Die VF+ ‘slaan terug’, maar is dit ’n uitklophou?

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, spreek ondersteuners toe tydens die party se bekendstelling van sy verkiesingsmanifes in die Rockwood-teater in Pretoria. Skermskoot: VF Plus

Deur Monica Mynhardt

In die politieke spel van getalle, word die minderhede noodwendig altyd agtergelaat. As besonders diverse land, is Suid-Afrika een waarin daar egter baie mag lê in die minderhede. Die VF+ was nog altyd ’n minderheidsparty. Weens hul oorsprong, waardes en doelstellinge is daar ’n spesifieke minderheidsgroep waarmee hulle nog altyd die meeste resoneer het – die Afrikaner.

Meer as ooit van tevore is die opkomende nasionale verkiesing een waarin groot partye ongenaakbaar hierdie spel van getalle en ras gespeel het. In hierdie poging om die meerderhede aan hul kant te kry, het sommige politieke partye hulle voorheen lojale minderheidsgroepe afgeskeep en vervreem. Sommiges het ideologiese minderhede ook vervreem deur ’n gevaarlik radikale aard aan te neem waarmee die politieke sentriste bloot nie kan vereenselwig nie. Meer as ooit vantevore was dit van ingrypende belang om vir vervreemde minderhede ’n sinvolle tuiste te bied. As prominente minderheidsparty, het die VF+ met hul verkiesingsveldtog en manifesbekendstelling die perfekte geleentheid gehad om presies dit te doen.

Die vraag is egter of hulle suksesvol was.

Wat hulle reg gedoen het

Van al die manifeste wat ons hierdie verkiesing sover gekry het (en waarskynlik gáán kry), is die VF+ s’n die sinvolste. Die uitdagings wat ons betreffende beleid tans in ons land ervaar, word suksesvol in die manifes beklemtoon en verwoord. In teorie is die staatkundemodel en fyner beleidsraamwerk wat hulle voorstel, iets wat Suid-Afrika ’n daadwerklike kans vir sukses sal gee.

Met die lomp en besonders onbevoegde staat wat ons tans het, is ’n kleiner, minder gesentraliseerde en meer effektiewe regering iets wat die land nodig het. Die VF+ stel in die manifes voor dat die regering drasties verklein word en dat die kabinet gereduseer word tot 16 kundige lede. Hulle beskryf ook hoe ’n staatkundige model van gemeenskapsfederalisme meer gepas is vir Suid-Afrika.

Siende dat hulle subsidiariteit – die beginsel dat gesag op die laagste moontlike vlak uitgeoefen moet word – voorstaan, stel hulle ’n meer gedesentraliseerde model voor. ’n Staat waarin gemeenskappe die grondliggende eenheid is. Hiervolgens sal daar meer outonomie, mag en individualiteit aan verskillende kultuurgemeenskappe gegee word.

Die VF+ steun hierdie selfbeskikking van gemeenskappe, omdat dit daartoe sal bydra dat verskillende kultuurgroepe die geleentheid sal hê om weg te breek van die homogene Suid-Afrikanisme wat deur die regering tans nagejaag word – alles onder die vaandel van nasiebou.

Wat ekonomiese beleid betref, stel hulle verminderde staatsbesteding, ’n sterk vryemark gefundeer op privaat eiendomsreg, die privatisering van staatsentiteite, belastingvermindering, die afskaffing van die padongeluksfonds, die skrap van e-tol en verminderde brandstofheffings voor.

Met ’n ekonomie wat besig is om te sneuwel onder beleidsonsekerheid en oorregulering, is finansiële sekerheid en stabiliteit nie ’n gegewe in ons land nie. Die VF+ stel ’n ekonomiese beleid voor wat basiese groei en vryheid in die ekonomie sal stimuleer.

Verder het hulle aangetoon dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) afgeskaf moet word, siende dat dit slegs swart elite verryk eerder as om swart armes op te hef. So ook moet ras as kwalifiserende faktor vir bemagtiging uitgewis word en daar eerder bemagtiging op grond van armoede toegepas word. Hulle staan dus nierassigheid voor wanneer dit by sosio-ekonomiese kwessies kom. Eerder as om ’n arbitrêre faktor soos iemand se velkleur te gebruik as maatstaf vir hulpbehoewendheid, moet individue se unieke persoonlike omstandighede gebruik word.

En eerder as die homogene taalkultuur wat die regering bevorder onder die vaandel van inklusiwiteit, moedig hulle ook veeltaligheid aan. Dit behels om alle inheemse tale die geleentheid te bied om deur hul sprekers aangewend en uitgebou te word deur hul hoër funksies te ontwikkel. Die VF+ wys tereg uit dat die regering se homogene aanslag alle ander tale afwater en rassespanning in die land bevorder. Hierdie aanslag van individuele en onafhanklike ontwikkeling sal alle kultuurgroepe die geleentheid gee om hul eie identiteit uit te bou.

Die VF+ hang beginsels van geregtigheid, waarheid, naasteliefde, respek vir lewe, lojaliteit en vir vreedsame naasbestaan aan, gegrond op ’n raamwerk van Christelike waardes.

Die ideologiese uitgangspunte en beleidsvoorstelle van die VF+ is beslis konstruktief en eerbaar.

Wat hulle verkeerd gedoen het

As minderheidsparty was dit vir die VF+ in hierdie voorverkiesing van kardinale belang om nie net sinvolle beleid voor te stel nie, maar ook om ’n suksesvolle boodskap oor te dra. Die meerderheid van Suid-Afrikaners lees nie politieke partye se verkiesingsmanifeste nie, maar beoordeel hulle eerder op grond van die oorkoepelende boodskap wat tydens hul verkiesingsveldtogte oorgedra word.

Die fout wat die VF+ in hierdie verkiesing gemaak het, was om nie genoegsaam beroep op hul minderheidsidentiteit te doen nie. Weens die uitrafeling van algemene politieke integriteit en morele konsekwentheid, is daar ’n behoefte aan ’n toevlug vir diegene wat polities nie getel of ingesluit word nie – mense wat behoort aan rasse en ideologiese minderheidsgroepe. Met hierdie realiteit in gedagte, sou dit meer sinvol wees om baie klem te lê op hul minderheidsidentiteit. Hul verkiesingsveldtog en manifes is eerder gemik op die kieserskorps wat reeds lojaal teenoor hulle is. Hoewel partye vanselfsprekend op hul lojale basis moet fokus, was hierdie nie die enigste groep waarop die VF+ moes fokus nie.

Die Slaan Terug-leuse wat hul verkiesingsveldtog oorheers het, was nie een wat ’n duidelike boodskap van ’n minderheidstuiste gestuur het nie. Hoewel daar niks fout is hiermee nie, was dit dalk nie die beste aanslag vir hierdie verkiesing nie. Veral nie vir ’n minderheidsparty nie.

“Slaan terug” het veel eerder herinner aan Tony Leon se Fight Back-leuse wat die DP in die 1999-verkiesing gebruik het. Hoewel daardie spesifieke boodskap sukses op sy tyd vir Leon verseker het, is die politieke landskap en klimaat nou wesenlik anders as in die 90’s. Ons politiek vandag vereis eerder ’n boodskap wat spreek tot minderheidsgroepe se behoefte aan ’n politieke tuiste. Een wat nie deur politieke opportuniste gedryf word nie en wat dit duidelik maak dat mense nie blote getalle vir hulle is nie. ’n Boodskap wat ’n saamstaan eerder as ’n terugslaan verkondig.

Hoewel hulle by die manifesbekendstelling daarby stilgestaan het dat die VF+ ’n party is vir alle minderheidsgroepe, was dit nêrens ’n prominente deel van hul verkiesingsveldtog nie. Hul manifes self, die mediadekking van die bekendstelling en hele verkiesingsveldtog het eerder gesentreer rondom die gedagte van terugslaan teen die ANC. Sodoende het hulle beslis hul verkiesingsbasis behou, maar moontlik ’n geleentheid vir wesenlike groei verspeel.

Die VF+ is beslis besig om duidelik uit te reik na ander minderheidsgroepe in die land. Vroeër die jaar is Peter Marais as hul Wes-Kaapse premierskandidaat aangekondig. Dit spreek duidelik van ’n party wat nie daarin belangstel om bloot een spesifieke minderheidsgroep in te sluit nie, maar enige minderheidsgroep wat met die party se waardes en beleid vereenselwig. Dus is hierdie identiteit as minderheidsparty vir almal iets wat die VF+ beslis nastreef. Die vraag is egter net of hul aanslag in hierdie verkiesing die mees gepaste een was om hierdie boodskap oor te dra.

Gevolgtrekking

Op die ou end moet ’n mens verskillende partye se beleid en ideologiese grondslae teen mekaar opweeg en besluit watter een die sinvolste is. Hierdie beleid en grondslag is immers dit waaruit politieke partye ons land bou of breek.

Die VF+ se manifes, beleid en algemene uitgangspunte is beslis iets wat die moeite werd is om te steun. As minderheidsparty in ’n land waar mense toenemend betekenis vind in hul kulturele identiteit, het die VF+ ’n ongelooflike geleentheid om hierdie minderheidstem te wees. Dit in ag geneem, was die VF+ se boodskap waar hulle tekort geskiet het. Daar was ’n afwesigheid van noodsaaklike klem op hul identiteit as minderheidsparty.

Die opkomende verkiesing is ’n deurslaggewende een tot ons land se toekoms. Politieke partye word genoop om teoreties en takties foutloos te wees ten einde die volle potensiaal en waarde van hul kieserskorps te ontsluit.

Die VF+ se 2019-verkiesingsveldtog is beslis nié ’n volslae mislukking nie – 8 Mei is nie vreeslik ver in die toekoms nie. Dit sal dalk die beste antwoord wees op die vraag of die VF+ se terugslaan hierdie jaar ’n uitklophou was.

  • Monica Mynhardt doen tans ‘n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

sweis ·

Dit is hoekom ek VF+ gaan stem na ek vir jare my stem op die Da gemors het net om verloën te word.

Heksie ·

Altyd gedink om vir die DA te stem, wat die regte ding … maar helaas, wat ‘n enorme fout!
Gaan beslis vir VF+ stem, ons praat ten minste dieselfde taal, letterlik en figuurlik.

Yohan ·

Uitstekende artikel. Ek dink ook die ‘slaan terug’ veldtog is nie effektief nie. Die DA se gedurige hofgedinge raak ook nou afgesaag en hulle kon eerder gebaat het by ‘n ‘slaan terug’ veldtog. Met ‘n dinamiese alternatief van ‘n federale stelsel sou die VF+ dalk beter doen met ‘n meer dinamiese en sterk “hoop” boodskap wat die beleid kon definieer. Wat van “Ons HET ‘n Plan!/ We HAVE a Plan” veldtog of iets in diervoege?

Kediksie ·

Ek is self skuldig. Het al die jare geglo dat mens n stewige opposisie moet hê, en dus my stem op die DA vermors. Die DA is n ander naam vir ANC, en dis al. VF+, hier kom ek!!!

HD ·

Ek self nog nie seker vir wie ek gaan stem die jaar nie, maar ek gaan definitief nie my stem weer mors op die DA nie.

Ek wens die VF+ wil JuJu se voorbeeld begin volg om steun te werf…ja dit maak ons warm onder die kraag maar andersins gesien praat hy (JuJu) die mense se taal en mense sal vir jou stem as hulle sien jy stel belang en probeer ‘n verskil maak. VF+ moet bietjie vir ander tale ook begin cater en meer steun werf.

Corne ·

Lyk my almal hier se dieselfde nes ek Jare lank vir die DA gestem wat n groot vout.DA is die ANC se boetie party en sal nie weer DA stem nie. Sal nogal mooi wees as VF+ meer stemme as die DA kry wonder wat ou Mannerjie dan sal sê. DA laat dink my aan n skootbrak meer blaf as binnegoed.Tyd vir saamstaan is nou.Ons minderhied het dit al in die verlede gedoen met groot sukses tyd dat oms dit weer doen.

Hendrik ·

Jammer maar ek kan net met ongeloof kyk hoe ons sedert ’94 na vele verkiesingsmanifesse geen verandering in ons situasie sien nie. Ons mense word uit die werksplek geskuif agv wette en as ons nie die toekoms anders benader nie gaan ons regtig tot niet gaan. VF+ doen goeie werk en sou my eerste party wees waarvoor ek sou gestem het as ek nie so hard, saam ons gemeenskap, werk vir selfstandigheid en verder. Ons skep werk en saam met burgeregtegroepe het ons al baie vordering gemaak.

Judge Dredd ·

Gaan ook my stem aan VF+ “leen” .

Maar hulle moet verstaan – ek verwag dat hulle harder en meer gereeld vir minderhede moet opkom in die volgende 5 jaar, en nie net so voor verkiesing nie – anders gaan ek my steun maar net na iemand anders weer skuif.

Deon ·

Judge, oor 5 jaar gaan ons stemme in elk geval nie meer saak maak nie, daar gaan niks meer oor wees om voor te stem nie.

Jerry ·

Monica nou begin jy die kol tref. “Saamstaan” ipv slaan terug sou absoluut nugtere denke bevestig het en beslis gewerk het! Net die wie se denke lus is vir n fight en n pakslae, sal slaan terug denke ondersteun! Die persoon wat kwaad raak en wil terugslaan het die geveg verloor nog voordat dit eintlik begin het. Hoekom is die VF kwaad en gefrustreerd met die situasie, die VF sit dan al vir hoe lank in die parlement en het ook buitelandse steun, maar geen vooruitgang resultate, net agteruitgang resultate van werklose armblankes in wit plakkerskampe! Jy kan n honderd goeie dinge gedoen het, maar as jou mense aanhou hulle werk verloor en witplakkerskampe groei teen n hoer koers as die rentekoers, dan het jy mos nou n lat vir jou eie agterstewe gepluk! Om die blaamspeletjie te speel soos die ANC gaan ongelukkig nie werk nie, want die ANC en DA staan nie in diens van die Afrikaner nie, dit is die VF plus sy frontorganisasies wat aanspraak maak op hulle verbintenis tot diens van die Afrikaner. Dit gaan uiters beroerd met die Afrikaner, baie dankie vir niks!

Andreas ·

Jerry, begin jou eie party, kry ‘n mandaat en gaan parlement toe, so maklik soos dit. Lekker maklik hier van die kantlyn af en dan vat mens mos geen verantwoordelikheid nie.

Leon ·

Jerry, dis n baie belangrike punt wat jy daar maak. Die VF+ vir hulle eie selfsigtige redes gaan veroorsaak dat die blanke afrikaner meer afgesonder gaan word van die res van SA. Hulle sit n teiken op ons.

Leon ·

Jerry. Dit is n baie belangrikke punt wat jy daar maak. Ek wens net meer afrikaners kon dit verstaan, maar hulle sal nie, of wil nie.

Andreas ·

Leon, dis hoekom ek sê Jerry moet ‘n eie party gaan stig, die Afrikaanse partye in die land beteken niks.

Karlahari ·

Ek hou van die “ons het n plan” slag spreuk.
Wat ek graag sal wil sien is samewerking tussen COPE en VF+.
En jammer DA. Maar julle voel niks vir die Afrikaner nie. Soos Discovery en SASOL het julle my verloor

Karlahari ·

Jammer Jerry en Leon. Die dag toe FW met die ANC die oorgawe geteken het was die dag wat die blanke Afrikaner op die kantlyn geskuif is.
Jy het n teiken waarvoor jy nie moet skaam wees nie. Jou europese herkoms wat die beskawing in die Suid punt van Afrika gevestig het toe die wiel nog nie eens hier nodig was nie. En natuurlik nog nie in gebruik was nie.
Hou op om ‘n “Jammer ek is wit ” houding in te slaan. Maak net seker jy stem. Anders moenie kla nie.

@leon ·

Nee leon jy sit die pot mis! Die teikein is lankal reeds op jou juis oor jy blank is in Suid Afrika!

Ai ·

Dit is nie die VF wat die blanke minderheid se regte vertrap en toesien dit hul werkloos in wit plakkerskampe op eindig nie Jerry, dit is die ANC !
Die Anc verlekker homself in die swaar kry van blankes…
Dit is die Anc en hul haat en wraak teenoor die blankes Jerry! Dit was nog altyd die ANC!
Dit is hul die einste AN dekselse C wat die ekonomie en land verwoes met hul wraak,onbevoegheid en korrupsie!
Wat glad nie die blanke minderhede in Suid Afrika help nie is dat die einste DA wat ook soveel blanke stemme juis weggerokkel het van die minderheids partye soos die VF presies dieselfde siening as die ANC het.
Ondermein die blankes en hul regte en veroorsaak so dat hul in plakkerskampe op eindig dmv SEB en diskriminasie ens.
Natuurlik is dit frustrerend vir die VF, want die wat vir die VF moet stem,stem eerder blindeliks vir n party wat openlik teen blankes diskrimineer!
Hul die DA en Anc voel niks vir die blankes in Suid Afrika nie,vere, boggerall..
Dit gaan nie oor n fisiese gebakleiery soos jy voorgee nie dit gaan wel oor om te baklei vir jou regte, om op te staan en te veg.
So wat stel jy voor Jerry ? Moet die blanke in Suid Afrika maar net gaan le en sy lot wat die Anc,Eff,Blf, DA vir hom wil voorle maar net aanvaar? Ek kan jou verseker daai lot is nie n mooi een nie!

Johan ·

VF kry my stem. Net jammer ek al die jare my stem op DA gemors.

Frik Lotz ·

Ek stem beslis VF Plus! Dit is beslis tyd om terug te slaan teen die ANC en die tyd is die 8ste Mei. Gaan uit en gaan stem VF Plus!

Hendrik ·

Ek het ook baie tyd gemors met DA sal nie weer so n fout maak nie. Ek is nou VF+ oortuig. Hoop almal wat vir ons land omgee stem saam. Ek glo en weet hulle sal n verskil maak

Koos ·

Slaan terug – teen die oormag – en staansaam – dit is waaroor dit gaan vir ons as minderhede.

Stem waar jou mense vir jou waardes opstaan en dit is mos belangrik vir jou – so koop jou stem vir jou en jou waardes verteenwoordiging.

Verder, deur vir die VF+ te stem help jy om koalisies van minderhede sterk te laat staan en die oormag af te breek en sodoende beter toestande vir ons land en al sy mense te beding.

Slaan terug en stem VF+ !!!

KaapWeerHollands ·

Ek stem Kaap Party. Dis die enigste party wat al ñ werkbare plan van onafhandlikheid voorgestel het.

Jack Sadie ·

Ek hou van die VF+, en onthou, hierdie ou toppie was in die sestigerjare PFP! My enigste vraag is of dit wys is om in die Weskaap teen die DA te stem. Jy mag nie van hul hou nie, maar hulle rekord is goed. Gaan ongetwyfeld nasionaal vir VF+ stem, maar dalk dalk provinsiaal DA. Aan die anderkant miskien EFF. Dan hoef ek nooit weer te stem nie ….

Judge Dredd ·

Die DA is mos welkom om in koalise met VF+ te gaan in Wes-Kaap – so stem vir die party wat naaste aan jou eie waardes is.

Andre ·

Die DA gaan nie weer die Wes-Kaap wen nie. Tannie Pat vat baie van die kleur stemme weg en die VF+ vat baie blanke stemme weg. Maar dit maak nie saak nie want hulle kan `n koalisie vorm en nogsteeds die ANC uit hou. Stem vir wie jy wil, net solank dit nie vir die ANC en EFF is nie

Wouter Turnout ·

Ek was uiters teleurgesteld om te vind dat deursigtigheid van alle staatsaangeleenthede glad nie eers in hul manifes genoem is nie. Ek soek toe verder, en kon geen party vind wat dit noem nie! Ek stem nog steeds die meeste met die VF+ saam, maar sonder deursigtigheid kan ons nie hoop vir ‘n ommekeer nie.

Andre ·

Ek stem nou al 20 jaar DA en dit was nie `n fout nie, net tot en met Mmusi aangestel as party leier. Daar moes ek al gestop het want hy het die party in `n swart party verander wat niks omgee vir blanke mense. Die VF+ kry vir seker van nou af my stem.

Theoman ·

Dis nou die tyd dat ons VF PLUS moet ondersteun Saamstaan, Sterkstaan en Terugslaan om as minderheidsgroep die anc te wys dat ons nie langer geboelie gaan word nie, Die DA het ons misbruik vir eie gewin, wel nou is dit ons kans…. EENDRAG MAAK MAG…. stem VF PLUS.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.