Die wêreld bly stil oor oorlog in Yemen

'n Seun hou 'n stuk van 'n kanonkoeël vas in Yemen se hoofstad. Foto: Unicef/Mohamed Hamoud

‘n Seun hou ‘n stuk van ‘n kanonkoeël vas, wat in Yemen se hoofstad ontplof het. Foto: Unicef/Mohamed Hamoud

Oor die afgelope 18 maande moes meer as 3 miljoen mense in Yemen in die Midde-Ooste uit hul huise vlug. Volgens die Verenigde Nasies het minstens die helfte van die land se bevolking van 28 miljoen mense nie genoeg kos nie en is hongersnood reeds deel van die lewe in Yemen. Sedert die die burgeroorlog in Yemen uitgebreek het, het duisende mense reeds hul lewens verloor.

Ten spyte van die duidelike katastrofe wat in Yemen afspeel, lyk dit asof die wêreld ignoreer wat daar gebeur. Die oorlog in Sirië en die situasie in Irak en tot ʼn mindere mate Afganistan, domineer die nuus. Waarom word die haglike omstandighede in Yemen geïgnoreer?

Die burgeroorlog in Yemen is ʼn stryd tussen die Soenni-meerderheid en die Houthi-rebelle. Hoewel die burgeroorlog in Yemen in 2015 uitgebreek het, woed die stryd tussen die Soenni-beheerde regering en die Houthi’s reeds sedert 2004.

Die rede vir die volskaalse burgeroorlog in Yemen is die toetrede van Saoedi-Arabië tot die konflik. Saoedi-Arabië speel toenemend die rol van Soenni-sterkman in die Midde-Ooste en probeer homself vestig as die magtigste land in die streek. Net soos die oorloë in Sirië en Irak, is daar ʼn dieper onderliggende konflik tussen die Soenniete en Sjiiete. Met Saoedi-Arabië as Soenni-land aan die een kant en Iran as Sjiiete-land aan die ander kant, word ʼn magstryd om beheer van die Midde-Ooste gevoer. Lande met gemengde bevolkings, soos Sirië, Irak en Yemen, word die slagveld van hierdie konflik.

Die Houthi-rebelle in Yemen is Sjiiete-Moslems en na bewering ondersteun Iran hulle met wapens en ammunisie. Die werklike agressor in Yemen is egter Saoedi-Arabië, wat sedert Maart 2015 ʼn bloedige stryd teen die Houthi-rebelle voer. Die weermag van Saoedi-Arabië het oor die afgelope 18 maande die Houthi’s met grootskaalse geweld probeer verslaan en sodoende ʼn enorme humanitêre krisis in Yemen geskep. Verskeie aanvalle op burgerlikes en woonbuurte is geloods en met die blokkade van hawes en lughawens is die lewenslyn van miljoene mense in Yemen op wreed afgesny.

Saoedi-Arabië staan egter nie alleen nie. Die land word deur ander Soenni-lande in die golfstreek, sowel as Westerse lande en in besonder die Verenigde State, ondersteun. Die Amerikaners beskou Saoedi-Arabië steeds as hul belangrikste bondgenoot in die Midde-Ooste en het dus oor die afgelope 18 maande die Saoedi’s se bitter stryd in Yemen volledig onderskryf. Saoedi-Arabië koop natuurlik heelwat van sy wapens by Amerika.

Terwyl die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, homself byna voltyds beywer vir die onderhandeling van ʼn skikking in Sirië, bly die Amerikaanse regering stil oor wat in Yemen gebeur. Die Amerikaners en voeg ook daarby Europa, is net te bang om hul bondgenoot, Saoedi-Arabië, kwaad te maak.

Die burgeroorlog in Yemen bewys weereens dat groot moonthede se deelname aan en reaksie op konflik in die wêreld meer oor hul eie belange as oor ʼn werklike omgee vir die mense wat deur die konflik geraak word, gaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Henk ·

Wanneer dit oor geld en mag gaan word gewone mense en die natuur baie maklik misgekyk , ons ervaar dit self op eie bodem.

Jean ·

Die wereld bly ongelukkig ook stil op die moorde op Boere in SA. Ek het baie simpatie met Yemen, maar wie het simpatie met die Boere in SA wat elke dag wreedaardiglik vermoor word. As jy na syfers kyk is dit skokkend. Dit word dalk nie ‘n oorlog genoem nie, maar dis ‘n stille oorlogvoering wat nerens in die wereld aandag kry nie.

gatiep ·

Baia dankie Jaco vir die berig ons mense moet weet wat regtig aangaan in wereld.

Piet Snot ·

Gatiep, die omliggende lande kan nie maar net toelaat dat ‘n rebellegroep ‘n wettig verkose regering probeer omverwerp nie. Veral nie as ‘n land soos Iran die rebelle steun nie.
In hierdie geval tree die Saudis korrek op.

gatiep ·

Piet snot as jy isis ondersteuner is dan tree hulle seker reg op.
Jy vertrou die US te veel ou maat en het klaar besluit alles wat hulle doen is reg.
Ek sal weer US vertrou as Trump inkom anders wil ek niks met daai land te doen he nie.

Piet Snot ·

Gatiep ou grote, jy’s onnodig beledigend met jou eerste opmerking.
En dan verstaan jy ook nie veel van Midde-Oosterse politiek nie ….

Denise ·

Jean jy is 100% reg niemand gee om vir ons mense wat elke dag vermoor ,verkrag en aangerand word nie en dit is SKOKKEND !!!!!

gatiep ·

Denise jy is reg maar dit is soos daai lande ook begin het diedelfde soos by ons.

m ·

Stem saam jou Jean. Ons sien net altyd die oorlog in Jemen en daai plekke maar niemand rep enige iets oor die barbaarse moorde op die boere nie. Die regering maak seker dat daar nie te veel aandag aan gegee word nie…

Pietman ·

neem notisie. Wanneer dit kom by burgerooloë, dan is dit een etniese groep teen ‘n ander in dieselfde land. Die uitmoor van die koerde is nog ‘n voorbeeld in die midde-ooste. Multi-etniese groepe in een land is ‘n resep vir moeilikheid. Geen wonder die midde-ooste is so ‘n gemors nie. dankie Jaco.

John ·

Kerry van die VSA soek nie ‘n skikking in Sirie nie, hy wil die regering met die hulp van Saoedi-Arabie en IS omverwerp. Die VSA voel ook vere vir die burgers van Jemen. Wie is die inwoners van die VSA nou eintlik? Die mense aan die stuur se voorsate kom van oraloor maar diegene uit Brittanje ‘rules’ steeds die ‘waves’ met Joodse geld, met Clinton, van Britse afkoms, wat soos die kakies maar altyd glo dat hulle die beste weet hoe om die wereld te bestuur en te besteel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.