Die Wes-Kaap, hervorming van bo en omvorming van onder

Prof. Deon Geldenhuys

Die openbare debat oor die Wes-Kaap se moontlike afskeiding van die res van Suid-Afrika het verlede jaar sterk momentum gekry. Naas die voorstanders en teenstanders van afskeiding, is daar ’n derde minder prominente denkrigting wat ’n volwaardige federale bedeling vir Suid-Afrika voorstaan. Terwyl die drie groepe vanjaar verder debatteer, sal ’n gans ander benadering tot ’n beter Suid-Afrika op grondvlak verdere beslag kry.

Die vernaamste motivering vir Wes-Kaapse onafhanklikheid van Suid-Afrika is duidelik. Pleitbesorgers soos die Cape Independence Advocacy Group en CapeXit voer aan dat die provinsie uitgelewer is aan ’n onbevoegde, korrupte, sosialisties-geneigde nasionale regering wat nie deur Wes-Kapenaars ingestem is nie. Meer nog, die ANC-regering se doen en late lê die Wes-Kaapse DA-regering aan bande en is skadelik vir die provinsie. Die afskeiders se alternatief is ’n soewereine Kaapse republiek wat ’n pro-Westerse Eerste Wêreldse staat sal wees waarin goeie regering en ’n vryemarkekonomie sal verseker dat al sy inwoners vryheid, veiligheid en voorspoed geniet.

Hoe kan afskeiding plaasvind? Van die afstigters bepleit ’n referendum oor onafhanklikheid in die Wes-Kaap en klink oortuig dat die meerderheid kiesers “ja” sal stem. Daarna sal die nasionale regering en die parlement die uitslag eenvoudig moet aanvaar en, siedaar, die Wes-Kaap word onafhanklik. Weens ANC-teenkanting lyk so ’n vreedsame onderhandelde proses, wat op partisie sal neerkom, hoogs onwaarskynlik.

Dis wanneer sesessie in die prentjie kom: die Wes-Kaap breek eensydig weg van Suid-Afrika en verklaar homself ’n onafhanklike staat ongeag die nasionale regering se opposisie. Die sesessioniste beroep hulle op sowel die internasionale reg (selfbeskikking vir ’n “people”) en die Suid-Afrikaanse Grondwet (artikel 235 oor selfbeskikking). Beide hierdie aansprake is aanvegbaar. Dis ook te betwyfel of die afstigters ’n oortuigende saak vir remediërende sesessie sal kan maak, naamlik dat die Wes-Kaap doelbewus en sistematies deur die sentrale regering onderdruk of benadeel word. Voeg hierby dat sesessie neig om geweld te ontketen omdat ’n sentrale regering dit tipies sal teenstaan; dink maar aan Katanga se mislukte en bloedige sesessie van die Kongo, en Biafra se ewe onsuksesvolle en gewelddadige afskeiding van Nigerië.

Lynreg teenoor die afstigters staan die lojaliste. Dis mense en groepe wat die status quo wil handhaaf, met ander woorde die Wes-Kaapse provinsie as ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse staat soos dit in 1910 tot stand gekom het. Vir hierdie behoudendes is onafhanklike staatskap vir die Wes-Kaap nie bloot onwettig onder die Suid-Afrikaanse Grondwet en die internasionale reg nie, maar ook hoogs onwenslik en nadelig vir sowel die Wes-Kaap as vir die res van Suid-Afrika.

Die derde kamp bestaan uit konvensionele federaliste. Hulle wil Suid-Afrika in ’n volbloed federasie omskep, met groter bevoegdhede aan die provinsies ten koste van die magte van die sentrale regering. ’n Federale staat is natuurlik een waarin soewereiniteit gedeel word deur die sentrale en regionale regerings; die twee regeringsvlakke is relatief outonoom en mag nie op mekaar se bevoegdhede inbreuk maak nie. ’n Variant van hierdie siening bepleit ’n asimmetriese federasie, waar nie al die provinsies gelyke magte het nie, maar sommige meer as ander, soos byvoorbeeld in Spanje. Dis beide die DA en VF+ se voorkeur, met die Wes-Kaap as sterkste kandidaat vir meer provinsiale magte op grond van sy bewese regeervermoëns.

Albei weergawes van federalisme verteenwoordig ’n kompromie tussen die status quo en die afskeiding van die Wes-Kaap of enige ander provinsie. Dis tradisionele federalisme van bo, wat deur staatkundige onderhandelinge en wette tot stand gebring word. Die praktiese haalbaarheid van die federale opsie in die afsienbare toekoms is twyfelagtig omdat dit grondwetlike wysigings sal vereis. Die ANC, met sy sentralistiese inslag, sal moeilik hiertoe instem.

Te midde van hierdie debatte op die makrovlak oor Suid-Afrika se moontlike staatkundige (her)ontwerp, speel ’n heel ander dinamika op grondvlak uit. Dis ’n nie-amptelike proses van onder-na-bo federalisme, wat ook as funksionele of de facto outonomie bekend staan. Hierdie inisiatief, gedryf deur veral die Solidariteit Beweging, is nie bedoel as ’n kompromie tussen die status quo en Wes-Kaapse afskeiding nie. Dit word gepropageer én beoefen as ’n praktiese uitweg uit Suid-Afrika se probleme van staatsverval en marginalisering van minderhede, in besonder Afrikaners.

Die intellektuele vader van die idee van federalisme van onder is die Duitse juris en Calvinistiese politieke filosoof Johannes Althusius (1557-1638). In sy politieke teorie probeer hy die outonomie van kleiner gemeenskappe, stede en godsdienstige minderhede beskerm teen die stygende gety van staatsabsolutisme aan die begin van die 17de eeu in Europa. Vir Althusius bestaan die politiek hoofsaaklik uit ’n horisontale proses van interaksie tussen ’n veelheid van sosiale groepe en gemeenskappe (wat hy konsosiasies noem), elk met hul eie regte en verpligtinge. Hy onderskei tussen private en openbare konsosiasies. Eersgenoemdes, wat huishoudings, gildes, professies en kolleges insluit, verteenwoordig wat ons vandag die burgerlike samelewing noem. Die destydse stede en provinsies (en later ook state) bied, volgens Althusius, die openbare ruimte waarbinne daar vir hierdie diverse belange voorsiening gemaak kan word.

Politieke besluitneming is gebaseer op die stelreël dat “dit wat almal raak, deur almal goedgekeur moet word”. In sake wat ’n bepaalde groep in besonder raak, behoort selfregulerende outonomie volgens Althusius te geld. Die grondslag waarop hierdie stelsel berus, is sosiale akkoorde tussen die onderskeie groepe. Met gemeenskappe as die boublokke van ’n inklusiewe politieke bedeling, is die staat se rol om onderhandelde samewerking tussen hierdie elemente te bewerkstellig. Die amptelike erkenning van kulturele gemeenskappe in België en outonomie-reëlings vir Kanada se inheemse bevolkingsgroepe verteenwoordig die formalisering van onder-na-bo federalisme.

Die essensie van die Solidariteit Beweging se outonomie-projekte is dat gemeenskappe – met die klem op Afrikaners – uit eie beweging en met hul eie hulpbronne noodsaaklike dienste vir hulself lewer. Dit omvat terreine soos die onderwys, taal en kultuur, gesondheid, welsyn en persoonlike veiligheid. Eerder as om tevergeefs op ’n wanfunksionele openbare sektor staat te maak om sodanige dienste te voorsien, doen die gemeenskap dit self en eien homself so die reg toe om wesenlike besluite oor sy eie lot te neem. Outonomie – bedoelende om self reëls te maak – word dus nie van bo (die owerheid) toegeken nie, maar van onder deur die gemeenskap opgeëis.

Sodoende word nuwe werklikhede voortdurend op die grond geskep, soos ’n gemeenskap geleidelik al meer tradisionele funksies van die staat oorneem en meer doeltreffend verrig. Die hoop is dat die nuwe realiteite mettertyd amptelik erken sal word by wyse van sosiale akkoorde tussen die staat en gemeenskappe.

Die debat oor die afskeiding van die Wes-Kaap plaas Suid-Afrika se regeerkrisis opnuut onder die soeklig en belig terselfdertyd die politieke hindernisse in die pad van staatkundige hervorming van bo. Intussen gaan die omvorming van die staat en samelewing op grondvlak onverpoosd voort. Naas selfbemagtigende gemeenskappe, is ander burgerlike organisasies en die private sektor besig om ’n groot gros Suid-Afrikaners al hoe meer staatsbestand te maak. Solidariteit gee reeds wêreldwyd die pas aan met die omvang van sy outonomie-inisiatiewe. Althusius sou beïndruk wees.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Deon Geldenhuys

Deon Geldenhuys is ‘n emeritusprofessor in politiek aan die Universiteit van Johannesburg.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Die Wes-Kaap moet eers die doelbewuste toestroming van ANC stemme vanuit ander provinsies op ‘n manier stopsit, anders is enige van die 3 idees na die maan.

wim ·

Hulle word eintlik daar opgelaai. Bonginkosi Madikizela, Winnie se nefie, ‘n boorling van die Oos Kaap, is die DA se leier in die Wes Kaap

annie ·

Die idee van Oom Johannes is voor 1652 uitgedink en nog nèrens volhoubaar ingevoer nie omdat dit te idealisties is. Die Kaap was net vir enkele sekondes Hollands en toe breek die storm los met volke van oraloor wat opdaag. Elke groep het ‘n eie bloudruk en dit verskil radikaal van die ander. Wie gaan die leiding neem want dit is waar die vuiste gaan klap. Met meer as 35 plakkerkampe wat wag om in woongebiede uit te rol, is die man braaf/dwaas wat hoop hy gaan so die Nobelprys vir Vrede wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.