Die winde van verandering waai weer wêreldwyd

Suid-Tirool

Suid-Tirool

Daar word vertel dat ’n Amerikaanse vlieënier in die tagtigerjare net ná sy landing in Johannesburg sy passasiers aangeraai het om hulle horlosies 20 jaar terug te stel – omdat Suid-Afrika in die verlede vasgesteek het! Hierdie storie het by my opgekom toe ek onlangs teruggekeer het van ’n studietoer na Europa. Ek het gaan ondersoek instel wat die jongste ontwikkelings is vir die beskerming van taal- en kultuurgroepe in die wêreld. Helaas, Suid-Afrika is weer agter, want die wêreld het aan beweeg. Net voor die aanvaarding van ons finale grondwet in 1996, het Europa in 1995 die raamwerk-konvensie vir die beskerming van Europese nasionaliteite aangeneem. Dit het omvattende regte en magte aan minderheidsgroepe toegeken en die aanvaarding en nakoming daarvan is ’n voorwaarde vir toelating tot die Europese Unie.

Maar kom ons gaan ’n bietjie verder terug. Die destydse Britse premier Harold Macmillan het in 1960 sy opspraakwekkende wind-van-verandering-toespraak in die Suid-Afrikaanse parlement gehou. In hierdie toespraak het hy gesê dat daar onkeerbare winde van verandering oor Afrika waai, dat kolonialisme uitgedien is en dat Brittanje al sy kolonies gaan bevry. Hierdie beleidstoespraak is gevolg deur die toekenning van onafhanklikheid aan al Brittanje se kolonies, en die wêreld het gejuig oor die talle nuwe state wat hul vryheid gekry het.

Vry lande, onvrye bevolkings

Maar hierdie vreugde was van korte duur, want hoewel die lande hul vryheid gekry het, was die bevolkings nie vry nie. Dit het ná onafhanklikwording regoor Afrika gou duidelik geword dat bevrydingsbewegings nie soseer vír demokrasie geveg het nie, maar eintlik vir mág en sélfverryking. Martin Meredith, een van die gesaghebbendste skrywers oor Afrika, sê in sy nuwe boek, The Fortunes of Africa, dat die reeks staatsgrepe in Afrika mekaar so vinnig opgevolg het dat die post-onafhanklikheidsgeskiedenis in ’n waas verbygeflits het. In die eerste twee dekades van onafhanklikheid was daar sowat 40 suksesvolle staatsgrepe en talle ander onsuksesvolle pogings. Daar was nie een geval waar ’n Afrika-regering vreedsaam uitgestem is nie. Vanuit sowat 150 staatshoofde het net ses vrywillig die mag afgestaan, waarvan sommige eers ná dekades aan bewind. Uit ’n lys van 50 Afrikastate was feitlik almal eenpartystate of militêre diktatorskappe, terwyl in 32 state opposisiepartye onwettig was. Wanneer verkiesings gehou is, was dit bloot om die bewindhebber en sy party se mag te bevestig. In 150 verkiesings wat tussen 1960 en 1989 in 29 lande gehou is, is opposisiepartye nie toegelaat om ’n enkele setel te wen nie. Die gemiddelde leeftyd van ’n grondwet in Afrika is net tien jaar.

Bestaanskrisis

Flip Buys in Suid-Tirool

Flip Buys in Suid-Tirool

Die oorsaak van die mislukking van demokrasie in Afrika en ander multi-etniese lande is ten beste verwoord deur die Amerikaanse staatsman Henry Kissinger. Hy het gesê dat demokrasie in die Weste ontwikkel het uit homogene samelewings. Verkiesingsneerlae is tydelike terugslae wat weer omgekeer kan word, en die verloorders se fundamentele belange bly veilig. Maar Kissinger het gewaarsku dat demokrasie in multi-etniese lande gereeld tot permanente diskriminasie en die vernietiging van minderhede se fundamentele belange lei.

Die neiging dat meerderheidsregering in ’n etnies- of rasgebaseerde meerderheidsoorheersing oftewel ’n “tirannie van die meerderheid” ontwikkel, het tot gereelde geweld, staatsgrepe en afskeidingsbewegings in Afrika gelei. Minderheidsgroepe het hul teen meerderheidsoorheersing en die gevolglike bestaansbedreiging verset, en Afrika het in voortdurende politieke konflik en ekonomiese krisis beland.

Winde waai weer

Hierdie mislukkings het die winde van verandering weer oor die wêreld laat waai. Wenlande het besef dat vry lande met onderdrukte volke die dood in die demokratiese pot is. Daarom is politieke standaarde ontwikkel waar meerderheidsregering aangevul is deur minderheidsbeskerming. Die gebrekkige “1960”-model van demokrasie is vernuwe deur verskeie nuwe modelle in die internasionale reg en moderne staatspraktyk. Die VN het al in 1992 belangrike handveste vir die beskerming van minderhede ontwikkel, wat al verskeie kere verder ontwikkel en opgedateer is. Daarbenewens het talle ander wêreldliggame al standaarde ontwikkel, soos die Europese Unie en tot ’n mindere mate selfs die Afrika-Unie. Die bekendste voorbeelde van lande wat reeds omvattende gebieds- en nie-gebiedsgebaseerde minderheidsregte toepas is Spanje, Italië, Skotland, Finland, Denemarke, België, Switserland, Rusland, Portugal en Kanada.

Die probleem is dat hierdie nuwe standaarde vir demokrasie nie outomaties werklikheid word nie omdat meerderheidsgroepe graag vasklou aan hulle mag oor minderhede. Daar is ook soms praktiese struikelblokke, soos dat sommige minderhede verspreid woon of nie bewus is van die oplossings wat die wêreld reeds vir hulle dilemmas ontwikkel het nie. In Suid-Afrika is ons land se intellektuele  en politieke afsondering ’n belangrike rede waarom mense oor die algemeen nie daarvan bewus is dat die wiel reeds ontwerp is en goed werk nie. Maar in ’n geglobaliseerde wêreld sal die nuwe winde van verandering nie vir altyd teengestaan kan word nie. Suid-Afrika is immers ’n medeondertekenaar van talle internasionale handveste, en die internasionale reg is grondwetlik deel van ons reg. Dit sal egter nie help om vir die reg te wag nie, omdat ervaring al geleer het dat die reg veel eerder deur praktiese selfdoen-werklikhede geskep word as andersom. Hoewel Suid-Afrika nog ver agter die res van die wêreld is, bevat ons grondwet wel ruimtes wat as vertrekpunt vir verdere demokratisering kan dien. Die grondwet maak byvoorbeeld voorsiening vir die erkenning van  “taal- en kultuurgemeenskappe”, al word dit nie goed uitgespel nie.

Tien beste praktyke

Buys saam met verteenwoordigers van Verteenwoordigers van ander Afrikaner-organisasies in Suid-Tirool

Buys saam met verteenwoordigers van Verteenwoordigers van ander Afrikaner-organisasies in Suid-Tirool

Verteenwoordigers van tien Afrikaner-organisasies het onlangs Europa tydens ’n studietoer besoek, waaronder Solidariteit, AfriForum, die FAK, Radio Pretoria, Orania en sakelui. Daar is veral gefokus op die Duitse deelstaat Suid-Tirool in die noorde van Italië, omdat dit beskou word as een van die suksesvolste staatkundige projekte in Europa. Hoewel daar groot verskille tussen Europa en Suid-Afrika is, is daar wel verskeie lesse wat uit hierdie “beste praktyke” in die wêreld geleer kan word. Dit kan kortliks as volg opgesom word:

  1. Minderhede bestaan oral ter wêreld. Suid-Afrika is nie uniek nie;
  2. Minderhede word amptelik erken en die verontagsaming daarvan is ondemokraties;
  3. Minderhede en hul instellings soos skole, universiteite, tale en dorpe word beskerm;
  4. Hulle kry magte én regte om self te besluit oor die belangrikste sake wat hulle raak;
  5. Kulturele groepidentiteit soos “Afrikaner” is normaal en nie rassisties of regs nie;
  6. Die inwerkingstelling van groepregte geskied op inisiatief van die groep self, waarna dit deur regerings erken word;
  7. Individuele regte is nie genoeg om groepbelange te beskerm nie;
  8. Die prys van nasionale eenheid is ruimte vir verskeidenheid;
  9. Politieke vryheid sonder kulturele vryheid is betekenisloos, omdat minderhede wel stemreg het, maar weens hulle getalle nie “stemkrag” nie;
  10. Groepverhoudinge verbeter wanneer minderhede se belange veilig teen oorheersing is.
  11. Die Solidariteit Beweging se siening van “gemeenskapsfederalisme” as oplossing vir die politieke- en kulturele ongelykheid in SA is volledig in pas met die beste praktyke van wenlande.
  12. Hierdie wenlande het ’n soort “dubbele burgerskap”, waar mense gelyktydig burgers van ’n land en lid van ’n bepaalde kultuurgroep is. Hierdie “burgerskap” is aanvullend en nie botsend nie en die een is ’n voorwaarde vir die ander.

Inwerkingstelling

Dit is so dat die regering nie op die kort termyn Afrikaners se aansprake op minderheidsregte of gemeenskapsfederalisme sal erken nie. Daar is wel ruimtes in die grondwet wat ons kan gebruik, soos die magte van beheerliggame van skole of die rade van universiteite. Die belangrikste ruimte is egter die voorsiening vir taal- en kultuurgemeenskappe om self organisasies te stig om hulle belange te bevorder, soos wat die Solidariteit Beweging reeds met groot sukses doen. Daarom bly ons tweebeen-strategie in die kol: Ons moet net voortgaan om ons selfdoenaksies groter en vinniger te doen, terwyl ons waar nodig met die owerhede moet skakel om ooreenkomste oor knelpunte te sluit. Ons toekoms is immers te belangrik om net aan die regering oor te laat.

Kom ons stel ons horlosies dus op die internasionale tyd in en kom só in pas met die nuwe winde van verandering wat oor die wêreld waai.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
HEVW

Baie verkwikkende nuus. En hiermee ook alle waardering aan Sloidariteit, Afri Forum, FAK, Orania ens. Agressiewe bemarking is sonder ophou noodsaaklik. Veral ons kunstefeeste en die huidige onderwyssisteem asook Sarfu sal moet ernstig kennis neem. Onder volgehoue druk sal daar sekerlik weer n volksbesef ontwikkel, en wat die huidige regering betref onder volgehoue hamerslae gee selfs die hardste rots mee. Miskien sal daar n uiteindelike besef kom dat hul medeondertekenaars van die internasionale handves is en dat die internasionale reg deel van van ons reg is.

Theart Korsten

Baie indrukwekkende artikel. ‘n Paar vrae. Hoe, deur julself as Afrkaners af te sonder van die res van die land gaan julle ‘n voortbestaan maak? Moet almaal dan na een area to trek soos bv. Orania? Wat verhoed die meerderheid om nog steed almaal uit te wis as dit tot op daai punt kom? Deur julself af te sonder kan dit nie meer haat en afgunstigheid veroorsaak nie, Ek dink aan die Jode tydens die tweede wereld oorlog en basies hulle hele 5000 jaar lange geskiednis en selfs nou in die midde ooste? Ek wonder maar net of integrasie oor… Lees meer »

Pieter van Rooyen

Dis nou maar een ding van die Afrikanerdom moet altyd kommentaar lewer wat negatief is sonder om mooi te lees wat daar voorgehou word. Het seker maar swaar gekry om sy begripstoets te slaag. Dit is die eerste artikel in ‘n lang tyd wat ek gelees het wat vir my as Afrikaner inlig dat daar wel internasionaal voorsiening gemaak is om oor my en my kinders en my kleinkinders sê toekoms te kan besluit, gebaseer op ons geloof en kultuur, en dat dit internasionaal erken word. Om egter vir die DA te stem gaan nie vir my oor of hulle… Lees meer »

Theo

Dit wat aan ander volkere gegun word is al wat nodig is vir elkere volk in SA – “Traditional leaders are the custodians of culture, customs and tradition.” Zuma told the new king to look after the Xhosa nation. “Usiphathe kahle isizwe samaXhosa,” said Zuma in isiXhosa. “You must grow as big as the mountain and you must look after your nation. This day will be marked in history. And as we continue to work together, we are here to rebuild the nation.” News24 2015-05-15 18:08

Jannie Nell

Eerstens wil ek Flip bedank, sommer ook namens elke blanke AfrIkaner. Pieter ek wil jou aanhaling bevestig ” EENDRAGT MAAKT MAGT ” Dit is iets wat ons nooit durf vergeet nie. Kyk maar net na die bewyse wat ons mede landsburgers vermag deur hulle unies, optogte en stakings. Ons behoort hieruit te sien wat dit beteken om saam te staan. Ons mag ook NOOIT die gelofte wat ons voorvaders op 16 Desember gemaak het, vergeet nie. Laastens maar die heel belangrikste, ons mag nooit vergeet om te glo in ons HEILIGE VADER, ONS VERLOSSER EN DIE HEILIGE GEES NIE. Theo… Lees meer »