Die wig en die wrok van standbeeldhelde

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria. Foto: Argief.

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria. Foto: Argief.

Deur Liza-Mari Oberholzer*

“We must guard jealously all we have inherited from a long past, all we are capable of creating in a trying present, and all we are determined to preserve in a foreseeable future. Art is the imperishable and dynamic expression of these aims. It is, and always has been, the visible evidence of the activity of free minds …”
― Robert M. EdselThe Monuments Men: Allied Heroes, Nazi Thieves, and The Greatest Treasure Hunt in History

Baie mense is vertroud met die film Monuments Men wat in 2014 verskyn het. In dié film probeer ʼn handjievol mans en vroue die erfenis van Europa bewaar teen die Nazi-oormag. Sommige van hul tydgenote het gevoel hulle is besig met ʼn sinnelose taak. Waarom die kunswerk van die verlede probeer beskerm terwyl ʼn Nazi-oormag mense voor die voet wil uitwis? Die film se boodskap is eerder dat erfenis die identiteit van ʼn nasie verteenwoordig en die vernietiging daarvan die moreel van ʼn geslag kan afbreek.

Hierdie einste debat word vandag in Suid-Afrika gevoer. Die aanslag op ons geskiedenis en erfenis is oorweldigend. Elke Suid-Afrikaner se erfenis is ʼn onskeibare deel van sy identiteit, of jy jou identiteit toe-eien of nie. Elkeen het die volle reg om self te kies watter deel daarvan gevier word. Elke gemeenskap aanvaar daarom verantwoordelikheid vir hul eie nalatenskap en dus kan gemeenskappe nie vir mekaar voorskryf wat onthou moet word en wat nie. Elke persoon is die produk van sy voorgeslag, die produk van mense soos Louis Botha, Jan Hofmeyr en Jan van Riebeeck.

Jan van Riebeeck was nie ʼn gronddief nie. Hy het eerder die sooi gespit van ʼn moderne Suid-Afrika as die grondlegger van ʼn Westerse ekonomie, ʼn Christelike gemeenskap, moderne gesondheidsorg, Westerse boukuns, landbou, wynbou en dies meer.  In 1655 laat hy mielies en wingerd vir die eerste keer in die Kaap plant en teen 1656 het die Kompanjietuine kool, wortels, beet, radyse en waatlemoene gelewer asook verskeie ander vrugte en gewasse. Hy het letterlik die saadjie geplant vir moderne landbou.

In 1652 rig Van Riebeeck die eerste hospitaal en kerk aan die Fort de Goede Hoop op en vestig Westerse mediese sorg en die kerk in Suid-Afrika. Behoort ʼn man wat so ’n beduidende rol in die vestiging van ʼn moderne Suid-Afrika gespeel het, uitgejou word as ʼn dief of ʼn verkragter? Dít nogal nieteenstaande die feit dat hy al dié dinge bereik het in ʼn tien jaar lange termyn terwyl huidige politici in een en twintig jaar van demokrasie sukkel om die bestaande infrastruktuur in stand te hou.

Jan Hofmeyr was nie ʼn imperialis nie. Inteendeel, Hofmeyr was een van die eerste stryders teen Britse imperialisme. Hy het ʼn beduidende rol gespeel in die stigting van Nederlandse media, Nederlandse taalorganisasies en ʼn pro-Nederlandse party. Die Taalbond, Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal en Kuns, die Afrikanerbond en die Afrikaanse media se fondamente is gelê deur Hofmeyr. Dít in ʼn tyd toe Engels die enigste amptelike taal in die Kaapkolonie was. Dit was Hofmeyr wat die stryd om Nederlands as amptelike taal te aanvaar gelei het, en daarin geslaag het. In 1909, op ʼn gevorderde ouderdom, gaan Hofmeyr ook na Londen as verteenwoordiger van die wetsontwerp wat die volgende jaar Natal, die Kaapkolonie, en die twee voormalige Boererepublieke tot een land verenig het.

Die EFF-leier, Julius Malema, het in die parlement gesê Louis Botha is nie ʼn held nie maar eerder ʼn kolonialis wat swart mense weerhou het van enige mag binne hul eie land. Wat van die feit dat Botha in 1884 onder leiding van Lucas Meyer op ekspedisie gegaan het om die hoofkaptein van Zoeloeland, Dinzulu, op sy troon te herstel? Botha was veel eerder ʼn man wat swart gemeenskappe gehelp het om mag binne hul eie grondgebied toe te pas. Malema vergeet ook dat Botha wel ʼn held was vir Afrikaners in Suid-Afrika.

Die maatstaf waarvolgens bepaal word of iemand ʼn held is, kan nie gemeet word op grond van jou eie oogpunt nie, maar slegs uit dié van die gemeenskap aan wie daardie geskiedenis behoort. Om die geskiedenis van ʼn minderheidsgroep in Suid-Afrika te ontken, gaan dit nie uit ons erfenis uitvee nie. Die einste stempel van geweld en vandalisme van Malema gaan opgeskryf word in die geskiedenisboeke van Suid-Afrika, en daardie vernietigende gesindheid word weer deel van die geskiedenis van sy nageslag. Deur iemand anders se erfenis te vernietig, vernietig jy ook jóú verhaal, jóú erfenis en jóú menswaardigheid wat vir geslagte onthou sal word. In hierdie stadium is die EFF se enigste erfenis een van vandalisme, weerwraak en wetteloosheid.

Laastens het oom Paul al ʼn tweede keer deurgeloop onder dié vernietigende gees nadat sy standbeeld die afgelope Saterdag weer geskend is. Volgens die EFF-spreekbuis, Mbuyiseni Ndlozi, moet die standbeeld van Paul Kruger summier verwyder word en met ʼn ander standbeeld vervang word. Nieteenstaande die feit dat oom Paul een van die mees gesiene leiers van Suid-Afrika en self ʼn stryder teen imperialisme was.

Indien daar een persoon is wat ywerig geveg het teen imperialisme was dit sekerlik Paul Kruger. As kind van die Groot Trek, trek hy en sy familie weg onder Britse oorheersing en vorm deel van die vestiging van ʼn onafhanklike republiek. ’n Mens kan selfs aanvoer dit is juis as gevolg van oom Paul se erge anti-imperialistiese gevoelens dat die buitelanderkwessie só ’n groot probleem was voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog.

Niemand noem ook die feit dat oom Paul gelief was onder baie swart mense tydens sy leeftyd nie. Vandag nog leef daar ʼn groep mense wat hulle swart Afrikaners noem op grond wat Paul Kruger vir hulle gegee het. Die klein gemeenskappie van Onverwacht, ʼn nedersetting duskant Cullinan, leef steeds op grond wat Kruger aan hulle gegee het. Ook die Royal Bafokeng-stam het hul grondgebied by Paul Kruger ontvang en is die rykste stam in Suid-Afrika (sekere bronne meen hulle is die rykste stam ter wêreld). Met naamveranderings as een van die spilpunte van debat in Suid-Afrika behoort die naam Mamelodi, wat na Paul Kruger vernoem is, ook aangespreek te word.

Om mense in ons geskiedenis te ontken en hul monumente te vernietig gaan nie die nalatenskap van die standbeeldhelde verander nie, maar kan dalk wel die wig vergroot en die wrok verhard. Ons behoort eerder dankbaar te wees vir dinamiese en sterk leiers in ons geskiedenis. Wat sou ons land gewees het sonder mense soos Van Riebeeck, Hofmeyr, Botha en Kruger? En as ons na die toekoms kyk, wat gaan van ons nalatenskap gesê word? Dat Suid-Afrika tot ʼn puinhoop vernietig is tot die voordeel van niemand! Watter baat vind enigeen van ons om die ander in die grond in te vertrap? Ons behoort eerder nuwe monumente op te rig en erfenis en wedersydse erkenning uit te bou. Ons moet ʼn beter toekoms eerder as ʼn beter verlede bou. En dié een wat daardie beginsel volg, sal miskien self in die toekoms op ʼn standbeeld pryk.

*Liza-Mari Oberholzer is ʼn geskiedkundige en vryskutjoernalis. Sy het ʼn meestersgraad aan die Universiteit van Johannesburg en spesialiseer in geskiedskrywe oor die Anglo-Boereoorlog en die vroeë 18de-eeuse Kaap. Sy is ook die skrywer van die aanlyn rubriek “Anonymous history”.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Paul ·

“Die maatstaf waarvolgens bepaal word of iemand ʼn held is, kan nie gemeet word op grond van jou eie oogpunt nie, maar slegs uit dié van die gemeenskap aan wie daardie geskiedenis behoort.”

Wie besluit aan wie ‘n sekere geskiedenisfiguur “behoort”? Is dit onmoontlik dat dieselfde figuur vir twee verskillende groepe twee verskillende dinge kan simboliseer?
Vir talle Engelse simboliseer Oliver Cromwell ‘n vooruitstrewende republikein wat die juk van die monargie van die Engelse afgegooi het. Terselfdertyd verteenwoordig Cromwell vir die mense van Ierland die boosheid vanself, aangesien sy New Model Army die Iere verdelg het en hul kerke en kastele opgeblaas en afgebrand het. Aan wie behoort Cromwell egter?

Die huidige beskadiging van standbeelde gaan geensins oor die spesifieke persone wat deur die standbeelde uitgebeeld word nie (wat die “intellektuele” lede van die RhodesMustFall-beweging ook al mag sê), maar eerder daaroor dat die standbeelde wit mense verteenwoordig en diegene wat wit mense haat, sien dit as ‘n uitlaatklep vir dié haat.

Leon ·

Liza-marie,dankie vir jou insigewende berrig. Ek is die opsigter by die Old Fort in Durban en die predekant van die Wêreld bekende Old Fort Chapel. Het jy die geskiedenis van die plek? Dink jy dit kan n teiken wees vir die Eff?
Dankie byvoorbaat

Francois Griebenow ·

Baie bly dat jy Onze Jan se bydrae uitlig. Hy was ‘n merkwaardige mens.

Martha ·

Baie dankie vir ‘n baie insiggewende artikel. Ek leer nou meer van ons blankes se geskiedenis as wat ek op skool daarvan geleer het. Ek wens dat dit vir die hele Suid-Afrika gelees kan word, want is onbekend nie onbemind nie. So baie Suid-Afrikaners is nie vertroud met mekaar se geskiedenis nie. Wat weet ek bv van die swartmense wat werklik iets vir Suid-Afrika beteken het. Ek is onkundig op die gebied, maar sal nie daarom iets vernietig van ‘n ander kultuur net omdat ek onkundig is nie.

Victor ·

Dankie Liza-Mari.
Die oplossing tot hierdie probleem is en bly ordentelike onderwys, opleiding en opvoeding op alle vlakke: Van voorskool tot na Universiteit. Na 1994 is die geskiedenisboeke ook verander mbt wat kinders op skool kan en mag leer. Indien jy iets nie weet nie, het jy waarskynlik minder respek daarvoor, en as jy nog ‘n onongeligte revolusionere persoonlikheid is, verag jy die verlede van jou oposisie.
Die hele debakel mbt die Rhodes monument is buite verband geruk aangesien dit kwansuis “transformasie” verteenwoordig. Die universiteitsraad het toegelaat dat die stert die hond begin swaai…..die persoon wat die debakel ontketen het, is nie eens ‘n student nie, en het ook geen verbintenis met UK nie. Hierdie is net nog ‘n poging deur die ANC en verwante groepe om spanning te veroorsaak tussen sosiale en politieke groepe. Dit is “transformasie” in die verkeerde rigting. Het enige van die sg transformasieprosesse gewerk in SA na 1994? : Nee! Kyk na die SAP, SAW, Eskom, onderwysdepartement, provinsiale hospitale, plaaslike regerings en munisipaliteit ens, wat deur “transformeerders” bestuur word! Dit is chaos. Vir die mense beteken dit om geletterde en vindingryke mense te verplaas met anderkleuriges wat hul werk nie verstaan nie, en dan “konsultante” aanstel teen hoe koste en wat ewe treurig is!…..So, die oplossing is behoorlike onderrig en opleiding aan al ons kinders op skool en aan universiteite, mbt ware geskiedenis, hoe standard wetenskap en wiskunde en kuns & kultuur.

Frik Lotz ·

Die EFF wil net afbreek en vernietig. Hulle is n ondemokratiese gepeupel wat die demokrasie misbruik vir eie gewin en uiteindelik wil hul demokrasie self vernietig. Ons as Afrikaners moet sterk staan en ons nie laat intimideer nie. Ons moet opstaan vir ons erfenis!

Martin ·

Frik, ek stem saam met jou dat ons nie ons moet laat intimideer nie! My erfenis as ‘n Afrikaner is net so belangrik soos Malema se erfenis vir hom is (altans ek glo sy erfenis is vir hom belangrik…) maar tog “verdruk” hy my erfenis (daar is mos so ‘n voorliefde vir daardie woord in hierdie land). Ons voorvaders het ook gehelp om hierdie land te vorm. Ons voorvaders het ook geveg en bloed gegee vir dit wat hulle glo net soos die “struglers” tydens Apartheid. Die Afrikaner is al vir baie lank verdeel en dit is as gevolg van hierdie verdeeldheid dat ons taal, herkoms en kultuur die gevaar loop om stadig maar seker te verdwyn. Die sleutel lê by ons jeug. Leer hulle waar hulle vandaan kom sodat hulle ‘n identiteit kan behou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.