Die volle sirkel van swart ekonomiese bemagtiging

finansies-geld-onder-die-vergrootglas

Foto: Stevebp/Pixabay.com

Deur Amanda Visser

Die sukses van swart ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika – gemeet aan internasionale definisies van ekonomiese bemagtiging – is twyfelagtig.

Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling se definisie van ekonomiese bemagtiging is die vermoë van mans en vroue om deel te neem in, by te dra tot en voordeel te trek uit groeiprosesse.

Dit moet plaasvind in ʼn omgewing waar hul bydraes erken word, hul waardigheid gerespekteer word en waar dit moontlik is om ʼn regverdiger verspreiding van die voordele van groei te bewerkstellig.

In Suid-Afrika het die konsep van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) ontstaan saam met die demokratiese bestel in die jare 90.

Dit was egter eers teen 2007 dat die kodes van goeie praktyk gefinaliseer is. Die aanvanklike swart ekonomiese bemagtigingspraktyke is gekritiseer weens die “nou bemagtiging” waar een swart mens as aandeelhouer deure vir ʼn maatskappy kon oopmaak, al beteken dit dat sy indiensnemingkoste die werk van talle ander in gedrang kon bring.

Mansoor Salee, vennoot van die oudit-, belasting- en adviesfirma Mazars, sê die “ou kodes” wat in 2007 gepubliseer is, het egter die klem verskuif van swart eienaarskap na breed-gebaseerde swart bemagtiging. Dit het die “deursyfer-effek” gehad wat ware bemagtiging moes bewerkstellig.

In daardie tyd het swart eienaarskap dieselfde gewig op die bemagtigingstelkaart gedra as voorkeur-verkryging (preferential procurement). Beleggings in swart maatskappye het meer gewig gedra as swart bestuur.

Dié maatskappye wat swaar gesteun het op swart eienaarskap en min aandag gegee het aan vaardigheidsontwikkeling, voorkeur-verkryging of gelyke indiensneming het onder die 2011-bestel swak gevaar.

Die bestel is vinnig verander. Salee sê die subtiele veranderings in die kodes in 2013 het die klem teruggeskuif na swart eienaarskap. ʼn Maatskappy wat onder die ou kodes – sonder swart eienaarskap – minstens ʼn middelvlak- (Vlak 4-) SEB-status kon verwerf, het nou weinig kans onder die nuwe kodes.

Die Vlak 4-SEB-status het voorheen 65 punte vereis, maar met die nuwe kodes is die drempel verhoog na 80 punte. ʼn Maatskappy met 65 punte op die SEB-telkaart het van vlak 4- na vlak 7-SEB-status geval.

“Die vraag is of die nuwe kodes steeds beskou kan word as breed-gebaseerd,” sê Salee.

Michael Nassen Smith, navorser by die Instituut vir Africa Alternatiewes, sê in ʼn artikel wat laas jaar in die Mail & Guardian gepubliseer is, daar is onvoldoende bewys dat SEB die verspreiding van rykdom in die Suid-Afrikaanse gemeenskap “ontras” het.

“Daar is talle bewyse dat SEB slegs daarin geslaag het om ʼn handvol swart sakelui en politici met goeie konneksies te verryk.”

Smith verwys na regeringsprogramme soos die “Heropbou- en Ontwikkelingspogram” en die “Groei-, Werkverskaffing- en Herverdelingsprogram” wat daarop gemik was om ekonomiese rykdom te herverdeel.

Nie een van die twee programme het oorleef nie, maar SEB het. Dit het egter volgens Smith net daarin geslaag om die belange van swart Suid-Afrikaners te verdeel. Goedkoop arbeid beteken meer winste en hoër dividende vir dié aandeelhouers in groot maatskappye.

“Om dit in vulgêre terme te stel: swart SEB-elite wat floreer, beteken swart werkersklas-uitbuiting,” skryf hy in sy artikel.

“Die bemagtiging van arm swartes beteken die skrapping van SEB en die instelling van betekenisvolle herverdelingsbeleide wat strukturele hervorming van die ekonomie kan bewerkstellig.”

Dit behels grondhervorming, ʼn herontwerp van die onderwysstelsel, groter infrastruktuurbesteding, en die skrapping van uitkontraktering.

“Niemand moet afgepers word met die gedagte dat dit neerkom op ʼn vorm van anti-swart rassisme nie.”

Salee sê SEB is nog moeiliker weens die gebrek aan ekonomiese groei. “Die nuwe kodes kan dalk werk as daar meer nuwe swart besighede is wat werk verskaf en die ekonomie laat groei.”

Die nuwe kodes bied weinig aansporing vir swart ekonomiese bemagtiging deur ondernemings wat kan oorleef en floreer sonder regeringskontrakte.

Die positiewe aspek van SEB tot dusver is dat dié wat deur finansiële ondergang in die gesig gestaar is sonder ʼn gepaste SEB-status, ʼn swart vennoot gevind het of hul swart werknemers deur aandele-aansporingskemas bemagtig het.

AfriSake se bestuurder: Arbeidsregsadvieseenheid, Charles Castle, meen ook “SEB is tans besig om meer skade aan die ekonomie te rig as wat die oorspronklike doel van bemagting verwesenlik word. Die staat moet afstand doen van sy radikale planne vir ekonomiese transformasie tot voordeel van Suid-Afrika se ekonomiese voortbestaan. AfriSake sal voortaan veg vir ʼn gelyke speelveld waar meriete eerder as jou SEB-status die bepalende faktor moet wees”.

Salee sê daar is ʼn teorie in die mark dat die nuwe kodes geskep is om die belange van “tenderpreneurs” te dien.

Dit beteken swart ekonomiese bemagtiging is terug waar dit meer as 20 jaar gelede was. Dit baat net ʼn handjievol sakelui en politici met goeie konneksies.

  • Hierdie artikel is verskaf deur AfriSake ʼn niewinsgewende sakeregtewaghond.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

John ·

Kodes en afkortings en punte en status en definisies en faktore en teoriee en radikale meesterplanne en kongresse en berade vir erkenning en waardigheid en regverdigheid en bemagtiging en grondeienaarskap en totalitere oorheersing vir chaos en verskroeide aarde en korrupsie en armoede en opstande en migrasie en moord en doodslag vir volmaakte zero-vooruitgang vir rubberbote vir vlug na die kammalande vir kodes en afkortings en…

Pieter ·

Swart Ekonomiese Bemagtiging sal later net so’n vloekwoord wees as apartheid. Die beginsel is dieselfde. Voordeel vir die een tot nadeel van die ander.

Johann ·

Nie heeltemal nie, daar was niks in die tuislande om te plunder nie, al het hulle daar koning gekraai. party het wel floreer. Kyk hoe gaan dit in die ‘Trusts’ vandag, nie beter nie. Die stampkapteins bestuur ook die feudale stelsel in die landelike gebiede met ‘n ysterhand. In daardie gebiede woon die stamme apart, elkeen het sy eie grondgebied. Kyk gerus waar is die Sjangaans, Tjongas, Vendas, ens, ens, se gebiede.

MCH ·

Die onverskrokke houding van Afrisake tov SEB is prysenswaardig. Hoe dit in die praktyk gaan realiseer is n perd van n ander kleur gedagtig aan onlangse dreigemente deur politici dat maatskappye geweldige boetes opgelê gaan word indien SEB teikens nie behaal word nie. Die regerende party se klaaglike lys van mislukkings word net al langer. Geen van die entiteite wat deur hul kornuite bestuur word, is op n winspad nie. Eskom en die SAA is in die afgrond in bestuur en daar is nie eens sprake van lig op die horison nie. Die onderwysstelsel wat die draaipunt in kundigheid moes lewer, het jammerlik gefaal vanweë totale wanbestuur. Nou word die poging verskerp deur radikale ekonomiese transformasie om suksesvolle besighede van hul bates en kundigheid te stroop. Die probleem lê in omgekeerde diskriminasie wat soveel haat dra dat die baba met die badwater uitgegooi word. Iewers sal ons vir oorlewing moet wal gooi en n streep in die grond trek.

Lukie vd Merwe ·

Die kort van die lank om nou na n dekade steeds die SEB slaafs na te volg deur die blankesake manne in SA, is om jou eie dokumente te onderteken vir ondergang. Verwyder jou sakebelange (alle vorme van beslastings) uit die sisteem uit!!! Sluit aan by die BLANKE KAPITALE BEMAGTIGINGS AKSIE. Almal wat nou deel is vedien alreeds 36% dividente sonder om n vinger te roer. Raak ontslae van daai parrasietboekhouer wat jou geld opvreet.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.