Die vier historiese stede van Tirool

meran-tirool-pixabay

Meran in die Tirool-streek van Italië. Foto: Pixabay.com

Die outeur het die voorreg gehad om twee weke in Tirool te kuier en sluit die artikelreeks af met hierdie artikel oor vier geskiedkundige stede in die historiese streek Tirool (Bozen is reeds in ’n eie artikel behandel).

Die historiese oorsprong van die land Tirool (wat groter is as die huidige streek Suid-Tirool) het naby Meran begin, naamlik by die dorpie Tirool met die kasteel met dieselfde naam. Die stigtingsmite van Tirool is dat die vorstin Margarethe van Tirool (met die onvleiende bynaam Maultasch, wat na haar beweerde onaantreklike voorkoms verwys), wat geen nakomelinge gehad het nie, haar land in 1336 bemaak het aan die hertog Rudolf van Habsburg. Sedertdien was Tirool deel van die Habsburg Ryk tot en met die einde van dié ryk in 1918 (afgesien van die kortstondige verowering deur Napoleon).

Meran, met sowat 40 000 inwoners, is ’n besonder mooi stad, ook wat die ligging betref. Dié stad het ook warmwaterbronne. Alhoewel dit ’n ou stad is, is die meeste geboue uit die tyd van die eeuwisseling van die 19de na die 20ste eeu, toe die stad ’n opbloei as toeriste- en ontspanningsentrum met sy warmwaterbronne beleef het. Die teater en die Kurhaus (spa) is uitstaande voorbeelde van dié tyd se art deco- en historisme-argitektuurstyl. Ook die jong en mooi Oostenrykse keiserin Elizabeth (Sissi) het Meran in die laat 19de eeu vir ontspanning besoek en daarmee die toeristiese oplewing begrond. Vir haar is daar ’n standbeeld in die park langs die Etschrivier opgerig. Die ou stad het ’n mooi pilaargang-voetgangerstraat, stadspoorte en daar is lieflike wandelpaaie deur die wingerde en langs die Etschrivier.

Innsbruck was vir lank die historiese hoofstad van Tirool, nadat dié stad Meran in die 15de eeu as hoofstad afgelos het. Dit is die grootste stad van Tirool met 130 000 inwoners en ook ’n beduidende universiteitstad. Ná die verdeling van Tirool in 1918 het Innsbruck die hoofstad van die Oostenrykse provinsie Tirool geword. Dit is ’n lewendige ou stad vol studente en besoekers en pragtige besienswaardighede, soos die barokke katedraal St. Jacob. Soos meeste stede in Tirool, is Innsbruck omring deur hoë berge en die ligging in die Alpe maak ook dat die stad twee keer die winter-Olimpiese Spele aangebied het.

Brixen het sowat 20 000 inwoners en is die geestelike sentrum van die historiese Tirool as setel van die biskop. In 1080 het hier ’n konsilie (hoogste byeenkoms van die katolieke kerk, waar rigting oor godsdienstige vraagstukke gegee word en soms ook pouse verkies word) plaasgevind en vir eeue was dit ook die regeringsetel van die vorsbiskoppe – eerder wêreldse regeerders as geestelike leiers. Die klein skilderagtige ou stad met sy stadsmuur en poorte is vol historiese geboue, met die katedraal en die paleis van die biskoppe wat besonder prominent is.

Trient met sy 117 000 inwoners, is in die sogenaamde Wels-Tirool, die suidelike, Italiaanssprekende deel van die historiese Tirool, wat ook deel van die Habsburg Ryk was, maar feitlik uitsluitlik deur Italianers bevolk word, reeds voor 1918.

Vandag is Trient die hoofstad van die outonome streek Trentino, wat afgeskei is van die Duitssprekende Suid-Tirool. Die stad het reeds in die Romeinse era bestaan.

Die belangrikste historiese gebeurtenis van Trient was die konsilie wat van 1545 tot 1565 tydens die Protestantse Hervorming plaasgevind het. By die konsilie van Trient is op die katolieke teenhervorming besluit en dit het hier sy aanvang geneem. Die Habsburg Ryk was die sentrum van die Rooms-Katolieke Kerk en die teenhervorming het gekeer dat Martin Luther se teologiese veldbrand wat in Duitsland begin het, ook Suid-Europa bereik het.

Die stad is gekenmerk deur veral argitektuur uit die Renaissance-tydperk en ook hier is ’n katedraal en ’n groot stadsplein en kasteel. Tipies aan Italië is hier ook talle pleine en fonteine.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gevallestudies ·

Dankie vir die interessante reeks. Ons kan gerus meer uitvind oor ander streke in die wereld as gevallestudies van hoe ons prakties tewerk kan gaan om ons eie selfbeskikkingsbal aan die rol te sit.

Dirk Breytenbach ·

So gou soos ons opstaan en begin onderhandel OF OSV.

Alwyna ·

TIrool is n ongelooflike mooi deel van Oostenryk…en die mense is baie, baie vriendelik. n Besoek beslis werd

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.