Die waarde van onthullings

Gupta

Pres. Zuma (foto: Flickr/GovernmentZA- en die drie Gupta-broers (foto’s: who’s Who).

Deur Peet Bothma

Die Suid-Afrikaanse media het die afgelope weke groot pret gehad met die talle e-posse van die berugte Gupta-familie wat op die lappe gekom het.

Die een onthulling oor staatskaping na die ander het gevolg en elkeen het met nog ʼn groter sak patats vorendag gekom. Sommige van die stories het wonderbaarlike stertjies bygekry en dit het soos ʼn sepie-saga geword: elke dag word die koerant oopgeblaai om die volgende episode te lees.

Joernaliste loop dikwels die gevaar om deur oorywerigheid meegesleur te word. Bitter min het die vraag gevra hoeveel van die onthullings die waarheid is. Die omvang van die onthullings is verbysterend, want daar is na wat berig word tussen 100 000 en 200 000 e-posse.

Blootleggings van dié aard deur die lekkasie van dokumente, het deesdae ʼn algemene bron van onthullings in die media geword.

Waarnemers vergelyk die Gupta-onthullings met dié van die kontrakteur by die VSA se Nasionale Sekerheidsagentskap, Edward Snowden. Dit is gevolg deur die lekkasie aan die media van die sogenaamde 11,5 miljoen Panama-dokumente wat met sowat 214 000 geheime buitelandse bankrekenings van invloedrykes handel.

Die Gupta-familie se prokureur, Gert van der Merwe, hou vol dat sy kliënt nog nie die gewraakte e-posse onder oë gehad het nie. Soos te wagte maak hy dit af as sogenaamde fopnuus. Hy sê selfs daar kleef ʼn stank aan die e-posse.

Die belangrike punt wat hy egter maak is dat ʼn verhoor in die media slegs opinies tot gevolg kan hê. Van der Merwe sê die Gupta-familie sal ʼn amptelike ondersoek deur ʼn regter verwelkom.

President Jacob Zuma, wat opnuut in die spervuur is as gevolg van die e-posse, het intussen op aanbeveling van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee aangekondig dat ʼn kommissie van ondersoek aangestel sal word om die staatskapingsbeweringe te ondersoek. Die ironie is egter dat die vorige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, dit reeds in haar verslag aanbeveel het. Met dié verskil dat Zuma nie die kommissie moet aanstel nie – om verstaanbare redes, want nou kom dit neer kom op selfondersoek.

Die jongste hieroor is dat die kommissie nou eers vir Oktober beoog word. Intussen sê die Valke darem dat hulle ook die bewerings oor staatskaping ondersoek. Die geskiedenis het egter bewys dat ons nie te veel hoop hierop moet vestig nie.

Gister se aankondiging deur die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, dat die organisasie se adv. Gerrie Nel nou by ʼn onafhanklike ondersoek na die e-pos-onthullings betrokke gaan raak, word dus verwelkom. Dit sal egter op niks uitloop indien die oorsprong en geloofwaardigheid van die e-posse nie eers bo alle twyfel bevestig kan word nie.

Regskenners maan dat hoewel die e-posse toon dat ongerymdhede na bewering plaasgevind het, dit op sigself nie genoeg is om die Guptas of Zuma hof toe te sleep nie.

Voordat ons dus té opgewonde raak dat die staatkapingshidra se koppe afgekap gaan word, kom ons benader dit nugter en laat iemand soos adv. Nel dit eers ondersoek.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

koos1 ·

Vir iemand of ‘n paar persone om tussen 100 000 en 200 000 eposse te fabriseer dat dit as fopnuus kan dien is iets wat ek swaar sluk…….. of dit is anders iemand wat BAIE die hel in is vir die hele spul en baie tyd het! Die verbasende ding hieroor is die reaksie van Zuma en sy kantoor…….. 1. Hy het nie ‘n huis in Dubai nie en 2. hy stel ‘n komisie van ondersoek in.
Sy reaksie wys vir my dat die eposse heel moontlik waar kan wees, en dat dit die mag het om hom en al sy trawante te kan sink. Ook iets wat my opval is dat met al die ander beweringe oor die Guptas was hulle altyd stil, maar nou dat tasbare “bewyse” daar is, nou kekkel hulle prokureur sonder ophou. Baie keer spreek mense se reaksies meer as hulle dade.

Nico K ·

Waar kom die e-posse vandaan. Is die bekendmaking daarvan wettig? Mag iemand my persoonlike e-posse bekend maak. Ek wonder of so iets nie dalk ‘n probleem met ‘n moontlike hofsaak sal wees nie.

John ·

Die selfvertroue waarmee ann7 daagliks hul eie fopnuus beeldsend dui net op een ding en dit is dat hul wortels reeds so diep strek en lekker suig aan die land se rykdom in die troebelwatertjies benede, dat ‘n redelike sterk reus of stootskraper nodig gaan wees om die boom om te stoot. Indiers het ingeskuif waar witmense voorheen diens gedoen het en hul soet asems wasem heerlike wierook in die kamers van die nuwe heersers en laat hul bedwelm en vol vergesigte op nirvana se nimmereindigheid…

agterdogtig ·

As ek iets uit die verlede geleer het is daar iets baie groots wat oppad is waarvoor hierdie net ‘n rookskerm voor gaan wees!

Loeis ·

Daar kkom ‘n kommissie van ondersoek, en Zuma stel hulle nie aan nie? Of nie direk nie…

Ons weet wat die Sereti kommissie – wat deur Zuma aangestel is – bevind het. Mens wonder maar.

Hard werk en deursigtig wees, Gerrie!

Wat nou? ·

Dit raak heeltemal te stil!
As daar iets van waarde was onder die eposse, sou dit hoofopskrifte gewees het.
Jammer!

MCH ·

Ai, gaan moeilik wees om moontlike aanklagte bo redelike twyfel te bewys. Dit gaan toegang tot vertroulike maatskappy en persoonlike inligting verg wat moeilik sonder n lasbrief te kry is. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.