Die Wet op Internetsensuur

internet-tabletrekenaar-koffie

Foto: Kaboompics/Karolina/Pexels.com

Met die ANC se beleidsvoorstel van onteiening sonder vergoeding op die voorgrond, het die ANC en nasionale wetgewer stil-stil die nuutste byvoeging tot die lys van outoritêre en drakoniese wetgewing tot wet gestem. Sonder om oormatig doemprofeties te klink, maar met hierdie wetgewing gaan debatte oor onteiening sonder vergoeding verbied kan word, indien ons staat dit sou verkies.

Die Wysigingswet op Film en Publikasies is op 6 Maart 2018 deur die Nasionale Vergadering tot wet gepromulgeer. Dit is nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys vir hul toestemming en bekragtiging. Nie net is hierdie wetgewing deur ons wetgewer ingestem nie, maar 176 van ons land se lede van die parlement was te apaties om op te daag vir die debatte oor die voorgestelde wetgewing. Die bekende Margaret Mead-aanhaling dat, al wat nodig is vir die bose om te oorwin is vir goeie mense om niks te sê of te doen nie, begin al hoe meer waar word.

Hierdie wetgewing gee vir die Film- en Publikasieraad die mag om aanlyn inhoud te klassifiseer en dus te reguleer. Die wetgewing reguleer enige verspreider of skepper van aanlyn inhoud. Inhoud in hierdie konteks behels onder andere ook sosialemediaboodskappe, nuusartikels, prentjies en foto’s, en nog vele ander materiaal.

Alhoewel die wetgewing edel mag klink, is dit ver van die waarheid af verwyder. Die bestek van die wetgewing is breër as die ANC se genade vir hul voormalige president. Ingevolge hierdie wetgewing gaan inhoudverspreiders soos Maroela Media, Facebook en YouTube vereis kan word om hul inhoud eers vir goedkeuring te stuur voordat dit gepubliseer mag word. Hierdie is eenvoudig ʼn skuif na Pravda-agtige beheer van inligting deur die staat.

Dit mag dalk blyk asof hierdie magte van die wetgewing onuitvoerbaar is, maar dit is juis waar die gevaar daarin lê. Dit maak die deure oop vir arbitrêre en selektiewe toepassing van die wet.

Opgesom is die wetgewing problematies en ʼn aanval op vryheid van spraak en die reg tot toegang tot inligting weens drie redes.

Eerstens, anders as met ander media, geskied die klassifisering van die inhoud voor publikasie. Tradisioneel word boeke, films en musiek gepubliseer en dan word dit geklassifiseer. Sou die regering dalk voel dat ʼn meningstuk of Facebook-plasing krities is van hul optrede en dit nie hul goedkeuring dra nie, dan kan daardie inhoud in effek gesensor word.

Tweedens, is die definisie van wat ʼn film is, ingevolge die wetgewing, veels te vaag en oop vir interpretasie en gevolglik misbruik. ʼn Film volgens die huidige definisie van die wetgewing kan enige regstreekse uitsending op Facebook insluit.

Laastens word nie-kommersiële inhoudverspreiders gedefinieer as enige persoon wat inhoud versprei deur gebruik te maak van die internet vir persoonlike of privaat redes. Die grootste gevaar hier is dat die klassifikasie van inhoud deur die Film- en Publikasieraad moet plaasvind vir enige inhoud wat versprei word, ongeag of dit vir kommersiële of nie-kommersiële doeleindes gedoen word.

Al poog die wetgewing dus om te onderskei tussen kommersiële en nie-kommersiële gebruikers en skeppers van inhoud, bly die gewone gebruikers van sosiale media en nuuswebtuistes steeds in die spervuur.

Soos met meeste soortgelyke gevalle bly die staat uiters ondoeltreffend met al hul betrokkenheid en hierdie wetgewing is nie anders nie. Ons hoop is nou dat die Nasionale Raad van Provinsies of die nuwe staatshoof tot hul sinne kom en nie die wetgewing goedkeur nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Daniël Eloff

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Kosie Kramer ·

Selfsensuur deur mediadienste is net so `n groot gevaar. Ek maak `n kopie van elke stukkie kommentaar wat ek op Maroela, Netwerk 24, Praag en ander, lewer, en dit bly my verbaas hoe eng en benepe sommige redakteurs is. Partykeer word die grootste klomp snert deur bydraers geplaas, maar jou bydrae, wat jy voel positief en gemik op `n debat is, word onderdruk.

Eish ·

Stem. Drie keer gepoog om kommentaar te lewer op die artikel sonder sukses.

Casper Labuschagne ·

Die meeste media duld hoegenaamd nie meer enige kommentaar op hul berigte nie. Vir daardie rede keer ek weer terug na ‘n blog op die Internet waar ek self kommentaar kan lewer op berigte en waar wat ek skryf nie net in die niet in verdwyn tussen 90 ander kommentare nie. Komende beperkings op die Internet asook die voorgestelde wet genoem in hierdie berig sal maak dat geen nuusdiens meer kommentaar toelaat nie. Gelukkig is die Internet ontwerk om vanself enige pogin om dit te sensureer reg te stel. Maar daar is gerugte dat die infrastruktuur reeds in plek is om ‘n blanko muur (soos wat in Sjina van toepassing is) tussen SA en die groter Internet te kan plaas.

Casper Labuschagne ·

@Eish, Stem, ek het vandag ook verskeie kommentare wat in die niet in verdwyn het. Kom ek laat dit daar anders verdwyn die een ook.

Paul ·

Eish, jy moet darem onthou dit is hul webwerf en nie joune nie. Eintlik behoort hulle mens te beperk tot een kommentaar onderaan ‘n artikel. Ek lees by tye meer vir jou as hulle, dalk is hulle jaloers op jou ….. hehehehe …..

Eie wette ·

Selektiewe vervolging van ons gaan net erger raak, en daarom moet ons in gesprek tree met die regering en internasionale gemeenskap vir selfbeskikking waar ons beheer het oor ons eie, nie-diskriminerende wette.

Casper Labuschagne ·

Dit is nie toevallig is dat so baie goed nou almal saamval nie, die regerende party en sy kommunisteparty vennote het langtermynplanne vir die realisering van ‘n sosialistiese staat wat nou in werking kom. Die dag het aangebreek om die wit minderheid van hul welvaart te ontneem ten gunste van die meerderheid. Gevolglik moet maatreëls om sensuur toe te pas ook in plek wees. Om “oormatig doemprofeties” hieroor te wees is dalk net ‘n graad van realisme.

GAB ·

Kom ek stel dit so, lees ons nie nou tipiese kommunisme beheer in die saak nie?

Casper Labuschagne ·

@GAB, nee, dit is nie hoe hulle dit stel nie, maar ek vermoed albei van ons weet van beter. En as hierdie wet, plus die komende wet op haatspraak en dalk vorentoe nog ander wette, in werking is, dan kan persone in uniform dalk eendag die voordeur in die vroeë oggendure kom afskop en vir jou of vir my wegneem vir ‘n baie lang tyd en skielik vind ons dat ons geen manier het om dit aan ander te vertel nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.