Die vlag en Steve – verstandig of aspris?

hof-hamer

Argieffoto

Is die vertoon van die ou Republiekvlag gelykstaande aan haatspraak? Mag Steve Hofmeyr by die musiekfees Afrikaans is Groot optree?

Dít is twee vrae wat tans gestel word na aanleiding van die gelykheidshof se uitspraak dat die vertoon van die Republiekvlag – behalwe vir “joernalistieke, akademiese en artistieke uitdrukking” en “slegs as dit in die belang van die publiek is” – op haatspraak neerkom. En die hotelgroep Sun International het gedreig dat hy nie meer die fees sal huisves as Hofmeyr op die program is nie.

Dis verleidelik om boos te word en op en af van woede te hop. Kom ons bly egter rustig en behandel die saak volgens die streng vereistes van die logika. Ons bekyk dit op drie fronte – filosofies-prinsipieel, ons kyk wat die reg sê, en ten slotte na die praktiese politiek.

Ten eerste: Ek is ’n liberale demokraat wat glo in die demokratiese stelsel, in individuele vryheid en in die vryheid van spraak. Die alternatief is die totalitêre diktatuur wat in die Sowjetunie en Nazi-Duitsland gepraktiseer is, of die outoritêre stelsel wat in China, die moderne Rusland, of Zimbabwe geld.

In beginsel moet die grense van spraakvryheid so wyd moontlik getrek word, want vryheid is ondeelbaar.

My standpunt is mýne; ek moet dit naas ander op die markplein van idees (Johan Degenaar se beeld) verdedig. My regte is egter nie net myne nie; dis álmal s’n. As mý regte aangetas word, word ook jóú regte – en ons almal s’n – aangetas.

Gevolglik verg ’n volwasse demokrasie dat ek die reg van mense moet verdedig om standpunte in te neem wat my walg. Dis soos die woorde wat (waarskynlik verkeerdelik) aan die Franse verligtingsfilosoof Voltaire toegeskryf word: “Ek keur wat jy sê af, maar ek sal jou rég om dit te sê, tot die dood toe verdedig.”

Met ander woorde, sowel Steve Hofmeyr as Julius Malema het in beginsel die reg om hul eie standpunte in die openbaar te verkondig.

Maar is daar dan géén beperking nie? Ja, daar is veral twee.

Die een is laster, wat hier nie verder relevant is nie en ’n eie artikel regverdig. Die ander is haatspraak.

In die Suid-Afrikaanse reg is daar twee dokumente wat haatspraak omskryf. Art. 16 van die Grondwet waarborg vryheid van spraak, behalwe vir:

  • Propaganda vir oorlog;
  • Die aanstigting van dreigende geweld; en
  • Die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak.

Daarnaas definieer art. 4(1) van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak van 2018 haatspraak só: Woorde wat doelbewus versprei word om skadelik te wees of skade aan te moedig, haat te bevorder of te propageer – en dan word ’n stuk of 15 terreine genoem waarop dit van toepassing is, soos ouderdom, ras, geslag, etniese afkoms, ensovoorts.

Wie die twee dokumente goed bestudeer, sal sien dat die Wet verder as die Grondwet gaan. By die Grondwet is daar een gemeenskaplike element wat die drie kategorieë saambind, naamlik geweld of dreiging met geweld. In die Wet, wat sy net veel wyer sprei, is dit afwesig.

Terloops, in ons staatsreg geniet die Grondwet voorkeur bo enige wet wat aan die Grondwet moet voldoen. Ek sou in my dommigheid reken daar is ’n saak voor uit te maak dat, omdat die Wet veel verder as die Grondwet gaan, hy ongrondwetlik moet wees, maar laat ek nou maar nie my kop op ’n blok plaas nie – nou-nou verloor ek hom.

Nou is die vraag: is die blote vertoon van die Republiekvlag gewelddadig, of word daarmee met geweld gedreig? As iemand die vlag swaai en ’n toespraak hou dat alle swart mense in die see gedryf moet word – dan wel; anders nie.

Ek kan om die dood nie sien hoe die blote vertoon van die Republiekvlag haatspraak kan wees nie. En ook het ek Steve Hofmeyr nog nooit met geweld teen enigiemand hoor dreig nie.

Daar is by my min twyfel dat die gelykheidshof met sy beslissing veels te ver gegaan het. Die beslissing kom neer op ’n verkragting van een van die sentrale pilare van die liberale demokrasie, naamlik vryheid van spraak. En daarmee het die hof ’n instrument van onvryheid geword, een wat die demokrasie bestry, pleks van om hom in stand te hou.

Maar daar is nóg ’n vlak waarop ’n mens die saak kan beskou. Dit is die vlak van gesonde verstand.

Om ’n analogie te trek: Daar is geen enkele wet op aarde wat my verbied om vuil, al stinkende en in vodde geklee by ’n deftige dinee op te daag nie. Geen hof sal my skuldig bevind en my beboet of tronk toe stuur nie.

Maar is dit verstándig? Nee, enige weldenkende, beskaafde mens sal nie twee keer oor die antwoord hoef te dink nie.

Net so: Is dit verstandig om die Republiekvlag uitdagend in die openbaar rond te swaai? Nee.

Op dieselfde vlak: Is dit verstandig van enige sanger – iemand wat immers vir sy brood van ’n breë publiek afhanklik is – om énige omstrede politieke standpunt, links óf regs, gereeld te verkondig? As die sanger dan openbare teenspoed kry, moet hy kla? Of moet hy die pak maar vat?

Dis soos pres. Harry Truman al in 1942 gesê het, jare voor hy president geword het: If you can’t stand the heat, stay out of the kitchen. As jy omstrede standpunte inneem, kan jy verwág dat andersdenkendes jou by wyse van spreke aan die bors gaan gryp.

Maar goed, as Hofmeyr se skouers breed genoeg is, en as hy bereid is om ’n sekere verlies aan inkomste te dra, wie is ek om te sê hy mag nie op kunstefeeste optree nie? Of glo die betrokke hotelgroep nie in die demokrasie of spraakvryheid nie?

Die demokrasie verg bowenal verstandigheid. Die antieke Griekse digter Hesiodos het ’n interessante leuse geskep (een waaraan die Grieke, om eerlik te wees, self meestal nie voldoen het nie): “Wees berekenend; gematigdheid is die beste in alle dinge”.

Die demokrasie hou nie net regte – dinge wat jy mág doen, wat jou nie verbied mag word nie – in nie. Régte bring plígte mee. Dit beteken dat jy jou vrywillig van dinge ónthou, omdat dit onverstandig is.

Só ook met die Republiekvlag. Só ook met Hofmeyr se omstrede standpunte.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jerry ·

Die kern is “met verstandigheid en verantwoordelikheid”. Die uitdaging met Afriforum en Steve se benadering is dat hulle onbesonne optredes en uitsprake nie net gevolge inhou vir hulself en vir vryheid van spraak nie, dit hou gevolge in vir weerlose onskuldige mense en die se ander vryhede omrede reaksie op die onverdedigbare n kettingreaksie tot gevolg kan he van ander onverdedigbare vryhede. Opswepers gebruik die vlag wat n onverdedigbare vryheid is om vryheid van spraak te bevraagteken, terwyl dit eerder die motief is om menslike emosies op te sweep, want daar is niks soos simbole wat verban word, wat menslike emosies kan opsweep nie. Die waarheid is egter dat die verbanning van die vlag nie ons vryheid van spraak op alle ander aspekte aantas nie! Ons moet dankbaar wees vir die ander onverdedigbare vryhede wat ons nog het en moet nie met onverstandige optredes dit ook n teiken maak en prysgee nie! Ongelukkig lyk dit na die motief van sekere mense om ons vryhede en regte n teiken te maak deur uitlokking en skoorsoek taktiek en daardeur toenemend die Afrikaner uitgesluit te laat voel en te isoleer by Afriforum/Solidariteit se selfbeskikkings strewe vir die bou van n Afrikaner sakeryk. Die probleem is dat die Afrikaner gebruik word, terwyl die aanslag die Afrikaner teiken en benadeel, die aanslag teiken nie Afriforum/Solidariteit en die se lede nie, dit bevoordeel Afriforum/Solidariteit se sakeryk! Die aanslag teen die Afrikaner is nie net van die ANC/eff nie, dit is ook die sakeryk motief!

ChrisE ·

Ek lees die skrywer se brief en siening en het my eie mening daaroor. Elke persoon het die demokratiese reg om sy mening te lug. Ek verstaan nog nie die liberale demokrate se denke nie. Dit laat my aan die ou SAPPE en
PROGGE in die vorige bedeling dink. Hulle vervloek die NATTE maar val op hil knieë in die aand en bid, “thank the lord for the Nats”. Wanneer gaan die mense begin besef of verstaan die Westerse Demokrasie is nie haalbaar in Afrika nie. Sal nooit wees nie en het ook nêrens pos gevat nie. Ek weer nie hoekom almal so behep is met ‘n sg demokrasie wat in Suid Afrika bestaan nie. Demokrasie is ‘n ingewikkelde verfynde beskaafde konsep wat net in ‘n eerste wêreldse land/bestel moontlik kan werk. ‘n Demokrasie werk in ‘n paar lande nl Noorweë, Denemarke, Swede en Finland. Die beskawingpeil is hoog, die geskooldheid en lewensstandaard is amper dieselfde. In Afrika regeer jy met “fear and awe”. Dit is die taal wat die Afrikaan verstaan. Kyk net hoe word minderhede hanteer en wette vertolk. Almal is gelyk, party net meer gelyk as ander.

Stephan de S ·

Goed deurdagte artikel. Ek is nie op hoogte v Steve se doen en late nie, maar ek kan nie onthou dat hy meer omstrede politieke uitsprake maak as swart politici en leiers nie. My afleiding is dat jy net sekere dinge mag sê as jy as jy die verkeerde kleur het.

J van Rensburg ·

As mens kyk na gebeure oor die laaste 5 jaar, en nie net die laaste week nie dan kry diè prentjie meer kleur. In 2015 sing Steve die stem by Innibos, in 2016 word sy optredes by die KKNK en meeste ander kultuur feeste gekanseleer oor die stem en dan ook sy tweets. Dit word nou tot ń punt gedryf waar Steve se vermoë om ń lewe te maak vir hom moeilik word omdat sy sienning nie met die “main stream” sin loop nie.
Oor die selfde tydperk: Afrikaans word weg gegooi op al wat universiteit is, Afrikaanse skole word ondermyn, “White Minority Capital” en “al Afrika se probleme het met Jan v Riebeek begin” en nog hoeveel ander voorbeelde.
Verstandig of aspris is nie meer ter sprake nie, die Afrikaner voel bedreig en hy begin kuite styf maak.
In ń mate stem ek saam Jerry, die soliforum bende buit hiedie situasie uit vir finansieële gewin. As Soliforum die Afrikaner se belange op die hart dra, hoekom geld vat van die FW de Klerk stigting? Wie se brood jy eet, uit sy mind sal jy spreek

Jannie van Niekerk ·

Ek sal net graag een vraag vra. Waarom mag Malema sy standpunte (wat haatspraak
is) verkondig, maar Steve Hofmeyer mag nie sy standpunrte (wat nie haatspraak is nie) verkondig? Is dit dalk omdat Steve die waarheid praat? En almal weet die waarheid maak seer….

Sann ·

Ek stem saam met Jannie. George Orwell: “The further a society drifts from the truth, the more it will hate those who speak it.” En ook saam met Chris E dat demokrasie geen vooruitsig op sukses het in ons land nie – elkeen kan dit maar vir homself gaan uitwerk. En daarenteen wil ek vir Jerry sê dat jy presies dink soos die kommuniste wil hê jy moet. Jy sien nie meer die ongeregtigheid nie, want jy word gepaai. Maar so krimp jou boksie elke dag… En soos dit ‘n goeie onderdaan betaam, betaal jy jou belasting, hernu jy elke kaart en lisensie, gee jy jou wapens in, gee jy jou regte op, op water, minerale en grond…. Op vryheid van spraak, denke en assosiasie…. Op moedertaalonderrig, -dienste en -vermaak… Want jy dink alles sal mos “regkom as elkeen sy plig doen”. Ons is die generasie wat oortuig is van ons beskaafde waardes, en daardie lojaliteit word uitgebuit deur gewetenlose andersdenkendes. “When injustice becomes law, resistance becomes duty”.

Rooi Jan ·

Dankie Sann wou antwoord op Jerry se stukkie kapitulasie propaganda maar jy het hom uitstekend geantwoord. Opgee en oorgee is nie die antwoord nie.

Christa ·

EK kan nie vir Steve point kwalik Neem oor wat Hy Al gesê het nie. Net vandag weer Kon jy self sien hoe Kan hulle iets verwoes. Gesegde wat sê : Lee blikke Maak grootste lawaai. Steve tree Altyd Soos Heer op, Hy gedra Hom en die man Kan sing

Frans C ·

Die optrede van die ANC en sy trawante spruit slegs uit een ding en dit is ‘n diep ingewortelde minderwaardigheidskompleks wat nou verberg word agter ‘n arogante houding van ‘n ‘klaas wat nou baas’ geword het en geen teenspraak duld nie.

Alhoewel ‘Animal Farm’ eintlik volgens Orwell ‘n satiriese weergawe is op die gebeure wat gelei het tot die Russiese rewolusie van 1917 bespeur ‘n mens tog elemente daarvan in die optrede van die ANC .Stalin was eers hoog aangeslaan deur die liberaliste
weens sy stryd teen Nazi Duitsland maar dat daar ‘n skrikbewind daarna was is alom bekend.

Gelukkig is ons nog nie sover nie maar aanduidings is daar,want hoe meer Suid Afrika misluk hoe meer paranoies raak die owerheid en word veral die blanke Afrikaner die slagoffer daarvan op alle gebiede waar hy voorheen toonaangewend was.

Annamarie Olivier ·

Die skrywer hardloop wydsbeen oor die sper streep.
Hy se eintlik niks…..

Rooi Jan ·

Dankie Sann wou antwoord op Jerry se stukkie kapitulasie propaganda maar jy het hom uitstekend geantwoord. Opgee en oorgee is nie die antwoord nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.