Die waarheid oor Poetin, Rusland en oorlog in Oekraïne

Tucker Carlson voer ‘n onderhoud met Wladimir Poetin. (Foto: Gavriil GRIGOROV / POOL / AFP)

Die bekende en omstrede Amerikaanse televisieaanbieder Tucker Carlson, het onlangs veral in die VSA en Europa wenkbroue laat lig toe hy vanuit Moskou ʼn onderhoud van meer as twee ure met die Russiese president Wladimir Poetin op sosiale media uitgesaai het.

Carlson was voorheen ʼn aanbieder op Fox Nuus, maar bedryf deesdae sy eie alternatiewe nuusdiens. Die onderhoud met Poetin, die eerste deur ʼn Westerse joernalis sedert die uitbreek van die oorlog in Oekraïne byna twee jaar gelede, is reeds deur meer as 200 miljoen mense gekyk.

In aanloop tot die tweede herdenking van Rusland se inval in Oekraïne, bied Carlson se onderhoud met Poetin belangrike perspektief op die Russiese beweegredes vir die oorlog, maar ook die groter vraagstukke oor magsverhoudinge in Oos-Europa en die wêreld sedert die einde van die Koue Oorlog. Wat dit egter nie doen nie, is om die waarheid hieroor te verander.

Wat die oorlog in Oekraïne aan ons openbaar het, is steeds dieselfde. Die Weste beleef ʼn tydperk van ongekende swak leierskap. Europese lande beskik nie meer oor die militêre vermoë om hulleself te verdedig sonder hulp uit die VSA nie. In Amerika is daar ʼn groot nuwe breuk tussen diegene wat steeds glo dat Amerika ʼn belangrike rol as internasionale waghond moet speel en diegene wat toenemend steun werf vir ʼn baie meer terughoudende Amerikaanse buitelandse beleid wat laas voor die Eerste Wêreldoorlog gegeld het.

Wat egter ook sedert die uitbreek van die oorlog duidelik geword het, is die omvang van verspeelde kanse deur die Weste om Rusland ná die einde van die Koue Oorlog as bondgenoot nader te trek. In die Carlson-onderhoud skep Poetin oor verskeie kwessies sy eie historiese werklikhede, maar waaroor hy wel reg is, is dat Rusland tydens die 1990’s nader aan die Weste wou posisioneer, maar dat dit deur Europa, Navo en veral die veiligheidsmagte in die VSA verhoed is.

Nog ʼn werklikheid wat deur die oorlog geopenbaar is, en wat nie in die doodsnikke van die Koue Oorlog in die 1980’s gegeld het nie, is die toenemende potensiaal vir lande soos Rusland en Iran om ten spyte van isolasie deur Westerse sanksies, steeds ekonomies voort te beur weens bande met lande soos China, Indië en snelgroeiende ekonomieë in Asië en die Midde-Ooste. Ten spyte van reusesanksies teen Rusland kon die Russiese ekonomie die afgelope twee jaar aanhou groei weens nouer handelsbande met die sogenaamde Globale Suide.

Wladimir Poetin slaag uitstekend daarin om Westerse swakpunte te ontbloot en daaruit munt te slaan. Poetin en sy outoritêre bewindsoorname van Rusland die afgelope twee en ʼn half dekades is ʼn produk of selfs simptoom van die mislukkings van die Weste en Navo in die 1990’s.

Niks daarvan regverdig egter die oorlog in Oekraïne nie. Niks wat Poetin aan Carlson gesê het, is enige regverdiging vir ʼn oorlog waarin honderde duisende mense reeds dood is nie. Rusland het onder Poetin se leierskap, en veral die afgelope twee jaar, meer outoritêr en meer onderdrukkend geword. Rusland se samewerking en steun aan despotiese regimes soos Iran, maar ook juntas in talle Afrikalande, is gevaarlik.

Wanneer Wladimir Poetin die waarheid praat en Westerse swakpunte ontbloot, beteken dit nie dat hy skielik die morele hoë grond betree nie. Dit is belangrik dat ons die vermoë behou om hierdie onderskeid te tref.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Treurwilger ·

Oorlog moet altyd eerder voorkom word.
Die VSA (NAVO) was ten volle by magte om hierdie oorlog te verhoed.
Oekraïense neutraliteit was egter te veel gevra.
Die morele hoë grond is dus m.i. vakant.
Rusland het in die proses ongelukkig dekades se vordering om deel te word van die uiters eksklusiewe Weste tot niet gemaak.
Wat ‘n tragedie na albei kante.

Marthinus W ·

Een maand, nadat Russiese troepe Oekraine binne gegaan het, was daar vredesamesprekings in Istanboel. Kief was op die punt om te teken, en Rusland op die punt om troepe te onttrek, toe Boris Johnson Kief instorm en aan Zelenski dikteer, dat hy nie die vrede gaan aanvaar nie; dat Engeland en Navo sal aanhou veg. Dus: die honderdeduisende dooies is op die Weste se rekening, nie Rusland nie.

Beantwoord asb die volgende vraag: Is Poetin reg toe hy [2 jr gelede] noem dat een van die redes vir sy soldate in Oekraine was om die bewyse te kry dat covid-19 in n biolab getoets en vervolmaak is?

Op die Amerikaanse regeringswebwerf wat alle tenders toegeken aandui, is daar n tender toegeken aan Labyrinth [Global Health] vir die skep van covid-19, in n biolab in Oekraine. (Die Pentagon erken hulle had 46 sulke biolabs in Oekraine). En Labyrinth is ook in SA betrokke. Tweede vraag: is dit dalk die rede vir al die siektes onder diere?

Mari ·

Jaco, gaan kyk na die Minsk ooreenkoms tussen Rusland en Oekraien wat deur Frankryk en Duitsland onderteken is. Merkel het self gesê hulle het die ooreenkoms geteken maar was nie van plan om daarby te hou nie. het dit net geteken om tyd te wen om die Oekraiense weermag op te bou. Gaan kyk na die Maidan staatsgreep wat Amerika in 2014 uitgevoer het in Oekraiene waar ‘n demokraties verkose regering om ver gewerp is deur Amerika (Victoria Nuland het dit georganiseer). Gaan kyk na die oorlog wat die Oekraiense weermag gevoer het teen die Russe in die Donbas streek waar hulle 14 000 dood gemaak het. Hierdie russe is verbied om hulle taal te mag praat. Amerika wou oorlog met Rusland hê, hulle het gedink hulle sal Rusland maklik oorwin en dan Rusland opbreek in 5 streke en met Rusland maak wat hulle met Europa maak: Oorspoel met immegrante van Afrika en die Midde Ooste.

Mari ·

Navo (veral Amerika) gebruik die Oekraiense sodate om die proksie oorlog vir hulle te veg. Hulle voel weinig vir daardie arme jong manne wat daar sterf. Senator Mich McConnel het gesê die US maak baie geld uit die oorlog omdat meeste van die geld (belasting geld) gaan na Amerika se MIC : Military Industrial Complex wat die wapens en ammunisie vervaardig vir die oorlog. Soos iemand vir my onlang gesê het: Die geldmag wen altyd finansieël en die gewone mense se kinders kom in kiste met landsvlae daarop gedrepeer terug en word in ‘helde akkers’ begrawe.

Mari ·

Jaco, so terloops, die “Omstrede Amerikaanse TV aanbieder” Tucker Carlson was sover nog die enigste hoë profiel joeralis in die wêreld wat bereid was om oor plaasmoorde in Suid-Afrika te praat. Ek verwys na sy onderhoud met Ernst Roets ‘n paar jaar gelede.

Pieter ·

Julle kan rêrig nie Tucker Carlson ernstig opneem nie. Die man is ‘n hanswors. Daar is ‘n rede waarom Putin nie onderhoude wou voer met die BBC, France24, CNN of die res van hulle nie. Hy het ‘n man gesien wat hy kon manipuleer en dit gebruik.

Marthinus W ·

Pieter, Poetin het aan n Russiese joernalis erken dat hy die Tucker-onderhoud nie baie geniet het nie, omdat Tucker hom nie in n hoek probeer druk het nie. Poetin is beter wanneer hy onder druk is. Volgens die Amerikaner Peter Lavelle, het hy eenkeer vir 90 minute langs Poetin gesit, en gesien en geluister hoe hy praat en antwoord, sonder enige notas. Gewoonlik doen Poetin marathon-vraag-en-antwoorde van tot 4 ure ononderbroke.

Pieter ·

@Marthinus W – Ja hy is goed met onderhoude met mense wat hy kies. Meeste internationale media maatskappye vra al vir ‘n onderhoud vir die beter deel van twee jaar. Nou kies Putin die die verskoning vir ‘n joernalis waaroor ‘n sekere regse deel van Republikeinse stemmers mal is. Iemand wie hy weet nie vir hom moeilike vra gaan vra nie met kykers wat hy weet reeds grootliks aan sy kant gaan wees. Putin versprei daarmee sy propaganda oor die oorlog direk in die ore van die mense wat die mees geneig is om hom te glo.

Mense wat ‘n argument sal hoor soos: “Rusland het Oekraïne aangeval want hulle soek nie nog ‘n Europese Unie / Navo land op hulle grens nie” en dan dink dat dit ‘n aanvaarbare rede is om ‘n land aan te val.

Pieter ·

@Marthinus W Ek weet ek het gesê jou Biolab teorie het my laat lag maar ek id eintlik meer bang. Dis ‘n teorie versprei op 4Chan deur QAnon en InfoWars. Dis later versterk deur die Kremlin want dit is duidelik in hulle guns as mense dink dis waar. Die VN en elke ander instansie wat weet se dis bog. Wat op aarde maak dat jy 4Chan, Infowars of die Kremlin se twitter rekening glo? My liewe hemel ek weet dis moeilik om feit van fiksie te skei in vandag se wereld maar jy kan nie alles glo wat jy op die internet lees nie.

Treurwilger ·

Alles op die internet kan beslís nié geglo word nie.
Maar presies só kan alles wat anti-Rusland politici en joernaliste verkondig óók nie geglo word nie.
Net mooi als uit Rusland word afgemaak as Kremlin-propaganda, want dit pas die Weste.

Pieter ·

@Treurwilger. Baie mense is tereg skepties oor wat hulle lees in die westerse media, daarmee het ek soos wat ek in my oorspronklike kommentaar geskryf het geen probleem mee nie. Snaaks genoeg is ons stelsel ook nie perfek nie en moet verbeter word. Maar dieselfde skeptiese mense lees dan Russiese media en glo elke woord.

So verklaar dit. Daar is mense wat skepties is oor wat CNN publiseer (tereg) dan gaan hulle na Facebook en word vas oortuig dat Donald Trump eintlik die verkiesing gewen het en dat die Demokrate in amerika kinders ontvoer sodat Biden vir ewig jonk kan bly (ek weet dit lyk nie of dit baie goed werk nie)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.