Vier samehange van gemeenskapsuniversiteite

Deur Alwyn Swanepoel

Argieffoto: Pixabay

Ons het in die vorige aflewerings gekyk na die hoekstene, bouplanne, en fondamente van gemeenskapsuniversiteite. By die hoekstene is gefokus op desentralisering, akademiese leierskap, sosiale stabiliteit, en egte diversiteit. Daarna is konkrete voorstelle bekyk vir die bouplanne en toe is daar op die gepaste onderliggende filosofie van gemeenskapsuniversiteite begin fokus toe daar na die fondamente gekyk is. Om die hele besinning in die laaste aflewering meer prakties te maak, word daar nou gewys op vier rigtinggewende samehange wat nie net belangrik is vir verdere gesprek hieroor nie, maar waarvoor daar ook konkreet in begrotings (en bonusse en merietetoekennings en aansporingsbedrae) voorsiening gemaak moet word as toekomstige geslagte ernstig is hieroor.

Die samehang tussen fakulteite

Die eerste samehang waaroor daar verder gesprek gevoer kan word, is die samehang tussen fakulteite. Volgens Schindler behels dit baie meer as om sogenaamd interdissiplinêr te wees. Hy het sy bedenkinge oor die kunsmatige aard daarvan vandag en wys daarop dat dit dikwels neerkom om vanaf die rante van vakgebiede met mekaar in gesprek te tree, maar nie vanuit die kern nie.

Hy maak onder meer gebruik van die beeld van ’n wiel met speke om die saak te verduidelik. Dit beteken volgens hierdie beeld dat hoe meer elke vakgebied terugwerk na die naaf en die grondliggende aannames in daardie vakgebied, hoe nader behoort elkeen ook te beweeg aan ’n gemeenskaplike kern. Hy wys ook daarop dat die teologie en filosofie op besondere wyse met die samehang en geheel van dinge besig bly en dit bring ’n belangrike besprekingspunt onder hierdie noemer aan die orde: Is dit hoegenaamd moontlik om ’n alternatief-moderne universiteit wat die antieke visie van die soeke na wysheid in alle vakgebiede voortsit, daar te stel sonder die sentrale rol van ’n postsekulêre teologie en filosofie? Indien enigiemand nog wonder, dit is inderdaad ’n retoriese vraag.

In die klaskamer en om die klaskamer

Die tweede samehang waaroor verder gesprek gevoer moet word en wat reeds genoem is, is die verband tussen dit wat ín die klaskamer en óm die klaskamer gebeur. Die reformatoriese filosoof, Jamie Smith, het die afgelope jare baie gedoen om hierdie dualisme te hanteer.[1]

Volgens Smith kan dit in die modernisme en postmodernisme maklik gebeur dat studente eintlik meer opvoeding uit die ritmes van verbruikersmentaliteit en individualisme rondom die klaskamer opdoen, as die opvoeding wat binne die klaskamer plaasvind. Die ritmes en roetines van studente is, volgens Smith, dikwels van so ’n aard dat die verbeelding hierdeur gestimuleer word om eintlik maar die liberale orde te gaan dien.

Dit is in hierdie verband dat die gemeenskapsbenadering baie kan help om die werklikheid in die klaskamer te komplementeer met ’n gepaste florerende leefstyl daarbuite. Maar daarvoor is mense in die gemeenskap nodig wat hart en siel help om ’n model te dien waar studente en dosente se hoof, hart en hande gesinkroniseer is. Sulke mense is krities belangrik, want dis húlle wat die wind van verlewendiging laat waai. En natuurlik moet daar ook ’n begrotingspan wees wat die implikasies hiervan belangrik genoeg ag om so ’n model mildelik te finansier.

Klasse en geboue en tuine

Die derde samehang waaroor ons verder gesprek kan voer, is die samehang van dit wat in die klasse geleer word met dit wat deur die geboue en tuine ge-eggo word. Ons kan nie diep hierop ingaan nie, maar hier kan voorlopig gewys word op insigte van Philip Bess, professor in argitektuur by Notre Dame Universiteit in die VSA, wat onder meer so ’n treffende titel vir sy belangrike boek gekies het: “Till We Have Built Jerusalem: Architecture, Urbanism and the Sacred.”[2]

In ’n samevattende artikel wys Bess daarop dat ’n wettige aspirasie om geboue gesaghebbend te laat vertoon, saamhang met die ambisie om skoonheid met waarheid en goedheid te verenig en dat die daad van bouwerk implikasies het anderkant dit wat ons kan sien (metafisiese implikasies).[3] Hy wys daarop dat die boukuns iets moet vergestalt, al is dit ook implisiet, van die aannames van ’n instelling oor die hele werklikheid, ook dit wat ons nie kan sien nie (metafisiese aannames). Wat is hierdie aannames wat vir Christene belangrik is?

Bess verwoord dit so: “Hierdie drie aannames – dat die werklikheid werklik is, dat ons dit kan ken, en dat ons floreer wanneer ons daarmee in ooreenstemming is – vorm die metafisiese realisme wat die grondslag vorm vir die tradisionele argitektuur en urbanisme.”

Iets van die argitektuur, sê Bess, moet ’n estetiese, simboliese en sakramentele inhoud hê wat ons laat deelneem aan skoonheid en aan ’n morele orde. Ja ’n heilige orde (“heilig” hier natuurlik bedoel as in teenstelling met onreinheid). Hierdie samehang tussen klasse en geboue en tuine is sekerlik in die hiërargie van haalbaarhede nie eerste op die agenda nie, maar laat ons onthou waarnatoe ons kan werk en dat ons teologie en filosofie ook deur steen en klip kan praat en inspireer. Intussen verbly Christene hulle ook in die waarheid wat Luther, maar ook Chesterton, so voortreflik verwoord het – laasgenoemde nogal aan die hand van Beauty and the Beast: dat ons nie bloot iets liefhet omdat dit lieflik is nie, maar dat iets lieflik word omdat ons dit liefhet en koester.

Samehang tussen verskillende universiteitsgemeenskappe

Die vierde samehang is reg aan die begin genoem: Die samehang tussen verskillende universiteitsgemeenskappe – of dan akademies – wat hierdie visie op die hele werklikheid, ook dit wat ons nie kan sien nie, deel. Die groot vraag hier is: Is elke instelling maar net gefokus op ’n eie gemeenskapsuniversiteit met moontlike residensiële kolleges vir die betrokke instelling, of moet daar ook gedink word in die rigting van ’n federale universiteit?

Om konkrete voorbeelde te gee: Een van die voormalige federale universiteite was die Universiteit van Parys wat deur Napoleon opgerig is in 1808 en as sentrale universiteit opgetree het vir verskeie académies (die voormalige universiteite van toe) tot en met 1896, toe hulle afsonderlik herstel is tot volle universiteitstatus. Op dieselfde wyse kan die eens federale Victoria-Universiteit genoem word wat uiteindelik opgedeel het in drie verskillende universiteite, asook die Universiteit van Wallis wat ’n federale universiteit was vanaf stigting in 1893 tot 2007 toe die kolleges onafhanklik geword het. So ook was byvoorbeeld die Federale Universiteit van Surrey vanaf 2000 tot 2004 ’n federasie van die Universiteit van Surrey en die Universiteit van Surrey Roehampton (nou Roehampton-Universiteit). Dit het ontbind toe Roehampton ’n onafhanklike universiteit geword het.[4]

Deur hierdie voorbeelde is dit duidelik dat federatiewe strukture nie noodwendig vir altyd so hoef aan te gaan nie. Dit kan ook net ’n tydelike funksie hê. Die vraag is dus basies of daar moontlikhede is in die rigting van konfederale strukture en of die staat se spelreëls dit natuurlik hoegenaamd moontlik maak. Om dit egter prontuit te stel: Kan ons dit in die huidige konteks bekostig om volledig los van mekaar te funksioneer? Indien nie, is dit natuurlik steeds ’n vraag hoe om saam te werk of dan nouer saam te werk. Die voordeel van konfederale strukture is dat beide eenheid en selfstandigheid gelyktydig gedien kan word. Dit is andersins ook moontlik om ’n gesamentlike tipe dinktenk daar te stel wat diensbaar is aan verskeie soorte gemeenskapsuniversiteite en wat hulle ook aan mekaar verbind. Daar moet net seker gemaak word dat daar nie bloot sprake is van ’n tipe veruitwendigde verbintenis sonder innerlike bande nie. Daar moet, met ander woorde, bepaalde are wees – verkieslik slagare – wat verseker dat sulke instellings wel in mekaar se bloedstroom is, al het die liggaam verskillende lede. Kortom, die geheel is in hierdie geval groter as die dele, en daar behoort, in die lig van die uitdagings van ons dag, saamgewerk te word om ’n universiteitsgemeenskap van universiteitsgemeenskappe te wees.

’n Dinkskrum, of dan gespreksgroep, vir ’n begin, wat moeite doen om die bloedstroom op gesonde wyse oral te laat vloei, kan ’n goeie tree in hierdie rigting wees. Daar is mooi tekens wat bevestig dat drie instansies soos die bekende drie A’s wat dikwels in Maroela Media genoem word – Die APA, Akademia en Aros – reeds vir ’n geruime tyd mekaar bedien met insigte in hierdie verband. Daar is ook kontak met die Bo-Karoo Opleiding wat besig is om in Orania te groei. Daar word nie gepraat oor eenwording nie en die grondslag is duidelik dat elkeen volledig selfstandig is, maar daar is wel ’n soeke na hoe om oorhoofs in sake van gemeenskaplike belang saam te werk.

Die kwessie van die aard van gemeenskapsuniversiteite is een voorbeeld en daarom is dit belangrik vir al hierdie instansies asook ander wat nie eens genoem is nie, om kennis te neem van die voorgestelde hoekstene, bouwerk en fondamente vir gemeenskapsuniversiteite. Meer nog, om daarop te verbeter en mekaar te inspireer soos wat elkeen dink en droom en doen.

Dr. O’Hara sluit een van sy betoë treffend af met woorde wat ook hier gepas is: “En ten slotte: skyn lig in die duisternis, boesem vrees in by tiranne, ontdek die sterre, en vaar in die oog van die wind.”

  • Alwyn Swanepoel is as professor verbonde aan die fakulteit teologie van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Hy dien tans ook as dekaan van die fakulteit lettere en wysbegeerte aan dieselfde instelling. 

* Hierdie artikel is die laaste artikel in ʼn reeks van vier artikels wat ʼn verwerking is van ʼn voordrag gelewer by ʼn gespreksgeleentheid wat die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) op 30 November 2017 aangebied het. Lede van die APA, Akademia, Aros en die Bo-Karoo Opleiding-kampus van Orania was betrokke, tesame met enkele dosente van die Noordwes-Universiteit (NU) se Potchefstroom-kampus en die Universiteit van die Vrystaat (UV).

[1] Vgl J.K.A. Smith, Desiring the Kingdom: Worship, Worldview, and Cultural Formation. Grand Rapids: Baker Academic, 2009.

[2] Kyk: Philip Bess, Till We Have Built Jerusalem: Architecture, Urbanism, and the Sacred. Wilmington: ISI

[3] Kyk: Philip Bess, “Building on truth: An argument for a return to metaphysical realism in architecture and urbanism”, by https://www.firstthings.com/article/2015/01/building-on-truth

[4] Ek maak hier staat op die gevreesde inligting by https://en.wikipedia.org/wiki/Collegiate_university.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.