslid en ʼn groot kenner van die Afrikaner se ontstaangeskiedenis uit Amsterdam. “Alles kom uit Amsterdam,” is die tema van sy toer. Ons sien waar Jan van Riebeeck gebly het, waar die VOC die besluit geneem het om ʼn verversingspos in die Kaap te vestig, waar die kerk was waarvandaan Hugenote na die Kaap gestuur is, en ons besoek die weeshuis waarvandaan ʼn groepie meisies op ʼn uitmergelende skeepsvaart Kaap toe gestuur is.

Die skone is ook deel van die Afrikaner se ontwikkelingsgeskiedenis en dit het saam met die ware en die goeie per skip hier aangekom en voet aan wal in die Kaap gesit.

Martin Bosma wys waar tienduisende mense pres. Kruger in Amsterdam ingewag het. Ons ry deur die Transvaalbuurt met straatname van die Boeregeneraals. In Het Nationale Park De Hoge Veluwe staan ʼn reusestandbeeld van generaal Christiaan de Wet. ʼn Beskrywing by die standbeeld noem dat De Wet se stryd vir vryheid ook van hom ʼn volksheld in Nederland gemaak het. Nederland was “Boergek,” verduidelik Martin. Die Nederlanders het iets van die suiwer Nederland in die Boere gesien.

Die inskrywing by die De Wet-monument (Foto: Verskaf)

Ons woon ʼn tipe Protestantse kerkdiens in Leiden by. Daar is nie baie mense in die groot katedraal nie. Die Katolieke en Protestante deel die katedraal. Die predikant se preek is vol angstigheid. Sy praat oor depressie en Oekraïne. ʼn Diaken deel plakkertjies uit oor aardverwarming. Die Europeërs sukkel om die probleem te verstaan, beleef wel die gevolge daarvan, maar weet nie wat die antwoord is nie. Trouens, hulle antwoorde versnel die probleem.

Die immigrante raak al meer sigbaar. In die pragtige Gouda is daar al rye winkeltjies in die stadskern waar immigrante sake doen. In Amsterdam is daar al hoe meer van hulle. Tydens my vorige besoek aan Europa het ons straatblok na straatblok deur Berlyn gery sonder om ʼn enkele Duitser teë te kom. In Parys is dit nog erger op die treine waarop daar, afgesien van ons, net swart Moslems uit Noord-Afrika was.

Martin Bosma het ʼn boek met die profetiese titel, Minderheid in eigen land, geskryf. Daarin skryf hy oor Suid-Afrika, Afrikaners en die komplekse verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika. Die titel is egter ook ʼn profesie oor die Europa wat kom.

Terwyl ons in Europa was, het die premier van Nederland, Mark Rutte, se bedanking die nuus oorheers. Die immigrantekwessie het tot sy val gelei. Tonele van Parys wat brand, was op al wat ʼn TV-stasie is. Die ou beskawing word afgebrand. Dit is nie mooi, goed en skoon nie. Die immigrante word toe nie Europa nie, maar Europa word toe eerder meer die immigrante se Europa.

Europa se burg beskerm nie meer nie. Die mure val. Sy weerbaarheid is afgebreek en hy word ingeval. Dít wat Europa so lank beskerm het, het hy besluit om self af te breek. God is dood.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Europa meer allergies vir identiteit geraak. Europeërs het ʼn vrees vir die eie ontwikkel. Die politikus en skrywer, Thierry Baudet, noem dit oiko(eie)fobie(vrees). Die immigrante kan nie van dieselfde vrees beskuldig word nie. ʼn Geloofsvakuum het in Europa ontstaan en die aggressiewe godsdiens is geneig om die vakuum te vul.

Europa, en spesifiek Wes-Europa, het enorme probleme. Jy kan dit in die strate sien. ʼn Angstigheid daaroor is onder die Europeërs aan die ontwikkel, maar hulle weet nie hoe om dit te hanteer nie.

Die mooi van Amsterdam (Foto: Verskaf)

Ek stuur ʼn SMS uit Europa aan my vriend, ds. Ronald Bain. Wat is die foutlyne van die Protestantisme wat die Europese samelewing nou vernietig? Hy antwoord dat die foutlyn nie die Protestantisme was nie, maar die Verligting. Afrikaners het die Verligting in ʼn groot mate vrygespring omdat ons ver was. Ons het met die Statebybel getrek en leeus gejag toe Europa oor rede en individualisme gestry het.

Die ware, die goeie en die skone was deel van dít wat ons van die Weste geërf het. Daarmee saam die mooi Protestantse erfenis van roeping, werk en verantwoordelikheid, wat werksetiek insluit. Dít leef nog onder Afrikaners.

Twee Europese vriende het Suid-Afrika onlangs by twee afsonderlike geleenthede besoek – die een ʼn Vlaming van België en die ander ʼn Tiroler van Oostenryk. Dit het die Vlaming aangegryp dat ons bid voor ons eet. Hy het Sol-Tech, Akademia en Orania onder meer besoek. Op pad lughawe toe sê hy dat hy nie kan glo dat enigiemand van dít wat ons het, kan emigreer nie. Hy sê verder dat ons alles wat vir Europa voorlê, al verdiskonteer het.

Die Tiroler sê ons sal nie Europa toe kan emigreer nie, want ons is te vry. Ek was verstom. “Ek is nie meer vry nie, want ek mag nie meer wees nie,” verduidelik hy toe. Hy mag nie ʼn kulturele, geloofsidentiteit en selfs uitgesproke geslagsidentiteit hê nie. Die woke-kultuur maak hom dood. Hy was jaloers op ons identiteit en vryheid.

Afrikaners se Westerse erfenis is ʼn geskenk wat alles bied om ʼn toekoms hier aan die suidpunt van Afrika te bou. Dit het die historiese krag om ʼn beskawing te bou. Ons moet dit beskerm want dit beskerm ons. Europa is vir ons ʼn waarskuwing van wat kan gebeur as die vesting se mure val.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

kragaap ·

Goeie skrywe. Lyk of Europa oppad is na ‘n ongekerstende hool soos die plekke waaruit die invallers kom. En Europa laat dit toe……

De Bok ·

As iemand my weer vra hoekom ek nie emigreer nie, gaan ek hulle gewoon na hierdie artikel verwys.

Republikein in die Wes Kaap ·

Net ‘n kwessie van tyd, dan sal daar weer ‘n Napoleon na vore tree.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vir nou is dit steeds raadsaam om te emigreer. Hier gaan ons in elk geval vinniger sink.

Hendrik ·

Die 3de wereld oorlog kan vinnig gebeur veral met los kanonne soos Poland wat van sy grondgebied in Belarus en Oekraiene wil terugkry nadat die weste sommer links en regs grond uitgedeel het na die 2de wereldoorlog.

Republikein in die Wes Kaap ·

Europieërs sal hul lande binne 10 jaar opbou.

Delia ·

Dankie. N ander perspektief. Bevestig weer net my eie gedagtes. Bly waar ek is. Ek is verantwoordelik vir my eie geluk en Vrede, Saam met my God

trotsNAMSA ·

Dankie Dirk ! Dis hoe ek ook “oorsee” beleef. Ek kon my nie so goed uitdruk nie. Europa en haar vriende is lankal nie meer die weg om te gaan nie. Israel skiet almal. Australië en Nieu-Seeland sak as eilande en Amerika, Asië, Midde Ooste, mens kan net asem ophou.
Buitendien as jy een land in Europa besoek het, lyk die ander lande almal dieselfde, geboue, katedrale ensovoorts. Ek is in Afrika gebore en dus het ek geen begeerte om te immigreer. Ons is nog vry. Hier is my taal, my kultuur, my mense en ek kan hard lag !! Viva Afrika!

Oom ·

Ons woon nou meer as 5 jaar in Frankryk. Dat immigrante in die groot stede ‘n probleem kan wees, is waar. Die feit is egter dat die immigrante bevolking minder as 10% van die totale bevolking is. Dit teenoor die 90%/10% verhouding in Suid-Afrika. In ons plattelandse dorpie is daar slegs enkele immigrante en hulle probeer nie die sisteem ondermyn nie. Om sulke uitsprake te maak na ‘n besoek aan slegs enkele stede skep ‘n totale verkeerde indruk. Miskien moet die skrywer tydens die volgende Europese reis bietjie die oog oor ‘n groter deel van die vasteland kom gooi. Sê maar net en ons sal graag die platteland bekendstel.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die skuldgevoel by die wit nakomelinge van die wit voorgeslagte wat betrokke was by koloniale dade en die slawebedryf en die onderdruktes se menswaardigheid aangetas het, vreet die gewetes van die nakomelinge op. En die Woke-beweging (Marxisme) kapitaliseer daarop om die wit nakomelinge op vele terreine af te pers en hul identiteit en kultuurgoedere te vernietig. “The chickens have come home to roost”. Dit is ‘n persepsiologiese oorlogvoering teen die Weste. Caveat SAners!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.