Die waarheid sneuwel

Deur Louis Bothma

Hierdie artikel is oorspronklik in Beeld gepubliseer op 21 November 2011. Louis Bothma reageer op Johan Kruger se skrywe, Die waarheid wat talle self beleef.

Bron: Louis Bothma

“Solank die stemme van burgerlikes wat deur soldate (aan albei kante) gemoor, verkrag, beroof, aangerand, ontwrig en ontwortel is, nie gehoor word nie, moet ons maar liewer wag met die aanwys van die wenners van die Grensoorlog,” skryf Louis Bothma.

Om die volle waarheid oor die Grensoorlog onder oë te sien, is sekerlik vir almal van ons wat dáár was, nie altyd lekker nie.

En om die oorlog ná soveel jare deur ’n ander bril te bekyk is inderdaad ’n vreemde ervaring.

Daarom is ek gemaklik daarmee as ou strydmakkers met my siening van die Grensoorlog verskil.

Ons kan egter nie toelaat dat Johan Kruger, ’n vakbondamptenaar wat nie dáár was en geen navorsing oor die Grensoorlog gedoen het, die debat ontspoor met persoonlike aanvalle, sarkasme en ’n duidelike gebrek aan kennis nie soos in die artikel in Beeld Die waarheid wat talle self beleef.

Na ál die jare se verwarring en leuens wat in ons kele afgedruk is, het almal ’n versugting na die waarheid oor die Grensoorlog. Derhalwe het ek die boek, Ons was daar – wenners van die oorlog om Suider-Afrika (samesteller genl. Jannie Geldenhuys) aangekoop en gelees.

My betoog, voordat Rian Malan se resensie verskyn het, was dat die boek nie die volle waarheid vertel nie en dat ons ook buite die parameters van die Koue Oorlog moet dink wanneer ons wenners en verloorders wil aanwys.
Wat betref die waarheid: Op bl. 63 lees ek Swapo het hoofmanne (burgerlikes) vermoor.

Dit is ou nuus. Maar die Suid-Afrikaanse Weermag het ook onskuldige bloed aan sy hande. Hoekom lees ons niks hiervan nie?

Is daar iemand wat dáár was wat bereid is om sy nek uit te steek ter wille van reg en geregtigheid, of moet die klippe uitroep?

Jammer, maar solank die stemme van burgerlikes wat deur soldate (aan albei kante) gemoor, verkrag, beroof, aangerand, ontwrig en ontwortel is, nie gehoor word nie, moet ons maar liewer wag met die aanwys van wenners.

Die rakke staan vol boeke oor alles wat vroue en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog deurgemaak het, maar daar is skaars begin om die bittere lyding van burgerlikes, veral aan die Angola-kant van die grens, na te vors en te boekstaaf. Gaan ons net die koppe wegdraai as hierdie blik wurms eendag oopgemaak word?

Op bl. 70 lees ek Johan van der Mescht is vir maj. Nikolai Pestretsov uitgeruil, en op die volgende bladsy dat “slegs twee man van 32 Bataljon ligte wonde” tydens Operasie Super opgedoen het. Dit is onwaar. Eersgenoemde fout is ’n glipsie wat mens kan oorsien, maar die tweede is irriterend.

Ek glo nie die naasbestaandes van die drie gesneuweldes sal baie gelukkig wees nie. Watter bronne het die skrywer geraadpleeg? Ongelukkig het die boek nie bronverwysings en ’n register nie en moet ’n mens maar net alles sluk wat jy lees.

Ek het verder gelees in die hoop dat die sluier uiteindelik oor Operasie Firewood gelig sou word. Dit was ’n minder bekende, maar belangrike en bloedige operasie teen Swapo op 31 Oktober 1987, ná die oorwinning oor Fapla by die Lombarivier.

Moontlik het ons in Firewood ons grootste verliese op een dag gedurende die ganse Grensoorlog gely. Was daar inderdaad 19 dooies en 64 gewondes (swart soldate bygetel, asseblief)? Drie Casspirs is glo uitgeskiet. Die aanvalsmag het gevra vir artilleriesteun, maar die generaal het dit geweier. Die dokters is beveel om nie oor die baie ongevalle te praat nie. Is hierdie die waarheid of “valse geskiedenis”?

Dit is nietemin prysenswaardig dat interessante memoires versamel en in Ons was daar vir die nageslag saamgebundel is – voordat dit te laat is. Hoede af vir almal wat bygedra het.

Maar is die memoires doelbewus deur die samesteller geselekteer om ’n bepaalde siening te pas? Daar is tog sekerlik manne wat dáár was, wat van hierdie siening verskil? Sal hierdie manne asseblief handopsteek ter wille van die volle waarheid.

“Die onpartydige Amerikaner”, Chester Crocker, word aangehaal om die verpletterende neerlaag wat ons vyande by die Lombarivier gely het te beklemtoon.

(Ek self het gesaghebbende bronne geraadpleeg en kortliks in Die buffel struikel, bl. 292, oor dié oorwinning geskryf, maar dit is wat daarna gevolg het, wat gedebatteer moet word).

Crocker draai egter nie doekies om oor ons politici én generaals nie.

Tydens onderhandelinge wat hy einde Oktober 1984 met ’n groep van hulle in die Morabeza Hotel op die Kaap Verdiese Eilande gehad het, het dit woes gegaan. Gaan lees wat skryf Crocker in die einste High Noon in Southern Africa op bl. 215-6.

Die opskrif is, “Bad behaviour at the Ilha do Sal” Crocker lap uit:

“Twenty or so of the top ranks of Pretoria’s national security establishment set a tone somewhere between Club Med and an adult-style Lord of the Flies. There was rampant strife in their ranks … Like paint remover, the non-stop alcohol intake stripped away any veneer of Afrikaner solidarity. They disagreed about everything.”

Crocker noem genl. Pieter van der Westhuizen, destyds hoof van militêre intelligensie, “the ratcatcher of Southern Africa”.

Genl. Jannie Geldenhuys word ook nie gespaar nie. Op bl. 219 skryf Crocker:

“General Geldenhuys, one of the key men capable of making either peace or war on Botha’s side of the table, abandoned his customary sports pages and slept through the entire proceedings.”

Dit was tydens onderhandelinge later dieselfde jaar in Pretoria.

Wat moet mens maak van dié onvleiende getuienis van Chester Crocker, “die onpartydige Amerikaner”?

Jammer, maar as die volle waarheid moet seëvier, kan mens nie nét dit wat jou pas, aanhaal nie.

Jy kan ook nie die Grensoorlog nét uit een bepaalde hoek – die Koue Oorlog – bestudeer nie. Sien die oorlog in sy totale historiese konteks.

Wie kan die feit ontken dat Suid-Afrikaanse soldate lank voor die Grensoorlog, kommunisme, die Berlynse Muur en die “totale aanslag”, op die grens van Suidwes-Afrika/Namibië met die Ovambo’s slaags was? Daar was ’n baie duidelike doel: Om die koning dood te maak en arbeiders van die Ovambo’s te maak. Hoekom is dié geskiedenis onder die mat ingevee?

Die besluit om dáár, buite ons landsgrense te gaan oorlog maak, is binne die Suid-Afrikaanse parlement, sonder om die kiesers te raadpleeg, geneem.

Ons eie politici het die vonk vir die latere Grensoorlog verskaf. En ons generasie moes die prys gaan betaal.

Met geskiedenis (waarvan ons nie geweet het nie) teen ons, die moeilike terrein, ongenaakbare klimaat, en die feit dat ons dikwels swakker as die vyand toegerus was, het ons egter verseker dat die oorgang na ’n onafhanklike Namibië ordelik verloop het.

Ironies genoeg voer ons nie hierdie debat oor die verlede nie, maar juis ter wille van die toekoms. As ons met halwe waarhede vorentoe wil gaan, gaan iemand iewers in die toekoms dieselfde verrassing as ons Grensoorlog-generasie kry.

En dit sluit almal in, ook die huidige, lawaaierige swart jeug. Ons moet almal uit die verlede leer en nie toelaat dat politici ons teen mekaar opsweep nie. Hulle alleen is die wenners, ons die verloorders. Hulle het lankal te veel met ons gemors.

Dr. Bothma was ’n pelotonbevelvoerder in 32 Bataljon en is die skrywer van ’n boek oor 32, Die buffel struikel.

Lees ook Marius Oelschig se reaksie op Louis Bothma se oorspronklike skrywe hier.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae