Die vier V’s om Afrikaner-armoede te takel

Dr Wikus Buys

Deur dr. Wikus Buys

“Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.”

Dit is dikwels vir ons troosvolle woorde by ʼn sterfbed. Maar kan ons hierdie woorde ook hoor as hoop vir die armoede in ons gemeenskap? Wie se skuld is die armoede in ons land? Is dit dalk die sosialiste en die kommuniste wat met lekkende emmers bly aandra? Is dit die kapitaliste wat inskep en inskep, maar byna nooit opskep nie?

Wie ís die skuldiges? Is dit ʼn keuse êrens tussen die Malemas en die Ruperts?

In die Skrif is daar talle woorde vir armoede wat alle aspekte van armoede uitlig.

Die twee pole van armoede, volgens die Skrif, het aan die een kant te make met onteiening, ʼn weghou van of uithaal uit ʼn erfdeel. Daarteenoor word die “verdwyning” van armoede altyd geskets teen die geseënde toekoms “om in vrede te rus”. Die profeet Jesaja sê: “En die eersgeborene van die armes sal wei, en die behoeftige sal veilig lê en rus.” (Jes. 14:30)

Wie se skuld is Afrikaner-armoede? Elkeen van ons, ook die Afrikaner-kerke moet hand in eie boesem steek en vra of hulle nie dalk aandadig is aan die “instandhouding” van dié armoede nie.

Aan die hand van die vier V’s – naamlik verbind, vet, verbod en vol – kan ons en die Afrikaner-kerke ons eie aandadigheid aan die armoede in ons land “meet”.

Verbind

Die kern van God se oproep is nie ʼn opdrag nie. God roep Afrikaner-kerke en mense om met Hom te ontmoet. In Jesus Christus deur die Heilige Gees se werking roep God ons tot hierdie heilige, blywende en groeiende ontmoeting.

God se oproep gaan oor die ontmoeting van God met ʼn volksgemeenskap en na my mening doen die Afrikaner-kerke dit nie tans nie. Jesus Christus as die lig van die nasies word nie sterk genoeg beklemtoon nie en die Evangelie-roepstem, asof God net enkeles wil ontmoet en nie ook volke nie, word verskraal. God se roepstem is egter glashelder hieroor. “En die nasies van dié wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.” (Open. 21:24)

Selfs God se oordeel word verbind daaraan dat Hy erfbesit het van die nasies. “Staan op, o God, oordeel die aarde! Want U het erfbesit van al die nasies.” (Ps. 82:8.)

God is by uitstek die God van verbondskap. Hy verbind hom met sy Verbond tot dié wat Hy red.

In die Skrif staan drie dinge uit as dit oor die Verbond gaan: volheid, goedheid en getrouheid. God verbind hom volledig aan almal met sy goedheid en is volhoubaar getrou. Wanneer Johannes van die Here Jesus sê dat Hy vol van genade en waarheid is, getuig dit van hierdie verbond tussen hom en God.

Dit is juis oor hierdie volledige verbondenheid waar die Afrikaner-kerke dikwels mistas. God het nie met enkelinge oor armoede gepraat nie. Armoede het ook nie ʼn kleur nie. God het wel ’n plan om mense wat in armoede verkeer te help. ’n Verbondsplan wat nie net met ’n Afrikaner-gemeente te make het nie, maar ook met die gemeenskap.

Hy vra dat daar gegee word omdat Hý gee.

Vet

Die ou offerande-wet in Eksodus 15:4 lui: “Ook mag die vet van my feesoffer nie tot môre oorbly nie.” Dus mag die beste deel van wat jý het, nie weggelaat word nie. As jy gee, gee alles, want God gee volledig in Jesus Christus.

Die woord “vet” beteken dat die beste deel van die offer omgeskakel kan word in voeding. Om die vet van die offer dus vir jouself te hou, is as’t ware om te verhinder dat God se liefde aan ander wat dit net so nodig het as jy (indien nie meer nie) uitgedeel word. God wil álles deel en nie slegs gee as Skepper en as Redder nie. Nee, deur die werking van die Heilige Gees gee God ook as Versorger álles en aan almal.

Deur die werking van die Heilige Gees kry jy jou aandeel. Jou deel het die “vet” in wat God wil deel en verder uitdeel – selfs aan volke.

Verbod

God plaas as’t ware ’n verbod op armoede in die verbondsgemeenskap as hy sê: “Maar daar moet geen arme by jou wees nie, want die Here sal jou ryklik seën in die land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem. As jy net luister na die stem van die Here jou God.” (Deut. 15:4.)

Baie keer herhaal God hierdie oproep: “As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.” (Jes. 1:19.)

Armoede is ʼn gemeenskaplike probleem, dit is meer as wat een gemeente kan of hoef te hanteer. Die eenheid van God se kerk, as die liggaam van Christus, is hier op die spel.

Ons voorgeslag was meer gehoorsaam en gewillig teenoor die Heilige Gees. Die eerste Helpmekaar-kongres en alles wat daaruit voortgevloei het, is deur die Afrikaner-kerk gereël en gelei. Hulle was eerste daar. Hulle het die roeping verstaan. Vandag blyk dit ongelukkig anders te wees.

Vol

God vervul sy beloftes volledig. God gee wat nodig is. As Hy van ons vra om die arm mense te help, gee Hy in Christus deur die Heilige Gees dít wat nodig is om dit te doen. Ons behoort dus nie die vet vir onsself te hou nie, want só verhinder ons dat alles wat ons het, nie by almal wat behoeftig is, uitkom nie. Om slegs aan enkelinge of enkele gemeentes te gee, is selfsugtig.

Jesus Christus, as lig van die nasies het na ons gekom, vol van genade en waarheid. Waarom tree ons op asof God nie genoeg gee nie, asof die woorde “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie” net trooswoorde vir ’n sterwende moet wees?

Ons Afrikaner-gemeentes en gemeenskappe moet werklik poog om so te leef dat die woorde “ek kom niks kort nie” bewaarheid word. Eers dán kan ons voluit getuig, die verbond ag, die vet nie terughou nie en geesvervuld aan almal sê: “… en uit sy volheid het ons almal ontvang, ja genade op genade.” (Joh. 1:16)

  • Uittreksel uit ’n toespraak van dr. Wikus Buys, direkteur van identiteitsontwikkeling by Aros, op die #Helpendekerke-kongres van 6 Nov. 2019 by die Atterbury-teater.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Arak ·

Armoede is bloot ‘n simptoom van die samelewing, nie die oorsaak nie. Ongelukkig het die kerk lankal sy mandaat vir die staat gegee. Die kerk se mandaat was onder andere, armoede verligting, opvoeding en beskerming van morele waardes. Omdat die kerk al sy funksies vir die staat gegee het, is die kerk bankrot op alle vlakke; moreel, intellektueel en finansieel. Voor die kerk nie begin opstaan teen die staat nie, sal dit net erger gaan, maar ons kerke is te papbroekig en verkies die belasting voordele van die staat eerder as om teen die staat te staan nie. Gaan kyk gerus na die rigters, hulle het keer op keer teen die staat gepreek, maar ons kerke probeer gay dominees paai. Vergeet van armoede verligting, begin deur sonde sonde te noem en God te smeek vir vergifnis. Ons verdien alles wat ons tans kry, want daagliks spoeg ons op die Verlosser met ons aksies. Word wakker kerk, hoe lank nog gaan ons op die kantlyn staan?

Marlene ·

Ek gaan so bietjie my opinie lig oor die ruperts. Wens mense kan ophou om hul te betrek as ryk (asof dit in hul skoot geval het). Hul het gewerk waar hul gekom het en dien God (ons Lewende God) en doen baie skenkings en liefdadigheidswerk en werk reg met hul geld. Hou op om alle ryk mense onder dieselfde kam te skeer. Sommiges word skelm ryk ander werk hard. Daar is n verskil. Die arm mense ook. Sommiges is daar deur hul eie toedoen ander deur onbillike praktyke ensomeer. Ongeag hoe mens in so situasie beland het, die punt is dat ons mense moet ophou soek vir verskonings en begin optree om uit situasies te beland. Begin by God. Soek God. Bid vir n ommekeer in ons land. Ja ons almal gaan deur beproewing, ryk en arm. En daar is baie korrupsie. Dit praat ek nie weg nie. Begin egter net as nasie saamstaan en bid dat God ons help om nie te gaan le nie.

Feite ·

Wanneer die kerk se leiers afdwaal van die Woord van God en swig voor druk van politieke en gemeenskappe se anti bybelse argumente, dan faal die kerkleiers nie net gelowige volgelinge nie, hulle faal vir God! Miskien het kerkleiers hulle volgelinge se onwrikbare geloof in die Woord van God totaal en al onderskat. Kerkleiers is in die moeilikheid en die kanse is goed dat armoede kerkleiers ook gaan tref, dis Virseker!

Peanut ·

My pa het altyd gesê: “Is hulle arm omdat hulle só is, of is hulle só omdat hulle arm is”.
Soms vra ek ook die vraag.

Riena ·

Interessant, in ons huis het ons ook vier V`s om te bepaal of ons deur God geseen word:

Vryheid, Vrede, Voorspoed en Vrugbaarheid.

Ons haal dit hoofsaaklik uit Deut 28 en gebruik dit om ons gehoorsaamheid op te skerp. Ons land kry swaar onder al vier van daardie seeninge

Eddie ·

Ek dink die vrugbaarheid trek net soms die vrede en voorspoed uit lyn uit !

Maria ·

Wat van drank en dwelms.
Is dit n oorsaak of n een van die simptome.

Linda-Lea Olivier ·

Hierdie posisie is ons straf — ek moet daagliks die druk deur SAners, wat hulle landgenote tot uitmergeling misbruik ervaar en probeer teëwerk. Hulle kom nie die bepalings van die land se wette aangaande vergoeding vir dienste gelewer na nie, sit Sondae ewe vroom in kerkbanke en luister na preke wat oor presies dieselfde onderwerp handel, gaan heen en doen nog steeds net wat hulle wil, omdat hulle weet die `armes’ wat daagliks deur hulle `gedryf’ word sal nie uitpraat nie en is maar te dankbaar vir die aalmoes wat hulle wel bereid is om te betaal. Hierdie `werkgewers’ hou beslis Afrikaner-armoede in stand en doen dit in alle vroomheid. Gee my liewer die vier V’s wat Riena aanbied – mits ons weer begin om Sy gebooie te onderhou en in Sy weë te wandel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.