Ek wil graag my GATVOL TOESPRAAK, geskep ‘n paar jaar gelede vir my drama “Die Wederopstanding van Japie Coetzee”, hierdie maand pos. Dit was by Aardklop, en ‘n paar ander feeste, opgevoer. Eric Nobbs het die rol van Japie Coetzee vertolk.
GATVOL – deur Deon Opperman
Ek’s ‘n Afrikaan van Europese herkoms en ek vra nie om verskoning vir my kultuur nie.
Ek hou van boerewors en braaivleis,
van Mozart en Laurika Rauch,
van rugby en teater, brandewyn en coke, langarm en ‘n jive.
Ek’s bly Anke en Heinz het Idols gewen,
nie omdat hulle wit is nie, maar omdat hulle die beste gesing het.
En ek hou van ons vlag,
en ek ken die woorde van Nkosi Sikelele,
en ek’s dankbaar aan beide Mandela en De Klerk
dat ons nie ‘n bloedbad in hierdie land gehad het nie;
en ek is trots op my nasie
wat gekies het om mense soos Terreblanche en sy Neo-Nazis die pad te wys
en die onreg te staak en ‘n ware demokrasie te vestig,
omdat dit die regte ding was om te doen;’
en ek is trots op die NG Kerk wat om verskoning gevra het,
wat meer is as wat mens vir die Katolieke kan sê
wat tot vandag toe nog nie jammer gesê het
vir die mense wat hulle verbrand het nie,
of vir Galileo wat hulle gedreig het om te brand as hy nie ontken dat die aarde om die son draai nie, of vir die der duisende mense wat VIGS het omdat hulle nie kondome mag gebruik nie;
en ek hou van Suid-Afrikaanse produkte en koop hulle eerste as ek kan;
en ek het gehuil toe Charlize die Oscar wen en dit aan haar mense in Suid-Afrika opgedra het,
en ek is donners dankbaar dat Trevor Manuel in hierdie land gebore is,
ek’s mal oor Nathaniel se humor en sy sjokoladekoek resep,
my hart bars met trots as ek ons grondwet lees,
en ek is “Proudly South African” en ek vra nie om verskoning nie.
Dit gesê: ek is gatvol vir Afrika se bygelowigheid wat in hekse glo
en kinders vir muti vermoor,
en gatvol vir highjacking en diefstal,
gatvol vir die tralies voor my vensters en die alarm in my huis,
gatvol vir die gate in die paaie
en die taxis wat meer swart mense in ‘n jaar doodmaak
as wat Apartheid ooit in sy bestaan doodgemaak het,
en gatvol vir politici wat geld steel en daarmee wegkom
en soos konings leef terwyl die mense wat hulle daar gesit het van die honger omkom,
gatvol vir bedelaars by my hek en by elke stopstraat waar ek stop,
gatvol vir produkte wat jy weggooi omdat hulle nie gebou is om te hou nie,
gatvol vir polities-korrektheid en te bang wees om te sê wat ek voel,
gatvol vir Afrikaners wat ‘n volkstaat wil hê en nie besef hoe belaglik hulle is nie,
gatvol vir pseudo-liberales wat eintlik almal haat behalwe hulle self,
gatvol vir buitelanders met hulle neerhalige houding
maar wat meer inheemse volkere vermoor het as wat my volk ooit gedoen het,
en gatvol vir buitelanders wat ons kuslyn opkoop
omdat ons dit self nie kan bekostig nie,
gatvol vir arrogante Amerikaners wat die enigste nasie is
wat nie een nie, maar twee atoombomme op ‘n ander nasie laat val het,
gatvol vir TV wat veroorsaak dat gesinne nie meer in die aande met mekaar praat nie,
gatvol vir die Midde-Ooste en sy oneindige oorlog,
gatvol vir mense wat God as ‘n ekskuus gebruik om mense te vermoor,
gatvol vir skuldig voel en BBBEE,
gatvol vir die Afrikaner jeug wat emigreer en nie meer Afrikaans wil praat nie,
gatvol vir ouers wat nog steeds hulle kinders leer om van “kaffirs” en “koelies” te praat,
gatvol betaal aan die sondes van my voorvaders,
en gatvol vir mense wat my probeer vertel ek is nie ‘n Afrikaan nie
en myself nie meer Afrikaner mag noem nie!
Ek sou graag ‘n enkele byvoeging wou maak:
Ek is gatvol vir ouer Afrikaners wat al die geleenthede van Apartheid kon geniet, maar nou – om hul bates te bewaar – geleenthede aan jonger of minder bevoorregte Afrikaners weier.
(Dit is waarom die jonges eerder emigreer)
Aan Anoniem oor Gatvol. Goeie punt!!!