Die waansin van die Demokratiese Alliansie

Mmusi Maimane lei die anti-Zuma-betogers op 18 April 2017 in Polokwane, Limpopo Foto: DA/ Twitter.

Deur dr. Frans Cronje

Op ’n waansinnige manier het die Demokratiese Alliansie (DA) nou sy eie geskiedenis en liberale oorsprong begin aanval. Die gevolge sal vir Suid-Afrika se demokrasie en vir die DA nadelig wees.

Die Mail and Guardian het onlangs berig dat die leier van die party, Mmusi Maimane, gesê het die party sal verander om vir die armes te begin omgee – ’n verstommende belediging teenoor diegene wat vir die party gestem het, of in sy leierskap gedien het. Maimane het verder gegaan met die uitspraak dat die DA sy historiese posisie oor rasgebaseerde diensbillikheid verander het. Die beleid van die DA is nou: “Indien daar twee kandidate van verskillende rasse is wat om ’n werk meeding, moet die swarte gekies word.” Hy het ook gesê die DA glo dat kommersiële boere grond aan hul werknemers moet afstaan.

Kort op sy hakke haal die DA-LP, Gordon Mackay, Maimane goedkeurend in die Sunday Times aan waar hy sê dat “die gaping in klassieke liberale ideologie sy vermoë is om ongelykheid en regstelling te hanteer”. Dit nadat Mackay ten gunste van “’n Afrika-liberalisme wat bevoorregting verskans” geredeneer het.

Dit is tog loutere snert. Daar is bewys dat liberale beginsels soos ’n vryemarkstelsel en eiendomsregte sentraal staan tot ’n stygende globale lewenstandaard. Die verbeterings in sosio-ekonomiese toestande wat Suid-Afrika sedert 1994 ervaar het, het hoofsaaklik ontstaan uit die beperkte verruimende hervormings wat deur die African National Congress (ANC) ingestel is wat markte toegelaat het om doeltreffender te funksioneer sodat mense welvaart en eiendom kon byeenbring. Selfs op die moeilike politieke terrein van grondhervorming het onlangs gepubliseerde navorsing deur AgriSA vasgestel dat ’n kombinasie van uitgebreide eiendomsregte en ’n markekonomie meer gedoen het om historiese grondonregte te hanteer as die herverspreidingsbeleidstellings van die regering. Indien die bevrydende hervormings wat ná 1994 ingestel is selfs dieper was, sou baie meer bereik kon word en Suid-Afrika se ná-2007- ekonomiese ommeswaai kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die regerende party se omswaaiing van sy hervormings van vroeër.

Dit verg net die oppervlakkigste ontleding om te sien dat die beginsels van die klassieke liberale tradisie – die belangrikheid van eiendomsregte, ’n markekonomie, vrye spraak, en die regsoewereiniteit in ’n omgewing waar mense as individue en nie as lede van groepe nie getakseer word – sterk uitstaan op elke terrein waar Suid-Afrika sedert 1994 vordering gemaak het, terwyl dit op elke terrein waar die land tekortgeskiet het wel aanvalle op eiendomsregte, die ondermyning van markkragte en die erosie van die ruimte vir vrye spraak was wat na vore gekom het. Dit is nie ’n kwessie van dogmaties wees nie – maar wat ons nou in die DA sien, is nie buigsaamheid nie, maar eerder ’n ommeswaai van minstens vier van die beginsels terwyl die vyfde, vrye spraak, ook twyfelagtig is indien die standpunte van sommige lede van die party se binnekring geglo moet word.

Dit is ook nie ’n kwessie van of jy ten gunste van bemagtiging is of nie – ’n strik waarin die DA alte maklik gelei word. Die punt is of ’n bemagtigingsbeleid wat rondom liberale beginsels gebou is (soos die Ekonomiese Bemagtiging van die Verontregtes- (EED)-beleid wat by die IRV ontwikkel is) doeltreffender sal wees as een wat rondom die rassenasionalisme en staatsintervensionisme van die regerende party gebou is. Selfs die baasvegters van staatsgeleide welsynsprogramme moet erken dat dié programme slegs moontlik geword het omdat die ANC se beperkte bevrydende hervormings die ekonomie beter laat presteer het. Dit was, byvoorbeeld, deur skuldvlakke ná 1994 te halveer dat baie van die maatskapliketoelaag-programme gefinansier is – nie deur die vlakke van regeringsbesteding as ’n aandeel van BBP te verhoog nie. ’n Toekoms wat afhanklik is van meer staatswelsyn en inmenging in die ekonomie is ook nie wat Suid-Afrika wil hê nie.

Oor die hele land sien ons hoe die mense, as hulle enige keuse daaroor het, na die privaat sektor stroom om toegang tot alles van sekuriteit tot mediese dienste, onderwys, en kommunikasietegnologie te verkry. Dit is nie net die welgesteldes wat deur markte en private verskaffers bedien word nie. Baie arm huishoudings verkry ook regstreeks toegang tot private mediese dienste deur middel van kontantbesteding. Ons eie navorsing toon dat arm ouers skole kies wat aan hulle beheer oor die gehalte van onderwys gee wat vir hul kinders beskikbaar is.

Wat die DA se aanvalle op sy liberale oorsprong selfs dwaser maak, is dat dit die drogrede versterk waarop sy kritici staatmaak om hom te diskrediteer: dat klassieke liberalisme niks vir die armes bied nie en slegs dien om historiese onregte te verskans. Indien die probleem is dat die DA se marknavorsing toon dat mense dit verstaan as dat daar nie vir die armes omgegee word nie, kan dit net wees omdat die DA nie die voordele van klassiek liberale idees toereikend bevorder het nie – iets wat nie aangehelp kan word deur nou vir dié idees verskoning te maak nie.

Die DA se nuwe standpunte bring ook onsinnighede in omloop. Indien die DA werklik glo dat die swart mens altyd in diens geneem moet word wanneer twee mense om ’n werk meeding, waarom word soveel senior poste in die party dan deur wit mense gevul? Was daar geen swart aansoekers nie? Indien dit waar is dat DA-stemmers en -leiers histories gemotiveer is deur historiese onreg te bewaar, waarom sal enige ordentlike mens dan nou met die party verbind wil word?

Maimane het vroeër vanjaar vir die parlement gesê dit “maak my seer” dat die ANC nie meer die party van Oliver Tambo is nie – ’n geldige sentiment wat deur vele ANC-ondersteuners gedeel word. Maar die vraag is of dit aangewese is dat die DA voortaan die rol van ’n eertydse ANC sal speel. Die liberale tradisie was so ’n belangrike invloed in Suid-Afrikaanse politiek dat dit Suid-Afrika se demokrasie sou verswak om dit uit die politieke spektrum te sien verweer. En tog is dit nou dikwels moeilik om te ontkom aan die gevoel dat die DA-leierskap ’n punt bereik het waar hy, te maklik, saamstem met die ANC se historiese geringskatting van die liberale tradisie se eertydse beginsels, ondersteuners en leiers.

Dit verg so min om Mmusi Maimane se nuwe beleidsraamwerk te ontmasker as ’n swak deurdagte nabootsing van dié van die ANC dat die DA absoluut oortuig moet wees dat pres. Jacob Zuma se kamp die ANC-leierskapswedloop aan die einde van die jaar sal wen. Want indien Cyril Ramaphosa dié wedloop sou wen, sal dit moeilik wees om stemming vir die namaaksel te regverdig wanneer die oorspronklike beskikbaar is. Op grond van die manifes wat Ramaphosa onlangs vrygestel het, lyk dit of hy nie minder liberaal as die DA is nie, en in baie gevalle selfs meer so, in welke geval DA-ondersteuners heeltemal geregverdig sou wees om vir hom te stem.

  • Dr. Frans Cronje is die HUB van die IRV – ’n dinkskrum wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Jerry ·

Die DA is nie waansinnig nie, hulle is desperaat. Desperaat om die 2019 verkiesing te wen en daarvoor sal hulle enige haas uit die hoed ruk. Raak kalm en werf maar stemme vir die VF, maar onthou net dat enige DA is beter as die ANC van gister, vandag en in die toekoms

Gemsbok ·

Die één ding wat ons tot dusver gespaar het van die ergste gevolge van die ANC se vernietigende beleid was hul onbevoegdheid om dit uit te voer.

Behoede ons as die DA met groter ywer, oortuiging en vermoë ons oor die afgrond begin lei.

Santie ·

Ek het vir die spul gestem maar sal beslis nooit weer nie! Nee ek het nie van plan verander oor bogenoemde storie nie. Dit kom al ‘n hele rukkie oor hulle dubbele standaarde.

Sanette ·

Mens kan hulle maar net nie vertrou nie, sal altyd sy maaitjie eerste sit.

Gert van Niekerk ·

Ek was ook midde in die DA en is wreed ontnugter. Die ewige gejaag na swart stemme wwarin dieselfde proses die ander groeperinge se waardes en idiale skielik tweede plek moet kry. DA het versadiging bereik vir sover dit die wit en bruin stem aan betref en stel dus nie werklik meer belang in daardie groeperings nie. Dit gaan slegs oor die swart stem wat die meerderheid moet bring. Sedertdien het ek ‘n rustige hawe by die VF+ gevind. Waar mense mekaar se standaarde en waardes waardeer. Waar jy as mens geag word en nie op jou velkleur nie. Die party wie werklik omgee vir al ons mense. Sluit gerus aan en beleef dit.

Reinhardt ·

Ek sal weer Kaapse Party stem in 2019. Dit is ons enigste uitweg.

Leon ·

Ek stem saam Reinhardt. Die rigting van die Kaapse Party (Cape Party) is die enigste uitweg. Ons het juis nou ‘n tussenverkiesing in Wyk 102 Brackenfell waar die Raadslid van die wyk na 11 jaar bedank het en by die Kaapste Party aangesluit het. Die Raadslid hoop om die wyk te behou onder die vaandel van die Kaapse Party. Die Kaapse Party wil besluitneming teruggee aan my en jou en terugkeer na bv. kleiner munisipaliteite en wegdoen met die Uniestad waar diktator De Lille die raadslede soos “puppets” behandel en alleen die besluite neem!
Dit is skokkend hoe die DA besig is om ons soos paddas stadig op die stoof te kook!

Freddie Whitehorn ·

Alhoewel DA baie beter sal wees as ANC, gaan ek maar weer VF+ ondersteun. Enige iets behalwe ANC en EFF.

Basson ·

Dis net die begin. Die ‘vakkeldraer’ van die Grondwet en liberalisme / ‘vryheid’ het nou totaal hulle ‘inherent verweefde’ beginsels versaak. (Het nooit iets anders verwag van die leierskap tans nie – Mag begin sy tol eis!)
Sal 10@1 saam met ANC (faksies) smelt een of ander tyd, want die verskille is nou min en oorkombaar.

Adriaan ·

Hoekom kommersiële boere uitsonder? Indien Maimane se verwarde denke konsekwent toegepas word, moet alle kommersiële bedrywe n deel van hulle bates (dus eienaarskap) aan hulle werknemers afstaan.

Rea ·

Di enigste pad vorentoe vi blanke Suid Afrikaners is VF+. Ons mut ni eers twyfel ni! Ek was op nasionale vlak altyd DA maar ni meer ni!

Louis Botes ·

Excellent !!! As long as there is a black party that stands for democracy, equal rights, etc, white South Africans can forget about support from any foreign country to save them.

The DA was that party until now.

John ·

Dit voel of die DA-leier deur die een of ander persoon of idee beinvloed of gedryf word, veral sedert verlede jaar. Sy absolute vyandigheid jeens Zille is nogal verbasend. Iemand wat miskien dalk ook ‘n groot indruk op hom maak, is die voormalige Zimbabwiese boer en nou leke-prediker en sy katoliekagtige sienswyses; iemand wat ook baie Afrikaners tot fanatieke fantome dryf. Kapenaars voel geborge onder die DA se bestuurstyl, maar daardie eforie begin taan met die heersende droogte. Alle partye maak foute, word nou gevind, en misdaad en vergrype sal ook onder die DA-besture en strukture insypel… want hierdie is steeds ook maar Afrika…

Fanie Brooks ·

Hy beinvloed homself deur in sy droomwêreld te leef. Die DA het ons verraai. Hulle het ons stemme onder valse uitprake- en beloftes gekry. Ek wonder ook soms of hulle nie maar net ‘n geheime vleuel van die ANC is nie. G’n wonder Zupta is so selfversekerd dat die ANC vir ewig sal regeer.

Jakalas ·

Ek stem al lank al nie meer vir hulle nie a.g.v hulle beleid oor land herforming en hoe hulle die kleiner partye verklein het (om te sê as mens vir kleiner partye stem, mors mens ‘n stem). Ek het VF+ gestem, maar oorweeg ‘n ander party, want VF+ kan ook niks gedoen kry oor ons probleme nie. Ek sien daar is ‘n klein party (Front Nationaal) wat nogals belowend lyk, sal hulle maar die “benefit of the doubt” gee.

Leon ·

Indien jy in die Weskaap of die Noord Kaap woon, oorweeg die Kaapse Party (Cape Party). Gaan lees gerus hul manifes.

Peet ·

Julle moet net onthou om van die regerende pary (ANC) ontsla te raak moet ons almal saam vir 1 party stem om ooit die ANC tot n val te bring. Dit help nie ons stem vir die kleiner partye nie

Peet jys verkeerd ·

Dit is net waar julle VERKEERD Is, dit is NIE so nie. Hou op om valse gerugte te verkondig . partye vorm ALLIANSIES of KOALISIES met ander partye wat hulle hande sterk maak. Hoekom moet ons alweer vir ‘n party stem wat 100% teen ons beginsels en waardes is? NEE stem vir ‘n kleiner party wat jou waardes verteenwoordig en maak HULLE Hande sterk sodat die DA Hulle smeek vir ‘n koalisie wat beteken OOK HULLE BELANGE word na gekyk. Die EFF het dit gedoen en kyk hoe magtig is hulle reeds . ek sal in my LEWE Nie vir ‘n party stem wat my grond wil onteien en my van alle regte ontneem nie .. al is dit die sterkste of tweede sterkste party in die land . moenie jou gewete verkrag nie.

Frikkie ·

Peet, jou kommentaar wys duidelik dat jy geen idee het hoe demokratiese politiek werk nie. Jammer ek wil jou nie aanval of afkraak nie. Ek wil net hê jy moet asb bietjie meer inligting kry oor hoe dit werk.
Daar moet juis klein partye wees wat vir idiaale en beginsels en waardes staan en dan groter “netgooi” partye wees wat net in die algemeen die massas trek. Die kleiner partye word in koalisies ingetrek en word “king makers” waar die waardes dan gevorseer word om in ag geneem te moet word. Hoe dink jy kry ń klein partytjie in Europa soos die “greenies” dit reg om hulle waardes van groen bewaring af te dwing op nationale regerings vlak?
Klein partye het partykeer meer krag as groot partye op spesefiekke waardes. Maar daar moet nie 2 of 3 klein partye wees wat dieselfde waardes volg nie want dan maak dit die “king maker” posisie swakker.

kat ·

Dit staan so geskrywe dat almal om die tafel gaan sit – die slang gaan ook daar wees wat die parlement verteenwoordig. Niemand gaan vir ons wees nie – behalwe onsself. Dit is goed so want op die einde gaan ons aan niemand verantwoording hoef te doen nie. En dit is wat ons wil he op die lange duur. Onthou dit gaan eers sleg gaan voordat dit beter en dan goed sal gaan.
Die DA gaan net nog ‘n faksie wees en al die faksies gaan begin slaags raak met mekaar. Ek het altyd geweet die DA leier is nie te vertou nie. Ook ‘n slang.

Leon ·

In die Kaap gaan ons maar vir ons eie Republiek stem sodat die mense weer self die besluite kan neem, veral hoe die geld spandeer moet word. Tans kry die Nasionale Tesourie R190 Biljoen van belasting uit die Weskaap, waarvan slegs R50 Biljoen terugkom.
Die Kaapse Party sê dat ons belastings kan halveer, dan gaan ons inkomste steeds bykans dubbel wees as wat ons nou terugkry.
Die antwoord is dus ons eie Kaap die Goeie Hoop Republiek wat tans deur die Kaapse Party (Cape Party) sterk gedryf word!

Dolla-nie-dof ·

Dis hoekom Zille die presidentskap weggegee het, sy kon die ware karakter van die D.A nie langer wegsteek nie en sy was bang!!!!

Kosie Kramer ·

Ek stem saam met Jerry dat die DA desperaat is om die 2019 verkiesing te wen. Die laagste vlak in politiek is `n wykraadslid (councillor). Hulle verdien tans R40 000 per maand, en hulle hoef nie die werk voltyds te doen nie, en die posisie is slegs adviserend – hulle het min mag. Die DA is nog nie ten volle in beheer in Johannesburg nie, en hulle word van binne die munispaliteit af gesaboteer. Al hoe hulle die land kan regruk, is om `n meerderheid in `n verkiesing te kry. Die DA lei bv die jong swartmense op in verantwoordelike politiek, maar dit gaan ten minste een generasie neem. Ons blankes vorm maar 9% van die demografie; dit maak meer sin vir die DA om die meerderheid te probeer paai en wen op stemdag.

Willem ·

Ons almal Ken daai engelse gesegde “the lesser of 2 evils”. Dis hoe die wêreld nog altyd werk. Ons begin dit net Nou regtig beleef.

Bernard ·

Wolf in skaapsklere. Glo my, ek werk in die regering en by ons munisipaliteit is al die DA leiers eintlik ANC rejects – of sluit hul diegene in wie nie van Zuma hou nie (Ou Mbeki followers). Daar is nie een wit portfolio voorsitter by ons munisipaliteit nie, al is die meerderheid van die stemme in die area kleurling en wit (2 swart mans en 6 kleurlinge is portfolio raadslede). Die burgemeester is swart, sy PA is swart, sy bestuurder is swart. Nie een wit amptenaar word aangestel in die kantoor van die burgemeester of onderburgemeester nie.

Nati Mthetwa ·

Dit was nog altyd op die boeke, die DA skape was net te onnosel om dit raak te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.