Die Voortrekkers het Suid-Afrika al twee keer verower

Deur Willem van Heerden

Tussen 1835 en 1838 het die Voortrekkers (ongeveer 10 000 siele, hoofsaaklik Oos-grensboergesinne wat dieselfde taal gepraat het en dieselfde ideale gekoester het) die binneland van Suid-Afrika letterlik getem en verower.

Hierdie tapisserie in die Voortrekkermonument beeld ’n dramatiese toneel tydens die aftog oor die Drakensberge uit (W.H. Coetzer).

ʼn Reeks gebeure tussen 1839 en 1938 het egter die eensgesindheid onder die nasate van die Voortrekkers in so ʼn mate bedreig, dat daar teen die vroeë 1930’s soveel onmin en wrywing in Afrikanergeledere geheers het, dat daar ernstige twyfel bestaan het of die hoeksteen van die beplande Voortrekkermonument in Pretoria met eer gelê sou kon word. Die seer herinneringe aan die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) en die Rebellie (1914) is met stilswye verdra, eerder as om werklik verwerk te word.

In die aanloop tot die Groot Trek Eeufees het die plan ontstaan om op ʼn simboliese manier die Groot Trek te herhaal deur ʼn ossewatrek aan te pak op die spore van die oorspronklike Trekkers, en telkens by elke dorp langs die pad aan te doen. Oplaas sou die verskillende trekgeselskappe op die terrein van die Slag van Bloedrivier (1838) in Natal en by die koppie suid van Pretoria, waar ń monument opgerig sou word, eindig. Die Afrikaners het hierdie gebeure met belangstelling gevolg en die geleenthede in groot getalle bygewoon.

Die simboliese Ossewatrek van 1938 was ʼn oomblik van groot belang vir die Afrikaner se kulturele bewuswording. Dit was nie net die herdenking van hulle kultuur nie, maar ook ʼn herontdekking van hulle erfenis. Koerante soos Die Burger en tydskrifte soos Die Brandwag het die geleentheid aangekondig met opskrifte soos: “Jeug dra simboliese lig die binneland in” en “Sinnebeeld van idealisme van jong Suid-Afrika”. Die gebruik van begrippe soos “nasionale wedergeboorte” en “herontdekking” het ʼn oorweging van wat die verlede beteken het, moontlik gemaak.

Die waens het ʼn besondere plek ingeneem in die psige van die Afrikaner soos die fees ontvou het. Dit het die simbool geword van ʼn trekkende tuiste, ʼn bymekaarkomplek van verlangens en die konkrete samevloei van herinneringe. Een mening lui: “Die band van kameraadskap en broederskap tussen Afrikaners is om die waens herstel”. Daar was dus ʼn toespitsing van die totale kulturele landskap op ʼn fisiese simbool, naamlik die ossewa en die verhaal van sy herkoms. Dit sou die momentum verskaf vir die volgende drie dekades se groei in Afrikanernasionalisme.

Dit laat my wonder: hoe word identiteit begrond en oorgedra? Hoekom het ʼn sistematiese benadering tot die oordrag van identiteit so ʼn flou inslag op ʼn mens se geesteservaring, terwyl ʼn storie met ʼn simbool aan die ander kant ʼn hele samelewing op loop kan neem? Dit is nie beperk tot die Afrikaners nie. Hoe het Israel gedink aan hulle trek uit Egipte en die gebeure by die Rooi See? Hulle het fees gevier, ʼn konkrete handeling wat hulle kon sien, voel, hoor en beleef; wat hul gedagtes van digterlike paadjies sou voorsien sodat hulle herinneringe gesamentlik gedeel kon word.

Dikwels verkeer denkers onder die illusie dat ʼn mens deur bloot ʼn wysgerige sisteem of sistematiese uiteensetting van die werklikheid aan ʼn individu of aan ʼn groep mense kan voorskryf wie of wat hulle is, of behoort te wees. Die Ossewatrek van 1938 het egter ʼn suksesvolle resep vir enkulturasie daargestel: Draai liewer die herkoms van die mens toe in ʼn roerende verhaal waar betekenisvolle lyne tasbaar saamgebind word in ʼn voorwerp of handeling, en maak die mens deel daarvan. Dan roer die hart en beweeg die vingers. Só word die mens betrek sonder om vas te haak in ʼn kognitiewe verwerking van die een of ander teorie wat iewers in ʼn wetenskaplike joernaal doodloop.

Die Skepper van die mens laat Homself ken deur middel van die beeld van ʼn vader, ʼn berg, ʼn fontein, ʼn stryder, ʼn bruidegom, ensovoorts. In navolging van hierdie beeld, is die mens ook ʼn gebore digter, bewustelik of onbewustelik, goed of sleg. Hy moet groot of abstrakte konstrukte, soos identiteit, benader deur middel van ʼn belewing en die simboliese benutting van kleiner tasbare dinge.

Gedurende 1938 het die Afrikaners weer hul kulturele spore gevind. Die ondeunde ritme van trekspanne en touleiers op weg na die Noorde, het die hoop laat opflikker en die gedeelde ervaring van die verlede het ʼn blik op die moontlikhede van die toekoms verskaf. Die Herdenkingstrek het die Afrikanerlewe as sinvol uitgebeeld en die moed gebring om ʼn onseker toekoms aan te durf. Sonder hierdie tipe leefbare digkuns, is die mens sonder anker in ʼn see van onsekerheid waar alles dalk bedink word, maar waar die hande leeg bly.

Die Afrikaner kon in die tweede helfte van die twintigste eeu kultureel ontwikkel omdat hy iets tasbaars gegee is om aan vas te hou. Hulle kon agter die ossewaens aanloop omdat dit hulle harte en sinne ʼn tweede keer verower het.

Bronne:

Die Brandwag, 1938-12-05.

Die Burger, 1938-12-01.

De Oude Emigrant (5), 1988-08-08.

GILIOMEE, H. Die Afrikaners. Kaapstad, 2004.

  • Willem van Heerden is ’n finalejaar-student, verbonde aan die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Snot ·

Wat ʼn storie!
Willem, jy’t so ʼn grondwaarheid geïdentifiseer. Ek het vandag iets geleer.

annie ·

Die glo vreeslike tweespalt… opgemaakte stories. Waarom dit hier ophaal? Lees ‘n slag Afrikaners se vertolkings bv Johannes Meintjes (1950 ) se Die Voortrekkers en Prinsloo se skrywe oor die Oos-Vrystaat se eerste boere selfs Siener v Rensburg se angs-uitinge, ens ens. Die ewige afkraak van Afrikaners deur kerklikes en fortuinsoekers vir eie voordeel strek tot nou. Trekboere het destyds hulself met die verslae Israeliete begin vereenselwig wat moes rondtrek vir ‘n plekkie van rus met net die Bybel as verwysingspunt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.