Die winde van verandering waai in Brasilië

Die regsgesinde kandidaat, Jair Bolsonaro, het beslissend gewen met 56% van die stemme  in die Brasiliaanse presidentsverkiesing. Foto: Jair Messias Bolsonaro/Facebook.com

In die tweede ronde van die Brasiliaanse presidentsverkiesing was die keuse tussen duidelik links en duidelik regs. Die regsgesinde kandidaat, Jair Bolsonaro, het beslissend gewen met 56%, teenoor die kandidaat van die sosialistiese Arbeidersparty, Fernando Haddad, met 44%. In die eerste ronde op 6 Oktober het mnr. Bolsonaro 46% gekry en mnr. Haddad 29%.

Brasilië het meer as 200 miljoen inwoners van ʼn baie diverse afkoms. Net minder as die helfte is van een of ander vorm van Europese, meesal Portugese afkoms, 43% is van gemengde afkoms (mengsel tussen wit, swart en ʼn bietjie Indiaan) en sowat 7% is swart, nakomelinge van slawe uit Afrika wat op die suikerrietplantasies moes werk. Anders as in Suid-Afrika is rasvermenging en multikulturalisme nog altyd deel van Brasilië, maar daar is tog ʼn sekere ooreenkoms tussen inkomste en rasgroep. Die middelklas en die digter bevolkte en welvarende state in die Suide rondom die groot stede Sao Paolo en Rio de Janeiro is Bolsonaro se hartland, terwyl Haddad se steun veral sterk is in die arm Noordweste, wat by die Arbeidersparty se welsynsbeleid gebaat het.

Bolsonaro se segetog word telkens in die media vergelyk met die oorwinning van Donald Trump in 2016. Hier het iemand gewen wat eintlik, volgens die media, nie mag wen nie omdat sy sienings te ekstreem en sy uitsprake te ongepoets is. Die oorwinning van Bolsonaro beteken egter nie dat die meerderheid Brasiliane nou oornag “verregse ekstremiste” geword het nie, maar dat hulle ná 13 jaar van die Arbeidersparty-bewind en al die probleme wat daardeur veroorsaak of vererger is, eenvoudig ʼn duidelike verandering soek. Trump se verkiesing sou waarskynlik ook nie moontlik gewees het sonder 8 jaar van Obama nie.

Brasilië het dringende probleme en die nuwe president het sy werk vir hom uitgeknip: eerstens is daar onbeheerde misdaad, veral geweldsmisdaad wat verband hou met bendes. Die moordsyfer is met meer as 63 000 moorde per jaar skrikwekkend hoog (maar gemeet aan die bevolking, nog steeds laer as in Suid-Afrika). In dele van die stede het die polisie die beheer verloor en vir die Arbeidersparty was veiligheid nie ʼn prioriteit nie. Bolsonaro het sterk op veiligheid gefokus en wil die magte van die polisie uitbrei, die weermag betrek by misdaadbekamping, wettige besit van vuurwapens vergemaklik en hy oorweeg selfs die herinstelling van die doodstraf.

Tweedens is daar die oorlopende korrupsie. Al twee presidente van die Arbeidersparty, Luis Ignacio da Silva en Dilma Rousseff, was korrup. Da Silva is in die tronk en Rousseff is uit haar pos onthef en in ʼn staat van beskuldiging geplaas. Die korrupsienetwerke verlam die ekonomie en die samelewing en dit is ʼn groot taak om dit uit te roei. Ook ander partye, behalwe die Arbeidersparty, word betrek by korrupsie (ook die uittredende president Michel Temer), en die bevolking soek nuwe, onbesmette leiers wat opruim. Bolsonaro is een van die min politici wat skoon hande het en daarom vertrou mense hom om die saak van korrupsie doeltreffend te hanteer.

Derdens is die ekonomie in ʼn swak toestand. Da Silva se bewind (2002-2010) het in die tyd van die sterk oplewing van kommoditeitspryse geval, wat opgemaak het vir die swak ekonomiese beleid van die Arbeidersparty (soortgelyk aan Suid-Afrika in daardie tyd). Die kommoditeitssiklus is egter nou op ʼn einde en die realiteit van jare se swak beleid en oormatige welsynsbesteding, skop nou in. Bolsonaro glo aan ʼn liberale ekonomiese en fiskale beleid wat heelwat parallelle met Trump se beleid toon en sy ekonomiese raadgewers is Amerikaanse liberale ekonome. Brasilië is ʼn reuseland met geweldige ekonomiese potensiaal wat met die regte beleid ontsluit kan word.

Vierdens is morele verval ʼn ernstige probleem. Korrupsie, geweldsmisdaad, dwelms, promiskuïteit, seksuele geweld, ensovoorts, is maar net simptome van ʼn samelewing wat geen rigting en leiding meer het nie. Ook dít het mense tot Bolsonaro aangetrek omdat hy uitgesproke is oor sy Christelike geloof en oortuigings en die bevordering van morele waardes beklemtoon. ʼn Verwerping van die LGTB-agenda (lesbies, gay, transgender en biseksueel) en van aborsie en ʼn fokus op die tradisionele gesin, het goed afgegaan in ʼn land waar daar vir dekades al ʼn sterk evangeliese herlewing te bespeur is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ampie ·

Sterkte vir Bolsonaro. Na dekades van linkse beheer om ‘n groot land soos Brasilie uit die moeras te kry, sal sekerlik moeilik wees. Jammer ons kry nie in SA ook iemand (dalk soos Lekota) om positiewe veranderinge te maak nie. Nietemin belangrike storie in terme van internasionale politiek.

Rautenbach ·

Waar is Brics kamstig…o ja net China en Rusland wat baat…

humor ·

In ons SA waar dit maar rof gaan is hierdie nuus n verfrissende briesie. Dit dra die boodskap n ommeswaai is tog nie onmoontlik nie. So komaan ons veg voort.

Liberalis ·

Waarookal ons linkses in beheer is vind daar ekonomiese en morele verval plaas, ja ek erken dit, maar ons mag dit nie sê nie want dis nie polities korrek nie.

Dries du Toit ·

Jy klink soos n Liberalis wat die lig gesien het. Vat so

Sarie ·

Die beste artikel oor hierdie verkiesing. Nie net ‘n spoeg en plek van CNN se idees nie.

Therese ·

Sarie, ek móét net my stem by joune voeg.
Altyd ‘n fees om Sebastiaan Biehl se menings in Maroela te lees. Régtig onafhanklike menings.

Anita Venter ·

Wat jy vergeet om te noem in die artikel is dat Bolsonaro beplan om groot dele van die amazone uit te kap om plek te maak vir grootskaalse landbou. Effektief, met die nuwe verdoemende klimaat verslag, beteken dit die einde van mensdom soos ons dit ken. Internasionale wetgewing word gesystap en sodoende stuur die wereld af op die derde wereld oorlog.

Kryger ·

@Anita – Moet nie alles glo wat die false Media vir jou se nie;
Eerstens is die “longe” van die aarde nie die Amasone soos ons altyd vertel was nie – dis eintlik die plante in die see, wat natuurlik baie meer is as op droe grond.
Tweedens gaan landbou oor plante (van bome to groente) verbou… Dus word plante met plante vervang.
Derdens is CO2 goed vir plante, dis immers wat hulle nodig het om te floreer. So as daar meer in die lug is, floreer plante. Daar is alreeds bewyse dat van die wereld se woestyne begin krimp.
Nie seker hoe dit ‘n derde wereld oorlog gaan veroorsaak nie – klink vir my na ‘n groot denk fout sonder enige sinvolle verduideliking?

Anita ·

@Kryger doen maar jou eie lees werk. Google IPCC landmark report, October 2018. Maar nou ja, verduidelik maar een dag vir jou eie kinders dat jy 90 top klas wetenskaplikes se feite van 6000 akademiese artikels as fiksie aanhaal

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.