Die waarheid wat talle self beleef

Deur Johan Kruger

Hierdie artikel is oorspronklik in Beeld gepubliseer op 16 November 2011. Johan Kruger reageer op Louis Bothma se skrywe, Wenners? Ek sien net verloorders.

Hierdie foto is gepubliseer in die boek “Ons was daar” onder die hoofstuk “Sowjet oorlogspuin”

ʼn Geskiedkundige wat nie die geskiedenis gelees het nie. Of ʼn soldaat wat ongewapen die slagveld betree. Dit is waaraan Louis Bothma se onlangse artikel in Beeld my laat dink het. Hy het duidelik nie die boek gelees waaroor hy kommentaar gelewer het nie.

Met genoeg lawaai, bitterals en sinnelose redenasies kom ʼn geskiedkundige dalk nog weg. Die soldaat kom egter swaarder daarvan af. Vra maar vir generaal Arnaldo Ochoa Sánchez, die “gesoute generaal” van die Kubaanse magte wat by die Lomba-rivier deur die SAW verslaan en verneder is. Selfs hý sou verbaas gewees het om te hoor dat Bothma glo dat die opmars van die 50ste Kubaanse divisie na die Kubaans/ Sowjet/ Fapla vernedering etlike weke tevore, ʼn wapenstilstand tot gevolg gehad het. Só dankbaar was Fidel Castro egter dat hy Ochoa Sánchez laat fusilleer het, etlike maande ná die vernederende nederlaag by die Lomba-rivier en die halsoorkop terugtrek van die Kubane na Cuito Cuanavale. In stede van ʼn oorwinning, ʼn algehele ontrekking van die Kubaanse magte, gevolg deur ʼn teregstelling! Ek sê nie so nie. Hulle wat daar was en dit eerstehands ervaar het, sê so. En hulle wag nog steeds dat iemand ʼn sinvolle poging aanwend om die waarheid wat hulle praat, te weerlê.

Maar as ʼn oudsoldaat en historikus soos Bothma “struikel” oor valse geskiedenis wat te lank reeds klakkeloos herhaal is, wie kan ander landsburgers kwalik neem dat hulle nie weet wat die waarheid is nie?

Hierdie foto is gepubliseer in die boek “Ons was daar” onder die hoofstuk “Sowjet oorlogspuin”

Die probleem is dat die SAW ná sy klinkende militêre oorwinning in Angola nie tot die oorlog van woorde toegetree het nie. Daarenteen het die propaganda-oorlog van die Kubane, die Sowjetunie en die ANC aanhou woed. Daar was ʼn vrugbare teelaarde vir die leuens en disinformasie wat hulle gesaai het, beide in die binneland en die buiteland. Gevolglik het ʼn geskiedkundige leemte ontstaan, wat sonder enige noemenswaardige teenkanting gevul is met belaglikhede, mistastings en leuens.

Om die waarheid te laat wen, het 62 oudsoldate besluit om onder die leiding van generaal Jannie Geldenhuys die boek Ons was daar – wenners van die oorlog om Suider-Afrika saam te stel. En hulle praat die waarheid. Hard en reguit. Hulle vertel hulle eie geskiedenis, soos wat hulle dit gedurende die oorlog beleef het. Hierdie keer word dit nie vertel deur “leunstoelgeneraals” wat op hoorsêgetuienis staatmaak nie. Nee, die beperkte begrip en vooroordele wat die geskrifte van diesulkes kenmerk, word vervang deur die onweerlegbare vertellings van hierdie outeurs, wat almal daar was.

Hulle vat die geskiedenis van die verskillende fases van die oorlog vas. Hulle kan, want hulle weet. Nie een van hulle weet alles nie, maar almal saam, met hulle unieke vertellings, vertel die ware geskiedenis van hoe die oorlog verloop het.

Hierdie foto is gepubliseer in die boek “Ons was daar” onder die hoofstuk “Sowjet oorlogspuin”

Het Bothma die boek gelees, sou hy dalk anders oor ʼn klomp sake dink. Soos dat die Ovambo’s maar te gewillig vir Swapo tydens die eerste “vrye en regverdige” verkiesing gestem het. Ons was daar sou hom kon vertel dat Swapo se “bevryders” op 1 April 1989 (voor die verkiesing, dus) ʼn mag van bykans 1 600 man uit Angola na Suidwes-Afrika gestuur het. Hulle het honderde van hulle eie mense hot en haar geskiet en gemoor – en dít nadat daar op ʼn formele, internasionale skietstilstand ooreengekom is. Hulle generaal, Charles Namoloh, skugter en verleë, het die massamoord nooit ontken nie. In die jare kort voor die verkiesing is 20 Namibiese hoofmanne wat as vyande van die rewolusie bestempel is, gruwelik vermoor. Klink hierdie intimidasie voor ʼn verkiesing bekend?

Ons was daar vertel dat Swapo daarin geslaag het (soos Stalin, Mao Zedong en ander voor hulle) om, met ʼn verkiesing op hande, aan ʼn primitiewe deel van die Afrika-bos te demonstreer: Hier is ons die baas.

Hierdie foto is gepubliseer in die boek “Ons was daar” onder die hoofstuk “Sowjet oorlogspuin”

Maar ek het goeie nuus vir oudsoldate wat in die oorlog betrokke was: al word jy as tweederangse burger behandel, behoort jy beslis nie te aanvaar dat jy dit verdien weens jou aandeel in die oorlog en die militêre oorwinnings van die SAW nie. Die redes is opgesluit in die boek. Ons was daar skets die oorlog, sy aanloop, sy kenmerke en sy nadraai op ʼn unieke manier, saamgevat in 93 hoofstukke wat meer as 700 bladsye beslaan.

Die boek bespreek onder andere belangrike uittreksels uit ander boeke, geskryf deur onafhanklike partye. Die onpartydige Amerikaner Chester Crocker se aanhaling uit sy boek High noon in Southern Africa – making peace in a tough neighbourhood sê baie:

“…In early October (1987) the Soviet/Fapla offensive was smashed at the Lomba River near Mavinga. It turned into a headlong retreat over the 120 miles back to the primary launching point at Cuito Cuanavale. In some of the bloodiest battles of the entire civil war, a combined force of some 8 000 Unita fighters and 4 000 SADF troops destroyed one Fapla brigade and mauled several others out of a total force of some 18 000…” Hy gaan voort: “…The 1987 military campaign represented a stunning humiliation for the Soviet Union, its arms and its strategy…”

Generaal-majoor Marius Oelschig, een van die outeurs, het dit treffend opgesom: “Die Suid-Afrikaanse Weermag het die oorlog gewen. Die politici, en dit sluit die huidige regering in, het die vrede verloor.”

ʼn Woord van raad aan Louis Bothma: lees die boek, die hele boek en wees versigtig dat dít wat jy dink die meerderwaardige morele posisie is, nie eintlik jou blindekol is nie.

  • Kruger is bestuurder van Kraal-Uitgewers, wat die boek uitgee. Kraal-Uitgewers is ’n afdeling van die Solidariteit Beweging.
Klik nou hier om Louis Bothma se  reaksie op hierdie artikel te lees of klik hier om Marius (Mo) Oelschig se reaksie op Louis Bothma se oorspronklike skrywe te lees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johan Kruger

Johan Kruger is 'n praktiserende prokureur en hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut en Kommunikasieafdeling.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.