Die Weste word weerloos

weerlose-weste

Grafika: Spartharios/Verskaf.

Die Weste het die afgelope vyf eeue ʼn oorheersende rol in die wêreld gespeel en Westerse waardes voer regoor die aardbol grootliks die botoon. Hierdie dominante posisie spruit histories uit die Westerse militêre mag, politieke invloed, ekonomiese krag, kulturele energie en bevolkingsgetalle. Maar die geskiedenis is die verhaal van die opkoms en val van magtige wêreldryke, soos die Perse, Babiloniërs, Egiptenare, Grieke en Romeine. Die Weste is lankal nie meer bereid of in staat om ander beskawings te oorheers nie en dis reg en goed so. Maar die vraag is of die Weste nog in staat is om homself te verdedig en te beskerm teen opkomende magsblokke, waarvan talle diep historiese griewe teen die Weste koester?

Dit is ʼn betekenisvolle vraag, omdat die Weste so gewoond is aan die dominasie van Westerse waardes soos demokrasie, die regstaat, die markekonomie, menseregte en individuele vryheid, dat hulle aanvaar Westerse norme het die wêreldstandaard geword. Maar die werklikheid is dat Westerse wêreldwaardes op Westerse mag berus en die wêreld heeltemal anders sal lyk as hierdie mag kwyn en ander beskawings hul waardes wil afdwing. Anders gestel, kan die Europese beskawing val soos soveel ander beskawings in die verlede? Die Britse historikus, Naill Ferguson, sê selfs ʼn beskawing wat, oppervlakkig beskou, sterk staan, kan binne ʼn dekade of wat heeltemal verval as voorkomende stappe nie betyds gedoen word nie.

Militêre mag

Hoewel ander oorwegings soms ʼn belangrike rol gespeel het, is militêre mag in die regte wêreld nog altyd die deurslaggewende rede vir die status van lande en hul waardes. Daarom het die resultate van ʼn Win/Gallup internasionale meningspeiling in 2015 soveel opspraak verwek, omdat dit gewys het Europa het die vasteland geword met die minste mense wat bereid is om vir hul lande te veg. Dit bekommer Westerse beleidmakers, omdat hulle weet lande wat hulself nie wil of kan verdedig nie, het histories die slagoffers geword van lande wat wel bereid is om te veg. Die Weste het immers sy eie oorheersende posisie in die wêreld bereik deur mag in al sy vorms te gebruik. Maar die denasionalisering van Europese volke, waar selfs gesonde nasionalisme ʼn skelwoord geword het, stel die Weste nou bloot aan dieselfde aggressiewe nasionalisme van ander volke en godsdienste, wat vroeër slagoffers van Westerse imperialisme was. Die Win/Gallup-peiling het duidelik uitgewys talle derdewêreldlande is bereid om te veg, teenoor die meeste eerstewêreldlande wat nie meer bereid is om te veg as dit moet nie.

Teenoor Marocco (94%), Pakistan (89%) en Bangladesh (86%), wat bereid is om te veg, staan Nederland (15%), Duitsland (18%) en België (19%). Die kleine Finland is, met 74% van sy bevolking, nog die enigste Europese land wat werklik bereid is om te veg as dit moet. Hoewel optimiste bly is dat Europeërs nie meer teen ander of mekaar wil veg nie, begryp beleidmakers dat hierdie pasifisme die Weste weerloos maak teen enige aanvaller van buite of binne hierdie lande. Daar is immers ʼn groot verskil tussen iemand wat nie iemand anders wil aanval nie en iemand wat nie bereid is om sy gesin en gemeenskap te verdedig nie. Die voorwaarde vir blywende vrede is immers dat almal vreedsaam is. Dis sinloos dat skape besluit dat almal vegetariërs moet word, as die wolwe nie saamstem nie.

Uitwissing

Die sielkundige gevolge van die twee verwoestende wêreldoorloë het ook nog ʼn verlammende invloed op Europa se weerbaarheid, veral op ʼn land soos Duitsland. Die bekende Israelse veiligheidskenner, Martin van Creveld, sê kulturele en sosiale veranderings in Westerse samelewings het hul bevolkings te sag gemaak om te veg, selfs wanneer dit absoluut noodsaaklik is. Hy waarsku “as bevolkings nie die wil en vermoë het om te veg wanneer dit nodig is nie, gaan die tyd kom dat hulle uitgewis word”.

Van Creveld meen die redes vir die Westerse slapheid lê in die verplasing van waardes, soos pligte met regte, toenemende welvaart, kleiner gesinne, ouers wat hul kinders oppiep en die “nanny-state”, totdat hulle nie meer vir hulself kan sorg nie en die “makmaak” van weermagte, deur die afbreek van waardes soos manlikheid, heldhaftigheid en die soldate se veggees.

Hy erken min lande is sterk genoeg om die Weste in te val, maar sê behalwe die VSA, is Westerse state hulpeloos teen nie-staatlike aggressors, soos terroristegroepe en ekstremistiese immigrante. Sy gevolgtrekking sluit aan by dié van die Britse militêre kenner, John Keegan, wat gesê het Westerse jongmense is nie meer bereid om in die weermag te dien of te veg nie. Die uitdaging is dat dieselfde Westerse welvaart wat Westerse bevolkings “sag” gemaak het, so begeerlik is vir ander beskawings se jeugdiges, wat wel bereid is om geweld te gebruik om dit af te vat. Soos Keegan dit gestel het, “vloei die gety van konflik vanaf die armes na die rykes”.

Rowwe manne

Die vraag is of Europa nog gered kan word van die radikale linkse pasifisme wat hom so kwesbaar maak? Dit lyk asof die onlangse vlaag terreuraanvalle Europese lande wakker geskok het en dat van hulle besef iets moet gedoen word as hulle wil voortbestaan. Van Creveld meen die Weste sal weer klem moet lê op waardes soos plig, verantwoordelikheid, weerbaarheid, manlikheid en ʼn gebalanseerde krygskultuur. Soos die bekende skrywer van Animal Farm, George Orwell, gesê het: “ons slaap veilig in ons beddens omdat rowwe manne buite in die nag regstaan om ons met geweld te beskerm teen diegene wat ons wil uitdelg”. Swakheid en slapheid ontlok nog altyd roofdiergedrag. Geweldadige aanvallers word net afgeskrik deur weerbare manne wat wil én kan veg as dit moet.

Die belangrikste lande in die Win/Gallup-peiling se persentasie mense wat bereid is om vir hul lande te veg:

  • 74% – Finland
  • 73% – Turkye
  • 62% – Ukraïne
  • 59% – Rusland
  • 55% – Swede
  • 54% – Griekeland
  • 47% – Pole
  • 39% – Switserland
  • 38% – Ierland
  • 37% – Denemarke
  • 29% – Frankryk
  • 27% – Brittanje
  • 21% – Australië
  • 21% – Spanje
  • 20% – Italië
  • 19% – België
  • 18% – Duitsland
  • 15% – Nederland

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Disselboom ·

Sosio-polities seker ‘n interessante artikel, maar dis jammer dat die heel belangrikste faktor, naamlik kerkgeskiedenis (van ouds en eietyds) nie in ag geneem word nie, Daarsonder is die artikel maar so waardeloos as die westerse wêreld wat juis hierdie eienskap, naamlik christelike uitgangspunt, verloor het. Dis in hierdie opsig wat skole soos in die ICO-kring en tot ‘n mate die CVO-skole ‘n vlam(metjie) brandend hou waarvan Solidariteit se hoof blykbaar al vergeet het.

gatiep ·

Dis omdat daar amper geen patriots meer oor is in Europa nie want hulle het nie eens meer se oor hulle eie lande nie.Mans het feministe geraak daar en hulle loop rond met n skuldgevoel omdat hulle wit is.Toe gee hulle maar hulle lande weg met die hoop dat hulle beter gaan voel.
Nou vra ek hoekom sal hulle met n magtige land soos Rusland moeilikheid soek?Die weste is klaar van binne oorgevat deur die moslems,en hulle mense is geskei in 2 groepe
Nato beteken niks.Die weste kan bly wees Trump het ingekom en wil graag vriende wees met Putin want die US is net so in 2 groepe verdeel soos Europe.As ek die Europese lande was sou ek onmidelik probeer het om met Rusland saam te probeer werk.Hulle is besig om hulle eie voet af te skiet om vir Rusland te probeer vermaak.
Putin en Trump sal saamwerk want hulle het die selfde agenda en dit is om die krag van die globale ouens swakker te maak.
Die Russe se self dat die weste se grootste vyand is sy eie mense.

John ·

Baie interessant. Dit le ook ten grondslag van ons vreeslike kamma-mensliewendheid en mense-regte en die (by)geloof dat hoe meer ons vir die vyand gee/doen hoe liewer gaan hy vir ons word en ook ons regte respekteer. Dis ook hoekom bangbroek-Navo liewers langs Rusland se grense piekniek hou en wegkruipertjie speel want Rusland is nie die groot bedreiging nie. Net een woord ISIS en die sterk manne skryf huistoe vir skoon onderklere. Laat ons in SA ook diep dink oor Flip Buys se skrywe en oor hoe ons Afrikaners onsself geestelik en andersins laat ontwapen… ons jongmanne kan nou beter ghitaar speel as korrel.

Pietman ·

Die weste is gebreinspoel deur die media , Hollywood en die Akademici. TV-land bepaal die nuwe waardes.

Leonard van der Dussen ·

Die wêreldgeskiedenis moet nie los van kerkgeskiedenis beskryf word nie.

JC ·

Die eens magtige Europa is totaal verward. Die verval van die Weste is die storie van die verval van en tengronde gaan van die Kerk van Christus en word daar lustig saamgewerk om dit te bewerkstellig deur internasionalistiese politieke elite. ‘n Rukkie terug was daar berigte van ‘n oplewing in die Katolieke kerk in Frankryk. Nou weer moet mens hoor die franse dink daaraan om van die ongebruikte Kerke om te skakel in sinagoges en moskees. Wat gaan aan? Die verduideliking is dat die verligting en sy eintlik dodelike boodskap nou sy logiese gevolgtrekking begin bereik, dit wil se die omverwerping van ALLE gesag en orde(waar die franse dit slegs eers aanvanklik gehad het teen tradisionele (regse) gesag) en die uitwissing van alle vorme van rasionaliteit, waar die verligting juis glo rasionele denke moes bevorder! Die Sofiste en philosophes voer nou inderdaad die botoon met skandelike gevolge! Dele van die wereldbevolking kan nie meer die liberale “pienkheid” van ons sogenaamde leiers verdra nie, soos die onderdanige, minderwaardige en kwesbare “opgee” en “hande in die lug” houding van die huidige Pous van die Katolieke Kerk, wie dit wil voorkom ook maar deel is van die internasionalistiese multikulturele Soros bende, of ten minste dan dieselfde verwarrende boodskappe probeer versprei. Die boodskap is duidelik, al wat die Weste kan red is ‘n terugkeer in nederige eerbiedigheid teenoor die 3enige God, Jahweh, ons Vader in die Hemel, en sy seun Jesus Christus wat sit aan die regterhand van God, en die Helige Gees.

JC ·

Die verval van die Weste is die storie van die verval van die Kerk van Christus en word daar lustig saamgewerk om dit te bewerkstellig deur internasionalistiese politieke en media elite. ‘n Rukkie terug was daar berigte van ‘n oplewing in die Katolieke kerk in Frankryk. Nou weer moet mens hoor die franse dink daaraan om van die ongebruikte Kerke om te skakel in sinagoges en moskees. Wat gaan aan? Die verduideliking is dat die verligting en sy eintlik dodelike boodskap nou sy logiese gevolgtrekking begin bereik, dit wil se die omverwerping van ALLE gesag en orde(waar die franse dit slegs eers aanvanklik gehad het teen tradisionele (regse) gesag), en die uitwissing van alle vorme van rasionaliteit, waar die verligting juis glo rasionele denke moes bevorder! Die Sofiste en philosophes voer nou inderdaad die botoon met skandelike gevolge! Dele van die wereldbevolking kan nie meer die liberale “pienkheid” van ons sogenaamde leiers verdra nie, soos die onderdanige, minderwaardige en kwesbare “opgee” en “hande in die lug” houding van sommiges, sien ook bv die verontrustende artikel gister op daardie CNN “nuusagentskap” oor of Jesus Christus die Verlosser ‘n werklike gekiedkundige figuur was. Dit is nou meer duidelik as ooit tevore dat God en die Kerk onder aanval is!!! Die boodskap is duidelik, al wat die Weste kan red is ‘n terugkeer in nederige eerbiedigheid teenoor die 3enige God, Jahweh, ons Vader in die Hemel, en sy seun Jesus Christus wat sit aan die regterhand van God, en die Helige Gees.

Stephan ·

In die 1100’s het die ooste teen die weste geveg. Elkeen het sy grondgebied en veral sy godsdiens verdedig. Hulle het tyd gehad vir oorlog maak want daar was nie staatsdiens met werksure tuis nie.6
Die weste is post-modern en al wat saak maak is die behoud van hulle hoë vlak van versorging en tegnologie op alle terreine: al die belangrike dinge is gratis en van prima gehalte. Die lewe het al makliker geraak. Omtrent almal werk en wil goed leef en wil daarom nie konflik hê nie. Maar vér in die ooste is daar nie staatsdienste of privaat instansies wat werk verskaf en sekuriteit meebring nie. In reaksie het die radikales die woestynbewoners aangevuur tot ‘n radikale gevegsmag.
Dis een ding van mense wat in woestyne leef: óf jy leef óf nie. Daar is nie ‘n middelmatigheid nie.
En nou weer oos teen wes: die weste vanuit hulle gemaksones teenoor die mense wat soos rotte in die woestyn kan oorleef met ‘n geloofsoortuiging dat hulle graag hulle lewe wil opoffer vir ‘Allah.
Ek vrees vir die gevolge. Die woestynmense proe alreeds aan die welvaart soos hulle instroom.

Leonard van der Dussen ·

Willem vra “hoekom” (moet die wêreldgeskiedenis nie los van die kerkgeskiedenis geskryf word nie). God het alles gemaak en beskik oor alles. Ps 24:1 – “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon”. Die westerse geskiedenis is gevorm deur en saam met die verloop van die verspreiding van die evangelie, en die westerse sterkte, en sy sedes en norme (wat verloop het), was gebou deur bewuste en onbewuste nastreef van God se wet. Stem saam met Disselboom se teleurstelling dat die artikel, wat deur ‘n christen geskryf is, geen melding maak van God se beskikking en dat dit selfs net in wetenskaplike terme, die fout maak om die rol van kerkgeskiedenis te ignoreer. Dit doen afbreuk aan die waarde van die artikel,

Stephan ·

Baie dankie vir n uitstekende artikel. Sulke artikels gee perspektief in n tyd waar alle waarhede gerelativeer word.

JC ·

Daar het jy dit nou-die ENIGSTE hoop vir Europa (en ironies genoeg oorlewing van sy pasifistiese, internasionalistiese “humaniste”) is ‘n oorwinning vir Marine le Pen.
Word sy nie verkies in Mei nie is ek jammer vir die Franse en Europa, maar dan is dit die einde vir die Europese beskawing.
Ironies genoeg, soos op gewys hierbo, sal ‘n oorwinning vir le Pen juis die linkses toelaat om knus te bly murmureer oor filosofiese wolhaarstories in hul knus wolkomberse, maar kyk net hoe sal hul reageer as sy verkies word…die swakheid, en ideologiese oeverblindery met ‘n goeie dosis oikofobetiese gedrag van die Europese nasies gaan my verstand te bowe. Oenskynlik is die gedrag ‘n oorreaksie op die gebeure tydens die WW2, MAAR die Europese “leiers” verloor uit die oog uit dat oorlogmaak so te se ‘n natuurlike toestand van die mens is – sien…wel…die geskiedenis! Moet mens dan dus net le en se vat wat julle wil? NOOIT. Wanneer gaan Europa wakker skrik en begin optree, want mens sou dink dat Pres Trump se verkiesing ‘n westerse (en kragdadige) kulturele oplewing met gepaardgaande waardes van manlikheid, veggees en heldhaftigheid sou voortbring – die begrippe het belaglik genoeg amper deesdae PC vloekwoorde geword-maar daar word gerieflikheidshalwe vergeet van die bydrae op talle vlakke van DIE waardes en wat dit al beteken het vir die mensdom en sy kulturele skatkis, en die legendes en stories van inspirasie wat daaruit bly voortvloei. GAAN LE PEN WEN?

Afrikaanse Knaap ·

Suid Afrikaners slaap onveilig in ons beddens omdat rowwe manne daar buite in die nag, en dag, reg staan om ons met geweld uit te delg.

Rupert Ashford ·

Wanneer feminisme, selfde-geslag verhoudings en huwelike, en sg klimaatsverandering die oorheersende onderwerpe is waaroor gepolitiek word, dan is ‘n kultuur se tyd min. Die eerste twee was net so hoog op die agenda toe die Romeinse Ryk gesneuwel het, en die klimaat het nog altyd verander – mense het aangepas daarby of uitgesterf, mens gaan dit nie reg belas en sosialisme nie. Die sg pasifisme is ook nie nuut nie – sien maar Chamberlain vs Churchill – die kalf moes eers ordentlik in die put voordat Brittanje wakker geskrik het, en hy moes selfs dieper voordat die VSA bygekom het in die WOII.

Willem ·

Mbt klimaatsverandering, hoe kan dit sleg wees om minder fossiel brandstowwe te gebruik?

Rupert Ashford ·

Willem, die hele klimaatsverandering ding begin en eindig nie by fossielbrandstowwe nie. Dit is goed om na alternatiewe te soek slegs omdat die fossielbrandstowwe eendag gaan uitgeput raak, maar dan moet die mensdom ernstig wees daaroor en ordentlike alternatiewe oorweeg. Dit help nie om die omgewingsbesoedeling (of brand van fossielbrandstowwe) net te verskuif na plekke waar jy dit nie kan sien nie en dan goed te voel daaroor nie. Tans is die enigste werkbare alternatief kernkrag. Jy kan ook nie op jou tabletrekenaar (waarvan die vervaardiging verskriklike besoedeling veroorsaak) en uit jou lugversorgde huis vir ‘n ou wat nog mis brand vir energie se hy mag nie fossielbrandstof gebruik om hom uit armoede te lig as daar nie ‘n goedkoop, betroubare alternatief is nie.

Willem ·

Ek stem saam met alles wat jy sê. Ja, die fossielbrandstowwe raak min, dis die groter probleem, maar besoedeling is ook ‘n probleem. Kernkrag is seker die beste opsie tot op hede, maar as ons kan wegkom van fission en eendag regkry om ‘n blywende fusion reaksie te kan kry, is dit die beste.

Hannah ·

Oe hoe… vet kans wat ek waag as die enigste hen tussen al die hane hierbo…

Ek het nie naastenby die insig en kennis wat julle manne het nie… ek troos myself daagliks daarmee dat GOD leiers aanstel (of ons dit wil weet of nie…) net so glo ek dat Donald Trump met ‘n doel aangestel is – asook die liewe Jakob Zuma (sy naam beteken bedrieer…. laat mens wonder) Die SKRIF verklaar ook dat GOD bepaal het waar elke nasie sal woon en hoe lank hulle sal bestaan. Wat klimaatsverandering aanbetref – loshande die grootste spul snert – ek weet net nie wie maak geld daaruit nie. Dit is vir my gruwelike klap in die SKEPPER se gesig om SY almag en heerskappy so te tart… en ek dink die mense wat dit verkondig het net geen idee hoe HY is en dat HY nie sal toelaat dat hierdie mense hieronder SY skepping ruineer voordat HY nie SY doel daarmee bereik het. Ter bevestiging:

2 PETRUS 3 : 7 “Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van GOD, en word in stand gehou, tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.”

Ons moet besluit wat ons oor HOM wil glo en of jy jou gaan laat bangpraat deur mense – veral die perd wat Saterdae oggende op RSG klimaatsverandering so verkondig!

Dankie weer eens Maroela vir goeie leesstof.

JC ·

Kan die dreigement wat vreemde (moslem) kulture teenoor die gekoesterde en waardevolle Europese samelewing en sy gebruiklike Joods-Christelike tradisies bied, dalk die weg baan vir, en ‘n opbloei veroorsaak in die herleweing van Europese Christelike kultuur? Slegs die tyd sal leer.

Paul ·

Hierdie syfers moet dieper ontleed word voordat daar gevolgtrekkings gemaak word.
Eerstens, die vraag wat gestel is, was “If there was a war that involved your country, would you be willing to fight for your country?”
Mense wat in ‘n land woon waar hulle tereg of nie, nie eintlik die moontlikheid van ‘n inval deur ‘n vreemde moondheid as ‘n werklike bedreiging sien nie, se eerste gedagte sal nie wees dat dit oor hul eie land gaan nie, maar eerder dat dit gaan oor ‘n ekspedisionêre oorlog soos na Afghanistan of Irak.
Mense in ‘n lande soos Finland, Letland en Oekraiene, wat al relatief onlangs voorheen deur die Russe binnegeval is en terrein moes afstaan, sal meer geneig wees om aan ‘n inval van hul eie land te dink as hulle so ‘n vraag hoor.

‘n Beter vraag sou dus wees iets soos: “Indien jou land deur ‘n vreemde moondheid binnegeval word, sal jy bereid wees om vir jou land te veg?”.

Verder is daar nog ‘n probleem met analise van oorkoepelende syfers. Onthou, dit gaan hier oor alle volwassenes, nie net oor jong mans nie. In Duitsland, byvoorbeeld, as mens dieper na die resultate kyk, is die gewilligheid om te baklei hoër by jonger mans as by ouer mense – nie verbasend nie. En hou dan in gedagte dat Duitsland ‘n ou bevolking het – die proporsie ou mense is hoog.
Spasie is te min om volledig hierop in te gaan, maar die punt is duidelik.

Irah ·

Baie lande doen deesdae bitter min vir hulle eie burgers, so patriotisme sal beslis nie hoog wees op baie mense se prioriteitslysie nie

Santie ·

Die Conservative Movement in die VSA het lankal die gevare van alles wat in Flip se artikel gese word, besef en begin werk maak van teenvoeters daarvoor in die VSA. Daarom dat die teenstand teen Trump uit links-liberale geledere so uitermate fel is. SA se jongmense wat onder leiding van ons eie liberale media so behep is met die humanisme, is vas oortuig hulle kan “oorsee” gaan woon en werk as SA dalk “‘n 2de Zimbabwe word”. Hulle het klaarblyklik g’n benul dat “oorsee” binnekort ook maar derdewerelds sal wees as die gety nie omgekeer word nie. Net vir perspektief: Die Romeine het in ong. 100 n.C. ‘n muur tussen die Ryn en Donou gebou om ons woeste voorvaders, die Teutone, uit te hou. Maar die Romeinse Ryk was in elk geval teen 350 n.C. daarmee heen. En ons wilde voorvaders het Europa geword. Ek is net nie so seker dat die migrante uit huidige mislukte state ‘n nuwe beskawing kan word nie. Hulle “track record” lyk nie goed nie. Sal liewer op Trump en Kie vertrou.

Therese van Schalkwyk ·

Santie

Stem volkome saam met alles wat jy sê!

Is egter bevrees Trump en kie. het te laat op die toneel verskyn om werklik ‘n verskil te maak. Die felle teenkanting, selfs uit sogenaamde eie geledere net om ‘n tydelike reisverbod uit gevaarlande goedgekeur te kry, spreek boekdele.

Dieselfde geld vir Frankryk se Le Pen, Nederland se Wilders en van Duitsland praat ‘n mens nie eers nie. Westerlinge se luukse, materialistiese, meestal spandabelrige lewensstyle het hul klaarblyklik blind, stom en doof gemaak vir die wrede ontnugtering wat wag.
(Altyd ironies hoe mense gil teen ‘klimaatsverandering’ uit hulle lugverkoelde huise.)

Santie ·

Therese van Schalkwyk, dit lyk vir seker of Trump en Kie teen donderweer baklei om die redes wat jy noem. Ongelukkig stel die meeste mense eenvoudig nie genoeg belang in politiek om by die essensie uit te kom nie. Daarom dat die media so maklik aan die meerderheid kan voorse. Hulle kom eers agter iets is verkeerd as die gevolge aan hul eie lyf vat. En dan, soos jy se, is dit gewoonlik te laat. Maar ek hoop tog die konserwatiewe beweging in die VSA kan vir eers die saak effe beredder.

Hans Nel ·

My brief het nou wel niks met die ‘verval’ van die Weste te doen nie, (hy het in elk geval LANKAL verval) maar vir my part kon hulle in elk geval nog nooit regtig hul bekke oopmaak en geregtigheid laat seevier nie. Vat bv. die moorde op die Jode, die koppe wat so in die openbaar afgekap word, en om nie eers te praat van my grootste probleem nl. DIE PLAASMOORDE OP EIE BODEM. Geen koerant of enige media instansie wil help om die moorde te verkondig nie. Die Parlement is ook te ‘besig’ met skandale en korrupsie om dit op hulle agenda te plaas. As ek so luister hoe die mense praat kan ek agterkom dat die Boere begin erg gatvol raak

Skatymir ·

Dit is ‘n uitstekende artikel, baie dankie Flip. Ek sien uit na julle volgende beraad. Dit is egter ontstellend dat die kommentare so religieus is. Die hoogtepunt van beteidheid om hulleself te verdedig was gedurende die 900s. Hoeveel mense weet van die held, Hendrik die voëlvanger wat die Mongoloïede Magjare se aanslag teen die Saksers afgeweer het. Hy het ook geweier dat die aardsbiskop hom kroon want hy wou nie deur die kerk oorheers word nie. Widukind, die leier van die Saxons het vir 30 jaar teen die aanslag van Charlemagne geveg om die oorheersing van die Katolieke kerk af te weer. Nog ‘n held was Hermann/Arminius wat in die jaar 9 CE die Romeine uitgedryf het. Google die video “The Battle of the Teutoburg Forest” en laat dit inspireer om wat onsin is te verdedig.

Willem ·

Ja, maar ek sien nie hoe dit hier van toepassing is nie. Dis tog net ‘n mite

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.