Die Xhosa-beesslagting van 1856-57

Deur Jackie Grobler

Die grootste mensgemaakte ramp in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat nie met openlike oorlogvoering in verband gestaan het nie, was sekerlik die Xhosa-beesslagting van die 1850’s. Dit was inderdaad, as die verlies van menselewens alleen as maatstaf gebruik word, bykans net so verwoestend as die Spaanse Griep van 1918. Daar was egter een groot verskil, naamlik dat die beesslagting vir die slagoffers daarvan ook ʼn vernietigende ekonomiese ramp was wat hulle tradisionele gemeenskapstruktuur binne enkele jare onherroeplik verpletter het.

Historici aanvaar dat sowat 40 000 Xhosas as gevolg van die beesslagting ʼn hongerdood gesterf het. Dit is sowat 25% meer as die sterfgevalle in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog. Tog is daar maar min Suid-Afrikaners wat kennis dra van wat tydens die slagting gebeur het. Die meeste mense is salig onbewus daarvan dat daar ooit so ʼn tragedie was.

Die profesieë

Die presiese verloop van gebeure is moeilik om te probeer rekonstrueer, maar dit kom op die volgende neer: Een oggend in April of Mei 1856, met ander woorde 165 jaar gelede, het twee Xhosa-meisies, die 15-jarige Nongqawuse en ʼn niggie van haar, hulle in die veld ʼn entjie van hulle woonplek langs die loop van die Gxarharivier bevind. Daardie gebied is digby die Wildekus, ʼn entjie oos van die Keirivier.

Skielik het daar twee mans wat vir Nongqawuse heel vreemd gelyk het – anders as enige mense wat sy al ooit gesien het – by hulle gestaan. Daardie mans het aan haar gesê dat die Xhosa-mense hulle beeste moes doodmaak. Daarbenewens moes hulle hul oeste vernietig en niks plant nie. Hulle moes met ander woorde die bron van hul rykdom sowel as hul voedsel verwoes. Voorts moes hulle nuwe graanputte grawe, nuwe huise bou, nuwe beeskrale wat nie besmet was nie oprig, nuwe melksakke maak en van toordery, bloedskande en owerspel afsien. Indien hulle dit sou doen, sou die volgende gebeur: die gestorwenes sou uit die dood opstaan, die Xhosas se graanputte sou met nuwe graan gevul word, en hulle krale sou met nuwe, mooi en gesonde beeste gevul word. Bowendien sou die voorvadergeeste die Britse setlaars in die see in wegdryf.

Nongqawuse was ʼn weesmeisie wat in die huis van haar oom, Mhlakaza, opgegroei het. Sy het dadelik vir hom gaan vertel wat hulle gesien en gehoor het. Aangesien hy as ʼn siener bekend was en volgens sommige bronne as ʼn raadgewer van die opperhoof Sarhili kaHintsa (Kreli) gedien het, het hy hoë aansien in die gemeenskap geniet. Hy het self na die plek gegaan waar die vreemdelinge aan sy niggie verskyn het. Hulle was weer daar. Tot Mhlakaza se verbasing was sy een broer, wat jare tevore gesterf het, saam met hulle.

Die vreemdelinge het Mhlakaza meegedeel dat hulle Russe is, asook aartsvyande van die Britte. (Brittanje en Rusland was juis destyds in die Krimoorlog teen mekaar aan die veg.) Hulle was van slagvelde oor die verre oseane afkomstig. Nou het hulle hul onoorwinlike kragte kom aanbied om die Xhosas te help om die wit mense uit die land weg te dryf. Mhlakaza moes as tussenganger tussen hulle en die hoofmanne optree. Hy moes hulle opdragte, soos wat dit aan Nongqawuse oorgedra is, aan die hoofmanne oordra. Dit sou vir die Xhosas na onlogiese opdragte klink, maar hulle sou dit moes uitvoer ten einde die beloofde hulp te kon ontvang. Die eerste opdrag, het hulle herhaal, was dat die Xhosas hulle vetste beeste moes slag en opeet en van alle vorms van toordery moes afsien.

Opperhoof Sarhili was skynbaar verheug toe hy oor hierdie boodskap ingelig is. Dit is onmoontlik om te bepaal of hy werklik geglo het dat dit alles kon gebeur. Feit is dat hy dadelik boodskappers na die hoofmanne wes van die Keirivier gestuur het om hulle oor die opdragte van die voorvaders in te lig. Daarbenewens het hy opdrag gegee dat daardie opdragte nougeset gehoorsaam moes word.

Die konteks

Dit is van belang om kennis te neem van die konteks waarbinne hierdie gebeure plaasgevind het. Die Xhosa-gemeenskappe wat destyds in daardie gebied woonagtig was, was teen die 1850’s al vir meer as ʼn driekwarteeu lank in sporadiese botsings met die koloniale owerhede in die Kaap gewikkel. Tydens hierdie konflik het die koloniste meestal die oorhand oor die Xhosas gekry en is hulle mettertyd ooswaarts teruggedryf. Die laaste van hierdie oorloë voor die beesslagting was die Agtste Grensoorlog van 1850-53.

Die Britse koloniale owerhede het na afloop van daardie oorlog die hele Xhosagebied tussen die Keiskammarivier en die Keirivier geannekseer. Dit is Brits-Kaffrarië genoem. Dorpe/stede soos Oos-Londen, Bhisho en King William’s Town is in hierdie gebied geleë. Die Xhosa-hoofmanne se belangrikste magte is in die praktyk aan Britse koloniale amptenare, wat wit mense was, oorgedra. Die Xhosas moes eenvoudig daarmee verlief neem dat vreemdelinge nou oor hulle regeer het.

In hierdie selfde tyd het ʼn kwaai longsiekte-epidemie onder die Xhosas se beeste gemaai. Die longsiekte het skynbaar saam met ʼn troppie Friesbulle uit Europa uit hier aangekom en het ʼn ewe verwoestende impak op die beestroppe in die Kaapkolonie self gehad. Wat ʼn mens in gedagte moet hou, is dat beeste vir die Xhosas meer as net ʼn bron van voedsel was. Dit was vir hulle die primêre maatstaf en simbool van welvaart. Boonop was beeste die betaalmiddel in die lobolastelsel, met ander woorde waarmee ʼn Xhosa-man vir sy vrou betaal het. Sonder beeste was ʼn man verlore.

Die beesslagting

Die duidelikste aanduider van hoe desperaat die Xhosas destyds oor die toekoms van hulle gemeenskap gevoel het, was die bykans waansinnige ywer waarmee opperhoof Sarhili se opdragte uitgevoer is. Die eerste datum waarop die herrysenis van die voorvaders sou plaasvind, is op 11 Augustus 1856 vasgestel. Toe daar niks gebeur nie, is diegene wat nie hulle beeste doodgemaak het nie vir die voorvaders se klaarblyklike besluit om eers te wag, geblameer.

Die beesslagting is hierna met hernieude gejaagdheid aangepak. Van toe af was nie net die Gcaleka, Sarhili se stam, betrokke nie, maar het dit die hele Xhosa-nasie geraak. Historici skat dat die Gcaleka tussen 300 000 en 400 000 beeste doodgemaak het.

Daar was nogtans deurentyd Xhosas, hoofmanne inkluis, wat nie Nongqawuse se profesieë geglo het nie, of minstens erg skepties was daaroor. ʼn Klein minderheid het selfs geweier om hulle oeste te vernietig en hulle beeste te slag. In talle gevalle is hulle fisies gedwing om dit wel te doen. Dié wat geglo het, het op sommige plekke die landerye van dié wat nie geglo het nie bestorm en vertrap. In enkele gevalle is hulle woonplekke aangeval. Jeff Peires, bekende historikus van die beesslagting wat op sy dag ʼn ANC-parlementslid was, vertel dat daar selfs mense doodgemaak is en hulle beeste weggevoer is omdat hulle dit nie wou slag nie.

Opperhoof Sarhili het hierop die monding van die Gxarharivier besoek en met Nongqawuse en Mhlakaza gaan praat. Toe hy terugkom, het hy aangekondig dat die Nuwe Wêreld oor agt dae sou begin. Op die agtste dag, 18 Februarie 1857, sou die son bloedrooi opkom. Dan sou daar ‘n swaar donderstorm uitsak wat met ʼn woeste stormwind gepaard sou gaan, waarna “die dooies sou opstaan”.

Nongqawuse en Nonkosi

Gedurende die volgende agt dae het die beesslagting ʼn hoogtepunt bereik. Nongqawuse het intussen met haar profesieë volgehou. Nonkosi, nog ʼn jeugdige profetes, het soortgelyke voorspellings verkondig. Duisende Xhosas het die nag voor al die wondere sou plaasvind in gespanne opwinding deurgebring. Maar die son het gewoonweg opgekom. Van die voorspellings het uiteindelik niks waar geword nie. Die opofferings van die voorafgaande dae het niks positiefs opgelewer nie, maar eerder die rampspoed versnel.

Dit is vanselfsprekend dat die Britse koloniale owerhede oor die gebeure agterdogtig was. Hulle vermoede was dat opperhoof Sarhili die onrus aangeblaas het as ʼn rookskerm vir oorlogplanne teen hulle gesag. Militêre voorbereidings is selfs getref om ʼn inval van verhongerde Xhosas op soek na voedsel in die Kaapkolonie, wat op die plundering van plase en ʼn volskaalse oorlog kon uitloop, te kon stuit. Dit was egter spoedig duidelik dat hier geen komplot was om ʼn inval te loods nie. Die beesslagting was die resultaat van ʼn opregte oortuiging dat die opoffering wat dit behels het in die beste belang van die Xhosagemeenskap as geheel was.

Die uitkoms

Die uiteinde van die beesslagting en graanvernietiging was dat ʼn verwoestende hongersnood die Xhosas getref het. Teen die koms van die winter van 1857 was daar geen kos meer oor nie. Gevegte om voedsel het gevolg. Ouers het hulle eie kinders, en broers hulle eie broers, aangeval ten einde iets te ete te kry. Die melksakke wat van beesvel gemaak is, is opgesny en saam met boomwortels gekook ten einde ʼn soort sop te kon hê om die ergste honger te stil. Gevalle is bekend waar uitgebreide gesinne wat letterlik niks oorgehad het nie onder bome gaan sit en saam gesterf het. In enkele gevalle het verhongerdes selfs daartoe oorgegaan om die vleis van gestorwenes te kook en te eet.

Talle verhongerdes het op soek na kos na sendingstasies, militêre forte en koloniale dorpies gestroom. ʼn Inwoner van King William’s Town het destyds geskryf dat hulle gedoen het wat hulle met hulle eie beperkte voedselbronne kon om te help, maar daar het nogtans honderde mense in die dorpie se strate gesterf. Talle van die lyke is in ʼn massagraf in die begraafplaas in Edwardstraat begrawe, waar daar later ʼn monumentjie opgerig is om hulle te huldig.

Die koloniale owerhede het duisende van die verhongerde Xhosas oor plase versprei waar hulle voedsel en ʼn heenkome kon vind – maar in ruil moes hulle instem om plaaswerkers te word. Daar is destyds bereken dat die bevolking van Britse Kaffraria voor die slagting sowat 105 000 was en tot minder as 27 000 gedaal het. Volgens die meeste historici het sowat 40 000 mense weens die hongersnood gesterf.

Wat Nongqawuse se lot betref: Na die mislukking van haar profesieë het sy die skuld op haar volgelinge gepak omdat hulle nie haar voorskrifte stiptelik nagekom het nie. Hulle het later teen haar gedraai. Die hoofman van die Bomvana het haar aan die Britte uitgelewer. Sy het hierna vir ʼn ruk lank by die huis van majoor Gawler gebly. Dieselfde lot het die jeugdige profetes Nonkosi te beurt geval. Mevrou Gawler het eendag ʼn foto van hulle twee laat neem. Dit is sover bekend die enigste bestaande foto van Nongqawuse. Sy het later op ʼn plaas in die distrik Alexandrië in die Oos-Kaap gewoon, waar sy in 1898 oorlede is. Haar graf is in die begraafplaas op Alexandrië.

Raakpunte

Wanneer die Xhosa-beesslagting van 1856-57 met die huidige omstandighede in Suid-Afrika vergelyk word, is daar weinig ooreenkomste. Soos vandag was daar destyds ʼn epidemie wat elders begin en toe oor die see in Suid-Afrika aangekom het. Longsiekte was egter net ʼn bedreiging vir beeste en het nie mense laat sterf nie. Boonop het historici bevind dat talle Xhosas geensins daarvan bewus was dat die longsiekte oorspronklik van Europa af gekom het nie.

Vir die meeste gewone Xhosas was die siekte en vrektes onder hulle beeste in die eerste plek daaraan te wyte dat daardie beeste met towerkrag besmet was. Boonop het mense wat hulle met toordery besig gehou het met die beeste gewerk en hulle vérder besmet. Dit verklaar besmoontlik waarom Nongqawuse se boodskap was dat al die beeste geslag moes word en dat toordery gestaak moes word. Dan alleen kon “skoon” beeste weer hulle nuutgeboude krale vul en die eertydse welvaart herstel word. Niemand in Suid-Afrika glo dat die Covid-19-epidemie die resultaat van toordery is nie.

Nongqawuse en die ander sieners se boodskap dat die son op die dag van redding rooi gaan wees wanneer hy opkom, of dat daar twee sonne bo-op mekaar gaan opkom, en dat die voorgeslagte dan uit die dode gaan opstaan om die huidige geslag uit hulle krisis te red, dat die krale weer met beeste gevul, die graanputte weer met graan gevul en die nuwe melksakke met vars melk gevul sal wees – niks daarvan is enigsins vergelykbaar met die huidige gebeure in Suid-Afrika nie.

Is daar dan enige raakpunte? Beslis ja. Die Xhosas van destyds het, hoe ʼn mens ook al die situasie betrag, by opperhoof Sarhili en by hulle ander hoofmanne opdrag gekry om hulle bronne van welvaart te vernietig. Die uitslag destyds was die mees verwoestende mensgemaakte ramp in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Tans lees ʼn mens toenemend in die Suid-Afrikaanse media kommerwekkende waarskuwings. Dit kom daarop neer dat ons land op ekonomiese rampspoed afstuur waarvan die verwoestende impak veel groter as die ergste impak wat die virus moontlik kan hê gaan wees. Die voorspellings lui dat, indien die regering met maatreëls volhard wat die ekonomie aan bande lê en nie dringend met kreatiewe planne en besluite vorendag kom om die bevolking weer ekonomies aan die gang te kry nie, daar vir ons massiewe werkloosheid wat met ongekende verarming en voedselnood gepaard sal gaan, voorlê. Sodanige toestande het trouens reeds begin intree.

(Argieffoto: Ronny Hartmann/AFP)

Daar is Suid-Afrikaners wat glo dat daar tans met die inperking en alles wat daarmee gepaard gaan – waaronder die inentingsveldtog – een of ander vorm van komplot betrokke moet wees. Dit is vergelykbaar met die destydse opvatting van die Britse koloniale owerhede oor die beesslagting. Daar is vandag, soos destyds, geen komplot betrokke nie. Die vernietigende wyse waarop die inperking afgedwing is en tot ʼn mate steeds toegepas word, is, net soos die ekonomiese vernietiging wat met die beesslagting gepaard gegaan het, die resultaat van ʼn opregte oortuiging dat die opoffering wat dit behels, minstens oor die kort termyn, in die beste belang van die Suid-Afrikaanse gemeenskap as geheel is.

Wanneer ʼn mens die houding en optrede van die destydse Xhosa-hoofmanne ontleed, kom dit aan die lig dat hulle almal, in hulle besluitneming oor hoe hulle in reaksie op Nongqawuse se profesieë moes optree, hulle eie belange vooropgestel het. Jy kry die indruk dat hulle almal die hele tyd oor hulle skouers gekyk het na wat die ander doen en dan besluit het hoe hulle hulleself moes posisioneer. Is dit nie tans in Suid-Afrika ook die geval dat sommige van die mees invloedryke besluitnemers hulle eie politieke oorlewing belangriker ag as die toekoms in die lang termyn van die breë Suid-Afrikaanse samelewing nie?

In hierdie Covid-19-era, 165 jaar na die beesslagting, sal dit verwaand wees om nie respek vir die oortuigings van die destydse Xhosas te hê nie, al kry ons die indruk dat daar geen rasionele redes kon wees om hulle eie welvaart te vernietig nie. In die gees van hulle lewens- en wêreldbeskouing het die Xhosas sekerlik geglo dat dit uiteindelik sou blyk dat hulle optrede in hulle beste belang was. Die geskiedenis het hulle verkeerd bewys.

Ons stem vandag almal saam dat ons regering moes optree om die impak van Covid-19 op ons land te verlangsaam. Die groot omvang van sterfgevalle as gevolg van die virus het immers optrede gebiedend noodsaaklik gemaak. Talle gerespekteerde ekonome, sosioloë, filosowe en demograwe is egter bekommerd dat die drastiese en soms irrasionele wyse waarop die bevelsraad inperkings afgedwing het, en in sommige gevalle steeds afdwing, hoe goed bedoel dit ook al was en is, vinnig besig is om die Suid-Afrikaanse ekonomie ʼn nekslag toe te dien. Mag ons daarvan behoed word dat mense oor 165 jaar gaan terugkyk en kopskuddend gaan vra: Watter rasionele, logiese redes het die regering in 2020-2021 besiel om die Suid-Afrikaanse ekonomie te vernietig in hulle poging om die impak van Covid-19 bloot te verlangsaam? Hoe kon hulle nie besef dat hulle op die grootste mensgemaakte ramp in die geskiedenis van Suid-Afrika, veel meer omvangryk as die Xhosa beesslagting van 1856-57, afstuur nie?

  • Jackie Grobler is ’n historikus wat vir bykans 40 jaar aan die Departement Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria verbonde was.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

MT ·

As opgeleide historikus, bet Jackie sterk menings ivm die virussiekte en inentingsveldtog wat nie deur alle opgeleide medici en geneeskundiges gedeel word nie, ter plaatse maar ook in die res van die wereld.

Ek begryp egter dat teespraak nooit die plek van ‘n goeie storie – soos Jackie s’n hierbo – moet inneem nie.

Fritz ·

Om jou te waarsku om nooit te vinnig op n bandwagon te spring nie. Veral nie as jou “leiers” daarby betrokke is nie.

JohanCzu ·

Hierdie “profesiee” klink vir my baie soos ANC verkiesingsbeloftes. En die wie dit gevolg het omtrent net so intelligent as ANC kiesers. Om die sterftes enigsins met die in Britse moordkampe te vergelyk is verregaande. Die Boeremense in die Britse moordkampe was nie vrywillige deelnemers nie, maar slagoffers van ‘n volksmoord.

Karel Kobus Kruger ·

Baie interessante stukkie geskiedenis waarvan ek nou vir die eerste keer hoor. Vir my klink dit weer soos 1992 se NP beloftes. Stem JA vir ongekende vrede en voorspoed.

Snowball ·

SA se ekonomie was reeds lank voor die pandemie in groot ellende gedompel vanweë ‘n wanfunksionele, korrupte regering. Die inperkingsmaatreëls was waarskynlik net die kersie op die koek. (Meeste lande was buitendien oortuig van die noodsaaklikheid van inperkings)
Hoe donker bygelowe en sinistere voorspellings van die Xhosa nasie wat uiteindelik tot hongersnood en sterftes gelei het in verband gebring word met maatreëls tydens ‘n pandemie, is moeilik om in te sien.
Die Afrikaner nasie kan liewer terugkyk na 1992 -1994 en dit herken en erken as die mees vernietigende tyd in sy geskiedenis, toe irrasionele besluite, swak onderhandelings en geen bedinging vir die behoud van die Afrikaner as minderheidsgroep, ons willens en wetens opgeoffer het vir die nuwe SA, wat nou blyk ‘n klaaglike mislukking en kromgetrekte affêre te wees, nie net vir die Afrikaner nie, maar vir almal wat moet saam eet aan die vrot vleis opgedis deur ‘n korrupte regering.

Andre ·

Okk geskiedenis wat ek nie geken het nie. Maar tog interessant hoe Covid duidelik uitgesluit word van enige sameswering.

MakersMark ·

Spul snert. Die 1850 ramp was mensgemaak en agv geloof in toordery, waarseery en superstisie en die afwesigheid van logiese denke. Ons sien dit nog vandag. Kyk na die debat tussen pro en anti inentings vir CV19. Die ekonomiese gemors wat SA hom in bevind is nie agv CV19 nie en sou in elk geval ontstaan het. En dis net omdat ‘n immorele en onbevoegde party die land regeer. Die begrip van ‘n wereldklas ekonomie is afwesig so ook die fasilitering daarvan. Gooi by kaderintplooing en saamgaande onbevoegdheid, tesame met totale korrupsie en geen ekonomie sal staande bly nie. Die ANC is die grootste ramp wat SA nog getref het en die uiteinde gaan die 1850 gevolge van Nongqawuse se toordery snertpraatjies na ‘n piekniek laat lyk. CV19 of nie.

Wielspore ·

Die mens beskik oor ‘n verstand om liggaams funksies se reguleer, bykomend bied jou verstand jou die vermoë om te dink om jou liggaam te onderhou. Terselfde tyd aanvaar jou verstand ‘n geloof, iets waaraan jy glo, party aanvaar ‘n bygeloof en ander ‘n geloof met riglyne wat gewoonlik kerklik is. Bygelowe is gewoonlik vreemd en is gegrond op opdragte van mense wat reeds dood is en hulle verskyning maak en dan opdragte om die wat alreeds dood is te vereer.
Dit is al bewys dat mense wat aan bygelowe glo en opdragte ontvang van mense wat alreeds dood is, sporadiese impak op gemeenskappe het deur mense te lei in ‘n rigting wat hulle dood gaan veroorsaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.