Die VSA, hommeltuie en militêre basisse in Afrika

VSA-amerika-vlag-sparkler

Foto: Free-Photos/Pixabay.com

China het aan die begin van die eeu vol selfvertroue verklaar dat hierdie millennium aan die Chinese behoort en dat hulle eersdaags Amerika op ekonomiese gebied gaan verbysteek as die grootste ekonomie ter wêreld. Die Chinese het so ver met hierdie ideaal gevorder, dat president Donald Trump dit nodig geag het om ekonomiese sanksies teen China in te stel. Dat die res van die wêreld daaronder gaan ly, skeel hom blykbaar min.

Nie dat Amerika se beplanning om sy troon as die invloedrykste land in die wêreld te behou, daar opgehou het nie. Wat feitlik ongemerk verbygaan, is dat die cowboys van Amerika steeds voortgaan om sy militêre magte oor die hele aardbol uit te brei. Dit lyk asof die land van Uncle Sam hom daarop voorberei om selfs geweld te gebruik om sy posisie te behou.

Dit is welbekend dat Amerika ’n beleid volg om China te omsingel en sowel diplomatieke as militêre lande rondom China aan sy kant te kry. Daar is derduisende Amerikaanse troepe in Suid-Korea en Japan, om van lande soos Guam en die Filippyne nie eens te praat nie. Wat min mense egter weet, is dat Amerika vinnig besig is om sy militêre teenwoordigheid ook in Afrika uit te brei.

In die jongste uitgawe van die African Military Blog word beweer dat daar 150 000 Amerikaanse militêre personeel in minstens 74 lande en ses kontinente is. In teenstelling daarmee, het Frankryk basisse in net tien lande en Brittanje in slegs sewe. Op die oomblik is Amerika betrokke in oorloë in vyf lande, naamlik Afghanistan, Irak, Sirië, Libië en Jemen. Hy het 662 militêre basisse oor die hele wêreld van waar lugaanvalle geloods kan word.

Op land het Amerika die afgelope klompie jare 60 basisse van die een of ander soort in 34 Afrikalande gevestig. Hy het net 50 diplomatieke missies op die vasteland en Trump het sedert sy bewindsaanvaarding nog nie ’n Amerikaanse ambassadeur in Suid Afrika aangestel nie. Amerika werk hard daaraan om sy militêre teenwoordigheid in Niger uit te brei. Die plan is om ’n tweede groot hommeltuigbasis (drone) in Agadez te vestig, die tweede grootste ná die een in Kamp Lemonnier in Djiboeti. Die landingstrook in Lemonnier word ook verbeter sodat die grootste Amerikaanse vragvliegtuie daar kan land.

Amerika spits hom dus op ’n baie kontroversiële militêre uitbreiding in Afrika toe: die vestiging van basisse van waar hy hommeltuie kan lanseer. Sulke basisse is nou in Djiboeti, die Seychelle, Uganda, Ethiopië, Kenia, Suid-Soedan, Niger en Burkina Faso. Dit, ondanks die feit dat die aanwendnig van hommeltuie in vredestyd nie net teen die Amerikaanse wetgewing is nie, maar ook internasionale ooreenkomste oortree. In Julie het Amerika erken dat hommeltuie “tussen 64 en 116” burgerlikes in Pakistan, Libië, Jemen en Somalië gedood het. Dit is nie bekend hoeveel van die hommeltuie Suid Afrika kan bereik nie, maar die blote gedagte daaraan is skrikwekkend.

Sowat 2 000 Amerikaanse soldate, onder hulle ook sogenaamde kontrakteurs, is in 78 missies in meer as 20 lande betrokke. Amerika het militêre ooreenkomste met talle Afrikalande soos Nigerië en Senegal wat hom die reg gee om permanente basisse in daardie lande te hê. Amerika het ook onlangs maneuvers met Suid-Afrikaanse magte in die Noord-Kaap gehou, iets wat hy voortdurend in ander dele van die wêreld, soos Korea, organiseer.

Jare terug het ’n mens op skool geleer dat die “Rooi Gevaar” net om die draai lê en loer om die strategiese roete om die Kaap in te palm. Dis waarom die bosoorlog in die eerste plek begin het, want indien die Suez-kanaal buite werking gestel sou word, sou alle groot skepe, waaronder olietenkskepe, om die Kaap moes vaar.

China het histories nie ’n groot militêre teenwoordigheid in die Kaap gehad nie, hoewel daar bewyse is dat ’n Chinese generaal voor Vasco da Gama in Saldanhabaai vasgemeer het. Die Chinese het egter onlangs ’n militêre samewerkingsooreenkoms met Suid-Afrika onderteken en sy fregatte en ander oorlogskepe maak al hoe meer van Simonstad gebruik. Die Chinese praat ook met ander lande in Afrika en onbevestigde berigte lui dat hulle ’n missielbasis of twee in Zimbabwe opgerig het. Hier word die gedugte grond-lug-missiele (GLM) glo aangehou.

Trump het natuurlik ander probleme, waarvan een is dat hy besig is om sy bondgenote soos Kanada en die Europese Unie te vervreem. Hy het onlangs aangedui dat Amerika sy finansiële bydrae tot die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) gaan afskaal. Alles glo om Amerika se belange eerste te stel. Is dit dalk omdat hy die geld in Afrika nodig het?

O ja, en dan het ons nog nie eens van kernbomme gepraat nie. Onthou, Amerika is nog die enigste land wat dit al gebruik het, en teen burgerlikes nogal!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

B ·

Die VSA is al tot ‘n groot mate ‘n polisiestaat (intern), en het ‘n baie geslepe plan ekstern. Kan dalk self as ‘boos’ bestempel word.

WB ·

Die feit dat Trump tot nou toe nog nie ‘n ambassadeur in Suid-Afrika aangestel het nie, spreek boekdele oor sy siening van ons regering wat by verskeie geleenthede in die VN en per openbare uitsprake teen die VSA kant gekies het. Die opbou van Amerikaanse militêre teenwoordigheid in Afrika strook ook met Trump se uitsprake dat hy moeg is vir die korrupsie en vergrype van Afrika regerings. Die Chinese daarenteen is soos ‘n vlaag sprinkane wat alles verorber en slegs ‘n afsetpunt vir sy oorbevolking soek.

Louise Viljoen ·

Tienie het duidelik nie ‘n goeie gevoel vir Trump nie, maar hy moet maar kyk hoe die Sjinese alreeds Afrika oorgevat het. Ons eie regering het al klaar hierdie land aan Sjina verkoop.

Kalahari Kind ·

Die skrywer probeer duidelik nou ‘n ander invalshoek nadat bykans geen kommentators saam met sy vorige ophemelinge oor China saamgestem het nie. Nou word Trump en die VSA as die “gevaar” voorgehou.

Waarnemer ·

Wel, eerder die VSA as die Chinese. Soos dit nou gaan is Ramaphoza besig om ons geheel aan die Sjinese uit te verkoop. Gaan kyk maar op die kleiner dorpies veral hoe begin hulle oorvat in besighede. Waar gaan dit eindig?

Hulle soek ons land se minerale. Ons grond. Hulle het die getalle om hierdie land te infiltreer en oor te neem.. Daardie padda in die pot water waarvan Ramaphoza jare gelede gepraat het is nie net die blankes nie. Dis alle Suid-Afrikaners. Slim gaan sy baas vang op die ou einde.

nico k ·

Tienie, ek dink jy is Amerika-fobies. Die troepe in Suid Korea en Japan is al dekades daar en is in die eerste plek daar (op hulle uitnoding) om die lande teen Noord Korea te beskerm. Die troepe in Afrika is omdat daar permanent oorlog in Afrika is, en die VSA bloot sy eie en ander Eupese firmas te beskerm. Niks met Sjina te doen nie. En om ‘n sterk militêre mag te hê is maar net om seker te maak jy bly die sterkste. Dit kan net goed vir jouself wees. Sjina het nog nooit enige aanduiding gegee dat hulle militêr ‘n bedreiging is nie, so hoekom sal die VSA se militêre opbou iets met hulle te doen hê. Ekonomiese oorlog beslis, maar ook dit is net logies. Elke land sorg vir homself. Ons het ook in die ou SA invoer tariewe gehad, wat sleg is vir ander lande, maar ons moes eerstens vir ons self sorg.

Grassie ·

Die trant van hierdie berig is giftig anti-Amerikaans en pro-China. Ek wonder waarom? Miskien om Ramaphosa & Kie se kruipery by China te probeer regverdig.

Ai ·

Jy is bekommerd oor Amerika en skryf ‘n hele rubriek oor waar hulle hulself oral bevind – pleks jy eerder oor China skryf en hoe hulle besig is om die hele Afrika oor te neem insluitend my en jou land. Jou rubriek laat my actually beter voel vanoggend, want nou is daar darem hoop dat die Chinese nie net kan doen wat hulle wil nie. Jy vergeet hoeveel beheer die Chinese oor Afrika lande se hawens al het en van alles wat hulle in Zim aangevang het – ook van alles wat hulle besig is om aan te vang in ons eie land. Los Amerika uit – hulle is ten minste nie kommunisties nie.

Eish ·

Desondanks en desnieteenstaande die berig, verkies ek steeds Amerikaanse teenwoordigheid bo die van China.

Frans C ·

Dit is nie Amerika se skuld dat hy die ‘Big Brother’ rol speel nie,maar wel die van ‘n lamsakkige weterse wêreld.Amerika wou nie betrokke raak nie in die 2de wêreldoorlog,maar is daar deur ‘n verradelike daad van Japan daarby ingesleep.

Indien Amerika nie toegetree en gereageer het ,soos het het,sou Japan en Duitsland die nuwe wêreldmoondhede gewees het en Duits dalk die voertaal in Afrika gewees het
en slapgat Europa heel anders daaruit gesien het en die skrywer ‘n ander storie sou moes skryf.

Tog snaaks dat almal begin tjank en Amerika slegsê sodra die sy rojale bydraes begin onttrek,soos sy steun aan die Palistyne wat nog steeds ononderbroke vuurpyle op
Israel afstuur en met ‘n Iranese buurman wie se generaals kort-kort dreig om Israel van die aardbol af te vee.

Tyd dat die wêreld hul self begin speen van Amerikaanse hulp en leer om op hul eie bene te staan.’n les wat die korrupte ANC blykbaar nog moet leer.

Marthinus Willemse ·

Jy ken nie jou geskiedenis nie. Ongeveer twee-derdes van Hitler se wehrmacht was aan die Oosfront, teen Rusland. En dit was die Russe wat aan Hitler se bunkerdeur geklop het en hom tot selfmoord gedwing het. Die Amerikaners en Britte en Kanadese het maar teen 30% van Hitler se soldate geveg, maar loop en spog dat hulle die oorlog gewen het. En toe die Japannese moeilik raak, het die yankees kernbomme gebruik.

Eugene ·

Ag ou Tienie, lyk of so baie joernaliste soos Leipoldt Scholz en jy op die politieke korrekte bandwagon spring en Trump en Amerika afkraak as dom en onbevoeg, en nou boos ook. Hulle swem teen die stroom op die stadium, God dank daarvoor.

Darius Els ·

Tienie hou van China want hy het JARE daar gebly en werk,ne Tienie?
In Afrika het VSA al jare lugmag basisse bv in Botswana.En SA het met VSA teenwoordigheid,steeds transgrens op’se gedoen.
Kyk na China se mense vergrype,en kyk na SA se huidige paatjie,dan weet jy hoekom ons vriende is.

Henry ·

Ter aansluiting by nico k.

Die VSA se militêre teenwoordigheid in Afrika is laaaank voor Pres Trump se presidentstermyn gevestig, om VSA belange op hierdie agtergeblewe vasteland te beskerm.

Die VSA weermag se teenwoordigheid kan hoofsaaklik gewyt word aan die terreur wat deur moslem radikales soos Boko Haram en All-Shabab gepleeg word. Terreur aanslae teen VSA belange, ambassades en selfs skepe, is voldoende bewys van die werklike bedreigings wat hulle in Afrika ervaar. In hierdie verband geniet hulle ook die aktiewe betrokkenheid/steun van die Franse magte wat reeds vanaf koloniale tye in Afrika teenwoordig is. In teenstelling met die Britte en die Portugese, is die Franse steeds in hul voormalige kolonies betrokke om hul eie en die post-koloniale state se belange te beskerm.

Terloops, Afrika met sy uitgestrekte en yl bewoonde landelike grondgebied, is reeds vir jarrrre ‘n nuttige toetsgrond vir die VSA se onbemande hommeltuie/’drones’. Talle “VVV’s” wat dikwels oor die Noord Kaap en elders gesien word, word na bewering vanuit VSA geriewe in Botswana en ‘waar ookal’ beheer.

:-)

Breytenbach ·

Hoekom sal hommeltuie nou uitgesonder word as iets boos? Oorlog is oorlog of dit nou ‘n hommeltuig of ‘n regte vliegtuig is dit sal aangewend word. Dit kan nogal as afskrikmiddel dien vir muishondlande van Afrika.

Marthinus Willemse ·

Breytenbach: Die meerderheid persone wat in aanvalle van onbemande moordtuie (OMT – drones) sterf, is siviele persone wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Toe Brandon Bryant `n jong meisie so doodmaak, is hy deur sy bevelvoerder aangesê om in sy verslag te skryf dit was `n hond wat op twee bene gestaan het. `n OMT kan tot 24 uur in die lug bly. Volgens Bryant is hul modus operandi soos volg: hulle spioeneer, vind die persoon, hou hom dop,waar hy partytjies/huwelike bywoon, selfs seks met sy vrou het, en loods die aanval. Dan wag hulle totdat iemand die lyke of liggaamsdele optel en gaan begrawe. Dan, by die begrafnis, val hulle die ander persone weer aan. [Een Vandaag, Ziek van op afstand mensen doden, BVN, 12 Apr 2014] As jy dit aanvaarbaar vind, is daar iets ernstigs met jou morele kompas verkeerd.

Thinus Erasmus ·

Ek dink ek wil lag, my kop is so effens deurmekaar, ek ken nie hierdie emosie nie.
Ek fokus op ‘n prentjie van ‘n groot magtige ryk, met baie vermoens en vrye ekonomie en verkiesings, dan kyk ek na ‘n baie groot ryk met ongelooflik baie baie baie mense wat feitlik almal arm is en allerhande gemors en goedkoop produkte maak van ons aarde se kosbare hulpbronne en feitlik geen vryhede nie. Ek verstaan net een van die gemene faktore: Baie groot magtige ryk, die res verskil soos dag en nag!
Tienie gaan koop maar die cheapies daar by een van jou henderde plaaslike China shops.

marco polo ·

Thinus, as jy dink China is vol arm mense, maak jy n baie groot fout., of jou feite is verouderd. Hulle het in n paar dekades daarin geslaag om meeste mensw uit armoede op te hef en meeste stede is nou welvarend en modern. Ek bly in China en het al meer Porsche en Ferraris in my stad gesien as in die hele SA. China is labk nie meer die Rooi Gevaar waarmee ons gebreinspoel is nie en ek sukkel ook om die kommunisme te sien. Slegs 5% van die bevolking behoort aan die kommunistiese party, die res stel net belang in geld maak. Die Chinese wat.jy in SA sien is die armes en veloorders wat dit nie in China kon maak nie. As jy die moeite doen om met hulle te praat, (ek het wel, want ek is van die eerste SAners wat Mandaryns kan praat) sal hulle jou vertel dat hulle meestal van die tifoon geteisterde Fujian provinsie kom en probeer om n lewe te maak in n plek waar die kompetisie nie so straf is nie

marco polo ·

Insiggewende en aktuele berig, Tienie. Moet egter nie China noem nie, dan kry jy leunstoelkenners, wat nie regtig weet wat in China aangaan nie, wat jou gaan kruisig. Terloops, daardie Chinese generaal wat jy van praat, was eintlik n admiraal, genaamd Zheng He.

Steven ·

Hi Marco.
Die probleem is daar dat die onderste laag van China na SA uitwyk en ons platteland vervreemd… van Wit en Swart. Goed om te hoor dat China na 1ste wereld land beweeg. Dis dalk tyd om met n nuwe bril na sakegeleenthede te kyk. Wat plaaslik gebeur en die insypeling en selfs spookstede naby Luanda (Angola – Google Earth) hou egter niks goeds in nie. Miskien het jy wel idees hoe ons na China kan uitreik en kan leer om die die sake geleenthede te benut.

Charles ·

Alstublieft President Trump, “Make South Africa Great Again”, en red ons van die Sjinese kommunistiese gevaar !!

John ·

Ons het op skool geleer dat die Kaap ‘n strategiese ligging op die wereld se seeroetes het en sou die kanaal langs Egipte gesluit word, die seeroete om die Kaap van kritiese belang is. Skepe word nou beter ontwerp vir langer afstande, maar ‘n beperking op deurvaart tussen die Kaap en die Suidpool kan nogal problematies word met langafstandmissiele deesdae aan die orde van die dag. Miskien kyk ou Sjina se kop in daardie rigting. Sjina het toekomsplanne gereed… langtermynplanne. En CR wat so hardop is vir grootgeld sal enigiets belowe sonder om te dink.

Andre C ·

Duidelik is daar 2 kampe Suid-Afrikaners.Die pro-Chinese groep en die pro-VSA groep.Die grootste groep ,wat die ANC en sy bondgenote insluit steun China .Die groep hou myns insiens die grootste gevaar vir Afrika in .

Marthinus Willemse ·

Soos die Amerikaners dink jy in binêre terme: swart of wit, 1 of 0, reg of verkeerd. Daar is baie skakerings van grys tussenin. Tienie is `n realis, dit het niks met die ANC of Amerika te doen nie.

Johan Pieterse ·

Duidelik is Tienie ANC en daarom ondersteun hy hulle ideaal. Amerika beskerm en neem nie oor nie. Hulle soek nie plek waar hulle, hulle oorbevolking kan stort nie. Sjina daarenteen probeer al jare lank om ‘n vashouplek oral oor te kry. Met geld koop hy lande se minirale en los meer armoede as vooruitgang. Hy plunder lande se hulpbronne. Kyk Mosambiek as voorbeeld.

Pinochio ·

Tienie, as ek jou kommentaar lees laat dit my so aan die hans-kakies van destyds dink.

Lukas ·

Ek sien ‘n paar enkelinge dink die Chinese is uiters gesofistikeerd. Is dit dan nie dieselfde nasie (tesame met ander oosterse nasies) wat dink renosterhoring het medisinale waarde nie? Jip, die Chinese is voorwaar uiters gesofistikeerd en slim….

Cowboy ·

Hoe meer Amerikaanse drones ons lugruim binnedring, hoe beter. Of hoe?

humor ·

Waarop stuur dit in die verre toekoms af. Dit blyk dat ons dierbaar vaderland iewers in die toekoms die slagveld van vreemde nasies gaan word.

Nikita ·

O wee…ek vertrou nie een vd lande VSA of China nie….veral vir China want hulle is kop in een mus saam die cANCer. China leen geld aan bankrot staatsondernemings in SA (SAL, Eskom ens) en dit sonder waarborg. Dis maar net verskuilde kommunisme, ons weet tog wat hulle voor honger is in ons land. Hulle militere basis in Zim le mos nou klaar op ons grens net om in te cal. Die Chinas gaan ons land nog koloniseer. Die VSA begin klaar vrae te vra oor SA en hou als soos n valk dop…wag natuurlik dat land in chaos gedompel word en China militer hier kan optree, dan het VSA mos n rede om hulle te omsingel. Die chaos vorder in ons land…hoeveel substasies het hulle nie al gesaboteer nie, die betogings, SA brand al meer, rioolsisteme is n nagmerrie, die rand verswak by die dag ens ens! Terroriste beplaning dis wat dit is! Kyk wat het in Sirie gebeur, 62 Siriese soldate is gedood nadat Amerikaanse lugmag glo foutiewelik 4 lugaanvalle op Siriese magte uitgevoer het. China en VSA gaan nog baklei oor SA. En waar gaan ons in die prentjie pas?

Nikita ·

China en Anc is kop in een mus…wag net tot land in chaos gedompel word, Chinese weermag basis le klaar op grens om in te val, dan het VSA n rede om Chinese te omsingel. Waar ons in die prentjie gaan pas….sal nie weet nie.

Ronel ·

Ek het nog altyd vermoed diplomate is verskriklike slim mense wat verskriklike slim dinge sê. En nadat ek hierdie meningstuk vol slim dinge gelees het, weet ek verseker dat diplomate verskriklik slim is. :) :) :)

marco polo ·

Amerika natuurlik, want hulle is meestal wit en ons kan kultuurgewys maklik vy hulle inskakel. MAAR, ek woon in China en alles van China is nie noodwendig sleg nie, net soos antie Zille van kolonialisme gepraat het. Dit steek my dwars in die krop dat meeste Afrikaners uit onkunde of dalk historiese breinspoeling alles uit China verdag maak en brue brand, en mense soos Tienie wat eerstehandse ondervinding het, probeer verdag maak. Julle maak gekke van julself en is nie beter as diegene wat vir Zille so verguis het nie. Plaas daarvan dat julle die geleenthede van bande met China sien. As selfbeskikking beteken dat mense afgesonderd en met kop in die grond soos n volstruis, alles wat nie by ons kultuur inpas nie gaan bevraagteken en teestaan, is ek bevrees dat julle maar van my kan vergeet. En ek is n groot voorstander van selfbeskikking. Ons is deel van n groter wereld, of ons dit wil weet of nie.

Kalahari Kind ·

Marco Polo, die probleem is nié dat ons die positiewe sien in bande met China nie. Die probleem is dat ons die uiteinde van lande wat bande met China het vergelyk met die uiteinde van lande wat Amerika voorstaan. Ons kultuur stem ooreen met die VSA s’n en dis net logies dat ons hulle dus sal verkies. In ‘n perfekte wêreld sou bande met albei lande gunstiger vir ons kon wees. Ongelukkig besef ons dat China geen probleem daarmee het dat die ANC plaasmoorde ignoreer nie, terwyl die VSA wrl het. Vir ons op grondvlak in SA gaan dit tans oor oorlewing. As ons dus moet kies wie ons oorlewing gaan ondersteun of wie nie…. Ons is dus nie soseer slegs téén China en pro VSA nie. Ons is téén dit wat ons as nog verdere oorheersing en magteloosheid ervaar.

Nikita ·

Wel as daar nou moet gekies word, sal dit natuurlik die VSA wees. VSA se militere bassise le in Botswana. Botswana le tussen ons en Zimbabwe waar die Chines se militere bassis is. Maar die UK (en moenie vergeet nie die…engelse) se militere bassis le ook in Botswana. Nou hoe nou? Gaan dit dalk wees dat twee honde baklei oor n been, derde kom en vat dit af? Of kan ons maar net hoop en droom dat die VSA ons helde gaan wees. Wie weet wat in hulle koppe aangaan….dalk word ons droom nog bewaarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.