Die VSA se ‘swart swaan’

Donald Trump

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Nassim Nicholas Taleb, die Libanees-Amerikaanse statistikus en risiko-analis se “swart swaan-teorie” soos vervat in sy boek van 2007, The Black Swan: The Impact of the Highly Improbable, beklemtoon die kwesbaarheid van enige denkstelsel wat die logiese uitkoms van ʼn probleem/saak antisipeer, maar dan gekonfronteer word met ʼn totaal ander realiteit/uitkoms. (Die swaan is skielik swart en nie meer wit soos verwag is nie!) Wetenskaplikes soos Thomas Kuhn sal hierna verwys as ʼn “paradigma in krisis”. Die swart swaan- teorie beklemtoon veral drie aspekte: (1) die gebeurtenis (hoe ook al gedefinieerd) is ʼn totale verrassing; (2) dit het ʼn groot en baie belangrike impak; (3) pogings word by nabaat aangewend om die “teenstrydigheid” te verklaar en in perspektief te plaas.

Hierdie teorie kan bykans net so op Donald Trump se verkiesing as Amerikaanse president van toepassing gemaak word.

Toe die uitslag van die verkiesing vanoggend bekend gemaak is, was skok, ongeloof en verbystering op talle gesigte in my akademiese omgewing waarneembaar. Die bykans onmoontlike het gebeur: Effektebeurse reageer en ʼn politieke stilte is skielik waarneembaar voordat die media met alle erns die gebeurtenis in perspektief probeer stel. Hoe verklaar jy die spreekwoordelike swart swaan wat in die VSA verskyn het en wat is die implikasies hiervan?

Duidelik het politieke wetenskaplikes met hul meningsopnames weer eens nie die pyp gerook nie en is daar akademies gesproke baie stof tot nadenke. Tog was daar deurlopend sterk aanduidings van die moontlikheid dat die spreekwoordelike buiteperd kon wen. Enkele van hierdie sake/redes word vervolgens kortliks toegelig.

Trump val in daardie kategorie van leiers na wie die toekomskundige Alvin Toffler verwys as “strange fauna and flora soos geassosieer met nuwe leierskap ten tyde van verandering. Jy kan hulle nie meet aan normale kriteria nie en ʼn mens dink onwillekeurig aan mense soos Adolf Hitler, Mustafa Kemal, Juan Peron en selfs ons eie Julius Malema. Hierdie mense is leiers wat ongeag die omstandighede van die dag, die tekens van die tye en teen die algemene verwagting in, hulself laat geld en waaroor daar vorentoe boeke geskryf en baie diep filosofies besin sal word. Trump behoort myns insiens tot hierdie kategorie. Hy beskik oor ʼn X-faktor wat aan hom ʼn voorsprong gee en waarmee leiers gebore word. (Dit sê nie noodwendig dat hy ʼn goeie of self groot staatsman gaan wees nie!)

Sy loopbaan na roem en waarskynlik die magtigste politieke posisie in die wêreldpolitiek was allermins maklik. Sy eie party, die Republikeine, het hom as grap afgemaak, sy standpunte veroordeel en sommige het geweier om vanuit die party vir Trump te steun. Nadat hy met pyn, moeite en omstredenheid as kandidaat van die Republikeinse Party aangewys is, het sy party hom ten beste louwarm ondersteun. Hierteenoor het Hillary Clinton die steun van haar party, pres. Barack Obama, oudpresidente, mense met mediaprofiele ensovoorts gehad. Kortom, sy het die politieke binnebaan gehad en selfs die meningsopnames het haar van tyd tot tyd ʼn groot voorsprong gegee. Toe Trump aanvanklik van uiters onverantwoordelike uitsprake teenoor “benadeelde” groeperinge en later ook van seksuele teistering beskuldig is (soos ondersteun deur talle vroue) het baie gereken dit is die einde van dié omstrede politikus. Die geskiedenis vertel egter ʼn ander verhaal. Iewers het akademici en kommentators kwaai misgetas en myns insiens is die volgende nie na behore verreken nie:

  1. Die opkoms van nasionalisme en identiteitspolitiek wat deesdae ʼn wêreldwye verskynsel is.
  2. Sterk anti-stelsel-sentimente teen veral twee termyne van “Obama-care”. (Sy beleidsrigtings was baie sosialisties georiënteerd en nie sterk vrye mark gerig nie!)
  3. Die behoefte aan ʼn onafhanklike “politieke sterk man” wat die VSA se internasionale aansien weer in ere kan herstel.
  4. Hillary Clinton was gewoon ʼn swak kandidaat wat nie oortuig het nie en boonop nie baie gesond is nie.
  5. Die gemiddelde Amerikaanse kieser is basies konserwatief, en nie baie progressief wanneer dit kom by die huidige ras- en gender-debatte nie. Amerikaanse kiesers is in die algemeen meer konserwatief as hul Europese eweknieë met ʼn skerp rassebewussyn wat verband hou met Spaanssprekendes, rassevoorvalle en opstande, en ten opsigte van bewegings wat vroueregte bevorder.

Kortom, die Amerikaners wou eerder ʼn omstrede politieke sterkman (met ʼn konserwatiewe verwysing) hê as ʼn vrouepresident, waarvan hul nie seker is nie en boonop met ʼn meer progressiewe uitkyk op die lewe. Vandaar die spreekwoordelike swart swaan in al sy glorie.

Die probleem met “swartswaanverskynsels” is egter dat dit onsekerheid bring en dikwels tot ʼn herposisionering van politieke, ekonomiese en sosiale kragte kan bydra. Maar in tye van verandering is dit ongelukkig juis noodsaaklik. Trump is daarom ʼn produk van sy tyd, geskep deur omstandighede binne en buite die VSA en op ʼn vreemde manier ʼn wit swaan (deel van hierdie wêreld) as jy die werklikheid reg lees en interpreteer. Ongelukkig het akademiese insig weer eens kort gekom om hierdie orde verskynsels (lees ook mense) reg te verstaan en te interpreteer. Iewers het ons dus as akademici gefouteer soos ook met Brexit gebeur het!

Die implikasies van ʼn Trump-administrasie vir Suid Afrika kan verreikend wees en wel om die volgende redes:

  1. Die administrasie sal minder pro-Afrika en pro-ANC wees as gevolg van ideologiese verskille maar ook belangekonflikte.
  2. Trump was reeds krities op die ANC se hantering van politieke sake in Suid-Afrika. Dit sal voortgaan en kan verdere konflik en spanning skep.
  3. Opposisiepartye mag sterker en meer steun vanuit die Trump-administrasie ontvang. Dit mag konflik met die regering van Suid Afrika in die hand werk.
  4. Suid-Afrika kan en sal waarskynlik geforseer word om sy heil te gaan soek by die anti-Amerikaanse politieke groeperinge waarvan daar heelwat in die wêreld is.
  5. Ekonomiese betrekkinge en finansiële ondersteuning vanuit die VSA kan hieronder ly. Dit is immers my indruk dat Suid-Afrika as gevolg van beperkte ekonomiese groei vorentoe meer afhanklik van buitelandse finansies kan raak en waarin die VSA as die grootste ekonomie ter wêreld baie mag en seggenskap het.

Dit sal interessant wees om te sien hoe politici in Suid-Afrika gaan reageer op die VSA se swart swaan. Ek twyfel baie sterk of dit positief gaan wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Melania ·

Gee hom ‘n kans, ek kan nie die slegte verloorders glo nie. Nou skreeu al wat ‘n sanger en niksnuts is teen Trump. Wel genoeg mense (lees Amerikaners) het in hom geglo om vir hom te stem. Hy het nie ‘n bohaai gemaak toe Obama gekies is nie. Vreemd hoe Samuel Jackson nou kamstig SA toe wil kom. Skielik is Afrika nou weer sy homeland. Daar is altyd so ‘n subtiele rasse ondertoon in al hierdie akteurs en sangers se aksies en woorde. So belaglik. AS ek iemand se mening sou vra sou dit NIE ‘n akteur of sanger s’n wees nie. Wie gee regtig om wie hulle as president wil hê dis nie asof hulle kenners in die politieke veld is nie.

Rupert Ashford ·

Al wat akteurs goed kan doen is voorgee om iemand anders te wees, en net vir ‘n kort rukkie. Hoe op dees aarde kan enigiemand waarde aan hulle opinie oor die an bv ‘n loodgieter of verwer heg?

Jean ·

Ten minste sal dit EEN land wees wat die ANC kritiseer en sien wat hier aan die gang is. Dat minderheidsgroepe hier onderdruk en geboelie word, en al hulle regte ondermyn en bedreig word. Ten minste sal EEN land nie al die strooistories glo wat aan hulle opgedis word en saam skreeu vir vernietiging en vandalisme nie. EK sien UIT daarna as Amerika saam met die Opposisie partye in SA werk, dit gaan die ANC net nog swakker maak, daar is in elk geval konflik, ten minste is die speelveld dan meer gelyk en die ANC oordonder nie almal agv die ‘meerderheid’ nie .. neewat ek sien uit na Trump se tyd as President, hoe gouer hoe beter. Die President in SA is vriende met wie hy wil, Mugabe, Kuba, al wat ‘n vreemde land en volk is, so dis nie so verkeerd as Trump met die opposisie hier simpatie gaan he en hulle ondersteun nie .. MOOI SO!!

Leon van Rensburg ·

Jean,

ek sou dit nie beter kon verbaliseer nie!!

hans ·

Nou wag ons net dat hy mugabe gaan arresteer,doen hy nie dan is hy n leuenaar soos al die ander presidente.

John ·

Hierdie is ‘n goeie voorbeeld van verdere joernalistieke vergrype om die verkeerde aannames tot waarheid te probeer verdiskonteer. Malema en Trump. Hoe kom mens daarby uit, vra ek met trane in my oe? ‘n Navorser vanuit Libanon is sowaar die kenner van die Westerse filosofie of hoop hy, hy kan met ‘n hogere vergryp mense breinspoel. Ons akademici word vreeslike beindruk deur teoriee, so lyk dit. Vandaar dat die buiteland so ploeg met ons kalwers…

Leendert ·

Hier kom baie herbesinning vorentoe, wêreldwyd. Markte het al reageer, beleggers, kyk na Mexiko.

Burger ·

Hy is met n baie goeie rede daar . Die extreme liberalisme was oppad om die wereld te vernietig. Dit gaan egter nie op die korttermyn goed wees vir SA nie , maar sal maak. Ons kan nie alles in die lewe meet aan onmiddelike monitere voordeel nie.

Henk ·

Jou teorie dat SA by anti amerikaanse markte/ vennote toenadering gaan soek is net so ver agter as wat die denkwyses rondom Trump in die vooruitskattings deur die media was. Jy vergeet duidelik dat SA al sedert 1995 met die sosialistiese state soos Rusland, China en Noord Korea heul en boonop in die onlangse verlede onder Zuma die Chinese teen ‘n groter tempo in SA laat invloei as wat die Nigeriers dit kan regkry.

Melanie ·

Ek is vol vertroue dat Trump heelwat skeptici n ding of 2 gaan wys. Sien uit daarna om sy aksies dop te hou; hy dreig nie net nie, hy produseer. Sy kaliber sal handig te pas kom in ons regering. Viva Donald!!

DewaldS ·

Die stem vir Trump was in my opinie meer ‘n protes-stem teen ‘n establishment (en veral die media wat deel vorm daarvan). Die mense is redelik gatvol om uitgeskel te word vir rassiste, homofobe ens. sodra hulle kritiek lewer teen die liberale benadering wat vir nuwelinge en vreemdelinge meer voordele inhou as vir diegene wat die lande opgebou het en al lankal belasting betaal.

Nou gaan ons slim perfessor op daaiselfde trant aan – om te maak of daar iets met die gewone mense en met hulle verkose leiers verkeerd is – Malema en Trump in dieselfde kategorie?

Wel – die mense is so moeg vir die establishments en media se eenogigheid, vir hulle leuens en ‘double-speak’ dat hulle vir enigiemand gaan stem wie se woorde meer waar klink. Dit gaan oor Europa ook gebeur – Brexit het dit reeds gewys.

emiel ·

Die geskarrel van die liberale elite en media teen Trump bewys weer dat hy(Trump) iets reg doen

Christina ·

Die vraag is nie “Hoe het Trump dit reg gekry nie”. Die vraag is hoekom het die media en meningsopnemers nooit by die gewone publiek gehoor hoe hulle voel nie?
Die agenda was om media huise en die establishment se keuse op alaml af te dwing met SWAK joenalistiek. Trump is as ‘n onnosele idioot uitgebeeld, maar hy is intelligent genoeg om ‘n multi biljoenrand se sakeryk op te bou en instand te hou. Waar was die onderhoude met die werknemers (gewese) wat vir hom werk en oor sy werks etiek in sy besigheid. Ek het nooit so artikel gesien nie? Toe SY opnames wys hy loop voor het al die gevestigde mark navorsers sy opponent laat voorloop. Geen wonder hy het gesê die uitslae word gekook nie!
Ek is nie ‘n aanhanger van Trump nie, maar kan ook sien wanneer inligting verdraai en weerhou word.
Net so aweregse vraag – Was Amerika werklik voorbereid en gewillig om ‘n vrou as President te aanvaar? is dit nie dalk een van die vele vrae wat nooit gevra is nie?

Terloops ·

Ek het nou al vele kommentare, opsommings en meningstukke gelees t.o.v Trump se ‘skok’ oorwinning. Die vergelykings wat gemaak word is aan die een kant interessant en aan die anderkant dui dit op ‘n totale skewe uitkyk. Meeste van hierdie kommentators verstaan klaarblyklik nie die publiek nie en gee hulself oor aan ‘n totale wanvoorstelling. Die publiek is keelvol vir die ‘establishment’. Trump, in al sy omstredenheid, het tot die kiesers gespreek op ‘n manier en was hulle bereid om die omstredenheid eenkant toe te skuif en te fokus op hoe korrupsie uit die Wit Huis verwyder kan word. Hillary Clinton het nie veel gehelp m.b.t die saak nie, aangesien ‘n wolk oor haar hang en sy tot ‘n groot mate, in die publiek se oog, die korrupsie ‘verteenwoordig’. In my opinie, het die mense nie Trump gekies vir wie hy is nie, maar eerder teen Hillary Clinton gestem met die hoop dat Washington tot ‘n mate gesuiwer sal word. Hoe die prentjie gaan uitspeel weet niemand, maar een ding is verseker: Die doemprofete en amokmakers het nou genoeg brandstof om hulself vir dae en selfs maande besig te hou. Almal wonder oor hoekom die media so verkeerd kon wees? Dit is maklik: Kommersialisme, sentrale beheer en ‘politiese korrektheid’. Of Trump Amerika (en wyer) gaan opvoeter, of ons dalk verras, weet ek nie. Kom ons hou die groter prentjie dop.

Henry ·

Trump se oorwinning en die Brexit referendum bevestig dat perde kluite wat deur die media as vye gesmous word, die eindelose gorrels van ‘akademici’, ge-dokterde meningsopnames ens ens ens gaan sukkel om geloofwaardigheid te herwin.
Kan nie wag vir die nuwe gees wat homself vaardig gemaak het nie en wat hopelik na Frankryk, die Benelux, Skandinawië en verder kan uitbrei.

Waarheid ·

Dis vandat sosiale media belangriker as bloot eie logika en die WAARHEID begin word het. Oëverblinding en mense leen ore aan elke jan raap en maatjie uit, dan word stories op media as waarheid geëet en siedaar EEN GROOT BABELSE VERWARRING en siedaar MNR Trump werk met ‘n plan TYD Is min en dis GELD en baie WERK wat voorlê GLO die wat wil saamwerk sal nié terugkyk maar VOORENTOE.

Theuns ·

Beste Andre, ek is beindruk met jou skryfwyse en jou keurige Afrikaans. Jou skrywe is seker die beste verduideliking vir die begrip van Oorsaak (Cause) en Gevolg( Effect) wat ek nog in Afrikaans gehoor het. Jy verduidelik ook baie mooi dat as die probleem/saak nie reg bestuur word nie dat die realiteit/ uitkoms heeltemal anders is as wat verwag is en kry jy die Swart Swaan uitkoms of nuwe lewenstyl wat geform word. ‘N goeie voorbeeld van die swart Swaan begrip is die studente onluste waar die probleem/saak die heeltyd verander sodat n logiese uitkoms onmoontlik raak. Dit is die rede hoekom ons Universiteite is waar hulle is! Eers was daar # Rhodes must fall en dit het ge-eskaleer in #Afrikaans must fall,#fees must fall ens. Die Swart Swaan Trump was nie die vewagte uitkoms nie!
Groete Andre.

Albanus ·

In prof. Duvenhage se beoordeling die Amerikaanse presidentsverkiesing verreken hy die Amerikaanse Behaviorisme (dat die basis van die wetenskap dit is wat vir meer dan een waarnemer observeerbaar is) – en kiesersgedrag mistas het – en die Pragmatisme (dat dit wat werk waar is) – en die nadraai van die Amerikaanse verkiesing gedeeltelik verklaar. Wat ook waar is, is dat die grondwet van Suid-Afrika die Amerikaanse grondwet grootliks na die oë sien. So is sg. regstellende aksie ‘n Amerikaanse skepping wat by ons in ‘n teenoorgestelde demografie toegepas word en waarvan die gevolglike onreg inmiddels in die howe bestry moet word. En dan is daar ons eie pragmatiste, soos Solidariteit en Afriforum, wat reken dat as ons die grondwet kan maak werk dit die ware Jakob, the real MacCoy, sal wees. Maar ingebou in ons grondwetlike bestel is ook die Amerikaanse werklikheid waar die politieke bestel deur grootkorporasies beheers word. Laat ons onself afvra of dit nie ook ‘n rol speel by ons poltieke partye nie – indien een van die partye nie aldus beheers word nie?
Kan die belangstelling in die Amerikaanse politieke bestel ons nie aanspoor om saam planne te maak om uit die bestaande affêre hier by ons uit te kom nie?

Marius ·

Onthou dat Clinton meer as 200 000 stemme as Trump gekry het. Dis nog altyd ‘n kontensieuse saak dat die ou wat die meeste stemme in Amerika kry nie noodwendig die wenner is nie. Hulle het twee baie swak kandidate gehad. ‘n Flou skelm een in Clinton en ‘n vurige skelm in Trump, en toe laat die stelsel hom wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.