Die wisselkoers hou nie van korrupsie nie

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

Deur dr. Roelof Botha – ekonomiese raadgewer: PWC

ʼn Ontleding van die vertoning van die rand teenoor die Amerikaanse dollar in 2016 vertel ʼn interessante storie oor die valutamarkte se gesindheid teenoor die Suid-Afrikaanse regering.

Dit is hieruit duidelik dat enige aanslag op die onafhanklikheid van die land se nasionale tesourie bykans dadelik tot ʼn swakker wisselkoers lei. ʼn Voorbeeld hiervan is die daling van byna 10% in die rand se waarde wat op die afdanking van Nhlanhla Nene in Desember verlede jaar gevolg het.

Wanneer die ANC-kamp wat korrupsie wil beveg en ekonomiese stabiliteit wil probeer handhaaf egter nou en dan die oorhand kry, gebeur die teenoorgestelde, naamlik ʼn verstewiging van die rand. Toe Pravin Gordhan kort ná die Nene-debakel heraangestel is as minister van finansies, het die rand vinnig met meer as 6% versterk.

Toe die ANC in Augustus in die munisipale verkiesings ʼn bloedneus gekry het, met heelwat minder steun as tydens enige vorige verkiesing en die verlies aan beheer oor drie metrorade, het die rand met meer as 11% verstewig.

Dit is duidelik dat al meer Suid-Afrikaanse kiesers ʼn wrewel het in die voorkoms van korrupsie en swak dienslewering en die ANC-leierskap in die algemeen hiervoor verkwalik.

Kort hierna het die konflik tussen die groep in die ANC wat skynbaar voordeel uit staatskaping trek en Gordhan toegeneem en is die minister van finansies van bedrog aangekla. Die rand daal weer skerp. Toe die klag teen hom teruggetrek word, styg die rand met meer as 6%.

Ná die onlangse bevindings van die voormalige openbare beskermer en die ouditeur-generaal is alle twyfel rondom die voorkoms in Suid-Afrika van gedeeltelike staatskaping deur ʼn groep politieke leiers in die ANC en hulle sakevennote uit die weg geruim.

Só ʼn situasie kan met interne ekonomiese sabotasie vergelyk word en dit is nie bevorderlik vir beleggersvertroue en produktiwiteit nie.

Gegewe die land se benarde fiskale posisie, waarin uitgawebeheer streng toegepas moet word en belastinginkomste weens lae groei onder druk verkeer, kan Suid-Afrika allermins die ondoeltreffende en soms korrupte bestuur in verskeie vertakkings van die openbare sektor bekostig.

Verskeie ANC-leiers en kabinetslede hou aan om ongerymdhede met die toekenning van tenders te verbloem met gereelde verwysing na die sogenaamde “noodsaaklikheid” van ekonomiese transformasie. Laasgenoemde begrip, saam met swart ekonomiese bemagtiging, is die sluiers waaragter nepotisme en korrupsie skuil en wat tot die effektiewe bankrotskap van meer as die helfte van die land se plaaslike regerings gelei het.

Tensy die nuut-aangestelde openbare beskermer haarself daarvoor beywer om die agtergrond vir die reuse-bedrae van onbehoorlike uitgawes by sommige staatsdepartemente, provinsies en ander staatsinstellings spoedeisend en behoorlik te ondersoek, gaan die rand aanhou wipplank ry en sal Suid-Afrika sukkel om die ekonomie weer behoorlik aan die gang te kry.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AL ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die ANC so ruggraatloos is oor korrupsie en vrugtelose uitgawes. Maar dis mos nie ‘hul’ geld wat vermors word nie …. As hul self swaarkry sou hul anders opgetree het ..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.