Dieper as korrupsie – die nadelige impak van staatsbeheerde instellings

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

Verskeie van SA se staatsbeheerde ondernemings is die afgelope tyd in groot omstredenheid gehul. Dié sluit onder andere vrae in oor president Zuma se vermeende inmenging by die raad van die SAL en ʼn transaksie by Prasa, waaruit die ANC na bewering onregmatige voordeel getrek het. Niemand kan ontken dat wanbestuur en korrupsie by sulke instellings skadelik is nie. Verkwisting van hulpbronne deur korrupsie en swak bestuur, wat uiteindelik na swak dienslewering lei, veroorsaak uiteraard allerlei nadelige gevolge.

Tog eindig die impak van staatsondernemings nie net by korrupsie en swak bestuur nie. Die dieper vraag oor die impak van sulke instellings – ten goede of ten kwade – moet in die raamwerk van die ekonomiese aansporings, die kapitaalstruktuur en die breër toekenning van ekonomiese hulpbronne oorweeg word. In hierdie opsig is die vrae oor staatsbeheerde instellings moeiliker om te beantwoord.

Om ʼn idee van die skaal van SBIs se betrokkenheid by die plaaslike ekonomie te vorm, kan mens na die aantal van dié instellings kyk. Tog is die maatstaf beperk, omdat SBIs nie almal ewe groot is nie en verwag kan word dat die groter instellings ʼn groter impak sal hê. (Die ekonomiese impak van Eskom, met ʼn bruto inkomste van R148 miljard, kan mos nie dieselfde as Boks SA met ʼn bruto inkomste van R10 miljoen wees nie.)

ʼn Stewige aantal van dié instellings is betrokke by die plaaslike ekonomie. Selfs die Presidensiële Hersieningskomitee oor Ondernemings in Staatsbesit (PRC), wat van stapel gestuur is om die kwessie van SBIs onder oë te neem, kon nie by ʼn presiese getal uitkom nie.

Volgens dié komitee was daar teen Mei 2012 nie minder nie as 715 sulke instellings in hul boeke aangeteken, maar die komitee het verwag nog meer instellings sou na verdere ondersoeke aan die lig kom.

ʼn 2015-skedule van die Nasionale Tesourie toon minstens 280 instellings kan aan die nasionale en provinsiale regering verbind word, maar daar is oënskynlik ʼn verdere groter aantal SBIs wat op munisipale vlak bestaan, tesame met ander Artikel 21-maatskappye en trusts in staatsbeheer, waaroor die rekords klaarblyklik minder seker is. In die komiteeverslag word die regering se vermoë, om soveel instellings effektief te koördineer, met reg bevraagteken en word omvattende idees vir ʼn nuwe raamwerk vir SBIs daargestel.

Indien ons ruweg die sogenaamde 80/20-Paretto-beginsel toepas, kan ons verwag dat ʼn kleiner aantal van dié instellings ʼn groter impak op die ekonomie sal hê. Dit blyk inderdaad die geval te wees wanneer ʼn basiese ontleding oor ʼn steekproef van die instellings se bruto inkomstes onderneem word.

Volgens die tesourie-skedule bestaan om en by 200 van dié SBIs op nasionale regeringsvlak. Dit sluit in ʼn aantal SBIs wat as groot openbare entiteite, soos Eskom, beskryf word. Die groep instellings is verder ontleed om ʼn breë idee van hul moontlike invloed op die ekonomie te bepaal. Die bruto inkomstesyfers van 168 van dié instellings op nasionale regeringsvlak, waarvoor jaarverslae aanlyn beskikbaar was, is aangeteken en ruweg ontleed.

Soos verwag kan word, is bruto inkomstes van die instellings nie almal ewe groot nie. Van dié instellings was die 30 grootstes se saamgetelde bruto inkomstes gelyk aan R478 miljard. Dit is bykans 92% van die R521 miljard wat in totaal vir al 168 instellings bereken is. In die opsig is Eskom, met ʼn omset van R148 miljard, die grootste enkele instelling, gevolg deur Transnet (R61 miljard), Telkom (R32 miljard) en die SAL (R30 miljard).

Wanneer die totale bruto inkomstes van die 168 instellings, van R521 miljard, met SA se nominale BBP van ongeveer R3 900 miljard (2014Q2 – 2015Q1) vergelyk word, dui dit verder op die beduidende rol wat SBIs in die ekonomie speel. (Let wel: Bruto inkomste is nie direk met BBP vergelykbaar nie; hoe die instellings presies by BBP en sy meting van finale goedere en dienste, inreken, is ʼn langer gesprek.)

Hieruit blyk dit dat slegs ʼn handjie vol van die totale instellings proporsioneel die grootste invloed op die ekonomie uitoefen en dat ʼn kleiner groep instellings, van die breër 715, sterker toesig van die publiek en owerhede behoort te geniet.

Om die invloed van dié instellings op die ekonomie te bepaal, moet ʼn mens eerstens besef hulle is nie afgesonder van die res van die ekonomie nie. SBIs bie grootliks in dieselfde markte as private ondernemings vir skaars hulpbronne, soos arbeid en kapitaal. Maar terselfdertyd ontvang sulke instellings dikwels belastinggeld en ander vorms van bevoordeling, soos gunstige wetgewing, wat hul bedrywighede ondersteun. Daarom is dit denkbaar dat, hoe groter die omvang van sulke instellings is, hoe groter is die effek op die toekenning van ekonomiese hulpbronne. Dit is eintlik wat saak maak.

Die daarstel van ekonomiese infrastruktuur en openbare goedere deur SBIs, wat as ʼn tipiese regverdiging vir die bestaan van SBIs voorgehou word, gebeur nie sonder ekonomiese kostes en afruilings nie. Maar by SBIs word die berekening van voordele en kostes nie aan die mark oorgelaat nie, eerder aan burokratiese berekeninge en ekonome se omvangryke modelle.

Die private ondernemer weet dat sy/haar winste daarop dui dat kapitaal en arbeid suksesvol saamgevoeg is op ʼn manier wat verbruikers uiteindelik tevrede gestel het. Verliese dui op die teenoorgestelde en toon dat ondernemers hul bedrywighede moet aanpas, of dalk selfs moet staak, in die lig van verbruikers se voorkeure. Sodoende bewerk winste en verliese op die markekonomie die voordelige samevoeging van verkillende hulpbronne.

In die SBI-raamwerk kan die aansporings en waarskuwings, wat winste en verliese onderskeidelik aan ondernemings kommunikeer, erg verdraai word. Nie net word die markdissipline wat verliese aanroer gereeld deur reddingsboeie of verhoogte subsidies omseil nie, maar die boodskap wat winste kommunikeer kan ook vals wees – soos die volgende oordrewe voorbeeld illustreer.

Gestel ʼn dekbeeldige regering besluit op ʼn dag dat skoene as ʼn “beleidsprioriteit” en “openbare goedere” verklaar moet word. Daar word besluit dat die vervaardiging van skoene nie langer aan ʼn “gierige” en “ondoeltreffende” privaatsektor oorgelaat kan word nie.

Dié regering stig ʼn staatsonderneming wat skoene vervaardig en verklaar private mededinging in die mark vir skoene onwettig. Verskillende dinge kan nou gebeur, maar die effek is dat die struktuur van die mark nadelig vir baie mense verdraai word.

In die nadraai hiervan kan byvoorbeeld arbeiders, skoenekapitaal en ander hulpbronne, wat voorheen in die private mark vir skoene was, deur die nuwe staatsonderneming ingeneem word. Indien verdere subsidies en staatondersteuning gebied word, sal toenemende arbeid, hulpbronne en selfs beleggingskapitaal, van ander bedrywe en ondernemings weggebie word.

Met skoene self kan verskeidenheid en gehalte afneem. Baie verbruikers sal nie ʼn ander keuse hê nie en nogtans skoene by die onderneming koop. Dit kan veroorsaak dat daar selfs “winste” op die boeke van die onderneming verskyn en sy bestuurders die sjampanje-proppe laat skiet om hul “sukses” te vier.

Maar ten spyte van die moontlike winste en sjampanje, behoort dit ooglopend te wees dat iets nie pluis is nie. ʼn Winssyfers bied hier bitter min rigtinggewende inligting aan beleidmakers. Beleidmakers kan wel besluit die onderneming het “te veel” wins gemaak en moet laer pryse in die volgende jaar instel, maar dit omseil nie die ekonomiese skade, soos aan die kapitaalstruktuur, wat reeds aangerig is nie.

Die skade is aangerig deur berekeningsfoute wat die wanbesteding van hulpbronne, kapitaal en arbeid tot gevolg het. In die voorbeeld is die skade ooglopend, maar in gevalle waar daar nooit ʼn onbelemmerde mark was nie, is die aard van die skade baie moeiliker om vas te stel.

Uiteraard funksioneer heelwat plaaslike SBIs buite ʼn ware vryemarkgerigte wins-en-verlies-raamwerk, waar entrepreneurs self risiko’s neem; dit vergroot die moontlikheid van ʼn rits nadelige aansporings om in werking te tree. Hiervolgens sal ʼn groter aantal van dié instellings, wat ʼn groot gekombineerde uitwerking op die ekonomie het, groter berekeningsfoute en wanbesteding veroorsaak.

Die gevaar van die huidige voorgestelde strategie vir SBIs is dat die publiek met soet woordjies oor rasionalisering en privatisering uit die oog verloor dat dit eintlik die gesamentlike uitwerking van al die instellings is wat ekonomies van belang is.

Om twee, drie, 10 of selfs meer van die kleiner instellings te privatiseer of andersins gedaan te maak, sal niksseggend wees indien die uitwerking van die groter instellings, in die naam van “openbare beleid” en die “ontwikkelingstaat”, staan en selfs uitgebrei word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae