Die vurk in die pad

Bennie van Zyl. Foto: Reint Dykema

Die parlementêre openbare verhore oor onteiening sonder vergoeding is aan die gang en nou is dit ‘n ope vraag wat aan die parlement gerapporteer gaan word en watter besluit dan geneem sal word. Tydens die verhore, maar ook ten opsigte van kommentare wat orals die rondte doen, het die twee verskillende wêrelde in Suid-Afrika duidelik na vore gekom.

Aan die een kant is daar ‘n emosionele opwelling wat sterk gerig word deur ‘n stuk retoriek gebaseer op soveel leuens, soos dat blankes diewe is en hul grond gesteel het. Indien die volhoubaarheidstoets aan die eise toegepas word, vind mens baie moeilik ‘n uitkoms wat kan meedoen om vir Suid-Afrika en sy inwoners ‘n beter toekoms te kan skep.

Aan die ander kant – wat ver in die minderheid was by die onderskeie verhore – vind mens rasionele insette wat daarop gemik was om Suid-Afrika se ekonomie te laat groei. Natuurlik is daar besef dit is ‘n proses wat tyd neem, maar dat sukses net bereik kan word indien die korrekte ekonomiese beginsels toegepas word.

Indien daar na die resultate gekyk word van verskeie studies wat deur verskillende instansies gedoen is om die behoeftes van die inwoners te identifiseer, staan dinge soos die behoefte aan ‘n werk, ‘n huis, veilige omstandighede, goeie dienste, hoëgehalteonderwys en mediese dienste ver bo die behoefte aan grondhervorming telkens uit.

Indien die regering ernstig is oor Suid-Afrika se inwoners en hul toekoms, verg bogenoemde behoeftes verreweg eerste prioriteit en behoort die debat daaroor te gaan.

Die ANC (en gerieflik vir hulle ook die EFF) het dit reggekry om (teen die mense se ware behoeftes) ‘n klimaat te skep dat daar eers grondoordrag moet plaasvind voordat alles regkom.

Die werklikheid is: Sou die landbougrond wel volgens die ANC se metode oorgedra word – wat tot nou tot op ‘n selferkende 90%-mislukkingsyfer dui – sien mens swarigheid vir die land se inwoners vorentoe.

Dit kan dalk soos volg vergelyk word: Die aspekte wat werklik en na behore aandag moet kry en wat al die mense telkens uitwys as dringende behoeftes, is tans op ‘n afwaartse glybaan.

Eerstens: Grondoordrag is opgeblaas as die alfa en omega vir rykdomskepping – die harde werklikheid (dat grond nie rykdom is nie) gaan vinnig mee kennis gemaak word. Grond is een van die produksiefaktore wat optimaal benut behoort te word om saam met die ander produksiefaktore by winsgewendheid moet uitkom.

Wat op/met die grond gedoen word, is wat saak maak, nie alleenlik die besit daarvan nie.

Nog ʼn vergelyking: Suid-Afrika is (inderdaad) besig om ‘n “hartaanval te kry”, maar in die proses trap die ANC en EFF op ‘n toon en verhef die seer toon dan as die saakmakende ding wat nou alle aandag nodig het vir genesing. Dit, terwyl die hartaanval maar kan plaasvind, want die aandag is vir populistiese redes gerieflik op ‘n syspoor geplaas.

’n Mens kan nie anders as om bekommerd te wees oor wat besig is om te gebeur nie. Die Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) waarmee die ANC besig is ten einde die samelewingsorde te wysig na hul eie idioom, is besig om daarop af te stuur dat die armoede wat agterna sal volg, gelykop verdeel sal word tussen die inwoners.

Die ANC-elite is natuurlik uitgesluit, want die bietjie wat nog enigsins deur die uitgeteerde melkkoei gelewer sal word, sal uiteraard soontoe gaan.

Dit is verstommend dat verskeie rolspelers dít wat tans plaasvind, as aanvaarbaar probeer regverdig. Daar word selfs lustig meegedoen om die pad van die NDR te teer deur amper vinniger as die ANC self alle nuwe voorstelle namens hulle te help implementeer. Die uitkoms van die NDR kan nie enige voordele vir Suid-Afrika inhou nie.

Die vraag is wat behoort ons optrede te wees?

Ten eerste: Verstaan wat besig is om te gebeur en wees behoorlik ingelig. Besef dat die ANC en dit wat hulle doen, stelselmatig besig is om ons land na sosialisme en uiteindelik kommunisme te neem. In die NDR word daar juis gepraat van die “balance of forces”. Die ANC noem dat, sodra daar weerstand kom, daar net gewag moet word en selfs een tree teruggetree moet word – sodra die weerstand weg is, sal hulle weer soos tevore voortgaan. Raak betrokke by daardie organisasies wat verstaan wat is besig om te gebeur en stel jou denk- en ook jou doenkrag beskikbaar om te help om die regte beginsels te laat seëvier.

Tweedens: Waak daarteen om ‘n randeier te word deur jou optrede en standpunte op so ‘n wyse te projekteer dat niemand hulle met jou wil vereenselwig nie. Die vlak van taalgebruik en kwaliteit van insette op veral die sosiale netwerke laat veel te wense oor. Merendeels word die man in plaas van die bal gespeel. As Christen is dit seer sekerlik nie die weg om op te gaan nie.

Derdens: Besef dat nie een enkel organisasie op sy eie hier alleen ‘n verskil gaan maak nie. Dit is te laat in die nag dat daar nog plek kan wees vir ‘n eie-mishoop-benadering waar elkeen reken dat hulle die enigste is wat kan of mag kraai.

Daar moet nou gegroepeer word rondom dit wat bymekaar hoort en dan vir elkeen wat ‘n bydrae kan lewer, toe te laat om dit wel te kan doen. Mense wat ernstig is oor die toekoms, sal eerstens daardie organisasies wat dalk in onkunde of naïwiteit eintlik besig is om die ANC se ideologie vir hulle te implementeer, marginaliseer.

Ons staan elkeen nou by die vurk in die pad – watter kant toe?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pietverdriet ·

Ongelukkig is dit meer ñ hark as ñ vurk. Watter orgaisasie steen mens wat hulleself almal beywer vir die ‘Afrikanerdom’. ATKV, VF+, Solidariteit, Afriforum, PRAAG, Orania, ATU om net ñ paar te noem. Hopelik sit hulle almal om een tafel en trek nie elkeen in sy eie rigting nie!

Veritas ·

Pietverdriet, tweespalt is en was maar nog altyd ‘n Afrikanerprobleem. Die enigste oplossing is om ‘n Afrikaner-referendum te hou. Die rolspelers, wat jy hier noem, kan gerus die verskille tussen hulle in oënskou neem en tot ‘n kompromie probeer kom met mekaar. Die verskille is nie so groot nie en die doelwit tog dieselfde. Die wenner van so’n ‘referendum’ kan dan daarop aanspraak maak om namens die deelnemers op te tree.

Michelle ·

En wat doen die regering aan Malema se nuutste Twitter kommentaar?

John ·

… en ongelukkig is daar reeds te veel Afrikaner-‘chiefs’ met elk ‘n eie agenda wat hul eie ‘bal’ aan die rol sit met ‘n eie ‘fan’-klub. Te vore het die terroristiese bevrydingsbeweging hieruit gebaat en hoop om dit nou ook te doen. ‘n Goeie aanduiding van die loshandige-verhoudinge tussen Afrikaners is die baie groeperinge en geen kritiek of waarskuwing hetsy bespreking deur buitestaanders word geduld nie. En die grootste gevaar is, soos voor ’94, is dat sekere mense en groepe die leiding neem ongeag die res se begeertes. VanWLouw het met reg gevra wat is ‘n volk. Daar sal nie ‘n Afrikanersvolk ooit apart wees nie, want oooh-ek’s-Afrikaans, gee-jou-alles-vir-‘Hibrow’ en ‘n klomp lui Afrikaners soek integrasie. Niemand kon nog ooit ‘n skim vang nie.

Eish ·

Hierdie is n baie goed beredeneerde en nugtere artikel.
Dit is dalk tyd om ons eie “UDF” te stig.
n Organisasie van organisasies waar kragte saamgesnoer word en elk op sy eie gebied taakgeoriënteerd funksioneer, binne die raamwerk van die oorkoepelende doel.
Dit is dalk tyd dat dié ringkoppe alger bymekaarkom en ons op n meer doelgerigte wentelbaan stuur.
Dit is dalk tyd om ons kundigheid, logistieke vermoëns, bates, tyd en ander middele tot ons beskikking gekonsentreerd aan te wend vir gunstige verandering.
Dit sal n heuglike dag wees indien al wat organisasie is wat die gemeenskaplikheid van die aanslag op ons as minderheidsgroep ervaar, kan saamstaan in n verenigde front.
Helaas, dit is in die hande van die leierskap van die organisasies om dit te laat gebeur.
Ons wag vir julle.

Thinus Erasmus ·

Bennie moenie sit en wag nie, moenie uitstel nie, julle as verteenwoordigers van grondeienaars moet optree. Net soos Zoeloe koning, maar moenie dreig nie maak ‘n verklaring en staan daarby. Julle wil almal wag tot die wedstryd oor is, en dan huil julle het nie beurt gehad nie!
Ja die Afrikaner sukkel om bymekaar te staan juis omdat daar nie nou ‘n duidelike sterk leier na vore kom nie. Daar sal altyd verdeeltyd in enige nasie of groep wees, maar as daar ‘n goeie doelwit met ‘n goeie plan gestel word, sal die sterktes deel van die Afrikaners wel dit met hand en tand ondersteun.
Ja daar moet “referendum” of petisie in ons geval gehou word: Afrikaners wil afstig volgens die grondwet en volgens internasionale volke regte – wie gaan die proses begin? Al hou ons nie almal van die leier wat die inisiatief begin nie, ons kan dit mos later demokraties verander.
Daar is reeds ‘n Volksraad vir Afrikaners , gaan hulle die voortou neem? Dan moet ons almal hul steun.
Ek se weer: die een wat eerste die wiel aan die rol sit vir onafhanklike Afrikaner tuisland moet deur almal ondersteun word wat die ideaal nastreef.
Die res moet dan onderneem om alleen verder die NSA en ANC se melkkoeie te bly en ons nie te ondermyn nie!

Hendrik ·

Ek stem heelhartig saam dat die verskillende rolspelers om een tafel sit en ‘n verklaring uit ryk met aksies wat die Afrikaners se bestaanreg kan verbeter. Solalidariteit gaan nou binnekort, so se hulle, groeipunte identifiseer. Vraag is het hulle al met die ander rolspelers buite die Solidariteitsbeweging geraadpleeg? Nou praat ons van TLUSA, Orania beweging, Kleinfontein, Volksraad en al die organisasies wat Pietvedriet opnoem. Maar dan vra ek ook al die bogenoemde mense wat kommetaar lewer. Wat doen julle? Is julle deel van die organisasies of se julle maar net dat ons nie kan saamstaan nie ?

Roelf ·

Waar moet hierdie onafhanklike Afrikaner tuisland tot stand gebring word? Wat moet sy geografiese grense wees? Dit kan verseker nie ‘n noemenswaardige gedeelte van die land uitmaak nie want die “Afrikaners” verteenwoordig ver minder as 10 persent van SA se bevolking.

Boerseun ·

Roellf, soek jy vryheid of grond ? Kry net eers n stuk grond dan vat dit van daar.

Riaan Jansen ·

Baie goeie artikel. Glo dat tyd ryp is om saam te staan.

Jerry ·

Uiteindelik het dit Bennie se vurk in die pad gevat vir kommentators om dieselfde taal te praat. Tot en met hierdie onderwerp het ek nie gedink dat ons as Afrikaners kan saamstem oor iets nie! Nou is dit nog net die Afrikanerleiers wat tot orde moet kom en dit moet bewerkstellig dat alle Afrikanerorganisasies onder een sambreel n tuiste moet vind. Daar moet ook spasie onder die sambreel geskep word vir Afrikaners wat geemigreer het, want waar sal julle hulp vandaan kom! Wanneer die leiers dit kan regkry, dan verdien hulle, hulle leierskap en dan sal Afrikaner hulp en druk van alle oorde instroom! Tot tyd en wyl die huidige Afrikanerleiers dit nie kan bewerkstellig nie, bly hulle op hulle eie en sal daar nie n vinger verroer word om te help nie. AMEN!

humor ·

Nie net die deeglike beplanning en doelwit moet die sterkere motiveringsbron wees nie. Lyk my te veel wag dat die noodsituasie die sterkste motiverinsbron moet wees. Hoop tog van harte mense besef in watter nood die land werklik verkeer. n Baie groot taak wag op kerke en kultuurorganisasie om weer n volksbesef te kweek. Ek is bevrees die huidige feeste is te veel gerig op pret, vermaak en self losbandigheid wat nie werklik die behoefte besef nie.

humor ·

Jammer ek het die belangrikste uitgelaat. Daar moet moet weer n Godsbesef ontwaak. God Drie-Enig.

Reine waarheid ·

Insiggewend dankie. Maar
Ons enigste en betroubaarste HULP kom van
GOD drie enig.
Amen.

Defin ·

Dit is ontstellend om vele kommentaar te sien waar die Afrikaner as die enigste verontregte gesien word. Mnr v Zyl praat nie spesifiek van Afrikaners nie, julle in SA sal wyer moet saamstaan om enigsins impak te kan maak.

Andre ·

Kom ons trek saam rondom Afrikaanse skole en kerke. Koop die eiendomme, vestig Afrikaanse gesinne daar en begin ‘n netwerk.

Uiteindelik word die area omskep in ‘n veiligheidswoonbuurt wat omskakel na kibboetse as teenvoeter vir die vyandige staat.

DOEN DIT NET!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.