Die waarheid is toe nié so absoluut

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Ek onthou dit nog goed: In 1968 – ek was toe tweedejaarstudent op Stellenbosch – het ek ’n langnaweek gaan kuier by ’n medestudent saam met wie ek op laerskool was. Haar pa was toe die dominee op die dorp waar ek gaan kuier het.

Ons het op die voorstoep van die ruim pastorie gesit en die wêreld se probleme tjoef-tjaf opgelos. In die loop van die gesprek het ek ’n onsterflike waarheid kwytgeraak: “Die waarheid,” het ek met groot stelligheid aan die dominee gesê, “is absoluut.”

Die dominee het geesdriftig saamgestem. Dit was in ’n tydsgewrig waar mense maar so gedink het.

Apartheid was goed. Dit was só duidelik dat enigiemand wat nie saamgestem het nie, ’n gevaarlike liberalis of (snak na asem) kommunis moet wees.

En die Bybel is waar, elke enkele woord daarvan, letterlik. Die boodskap wat jy elke Sondag in die NG kerk hoor, is absoluut waar.

Ja-nee, die waarheid is absoluut. Of, altans, hy wás toe so.

Intussen het ek ’n bietjie ouer – en hopelik ook effens wyser – geword. Ek weet nou dat die waarheid nie absoluut is nie, dat daar selfs (na gelang van die hoek van waaruit jy kyk) meer as een waarheid kan wees.

Ek weet nou dat die ontdekking van die waarheid geen gebeurtenis is nie, maar ’n nimmereindigende proses. Dis ’n soektog na iets waarvan jy weet dat jy dit as feilbare mens nooit ten volle sal bereik nie, maar waarvan jy óók weet dat die soektog byna belangriker as die wenstreep is.

Ek voel soms soos die antieke Griekse filosoof Diogenes, wat helder oordag met ’n brandende lamp deur die strate van Athene gedwaal het, op soek na ’n eerlike man. Ek voel soos Sokrates, wat die absolute sekerheid van sy medeburgers in die stad met teenvrae ontsenu het.

Nee, die lewe, het ek geleer, het net een absolute sekerheid, en dit is dat hy vol onsekerheid is. Die lewe is om sinvol met daardie voortdurende onsekerheid om te gaan.

Talle mense kry dit nie reg nie, en daarvoor moet ’n mens begrip hê. Om jou besit van die absolute waarheid te verloor, soos in die jare ná my gesprek met die dominee met my gebeur het, is onaangenaam en destabiliserend.

Sommige mense wend hulle dan tot ’n ideologie of ekstreme vorm van godsdiens wat antwoorde op alle denkbare en ondenkbare vrae bied. Dan hoef hulle nie self na te dink nie.

’n Mens dink byvoorbeeld aan die kommunisme, ekstreme nasionalisme, die fundamentalistiese Islam en Christelike geloof, selfs liberale dogmatici, ensovoorts.

Ek en my vrou het breedvoerig navorsing gedoen vir ’n boek waarmee ons besig is, oor die ontwikkeling van die politieke en militêre denke van die ANC/SAKP in die jare van ballingskap. Daar sien jy hoe mense by wyse van spreke hul siel verkoop het aan die USSR-weergawe van die Marxisme-Leninisme, hoe hulle die geskiedenis sien as ’n reeks absolute wetmatighede wat noodwendig sal eindig in die kommunistiese heilstaat.

Jy sien hoe mense hul oë vasbeslote sluit vir enigiets wat daarteen indruis. Soos Josef Stalin se wreedhede en die menseregtevergrype in die USSR.

Bram Fischer, wat deesdae deur sommige as ’n groot anti-apartheidsheld aangeprys word, kom in die biografieë van Stephen Clingman en Martin Meredith voor as ’n prinsipiële maar dogmatiese kommunis wat eenvoudig geweier het om te oorweeg dat daar iets met sy geloof kan skort.

Daar was talle van hulle in die ANC en SAKP. My vrou, in die jare 80 en 90 dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het heelparty van hulle as kollegas gehad, en kon dikwels net haar kop oor soveel naïwiteit skud.

Dis mense wat ontredder was toe die Berlynse Muur in 1989 val. Ja, wat gejuig het toe die ortodokse kommuniste in die loop van 1991 kortstondig die mag in Moskou gegryp het, en opnuut emosioneel platgeslaan was toe dit misluk.

Dis relevant om hier te vra of alle oortuigings dus maar onsinnig is. Nee, natuurlik nie. ’n Mens moet ’n onderskeid tref tussen ideologieë en oortuigings.

’n Ideologie word hier gedefinieer as ’n denkraamwerk wat aan jou vóórskryf hoe die werklikheid moet wees, pleks van dat hy die werklikheid soos hy ís, verhelder.

Die kommunisme is ’n goeie voorbeeld.

Dié ideologie het, soos alle ideologieë, ’n deel van die waarheid beet, naamlik dat die klassestryd, oftewel die botsing tussen arm en ryk, die dinamiek van die samelewing en die geskiedenis help bepaal. Maar dis ’n eensydige waarheid. Hy belig één aspek van iets wat ’n ingewikkelde mosaïek is.

Dis egter ’n maklike waarheid wat uitstekend bemarkbaar is aan mense wat ervaar dat hulle verdruk word omdat hulle arm (of gekleurd) is. Dit neem mense se plig weg om vir hulself te dink, om self die moeisame soektog na die waarheid te onderneem. Dit pas mense wat intellektueel lui is.

Dit geld nie slegs vir kommuniste nie; dit geld vir énigiemand wat sy siel aan ’n ideologie verpand. Dit was ook waar vir die Nazi’s in Adolf Hitler se Duitsland. Dit was waar vir mý en my geslag in ons naïewe geloof dat apartheid die antwoord op alle Suid-Afrikaanse probleme bied.

Dit is ook waar vir diegene wat glo dat Wladimir Poetin, Xi Jingping of Donald Trump sulke fantastiese leiers is.

Maar, sal sommige vra, wat van jou Christelike geloof, Leopold? Jy bely tog dat jy in God glo? Maak dit jou nie eweneens intellektueel lui nie?

Ek hoop nie so nie.

Daar was ’n tyd dat ek van die kerk weggedryf het omdat ek vrae gehad het waarop ’n arrogante kerk slegs geykte antwoorde had. Maar ek was ook jonk en arrogant.

Intussen het die kerk gelukkig meer beskeie geword, en ek hoop ek ook. Bowenal het ek rasioneel oor die wêreld en die geloof probeer nadink, en tot die gevolgtrekking gekom dat dit voldoende klop dat ek weer aktief in die kerk kan wees.

Die punt is dat ek, in teenstelling met vroeër, nie meer absolute antwoorde hét nie. Ek sóék na die waarheid, wat nie dieselfde is nie.

Dit val my dikwels op dat ons openbare diskoers in Suid-Afrika neerkom op mense wat almal die absolute waarheid het wat op mekaar gil en terselfdertyd hul ore toestop.

Dalk moet ons almal, ook ek, meer beskeie wees, meer beweegruimte aan mekaar gun en meer sóék. Dalk vínd ons dan ook!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Basson ·

Insiggewend dankie

Net ‘n opm (nie direk verbandhoudend met die meningstuk) – ek wonder soms of die ‘eksterne lokus van kontrole’ gedrag deesdae baie meer oordrewe / oordadig is as voorheen (dalk versterk deur sosiale media, politici ens se ‘fasilitering’) en dit moontlik een van die faktore is wat die ‘ontdekking van waarheid’ aan bande le?

Nico K ·

Ons almal glo ons is reg. Die ander kant ook. Dit is die probleem. Die belangrike is om as jy uitvind jy was nie reg nie, terug te gaan en dit te gaan erken. Min van ons het daardie moet.

Jerry ·

Die waarheid is goedheid het n sagte hart met suiwer gedagtes en boosheid het n hart van klip met bose gedagtes.

JMC ·

Elke keer wanneer ek iemand hoor sê “Maar kan hulle nie sien dat dit nie werk en onlogies is nie” dink ek ‘Maar kan jy nie sien dat dit ideologie bo alles is nie’.

Stefaans ·

In die boek “Bart Nel” van J van Melle sê Bart onder andere: “Ek loop met my oë by die lig wat ek sien”.
In beginsel is dit nie verkeerd nie, maar ek moet ook ruimte laat vir ander mense se seining, al verskil dit hemelsbreed van myne.

Sebastiaan ·

Daar is wel ‘n absolute waarheid in God, maar mense sal nie in hulle leeftyd dit heeltemal begryp nie. Ons kan net hoop om nader aan die waarheid te kom, maar moet te alle tye nederig erken dat ons eintlik maar nog niks weet nie en dat selfs die bietjie ‘n genadegawe is.

Wessel ·

Alle mense is feilbaar en dus ook alles wat deur mense voortgebring word (sieninge, oortuigings ens.) . In hierdie lewe is daar geen anker of sekerheid buiten die Bybel nie.

Een interessante kenmerk van die Bybel:
Die Ou Testament bestaan uit 66 boeke wat oor ‘n tydperk van 1400 jaar geskryf was. Daar is omtrent 453 profesiee in die Ou Testament wat almal waar geword het (Jesus se geboorte, verskeie oor Israel ens.).

Wolf Cilliers ·

Is Leopold absoluut seker dat waarheid nie absoluut is nie?

rassie ·

Leopold,

Stem 100% met jou saam en pleit ook saam met jou skuldig.

Ek hoop dat jou artikel ook ‘n goeie invloed sal uitoefen op die diskoers spesifiek binne Afrikaner geledere.

Therese van Schalkwyk ·

Stem saam dat hierdie ‘n baie interessante artikel is!

Wil net beaam dat géén leier fantasties genoeg is om jou siel aan te verpand nie. Nie die drie wat genoem word in die artikel nie, en ook nie Barack Obama, Macron of Angela Merkel nie.

En verder, die Westerse liberale, multikulturele aanslag, waar alles en almal behalwe nasionaalgesindes welkom is, is óók net so ‘n gevaarlike ideologie as kommunisme.
Westerse leiers “stop hul ore toe hieroor asof hulle die absolute waarheid” beet het.

Wolf Cilliers ·

En dan ook my ander vraag aan Leopold n.a.v. sy stelling: Is hy seker daardie stelling van hom absoluut waar is?

Müller ·

‘n Beskawing is geskoei op mense wat ooreenkom om saam te soek na morele en fisiese uitnemendheid. Die bestaan van “waarheid” is nie afhanklik van die swakheid van ons kollektiewe soeke nie.
Mag ons nooit opgee op hierdie kollektiewe soeke na die waarheid!
P.S.
Dit is duidelik dat die post-modernisme verwerp die bestaan van waarheid en daarmee saam oor die soeke na die waarheid. Dit is uiters gevaarlik en die westerse wêreld pluk die hartseer vrugte.

Eish ·

Baie dankie. Ek het die artikel werklik terdeë geniet, veral die ego dempende waarhede wat daarin verdraad is.

Dit laat my onwillekeurig dink aan 1 Korinthiërs 13 verse 9 en 12 (a)
” Maar ons ken maar gedeeltelik en ons profeteer maar gedeeltelik ,”
” Nou kyk ons nog in n dowwe spieël en sien n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.”

Ons kan maar net kyk na die Christelike kerk in die helhool en tot die besef kom hoeveel gewig hierdie artikel dra. Met 400 denominasies wat hoog en laag sweer hul het die waarheid, die hele waarheid en niks anders as die waarheid nie, is dit dan nie maar slegs wêrelds gekontamineerde godsdiens en ook nie die volle waarheid nie? Soos die NG Kerk se belydenis aangedui het nie?

Die artikel laat my met n glimlag, want die grootword liedjie Ek is n dapper muis van Carike Keuzenkamp is die ideale toonset van die artikel.

Ou Fisikus Ystervark ·

Wat presies is reg en geregtigheid, liefde, die kleur rooi? Wat is die aarde se presiese koőrdinate op enige tyd in die heelal van alle skeppinge? En welke verganklike mens beskik oor alle data, inligting en wysheid van die verlede, hede en toekoms , die onsigbare en sigbare, die bekende en die onbekende, dit wat reeds uitgevind is en dit wat nog uitgevind moet word? Al bereken wat is die waarskynlikheid dat daar ‘n Skepper is? Al uitgewerk wat is die waarskynlikheid dat daar nie ‘n Skepper is nie? Ook die natuurwetenskappe en wiskunde is nie absolute en eksakte wetenskappe nie. Hulle funksioneel op die beginsel van hipoteses totdat die teendeel bewys kan word.
Netso weet ons nie vandag presies welke Homo sapiens sapiens-groep het Suid-Afrika eerste bewoon nie. Die ontdekking van gebeendere waarvan die DNS verband hou met dié van die San of Khoikhoin beteken nog gladnie dat die eerste Homo sapiens sapiens in Suider Afrika die San of Khoikhoin se voorgeslagte was nie.

Ten slotte: “In god we trust, all the others bring the data and money”! Laat ons altyd beskeie bly!

Joh 3:16 ·

Ons Here Jesus Christus het gesê: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” Ek glo Hom. Net as iemand gewonder het wat is die absolute waarheid waarna ons moet soek.

Marisa ·

Soveel insig! ‘n Welkome en vars briesie in vandag se tye.

Gevare van PostModernism ·

Vraag: “What are the dangers of postmodernism?”

Answer: Simply put, postmodernism is a philosophy that affirms no objective or absolute truth, especially in matters of religion and spirituality. When confronted with a truth claim regarding the reality of God and religious practice, postmodernism’s viewpoint is exemplified in the statement “that may be true for you, but not for me.” While such a response may be completely appropriate when discussing favorite foods or preferences toward art, such a mindset is dangerous when it is applied to reality because it confuses matters of opinion with matters of truth.

Skuus vir die buitelandse taal.

Janee Soso ·

Jy is nie verkeerd nie maar ek stem nie saam met jou nie. Hugh?! Dit is dalk waar vir jou maar nie vir my nie en ons altwee is reg. Wat!? Twak man. Daar is een waarheid. p u n t
Postmodernisme

Postmodernisme is ‘n beweging in die kunste, argitektuur en filosofie wat in die laat 20ste eeu as ‘n teenreaksie op die modernisme ontstaan het. Postmodernisme behels skeptiese beskouings oor die kulturele lewe, literatuur, kuns, filosofie, geskiedenis, ekonomie, argitektuur, fiksie en literêre kritiek. Dikwels word dit met dekonstruksie en post-strukturalisme verbind omdat die gebruik van die term “postmodernisme” op dieselfde tyd gewild geraak het soos 20ste eeuse post-strukturele denkrigtings.

alwyn burger ·

Om sekerheid te kry is menslik onmoontlik.Die hoeveelheid kennis beskikbaar is oorweldigend en dit wat nog ontsluit moet word is nog nie eers in berekening nie. Camus noem dit n absurditeit. Ons lewe is n absurde gesoek na sekerheid.

Marthinus Willemse ·

Leopold, in 1968 was ek ses jaar oud; jy het baie meer lewenservaring as ek. Ek wil egter op een punt verskil: jy sê die waarheid is nie absoluut nie, maar kritiseer dan diegene wat dink Wladimir Poetin is `n “fantastiese leier”.

Boris Jeltsin kon Jacob Zuma se tweelingboetie wees, en toe hy skielik bedank, moes Poetin, Jeltsin se vyfde premier in 18 maande, die gemors skoonmaak. Byvoorbeeld: Kernduikbote het in hawens lê en roes; `n erger lot as `n duisend Tjernobils wat wag om te gebeur.

Poetin hét die gemors begin skoonmaak, en het Rusland opgehef tot `n respektabele land. So twee jaar gelede is hy deur skoolkinders gevra of Rusland `n supermoondheid is. Sy antwoord was “nee, maar waarom moet ons een wees? Dit kos geld en `n groot weermag, en Rusland het geen aspirasies om die wêreld militêr oor te neem nie. Rusland moet eerder haar geld spandeer om die land op te hef.” Vir my is Poetin `n staatsman, volgens die woordeboekbeskrywing daarvan. Hy is nie `n ideoloog nie.

Die Russe se waarheid, veral tydens die Oekraïne-krisis, was dat Washington hulle wil omsingel (“containment”) met Navo, die IMF, die CIA, Freedom House, USAID, ens. en hulle dwing om Amerikaanse slawe te wees. Poetin het gesê dis tyd dat die Russe ophou minderwaardig voel, dat hulle trots moet wees op hulle taal, hul kultuur, hul Ortodokse Christenskap; en dat hulle moet begin vrede maak met hulle geskiedenis: met Stalin, Lenin, kommunisme, die tsaars.

Benito ·

Fantastiese regtig die artikel geniet………’n saak het altyd 3 kante …..joune , myne en die waarheid……watter waarheid weet nugter……so , who knows where the goose goes ????

Paulus ·

Leopold, dankie vir jou eerlikheid.

Jy erken dat jy een absolute sekerheid (God, die Bybel, Christelike geloof) vir ‘n ander absolute sekerheid verruil het, nl. jou nuwe postmoderne geloof in die absolute onsekerheid van alles.

So jy is nou netso dogmaties seker soos daardie oud dominee en jong Leopold van jare gelede, jou sekerheid het nou net oorgeskuif na jou absolute sekerheid dat jy onseker is.

Dit maak jou dan netso, en dalk nog meer geslote vir ander bronne van sekerheid, o. a. die Christelike geloof, wat veroorsaak dat jy nie saam ander kan dink en glo nie.

Om absoluut onseker te wees vereis inderdaad baie en ‘n groot geloof in die self, maar dit is natuurlik nie die sekerheid van die ongetwyfelde Christelike geloof in ons Here Jesus Christus deur sy Gees en Woord nie. Van laasgenoemde het jy afskeid geneem, ongelukkig.

Sterkte met jou nuwe ongetwyfelde onsekere geloof…. dink jy gaan dit baie nodig hê.

Paulus ·

“Om sekerheid te kry is onmoontlik”

En dit beteken dus wat Camus self beweer het, is ook ‘n onmoontlikheid, dus dit is onmoontlik dat hy seker kan wees dat sekerheid onmoontlik is.

Postmoderniste en agnostici sal, as hul konsekwent was, bloot net heeltemal stilbly, want as daar nie ‘n absolute waarheid is nie, dan is daar ook nie ‘n reg en verkeerd nie, en hoe kan jy dan beweer daar “is nie sekerheid of waarheid nie” …as jy dan nie ‘seker’ is nie …. dan maak dit juis van postmoderniste en agnostici die mees dogmatiese mense op aarde.

Mense van verskillende godsdienste, wat glo daar is ‘n absolute waarheid, kan uitsprake maak oor reg en verkeerd, en die sin van die lewe. Ja, hul kan dit dalk verkeerd verstaan en/of toepas, maar hul het ‘n basis en ‘n gesag om daardie uitsprake in te begrond.

Die mees absurde irrasionele en tragies verskynsel is egter daardie mense wat op ‘n boomtak sit en dit afsaag (die absolute gesag van die Bybel) … en dan nog steeds meen dat hul Christene is of gelowiges is ?

Nee wat, groter respek vir iemand wat dan eerlik sê “ek is ‘n ateis”, ek glo nie in God en die Bybel nie, as daardie mense wat valslik beweer hul is volgelinge van Jesus, terwyl hul sy absolute waarheid verwerp soos dit geopenbaar is in die heilige Woord van God.

Onthou Jesus se woorde: “Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam…”

John ·

Dis nie die eerste keer dat Leopold hierdie wysheid kwytraak ni. Hy is ook nie die eerste een wat dit doen nie en sekerlik ook nie die laaste nie. Dit sluit aan by sekere eteriese Oosterse godsdiensoortuigings, diepsinnige onbewese wetenskaplike teoriee en is veral tipies van sekere alwetende en verhewe Europese intelligentsia sedert WO2; ‘mense’ veel slimmer as gewone platpoters van elders op die ou en vervelige platvloerse planeet; ‘n gerieflikse siening oor enigiets in en buite die heelal en wat eintlik maar basies neerkom op draadsit… op ‘n wankelrige geroeste pap doringdraad.

Paulus ·

Alwyn, maar daarom het God waarheid geopenbaar sodat wat vir die mens in homself en vanuit homself onmoontlik is weer kan ken, waarlik en met sekerheid kan ken: “1 Joh5:20, En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.”

Frans C ·

Die teenoorgestelde van die waarheid is ‘n leuen.Die waarheid is feite gegrond en weerspieël die werklikheid.So kan ‘n leuen ook die waarheid wees,want as jy mense ‘n beter toekoms belowe en dit realiseer nie,dan het jy ‘n leuen vertel,en die waarheid is dat jy dit belowe het,wat ‘n feit is.

Thomas de Koning ·

Die Waarheid is Jesus self. Dis absolute waarheid! Johannes 1:6!

Gerhardus Petrus Padda ·

Ai Leopoldt, hoe dan nou? Jy begin deur te sê: “absolute waarheid bestaan nie, maak nie saak uit watter hoek jy kyk nie”. Maar dan gebruik jy voorbeelde van idelogieë wat simplistiese antwoorde op komplekse probleme gee en wat slegs in stand gehou kan word deur sensorskap, of in vandag se vorm daarvan, “politieke korrektheid”. Sensorskap word gebruik om te keer dat jy na n probleem uit meer hoeke uit kyk.

Nog n struikelblok in die soeke na waarheid is “kognotiewe dissonansie”. Elkeen het n verwysingsraamwerk wat hy gebruik om “orde” te skep uit die “chaos” van die lewe. Wanneer iets dan gebeur wat buite hierdie raamwerk val, verwerp n mens dit asof dit nie gebeur het nie, of tot hy dit wat gebeur het kan rekonsilieer met sy verwysingsraamwerk.

Jy verwar egter die feit dat die waarheid kompleks én gekompliseerd is, met die versugting dat die waarheid nie bestaan nie. Dit is wat hulle in Engels noem n “cop out”. Dit is die maklike uitweg in die doolhof van die lewe. Dit lei tot die infantilisering van die samelewing, wat lei tot hoe kan jy werklik oordeel tussen “goed” en “sleg”, alle gelowe is maar “dieselfde”, “alle mense probeer maar net goed wees”, “mans en vrouens is gelyk” ens. ens, wat direk lei tot simplisitiese en geweldadige idelogieë.

Christenskap kan simplisities en totaliter wees, of kompleks en sielsverrykend. Daar IS antwoorde wat vir alle praktiese doeleindes goed genoeg is, en beter is as ander “antwoorde”. Dit is absoluut so.

Neels Malan ·

Jesus Christus is my enigste Saligmaker en Verlosser. Ek glo hierdie waarheid is altyd geldig. Dit is absoluut.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.