Die weg na versoening is ’n lang en moeisame pad

Meer en vulkaan in die Virunga-berge in Rwanda Foto via Wikimedia Commons

Meer en vulkaan in die Virunga-berge in Rwanda Foto via Wikimedia Commons

Dit lyk of die nasionale diskoers in die media tans oorheers word deur kwessies soos standbeeldbestorming, -beskadiging en -verwydering, die dekolonialisering van universiteite en eise dat ook dorpsname, straatname, ensovoorts, wat aan Suid-Afrika se koloniale verlede herinner, verander word. En op die koop toe is daar ook nog xenofobie.

Baie koerantlesers beskou hierdie gebeure, wat min of meer saamgeval het met die verwydering van die Rhodes-standbeeld by die Universiteit van Kaapstad, as iets wat waarskynlik uit die lug geval het. Daar het immers ’n politieke skikking in 1994 plaasgevind wat ’n swart meerderheidsregering aan die bewind gestel het. Die Waarheids- en Versoeningskommissie het van die vergrype van die apartheidstydperk ondersoek en uitsprake gemaak.

“Kan ons dus nie nou maar die verlede begrawe, mekaar aanvaar en versoen en bou aan ’n gedeelde toekoms en lotsbestemming nie?” is van die lesersversugtinge wat in koerante van die Naspers-stal geopper word.

Miskien bied die ervaringe en lesse van die Rwandese volksmoord ’n moontlike perspektief op hierdie kwessies. Onlangs het dr. Thomas Spielbuechler, ’n besoekende dosent van die Johannes Kepler Universiteit in Linz, Oostenryk, ’n seminaar by die Departement Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch aangebied.

Spielbuechler onderneem gereeld navorsingsbesoeke aan Afrikalande. Sy praatjie was oor versoening en sekuriteit in Rwanda. Daarvolgens is die aanname dat die post-volksmoord Rwanda ’n suksesstorie is, omstrede, en blyk dit dat pres. Paul Kagame se voorkeur vir staatsekuriteit eintlik versoening bedreig.

Sedert die volksmoord is dit verbode om van Tutsis of Hutus te praat. Volgens die Kagame-regering bestaan daar nou slegs Rwandese. Die Linz-groep het empiriese data van die sogenaamde “versoeningsbarometer” van die Rwandese National Unity and Reconciliation Commission (NURC) van 2010, waaruit ’n hipotese van ses kernfaktore vir versoening gevorm is, vergelyk met verskillende tendense, waarnemings en onderhoude gedurende sy besoek aan Rwanda in 2014.

Volgens die NURC se versoeningsbarometer vertrou 90,7% van die bevolking die huidige politieke leierskap, terwyl ander bronne egter daarop dui dat daar steeds ’n vrees vir meerderheidsregering in die land heers. NURC-data toon dat 86% van die bevolking geen bedreiging vrees vir hulle eie veiligheid of dié van hul families nie. Menslike veiligheid in Rwanda het geweldig verbeter, tog verkeer die land “in die oog van die orkaan” weens die konfliksituasie in die Groot Mere-gebied, wat weer ʼn bedreiging vir Rwandese vrede en stabiliteit inhou. Daarom geniet staatsekuriteit voorkeur bo goeie regering.

Pres. Paul Kagame van Rwanda (New York 2010) Foto: David Shankbone (VSA) via Wikimedia Commons -

Pres. Paul Kagame van Rwanda (New York 2010) Foto: David Shankbone (VSA) via Wikimedia Commons –

Volgens die versoeningsbarometer stem 99% van die bevolking saam dat hulle kinders hulself as Rwandese, eerder as Hutus, Tutsis of Twa moet sien. Dit blyk egter dat versoening in Rwanda deur die “Kagame-sisteem” afgedwing word en die vraag ontstaan of versoening, wat ’n gebaar van vrywilligheid impliseer, afgedwing kan word.

Altesaam 98% het saamgestem dat die manier waarop geskiedenis voor die volksmoord onderrig en verstaan is, verdeeldheid in die Rwandese samelewing geskep het. Daarteenoor word tans egter ’n “valse eenheidsgeskiedenis” in amptelike skoolhandboeke voorgehou. Die NURC se versoeningsbarometer het aangedui dat 90% van Rwandese diegene vergeef het wat ander in die verlede leed aangedoen het. Tog, waarskynlik ter wille van versoening, is die wandade van die Rwandese Patriotiese Front nie ondersoek nie.

Laastens het die barometer uitgewys dat 93% van die burgers geen etniese vooroordeel in Rwanda ervaar het sedert die einde van die volksmoord nie. Staatsgedrewe versoening werk gevolglik waarskynlik nié, omdat regeringsoptrede nie tot die harte van mense spreek nie. ’n Spontane, gemeenskapsgedrewe proses het ’n groter kans op sukses, maar dit sal tyd neem om inslag te vind.

Die les wat dit vir Suid-Afrika inhou, is dat versoening nie ’n proses is waarin die gewenste resultate binne enkele jare finaal afgehandel word en dat alles dan vergewe en vergete is nie. Dit blyk ook dat die worstelingsproses van versoening, soos wat nou inderdaad in Suid-Afrika heers, dikwels deur die tweede en derde geslag voorgesit word voordat dit uitwoed.

Volgens Spielbuechler worstel die Oostenrykers sewentig jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog steeds met hulle aandeel, al dan nie, aan Nazisme. Trouens, ’n vroeëre versoeningspoging in die Suid-Afrikaanse geskiedenis het self baie lank geduur om te vergestalt. Sedert Uniewording in 1910 het premier Louis Botha deur middel van sy “konsiliasiebeleid”, opreg daarna gestreef om die groot kloof van vyandigheid en bitterheid tussen blanke Afrikaans- en Engelssprekendes ná die Anglo-Boereoorlog te versoen.

Nasionalisties-gesinde Afrikaners het dit egter as ’n gestadigte onderwerping aan ’n Engels-oorheerste taal en kultuur gesien. In 1914 was daar die stigting van genl. JBM Hertzog se Nasionale Party en die uitbreek van die Rebellie uit protes teen Suid-Afrika se steun aan Brittanje in die Eerste Wêreldoorlog.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika se hernude steun aan Brittanje en die Geallieerdes gelei tot ’n aggressiewe Afrikaner-nasionalisme, onder meer in die stigting van die Ossewa-Brandwag. Mens sou kon redeneer dat politieke versoening tussen wit Afrikaans- en Engelssprekendes eers in 1969, ná die afstigting van Albert Hertzog se Herstigte Nasionale Party, van die NP geleidelik begin gebeur het.

Die kontekste van Rwanda en Suid-Afrika se konflik- en versoeningsprosesse is uiteraard totaal verskillend. Hierdie artikel bepleit geensins dat die verwydering van “koloniale” standbeelde en die verandering van “koloniale” plekname maar klakkeloos en protesloos aanvaar moet word nie. Vir seker sit daaragter ook ’n groot klomp politieke kwaadwilligheid en vergeldingsgesindheid. Dis wel uiters noodsaaklik dat hierdie kwessies van alle kante af rasioneel en koelkop, te midde van ’n klomp heethoofdiges, beredeneer word.

En wat die kwessie van standbeelde betref, het die ANC-regering tot dusver goeie, besadigde en beredeneerde opmerkings gemaak. Die Rwandese voorbeeld het weer eens bewys dat die dinamiek van ’n versoeningsproses nie spesifiek tydsgebonde is nie, maar baie jare se harde werk, geduld en takt kan vereis.

Deur in protes meer bedagsaam en ontdaan van rasse-emosie op te tree, geduldig en ontvanklik vir botsende standpunte te wees, ’n “gee en neem” gesindheid te openbaar en veral te let op ons uitsprake wanneer die woordkartetse heen en weer vlieg in die groot Suid-Afrikaanse rassedebat, kan Suid-Afrikaners ver vorder om hopelik uiteindelik by die tot dusver ontwykende “reënboognasie” uit te kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Wessel Visser

Prof. Wessel Visser is ’n medeprofessor in Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HEVW ·

Ek stem geensins saam met die stelling dat Louis Botha opreg daarna gestreef het om versoening tussen Afrikaner en Engelse te bewerk nie. Dit was sekerlik totaal onrealisties om Afrikaners binne n kort periode van 12 jr waar die rouprses nog nie eens volkome afgehandel is nie te dwing om saam met die Engelse teen Duits Wes, die Duitsers te laat veg. Verder is die verskil tussen die Rwandese bevolkings en die SA konteks eenvoudig net te groot. In Rwanda het ons alleen swart bevolkings met bykans dieselfde taal wat kultureel nie wyd uiteenlopend is nie. In SA staan blank teenoor swart wat deur die eeue in stryd teenoor mekaar verkeer. Totaal botsende kulture is gevestig Die Afrikaan n verbruikers kultuur wat met die mins moontlike insette soveel as moont verwag en die Blanke met n werkerskultuur. Met n strewe na onafhanklikheid, met selfverwesenlikheids drang en en selfbeskikking. Daarby nog die disrespek vir die beskawing teenoor die respek vir beskawing. Ook op religieuse gebied is daar n radikaal uiteenlopende verskil. Die swartman het n totaal ander persepsie van versoening as die blanke. Solank as daar in hul embleme n vasgeklemde dolk, n gebalde vuis, en n hammer en sekel is, is daar geen gesindheid tot versoening nie.

Henry ·

Hmmm…
Wil voorkom asof die PK’s se “Reënboog-geskiedenis” uit allerlei verdwaalde sedelessies en aannames bestaan, terwyl die ware feite van ons Afrikaners se geskiedenis aan die agterspeen suig.
Om die eeue oue twis, tussen Hutu’s en Tutsi’s in die Mere-gebied by ons jammerlike toestande in te sleep, is kort duskant lagwekkend.
Selfde as om ‘n paw-paw met ‘n brood te vergelyk…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.