Toerisme is al ʼn ou bedryf, veral in Europa, en vir die klassieke bestemmings rondom die Middellandse See soos Frankryk, Italië, Spanje, Kroasië, Griekeland en Portugal ʼn wesenlike bron van inkomste.
Toerisme neem feitlik oral in die wêreld jaarliks toe. Die redes is dat reis al goedkoper word, dat daar ʼn tropmentaliteit is (almal reis omdat almal reis en niemand wil “uit” voel nie) en veral ook omdat daar weens groeiende inkomste in voorheen geslote en arm lande (soos die hele Oos-Europa, Rusland en veral Sjina) nou miljoene toeriste die afgelope twee dekades bygekom het.
Die klassieke reisigers uit Wes-Europa, soos Duitsers, Britte, Nederlanders en Franse reis ook nog meer as voorheen omdat hulle welvaart styg, werksure minder word en al minder van hulle nog kinders het wat hulle mobiliteit beperk.
Die internet maak reis nog soveel makliker en goedkoper en hou vir ʼn mens gereeld aanbiedinge en bestemmings voor waarvan jy in die tye voor die internet nie eens bewus was nie. Die verwydering van grense en verskillende geldeenhede binne die Europese Unie moedig mobiliteit verder aan. Daarby kom die verkondigde ideaal van die ontstamde, altyd bewegende wêreldburger wat oral ewe tuis is, wat die sielkundige agtergrond skep dat mense wat eintlik nie ʼn behoefte het om alewig te reis nie, dit wel doen.
Al meer ontluikende lande het die afgelope paar jaar as bestemmings bygekom. Soos wat daar ná die einde van die Koue Oorlog hele streke oopgegaan het, en voorheen agterlike en geïsoleerde lande hulle oopgestel het, het toerisme ʼn massaverskynsel geword. Eens eksotiese bestemmings soos Viëtnam, Kambodja, Mianmar, Mosambiek, Mongolië of Kuba is lankal ontdek en word net nog verder vir toerisme ontsluit. Lande soos Turkye, Tunisië, Egipte, die Dominikaanse Republiek, Mauritius en Marokko, ensovoorts, het reeds bestemmings vir massatoerisme geword.
In die afgelope paar jaar het die verskynsel van Islam-terrorisme veroorsaak dat sekere lande aan die suidekant van die Middellandse See minder gewild word en dat toeriste hulle toenemend vermy, soos Tunisië, Turkye en Egipte. Omdat diegene wat soontoe reis veral son en strande soek, maar ook veiligheid en gerief, spoel die massas nou terug na die ou bestemmings soos Italië, Spanje en Griekeland. Die gevolg is dat toerismemassas nou onbeheerbaar en lastig word. Die gevoel teenoor toeriste in die genoemde lande is aan’t draai.
Vir die gewone bevolking raak blyplek onbekostigbaar en onverkrygbaar, omdat almal eerder seisoenaal aan toeriste verhuur as permanent aan inwoners. Afgesien van die feit dat alles vir inheemse mense duurder word, hulle net nie meer self plek in ʼn hotel of restaurant kry nie en dus vreemd in hulle eie stad voel omdat daar oral toeriste is, baat die bestemmings en veral die gewone bevolking al minder by toerisme.
Alles is deesdae so georganiseerd dat net die reisagente en enkele internasionale hotelgroepe daarby baat en nie meer die individuele restaurant- en winkeleienaar nie. Voeg daarby die verskynsel van bootreise, waar massas vir ʼn paar uur op altyd dieselfde reeds oorvol topbestemmings neersak en min geld plaaslik bestee, omdat hulle op die bote slaap, eet en hulself vermaak. Die stede wat besoek word, soos Venesië, Barcelona, Palma de Mallorca, Rome, Valetta, Dubrovnik, ensovoorts is net nog ʼn agtergrond vir selfies.
Tot dusver is dit deur die inheemse bevolking gelate aanvaar, maar nou is daar op al meer plekke weerstand en selfs aggressie teen toeriste. Veral in Spanje is dit die geval, waar toeriste intussen elke uithoek van die land oorstroom. Spanje verwag vir 2017 tot 80 miljoen toeriste, ver meer as die bevolking van sowat 46 miljoen. Barcelona was nog altyd ʼn gewilde bestemming, maar terwyl die stad in 1990 sowat 1,7 miljoen besoekers gekry het (omtrent dieselfde as die stad se bevolking), was dit verlede jaar 9 miljoen. In Venesië is dit nog meer ekstreem. Terwyl die inheemse bevolking gedurig krimp (ook omdat behuising onbekostigbaar raak), en nou op 55 000 mense staan, neem die toeristegetalle vanaf reeds hoë vlakke net verder toe, tot op 27 miljoen verlede jaar.
In sekere stede is daar nou ʼn reaksie teen toeriste wat dikwels deur nasionalistiese en verlinkse groeperinge georganiseer word. Daar vind al meer betogings plaas en slagspreuke teen toeriste word teen mure geverf; selfs saakbeskadiging van toerismeverwante infrastruktuur kom voor.
Owerhede het hier en daar ook al begin reageer deur die toeristestrome te reguleer. Dubrovnik in Kroasië, nog altyd ʼn gewilde bestemming, word sedert Game of Thrones (waarvan dele in Dubrovnik verfilm is) totaal oorstroom en die burgemeester wil nou ʼn maandelikse perk op die aantal toeriste wat die ou stad mag betree, plaas.
Toerisme is een van die bedrywe waar globalisering en die internet ongewenste newe-effekte veroorsaak het en wat nie deur die kragte van die mark weer in balans gebring kan word nie. Selfs in tye van ekonomiese insinking groei toerisme, hoewel stadiger as in tye van voorspoed. Ook die ontginning van nuwe bestemmings om die druk op ou bestemmings te verlig help nie werklik nie, want dit skep net nuwe markte eerder as om ou strome te herlaai.
Uiteindelik sal die plaaslike gemeenskappe self moet besluit hoeveel en watter soort toeriste hulle wil hê en dienooreenkomstig hulle bemarking, regulering en pryse aanpas.
klink soos mosselbaai
Ons is dankbaar vir ons vakansiegangers in Hermanus en Gansbaai. Ek stem saam dat toeriste spandeer nie geld om te koop nie, wel miskien om te eet, want jy kan nie baie terugneem na jou land van herkoms nie, want jy word beperk op die kg op jou bagasie. Ons het nou gevind dat Air Mauritius jou 2 tasse van 23kg per passasier toelaat – seker dat jy kan koop!