Die wenners en verloorders van die ‘staatsrede’

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Wie het gewen en wie het verloor in die parlementêre chaos van Donderdagaand 12 Februarie tydens die “Staatsrede” en wat is daaruit te leer?

Die (oënskynlike) wenner

Die DA lyk soos die wenner. Die party het die inisiatief geneem toe dit die geblokkeerde selfoonseine ter sprake gebring het en sodoende dadelik die donder gesteel oor ʼn kwessie wat almal na aan die hart lê. Nadat die EFF uitgegooi is, was die DA weer terug in die kalklig, weer oor ʼn kwessie waaroor hy algemene ondersteuning het, naamlik die gebruik van die polisie in die parlement en dié se skynbare oordadige hardhandigheid. Die DA het natuurlik net op die aand se gebeure gewen, en net danksy die wyse waarop die geveg tussen die ANC en die EFF verloop het. Hy kan goed voel oor die aand en vir die onmiddellike nadraai maar kan breër as dit nie ʼn oorwinning verklaar nie.

Die verloorder

Die EFF is die verloorder. Ondanks ses maande om voor te berei kon die Fighters met niks meer vindingryk voor die dag kom as om dieselfde punt van orde by herhaling te opper nie. Sodoende het hy treffend gebrekkige taktiese vlugvoetigheid openbaar. Die gebrek spruit voort uit die EFF se wesenskarakter. Dit is dat hy ʼn brutale politieke dier is, met slegs een wapen in sy politieke arsenaal: brutaliteit. Dit is waarmee hy vertroue onder sy volgelinge en potensiële volgelinge vertoon en waarmee hy steun werf. Hy het nie ʼn saak wat hy kan beredeneer nie. As die brutaliteit en die vertoon daarvan faal, het hy niks in die plek daarvan nie. Hy staan en val daarby. Daarom is hy brutaal en kordaat in die parlement en daarom wil hy grond beset soos hy reeds herhaaldelik probeer doen het. Jy pak die EFF dus nie op die vlak van ʼn argument of oor sy beweerde gebrekkige bydrae tot wetgewende proses nie. Dit is hoofsaaklik vir hom ʼn blote bysaak. Jy antwoord sy brutaliteit met groter brutaliteit. Daarop het hy geen antwoord nie. Die ANC-leiding weet dit. Daarom laat hy die Fighters gewelddadig by die parlement uitsmyt en laat hy die EFF gewelddadig stuit as hy munisipale grond probeer beset. Waar ook al hy jou met brutaliteit uitdaag slaan jy met groter brutaliteit terug. Só verwoes jy die enigste basis waarop hy staan en op grond waarvan hy vir sy volgelinge aantreklik is.

Die EFF is dus tot sy kern geskud omdat sy brutaliteit ontoereikend bewys is en omdat die ANC met die hulp van staatsmag homself as beslissend meer brutaal bewys het. Daarmee is die EFF in ʼn diep krisis gedompel. Hy moet dringend die geloofwaardigheid van sy brutale vertoon herstel. Indien nie, verval die gronde vir die ondersteuning wat Malema geniet omdat die EFF ten slotte dan blyk toe nie regtig Fighters te wees nie. Die ANC is terdeë hiervan bewus en daarom kan verwag word dat waar ook al die EFF gaan probeer om sy brutale geloofwaardigheid te herstel, die ANC baie hard gaan terug slaan – nie bloot metafories nie maar letterlik. Die bloed moet loop want die een wat die bloed laat loop, is die meer brutale wenner en die een wie se bloed loop, is die minder brutale verloorder.

Die bewerige wenner én verloorder

Die ANC het klein gewen en groot verloor. Die ANC het met behulp van die staat, op wie se ondersteuning hy kan reken omdat hy die aanstellings maak en die salarisse betaal, die EFF met groter brutaliteit getroef. Daarom is sy leierskap stert in die lug en het sy parlementslede na die tyg luidrugtig fees gevier. Dit opsigself wys duidelik dat die ANC steeds die werking van die politiek van brutaliteit deeglik verstaan en daarvolgens kan optree. En met die “sukses” wat hy behaal het, kan voorsien word dat hy hom spoedig weer hetsy binne maar veral buite die Parlement tot brutaliteit teen die EFF sal wend. Na alles, soos die ANC se beleidsdokumente tot vervelens uitwei, is die ANC nog altyd uiters gevoelig vir die werking van die balance of forces en die gepaardgaande balans van brutaliteit en balans van geweld.

Tog vertoon die ANC – hoewel nie noodwendig Zuma, Mantashe en Ramaphosa nie – bewerig en onseker. In die etlike maande tot sy beskikking voor die president weer sy verskyning in die Parlement gemaak het, kon hy geen strategie bedink om die EFF, ondanks dié se voorspelbaarheid, te verhoed om weer op dieselfde manier as tevore op Zuma toe te sak nie. Dis aanduidend van gebrekkige politieke vindingrykheid. Dit dui ook daarop dat daar klaarblyklik geen beduidende kommunikasiekanale tussen die ANC en die EFF bestaan nie met die gevolg dat hulle mekaar net in kragmetings van brutaliteit en geweld kan aandurf.

Die ANC se oorwinning oor die EFF was egter kleinskaals. Met die kleinskaalse oorwinning – en die verdere brutaliteit wat dit teenoor die EFF gaan beoefen, het die ANC egter enorme neerlaag gely. Danksy veral die hoë reputasie van sy ontslape leier, oudpresident Mandela, het die ANC nog altyd iets van ʼn bykans heilige aansien gehad, veral in die buiteland. Vanweë die toenemende mislukking van die staat onder die ANC, het dié reputasie natuurlik reeds geweldig skade gely. Op Donderdagaand, 12 Februarie is die laaste reste van die ou glinsterende ANC ten aanskoue van die wêreld skouspelagtig in die rioolpyp afgespoel toe die wêreld gade geslaan het hoe die EFF eers gewelddadig uit die Parlement gesmyt en die ANC se parlementslede dit daarna dansend gevier het asof die wanordelike gemors ʼn demokratiese kordaatstuk is. Die onverbloemde lelike ware karakter van die Suid-Afrikaanse staat – die new South Africa en sy geroemde democracy onder sy wêreldklas konstitusie – was daar vir almal om te sien.

Die skending van die heiligdom

Sommiges se grootste ontsteltenis gaan oor die skending van die parlement wat as ʼn heiligdom beskryf word. Die onsteltenis is vanweë veral drie redes ongegrond.

Eerstens, is geen parlement ʼn heiligdom nie. As jy dink dit is, is jy bloot die slagoffer van ʼn kinderlike droomwêreld. Dit is die plek waar die regerende party die stempel van sy mag afdruk. In Suid-Afrika is dit die plek waar die dominante party wetgewing deurvoer om sy meerderheidsmag te bevestig en te legitimeer, waar hy sy dikwels verwoestende politieke program onder die dekmantel van wetgewing – oënskynlik neutrale reg – versteek. As jy dink dis ʼn heiligdom, soos Beeld Vrydag in ʼn kommentaar op sy voorblad laat blyk, verkeer jy inderdaad in die droomwêreld en wag daar ʼn nare ontnugtering.

Tweedens, Suid-Afrika se demokrasie, onder andere vanweë sy gebrekkige beskerming van minderhede, sy sentralisme en eenparty-dominasie, is grondig defektief. Anders as in die nagloed van die groot vrolikheid van 1994 is dié eenparty-oorheersing en die gebrekkige demokrasie toenemend die fokus van ernstige kommentators. Die parlement, synde die primêre beliggaming van hierdie eenparty-oorheersing, is derhalwe geen heiligdom nie maar wel die beliggaming van ʼn erg gebrekkige demokrasie.

Derdens: dit gaan nie goed in Suid-Afrika nie. Die staat verval en val is ʼn vryval. Ons almal beleef dit daagliks. Dit kan nie meer teegespreek word nie. Indien die parlement homself as ordelik en veral “heilig” vertoon, is hy dus ʼn bedrieglike wanvoorstelling van wat werklik in die land aangaan. Hy is dan nie heilig nie, maar skynheilig. Daarom is die gemorsspul rondom die “Staatsrede” ’n welkome seën, want daarmee kom die Parlement in gelid met die gemors wat Suid-Afrika toenemend is.

Wat nou gemaak?

Wat beteken die vryval na benede vir die minderhele, veral die Afrikaners, wat grondwetlik in onmag verkeer – wanhoop? Juis nie. Die antwoord op die vervallende staat is tweeledig.

Eerstens, Afrikaners het geen twis met enige nie-Afrikaner nie, meer bepaald geen twis met swart mense nie. Daarom is daar geen plek vir enige vir ras-beledigende gedrag nie. Afrikaners se bydrae tot opbouende intergroepsverhoudinge moet onberispelik wees en wanneer opbouend saamgewerk kan word, moet sodanige geleenthede aangegryp word soos wat Orania treffend met sy samewerking met ʼn swart landelike gemeenskap in die Oos-Kaap treffend demonstreer.

Tweedens moet Afrikaners in gemoed en dade onafhanklik van die falende staat word en hulle vermoëns – intellektueel, ekonomies, fisies en andersins – saamsnoer om groeiende selfstandigheid te bewerkstellig. Maak geen fout nie, dié vermoëns is beduidend. Instellings oor ʼn breë terrein moet die groeiende selfstandigheid vergestalt. En wanneer die kragte saamgesnoer word, betrek dit nie alleen die kragte van die sosiaal-konserwatiewe Afrikaners soos met die Afrikanernasionalisme van die middel van die twintigste eeu nie maar van alle Afrikaners.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Henry ·

Interessante ontleding!
Geweld, wat met mag gepaard gaan, is hoeka onderliggend aan die politieke stelsels van state suid van die Sahara. ‘n Demokrasie soos dit in die Westerse beskawing ontwikkel het, is eintlik ‘n vreemde dier vir die regerings en stemvee van Afrika. Opvallend dat die enkele uitsonderinge waar die Westerse model met ‘n mate van sukses bedryf word, in state met klein bevolkingsgetalle voorkom – Botswana, Namibië…

Ons eie stelsel is net soos die ander Sub-Sahara state, aan’t ontwikkel na ‘n tipiese “Eenparty Demokrasie”. Hierdie proses het veral spoed en momentum opgetel onder die Zuma/SAKP/ANC bewind. Hoe ‘n staat met een party wat beide die septer en die geweer swaai, as ‘n demokrasie bestempel kan word, is ‘n unieke en koddige term wat deur “vindingryke” politieke gorrelaars as verskoning vir ‘n Eenparty Diktatuur aangebied word. Foeitog.

Sebastiaan ·

Uitstekende stuk. Ek hou veral van die laaste twee paragrawe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.