Die Wes-Kaap bied goeie hoop, maar gevare skuil

Argieffoto

Argieffoto

Indien jy hierdie Desember in die Wes-Kaap gaan vakansie hou en in enige ander plek in die land woon, sal jy waarskynlik die verskil in die gehalte van die politieke bestuur, asook die lewensgehalte, in dié provinsie duidelik kan waarneem.

Vir ons as boorlinge van die noorde is dit deesdae moeilik om te dink munisipaliteite word goed bestuur, dat jy en jou eiendom relatief veilig is, die strate skoon, die paaie sonder slaggate, die water skoon, dat almal (alle rasse en klasse) se vullis verwyder word deur die munisipaliteit en werkloosheid onder almal taamlik laag is. Van daar dat in Afrikaanse kringe nou van die “omgekeerde Groot Trek” gepraat word soos middelklas- en welgestelde mense, en veral Afrikaners wat nie kans sien vir die tog na Doer Onder, Kanada of Nieu-Seeland nie, hul heil in die Kaap gaan soek. Ek het drie vriende wat in 2014 vanuit Gauteng soontoe verhuis het.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het pas sy Wes-Kaapse Leefbaarheidsmonitor bekendgestel en dit is inderdaad en terselfdertyd vreemde leesstof. Ek gebruik ’n stel aanwysers soos demografie, sosio-ekonomiese omstandighede, dienslewering, geriewe en bestuur om hierdie konsep op munisipale gebied te meet en ken dan ’n indrukspunt toe gegrond op die gegewens vervat in elke munisipaliteit se evaluering.

So hoe vaar die Wes-Kaap vergeleke met die res?

Dit is die vyfde monitor wat ons by die SNI uitgereik het. Die eerste vier het oor Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes gehandel en dit dui op relatief goeie bestuur en lewensgehalte in sekere plekke (soos in Gauteng) teenoor die ander drie provinsies se wydverspreide somber munisipale toestande. Johannesburg en Mogale City (Krugersdorp) se tellings van 7 uit 10 is die heel beste in Gauteng terwyl die beste munisipaliteit in die noorde, Steve Tshwete (Middelburg in Mpumalanga), se bestuur weliswaar puik werk verrig en 7½ ontvang het.

Maar helaas is dit die einde van die goeie nuus. In die meer landelike provinsies soos Noordwes vier korrupsie hoogty, meer as die helfte van die huishoudings moet hul eie vullishope gebruik, die water is in baie munisipaliteite ondrinkbaar en dra siektes oor, die paaie is deurspek met slaggate en uiters negatiewe ouditmenings dui op grootskaalse wanbestuur. Dit is net die ore van die spreekwoordelike seekoei omdat die media nie naastenby al die korrupsie in kleiner rade oopvlek nie en die amptelike waghonde ook nie als onthul nie en soms sekere wanpraktyke doelbewus verswyg. Die hoogste telling in Noordwes en Limpopo was 5 uit 10 en meeste van die munisipaliteite het tellings van minder as 3 uit 10.

In die Wes-Kaap staan sake merkbaar anders hoewel ek later sal verduidelik dat dit nie die hemel op aarde is wat almal dink dit is nie. Maar dat die lewensgehalte en munisipale bestuur beter is in die Wes-Kaap as in die res van die land, staan buite twyfel. Alle munisipaliteite in die provinsie het tellings van 5 uit 10 of meer ontvang, etlikes het 8 gekry en die Overstrand-munisipaliteit het die hoogste telling nog, naamlik 8½ uit 10, ontvang.

Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van hoekom die Wes-Kaap so uitstyg bo die res. Slegs die Kannaland-munisipaliteit (wat Ladismith en Calitzdorp insluit) het tydens die ouditeur-generaal se laaste ouditronde ’n negatiewe mening ontvang. Die res was almal ongekwalifiseerd met sommige wat wel bevindinge insluit. Onreëlmatige en vrugtelose uitgawes is laag en korrupsie is eintlik net tot die kleiner binnelandse munisipaliteite beperk.

Hoewel die groot hoeveelheid welgestelde afgetredenes in die kusdorpe, en die stedelike aard van Kaapstad, uiteraard ’n wesenlik impak op die inkomstevlakke in die Wes-Kaap het, is werkloosheid baie laer en inkomstevlakke in die algemeen baie hoër as in die res van die land. Heelwat minder huishoudings het ’n inkomste van minder as R38 200 per jaar en baie meer se inkomste val bo R153 000 per jaar. Baie van die munisipaliteite het ook werkloosheidsyfers van tussen 8% en 15% – ongehoord van in Suid-Afrika waar die amptelike werkloosheidsyfer nagenoeg 26% is. Die skolingsvlakke is ook baie goed met minder as 5% van die inwoners ouer as 20 wat nie enige skoling ondergaan het nie en rondom 30% wat wel skool klaar gemaak het.

Wat dienslewering betref, is die drinkwatergehalte in feitlik alle Wes-Kaapse munisipaliteite van ’n hoogstaande gehalte terwyl ’n hoë aantal huishoudings kraanwater in die huis het en ander vorme van watervoorsiening omtrent nie bestaan nie. Meeste Wes-Kaapse munisipaliteite se laaste Blou Druppel-telling was bo 85% – Kannaland se 28.47% is ’n uitsondering. Puttoilette is feitlik iets van die verlede en spoeltoilette word deur 70%+ van alle huishoudings gebruik. Selfs die staatshospitale in baie van die munisipaliteite is so goed soos private instellings en meeste private hospitale is relatief volop en maklik bereikbaar op teerpaaie (in teenstelling met grondpaaie in verskeie munisipaliteite Noordwes en Mpumalanga). Elektrisiteitsvoorsiening en -verbruik vir verhitting, kook en beligting is ook baie hoog op meeste plekke in die Wes-Kaap.

Om hierdie gegewens in meer spesifieke perspektief te stel, moet daar nader na twee van die beste munisipaliteite gekyk word. In Overstrand (Hermanus) het slegs 2,5% van die inwoners ouer as 20 geen skoolonderrig ontvang nie en byna 30% het matriek geslaag. Altesame 86% van die huishoudings gebruik ’n spoeltoilet, bykans alle huishoudings se vullis word weekliks deur die munisipaliteit verwyder, 90% gebruik elektrisiteit vir beligting, die Blou Druppel-telling was byna 97% en die laaste ouditmening was “ongekwalifiseerd sonder bevindinge”. Stad Kaapstad se laaste Blou Druppel-telling was byna 100%, daar is mediese geriewe te kies en te keur, meer as 90% van die huishoudings gebruik spoeltoilette, dit het ’n skoon oudit by die OG ontvang, 25% van die huishoudings se jaarlikse inkomste oorskry R153 800 en slegs 18% van huishoudings woon in informele behuising (baie goed vir ’n stad met baie inwaartse migrasie).

Risiko’s en vrot appels

Hierdie prestasies is merkwaardig as daar in ag geneem word dat die Wes-Kaap, en die goed presterende munisipaliteite in die besonder, groot bevolkingstoenames beleef het. Die Bitou-munisipaliteit (met Plettenbergbaai as kern) het byvoorbeeld tussen 2001 en 2011 met 5.22% per jaar gegroei, Stad Kaapstad met 2.57%, Overstrand met 3.8%, Swartland met 4.56% en Saldanhabaai met 3.45%. Dit is nie net die geleidelike toename van welaf pensioentrekkers en werkendes uit die noorde wat dit veroorsaak nie, maar kan grootliks aan die migrasie van arm mense uit die Oos-Kaap toegeskryf word. Hierdie mense wil van die ANC se wanbestuur en agteruitgang in hul eie provinsie ontsnap vir beter dienste en werkgeleenthede in die Wes-Kaap. Ofskoon dit geensins ’n nuwe verskynsel is nie, het dit met rasse skrede oor die laaste 15 jaar begin toeneem soos die ANC se swak bestuur en powere dienslewering in die Oos-Kaap ’n prominente stoot-faktor geword het.

Hierdie aankomelinge plaas dus addisionele druk op dienslewering in die Wes-Kaap en hulle dra nie noodwendig by om die munisipaliteite finansieel te versterk nie. Die idilliese en plattelandse karakter van baie kusdorpe en munisipaliteite is daarom besig om te verander. Daar word nou selfs gepraat van ’n nuwe stad in die Suid-Kaap met George en Mosselbaai as kern. Sulke verstedeliking kan natuurlik Afrikaans as streektaal onder groot druk plaas terwyl dit ook die infrastruktuur en dienste swaar belas en tot allerlei sosiaal-maatskaplike probleme soos misdaad lei (lees die verslag om te sien hoe hoog misdaad in sommige rustige Wes-Kaapse kusdorpe is). Ewenwel, dit is iets wat die Wes-Kaapse owerhede oordeelkundig sal moet bestuur om die huidige sukses voort te sit.

Hoewel korrupsie inderdaad baie laag is in die Wes-Kaap, kom dit wel in die landelike munisipaliteite soos Oudtshoorn, Kannaland en Hessequa (waar Riversdal geleë is) voor. ANC-raadslede is gewoonlik die sondaars en dit is munisipaliteite waar die ANC nog steeds aan bewind is of vir lank aan bewind was. Dit is ook nie ’n geïsoleerde vlek nie en in daardie munisipaliteite is die werkloosheid ook hoog, skolings- en inkomstevlakke is swakker en die finansiële bestuur is swakker as elders in die provinsie.

Desondanks bly die Wes-Kaap ’n soort land van melk en heuning in ’n staat wat groot gebreke op regeringsgebied en groot verval op munisipale terrein toon. Hoewel dit nie as ’n soort paradys geromantiseer moet word nie, bly dit die Kaap van Goeie Hoop in Suid-Afrika.

Klik hier om die Leefbaarheidsmonitor vir die Wes-Kaap af te laai.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hanno Visagie ·

Dis net baie jammer dat Afrikaans na Engels taalverskuiwing so relatief vinnig plaasvind in die Wes-Kaap. Te veel (vorige) Afrikaanssprekendes is bereid om vir gewaande finansiële of loopbaanvoordeel stil-stil hul erfenis vir ‘n pot ANC-light-sop te verkwansel, soos onder andere die meeste lede van die Stellenbosch Universiteitsraad.

Max ·

Ja. Die Ja-Broers kom al van die Vrede van Vereniging saam met ons !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.