Die volle waarheid is altyd ingewikkeld en grys

Argieffoto

Argieffoto

Mense se stemgedrag verander regoor die Weste saam met die politieke kultuur. Waar linkse partye ʼn dekade of twee, drie gelede die inisiatief geneem het en regses op die verdediging was, is dit nou andersom.

Nou is dit regs-populistiese groepe wat toenemend die agenda bepaal en die tradisioneel linkses, saam met die gematigde sentrum,wat probeer walgooi.

Is dit, soos sommige Suid-Afrikaanse waarnemers meen, toe te skryf aan die opkoms van nasionalisme, etniese identiteit en nasietrots? Is die liberalisme en sosialisme, met hul klem onderskeidelik op die individu en die klas, aan die verbygaan?

Met die eerste oogopslag kan dit verleidelik wees om so te dink, des te meer omdat dit beslis ʼn deel van die verklaring is. Ja, daar is ʼn groeiende verset teen die Europese Unie (EU) as vervanger van die eie nasiestaat. En ja, mense is bang hulle sal hul vertroude identiteit moet prysgee en dat hulle deur die immigrante, veral Moslems, ondergeploeg gaan word.

Kyk jy egter in detail na meningspeilings, word dinge ingewikkelder.

Die Brexit-referendum, so het ek twee weke gelede in dié ruimte op grond van peilings betoog, het gewys Brittanje is in twee geskeur. Dit was, ongenuanseerd, Londen (vir bly) teen die res (vir uitstap); die jonges wat wou bly en die oues wat wou gaan; welvarendes en goed opgeleides vir bly en onopgeleide armes vir uitstap; die Engelse vir uitstap en die Skotte vir bly.

Iets wat breedweg soortgelyk is, geld vir ʼn ontleding van state op die Europese vasteland.

In Duitsland het die meningspeiler, Forsa, in ʼn omvattende studie, gedoen in Desember 2015, gevind verreweg die meeste van diegene wat op die regs-populistiese Alternative für Deutschland (AfD) gestem het, het dit as ʼn protes bedoel, nie omdat hulle met die party se verset teen immigrante saamstem nie. In Baden-Württemberg, waar die AfD in dié deelstaat se verkiesing goed gevaar het, was ʼn verbysterende 93% van die AfD-stemmers dit met dié stelling eens: “Die AfD los weliswaar geen probleme op nie, maar noem dinge wel op sy naam.”

In die ander twee deelstate waar verkiesings gehou is, Rynland-Palts en Sakse-Anhalt, was die persentasie effens laer, met onderskeidelik 90 en 64%.

Die peiling het ook bevind AfD-stemmers kan aansienlik meer as die breë bevolking as middeljarig, arm en onopgelei beskryf kan word. Daarby het die AfD veral sukses behaal by mense wat voorheen glad nie gestem het nie.

In Nederland het die peiler, Maurice de Hond, bevind 45% van diegene wat die regs-populistiese, Partij voor de Vrijheid steun, het slegs skoolopleiding. Net 17% van sy ondersteuners is “hoog opgelei”.

Altesaam 35% sit in die laerinkomsteklasse, 32% in die middelinkomsteklas en net 19% in die hoërinkomsteklas.

Soos in Duitsland, beteken dit nie hulle almal meen Wilders en sy PVV is fantasties nie. Inteendeel, die navorser, Chris Aalbers, wat die saak ondersoek het, se kommentaar aan die kwaliteitsdagblad NRC Handelsblad was: “Daar is ʼn minderheid wat regtig glo Wilders het die waarheid in pag. Maar die grootste groep bestaan uit mense wat gou twyfel aan die effektiwiteit en integriteit van die politiek en beskou ʼn stem vir Wilders as ʼn drukmiddel.

“Dit is oor die algemeen effens regse, ietwat ouer kiesers met ʼn konserwatiewe waardepatroon, redelik gematigde mense. Hulle stem op heelparty punte nie met Wilders saam nie.”

In Frankryk is Marine le Pen, van die Front National (FN), se steun luidens peilings in ʼn eerste verkiesingsronde rondom 30%, die grootste van alle groepe. Pres. François Hollande, ʼn sosialis wat allerweë as ʼn yslike mislukking beskou word, sal by 15% bly vassteek, terwyl die gematig-konserwatiewe oud-pres. Nicolas Sarkozy, 20% sal trek.

Wanneer dit egter oor ʼn tweede ronde gaan, sal Sarkozy Le Pen luidens verskeie peilings loshande met 60-67% teenoor 33-40% uitstof.

Dit is interessant dat Le Pen, anders as die regses in ander lande, wel ʼn beduidende persentasie van die jonges tussen 18 en 30 jaar (27-30%) se stemme sal trek. Wat maak Frankryk in dié opsig anders?

Wel, ten eerste het die land met een van die hoogste werkloosheidskoerse in Europa, 10%, te make. Dit wys die ekonomie, die geld in mense se beursies, speel ʼn beduidende rol. Peilings wys inderdaad werkloosheid is die grootste rede vir kiesers se voorneme om vir die FN te stem (41% en selfs 47% vir die jonges), teenoor slegs 34% wat vrees vir immigrante (32% onder die jonges) as rede aanvoer.

ʼn Tweede aspek is dat Le Pen die afgelope jare moeite gedoen het om haar party weg te ruk uit die ekstreemregse hoekie waar haar pa, Jean-Marie le Pen, dit ingeverf het. Die FN skud toenemend sy regs-populistiese identiteit af en word in die breë hoofstroom ingesuig.

Ons het nou hier na drie lande gekyk en ruimte maak dit moeilik om ander ook te ontleed. Maar die prentjie lyk oral maar dieselfde, met dié verskil dat links-populistiese partye (Griekeland en Spanje, byvoorbeeld) dieselfde rol as regs-populistiese groeperings speel.

Daar is nog ʼn opvallende ooreenkoms oor alle Europese grense heen. Al die populistiese partye kombineer verset teen immigrasie en Euroskeptisisme met ʼn sterk linkse ekonomiese benadering, met ʼn sosialistiese beleid, met die behoud van die sosiaal-demokratiese welsynstaat.

Populisme het baie gesigte, en links en regs loop soms deur mekaar heen.

Die kern van wat inderwaarheid in Europa aan die gang is, het sterk trekke van ʼn klasse-opstand teen die maghebbers, die elite. Regoor die vasteland (en dit geld in sekere mate selfs vir Amerika, waar Donald Trump beduidende steun trek) voel mense in die steek gelaat, dat daar nie na hulle geluister word nie, dat hulle nie by ekonomiese groei baat nie, dat die kloof tussen die haves en die have-nots groter word.

Die verset teen die EU en die immigrante is slegs ʼn onderdeel van ʼn groter opstand en luidens die ondersoeke, ʼn minder belangrike onderdeel daarvan.

Dis presies dieselfde as wat tans in Suid-Afrika met die armes in die townships en die ANC-regering gebeur. Die verskil is natuurlik dat dit in Europa nie met soveel geweld gepaard gaan nie.

Die volle waarheid is altyd ingewikkeld en grys. Dis nooit swart-wit nie. Moenie iets eenvoudigs van iets ingewikkelds probeer maak nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

DewaldS ·

‘Ingewikkeld en grys’ is maar doublespeak vir ‘deurspek met valse narratiewe’.

Kom ons oorvereenvoudig dit met opset ;-).

Die linkses – veral die politici – het maar net eenvoudig hulle geloofwaardigheid weggelieg en meer uit die stelsel gevat as wat hulle inset was. Die mense wie se goed hulle uitgedeel en gesteel het (onder valse narratiewe) wil dit net nie meer toelaat nie. En die politici kan dit wat verkeerd gegaan het nie meer reg-lieg nie. Daarom is daar ‘n swaai na regs.

Dit was eintlik maklik…..

Hein ·

Ek sien dat politiek dramaties gaan verander in S.A. waar elke politikus sal moet pa staan vir al sy beloftes. Die mense glo eenvoudig net nie meer wat die politici belowe nie. Dis ook die rede hoekom ek nie ‘n politieke party ‘n blanko tjek kan gee om my te verteenwoordig in die raadsale nie. Dit moet anderste om werk waar elke gemeenskap ‘n afvaardiging stuur om hom te verteenwoordig. Dit is maklik in ‘n homogene gemeenskap en bitter moeilik in die huidige geroesmoes samestelling van die woonbuurte in die dorpe en stede. Self die swartes is nie ‘n homgene gemeenskap met een taal en ras.

Leopold Scholtz ·

Beste DewaldS, ek is bly jy erken jy oorvereenvoudig. Dis juis waarteen ek waarsku, want dan kry jy ‘n valse beeld. Groetnis vir jou.

Theuns ·

Wat probeer jy se DewaldS. Jy klink maar darem baie neerhalend en beterweterig? Sal graag wil weet wat doen jy vir ‘n lewe!

DewaldS ·

Theuns, ek is ‘n spioen vir Rusland – ek en Wladimir noem mekaar sommer by die voornaam. En dan doen ek nog ander klein intelligensie-goedjies vir ‘n paar ekstra randjies vir Sjina en Noord-Korea.

Maar wat ek probeer sê het, is baie eenvoudig – die era van die linkse liberalepolitici en media-mense is verby. Die meeste van hulle begin nou agterkom hulle was maar net nuttige idiote vir die NWO-agenda.

Marius ·

Daar is ook die sentiment in lande soos Amerika waar mense soos Donald Trump gewild is juis uit verset teen die groeiende gaping tussen ryk en arm en die toelaat van duisende immigrante uit ander lande. Dit maak dit ironies aangesien van die politieke leiers wat juis verantwoordelik was vir die groot gaping tussen ryk en arm mense soos Ronald Reagan se ekonomiese beleidsrigtings was, en hy was ook ‘n Republikein. Wys jou hoe die tyd verander.

John ·

Is dit net dom en arm mense wat deur die manipulerende gedrag van die EU sien? Dit is verregaande om te se ‘waarheid’ is grys. Die Bybel se waarhede is dus grys… nee wat. Die misdrywe in die EU word eerder deur ‘n mistige grys kombers verberg. Dit is interessant dat uitlanders se menings oor SA altyd in die kol is, maar Afrikaners se sienings oor Europa en elders is altyd oningelig. Die outeur van bogenoemde artikel is die ideale EU-burger, waar almal se asblikke presies 1 meter x 1 meter van die linker hoek van die motorhuis se linker deur moet staan en almal se huise met presies dieselfde grys kleur geverf moet word anders word hulle beboet…Nazi-agtig en vervelig verby…

Leopold Scholtz ·

Theuns vra wat doen ek vir ‘n lewe. Ek het in 1975 as joernalis begin en het in 2013 – op papier – afgetree. Sedertdien is ek ‘n vryskut- politieke analis wat artikels soos hierdie een skryf. Ek was ook buitengewone prof aan die US. As ek nie artikels soos hierdie skryf nie, skryf ek geskiedenisboeke – het al ses op my naam en volgende jaar verskyn die sewende. Tevrede?
Dan: John sê dis “verregaande” om te sê die waarheid is grys. Dit ondanks die feit dat ek dit pas in bogenoemde artikel met vers en kapittel bewys het. As jy weet wat die waarheid is, wens ek jou geluk. Dan weet jy meer as die mees briljante geeste in die geskiedenis.
Ek sê dit nie neerbuigend nie. Dis maar net op 68 jaar my ervaring. Ek het genoeg van die lewe gesien om te weet die waarheid is nie swart-wit nie, maar bevat verskillende skakerings van grys. Jy mag gerus met my verskil; ek glo naamlik in die demokrasie en vryheid van spraak.
Dat jy die huidige Europa “Nazi-agtig” noem, wys helaas ‘n gebrek aan kennis.
Lekker week vir jou!

Theuns ·

Beste Dr. Leopold, ek het daardie vraag vir Dewald S bedoel! Ek weet presies wat jy doen en ek is ook baie bewus van jou kennis wat so deurslaggewend in jou kommentaar is. En ek is trots om te se dat ek ‘n onbeskaamde bewonderaar van jou is en ek is baie bly omdat jy die moeite doen om ons ingelig te hou oor die wereld gebeure en jy is in ‘n ideale situasie (In Nederland) om te sien wat in die wereld en Suid Afrika aangaan. Die ouens wat jou aanvat bewys maar net dat hulle heeltemal oningelig is en dit is ook nie verbasend dat hulle self nieantwoorde het nie en dat dit maar net ‘n klomp vitriol is!! Hou asb aan om te skryf. Die meeste van die ouens en dames is ondersteuners van jou. Boere Groete!

Theuns ·

DewaldS, dit lyk my jy het ‘n sin vir humor? Russiese spioen nogal? En op voornaam voet met Poetin. Ek hoor jy noem hom POE en hy vir jou Satan. Laasgenoemde is na aanleiding van die “S” na jou naam. Jy laat my dink aan ‘n swear van my! As jy gese het jy stem vir die NP dan sal hy se Hy stem vir die KP. As jy se jy stem ook vir die KP dan sal hy se nee hy stem vir die EFF. Jy weet nooit waar jy met die man staan nie. Wil jy ernstig debat voer of wil jy grappies maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.