Dinamiese Afrikanerskap

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Dr. Danie Langner

Met die draai van die eeu het Willem de Klerk ʼn dun, maar omstrede, boekie gepubliseer. Hy skryf in Afrikaners, kroes kras en kordaat: “Afrikanerwees is die laaste paar jaar kroes. Letterlik inmekaar gekrul, siek, olik.

Afrikaners is aan die rondmaal soos ʼn klomp vasgekeerde skape … Dan is daar die hink-en-pink Afrikaners wat etikette om hulself hang: die ontnugterdes; die rigtingloses; die sinici; die magteloses; die bedruktes; die beswaardes; die afwagtendes wat wag op ʼn kaptein wat weer hekke sal oopmaak. Ander klein volkies is in hulle kroesheid uiteindelik uitgewis.”

De Klerk gaan verder.  Hy takel die mite dat Afrikaners ʼn uitverkore, blanke en Christelike volk is en kom tot die gevolgtrekking dat die begrip Afrikanervolk te besmet is en vervang moet word deur die term Afrikaanses. Sommige Afrikaners het De Klerk se gedagtes as die weg, waarheid en lewe omhels, terwyl ander, soos Chris Louw, woedend reageer het.

De Klerk se waarneming dat Afrikaners met die draai van die eeu ʼn kulturele identiteitskrisis beleef het, was egter in die kol. Baie Afrikaners het gevra: wil ons nog Afrikaners wees?

Toe die Afrikanerstaat in 1994 verdwyn, het die Afrikanerkultuurlewe platgeval en amper verdwyn. Die Nasionale Party, wat vir nege dekades die draer was van Afrikaners se Christelike-nasionale lewenswêreldbeskouing, het ontbind en Afrikaners was voos getimmer deur die Waarheids-en-Versoeningskommissie.

Baie Afrikaners het hul kulturele selfvertroue verloor om as Afrikaners in die openbaar op te staan. Bekendes het selfs sover gegaan om amptelik te bedank as Afrikaners. Sommige Afrikanerkultuurorganisasies het hul Afrikaneridentiteit en historiese wortels onderspeel en getrou aan die politiek van die dag, transformasieteikens begin najaag.  Uit vrees vir etikettering, beskuldigings oor apartheid en etnosentriese verwyte, het sommige Afrikaners gewillig, gedienstig en gedwee na allerhande maniere gesoek om polities korrek die nuwe regering te dien.

Die snelle verryking van die nuwe swart elite, die ontplooiing van die kaderbeleid, regstellende aksie, ideologiesgedrewe transformasie, kaderontplooiing, die soustrein van die nuwe bewind, verswakte dienslewering, verval van infrastruktuur, druk op Afrikaanse skole,  die brutaliteit en omvang van die plaasmoorde saam met die misdaadgolf wat die land teen 2000 getref het, het baie Afrikaners onseker oor die land se toekoms gelaat. Meer as ʼn miljoen Afrikaners het die land verlaat. Vandag het die meeste Afrikanergesinne familie in die buiteland.

Binne die konteks van hul eie ideologiese en politieke raamwerk het die ANC-regering Afrikaners probeer herdefinieer as “kolonialiste van ʼn spesiale soort” (Mbeki-era) of “die enigste wit stam van Afrika” (die Zuma-era). ʼn Selektiewe meesterverhaal word op die skoolgeskiedenis afgedwing, terwyl ander die Afrikanervolk ontken as ʼn mite, ʼn denkbeeldige gemeenskap, ʼn manipulerende skepping van nasionaliste in die apartheidsera om wit oorheersing oor swartmense te konsolideer.

Teen 2009 beskryf Izak de Villiers die toestand van Afrikaners as “major depressie” met “skisofreniese simptome” soos “een dag treur hulle en die ander dag sien hulle net geleenthede. Of een sê hoop en die ander sê verwoesting”. De Villiers waarsku: “Ons sal moet end kry om ons grootste vyand te wees, want depressie is oorlog teen jouself.”

Daar is ook ʼn ander kant. Gaandeweg het daar onder die oppervlak ʼn nuwe selfverstaan oor Afrikaners se rol en plek in Afrika ontwikkel. Maar nie op die lyn wat Willem de Klerk voorsien het nie.  Die aanvanklik gewilde gonswoordjie, Afrikaanses, word vandag bitter min gehoor, behalwe miskien in die Afrikaanse media en miskien nog by enkele gedwee oud-nasionaliste uit die De Klerk-era.

Die feit is oor ʼn tydperk van driehonderd jaar het Afrikaners die vermoë ontwikkel om suksesvol aan te pas by veranderende omstandighede. Soms was Afrikaners beskou as almal wat in Afrika gebore is (VOC); of Boere-emmigrante (Groot Trek); of volgens Hertzog alle Europeërs, selfs Engelssprekendes, wat Suid-Afrika se belange eerste stel. Daar was ongelukkig ook tye waar Afrikanerskap deur eng, benoude definisies versmoor is.  Onderskeid is selfs getref is tussen gewone Afrikaners en super-Afrikaners. Andersdenkende Afrikaners is geëtiketteer en selfs per definisie uitgesluit van Afrikanerskap. Dit is teen die eng toepassing van Afrikanerskap waarteen soveel Afrikaners in opstand gekom het en sommige as Afrikaners bedank het. Daarvoor kan mens groot  begrip hê.

Izak de Villiers skryf kort voor sy dood dat dit tydmors, “selfs dwaas” is om ʼn definisie aan Afrikanerskap te probeer gee. Daar is min volke wat ʼn “kraakvrye” definisie het van wie hulle is. “Soos in alle volke is daar diegene wat dit wil wees en die wat dit half wil wees en dit wat dit glad nie wil wees nie. Om lid te wees van ʼn volk is grootliks ʼn emosionele realiteit. Dit begin met die gevoel van iets soos ʼn knop in die keel. Dis iets van my – maar dis my mense die en dis my oorlewerings die.”

Hermann Giliomee skryf moderne Afrikanerwees beteken nie meer “om die land vir hulleself toe te eien en op ander mense te trap nie”. Moderne Afrikaners vir Giliomee is “ʼn vrye, mobiele en soms virtuele gemeenskap, wat mekaar soms op kunstefeeste vlugtig ontmoet, op die internet met mekaar in aanraking bly en moeite doen om Afrikaans in die huisgesin, skool en universiteit lewend te hou.”

Ton Vosloo waarsku: “Afrikaners is hier nie weg te wens nie en hoe meer daar taalmatig oor hulle gerol word, hoe stywer gaan hul rug word. Die korrekte benadering is tog sekerlik dat hulle ingenooi word om hul kundigheid tot die beskikking te stel van ons demokrasie, ook ter wille van die land se kommersiële opbou.”

Danie Goosen beskryf Afrikaners se nuwe selfverstaan en plek as “ʼn beweging weg van staatsafhanklikheid na gemeenskapselfstandigheid; weg van die sindroom van wag op die staat se inisiatief na deelname aan eie gemeenskapsinstellings; weg van die teleurstellings in die staat na ʼn benadering wat self skep, self handel, self die toekoms oopmaak. Dit is ʼn kultuurstrategie wat gekenmerk word deur nuwe kulturele woordeskat, kulturele vlugvoetigheid en die wegbeitel van uitgediende benaderinge.”

Die oorgrote meerderheid middelgrondsoekende Afrikanerorganisasies definieer vandag die Afrikanervolk vanuit hierdie gemeenskapsidioom. Afrikanerskap word subjektief, dinamies en ruimteskeppend vertolk op die beginsel van vryheid van assosiasie. Die beste definisie vir selferkende Afrikanerskap is om te sê: Ek weet in my hart ek is ʼn Afrikaner en ek is trots daarop. Afrikanerskap is vanuit selfdefiniëring ʼn keuse: ʼn vrye vereenselwiging met die gemeenskap en sy geskiedenis. Vereenselwiging met “ons” beteken nie selfverheerliking of stelling inneem teenoor “hulle” nie. Afrikanerskap word vandag nie meer soos die vorige bedeling deur die staat verwerklik nie. Afrikanerskap word in en deur Afrikanerorganisasies op gemeenskapsvlak uitnemend verwerklik. Afrikanerskap staan nie in spanning of in isolasie teenoor ander identiteite nie, maar saam met ʼn veelvoud van identiteite. ʼn Sterk fokus word geplaas op die kulturele middelgrond wat Afrikaners met mekaar in gemeen het.

Die gebrek aan ʼn objektiewe definisie beteken egter nie dat daar geen gemeenskaplike grond is waarop Afrikaners mekaar kan vind nie. Die gesaghebbende Kuper-navorsingsinstituut het bevind moderne Afrikaners dui die volgende vyf kenmerke as die belangrikste eienskappe van hul kultuur aan:

Godsdiens: Afrikaners glo steeds en beskou hul Christelike geloof en waardes as baie belangrik. Afrikaners is in verskillende kerke wat wissel van formele tot baie informele eredienste.

Respek: Waardes is vir Afrikaners belangrik, maar veral dat ouer persone, ouers en onderwysers met respek behandel sal word. Dit is ook vir Afrikaners belangrik dat hul kultuur deur ander persone gerespekteer sal word.

Kuier: Afrikaners is plesierige mense. Hulle hou van braai, potjiekos, biltong en blatjang. Kuier dui op gesins-, familie- en gemeenskapsgebondenheid.

Afrikaanse musiek: Afrikaanse musiek blom en Afrikaners ondersteun graag Afrikaanse sangers op kunstefeeste.

Afrikaanse taal: Dit is vir Afrikaners belangrik dat Afrikaans as taal sal bly voortbestaan en verder as hoëfunksietaal presteer.

Miskien sou mens hierby kon voeg:

Grond: Afrikaners is bodemgebonde mense wat ernstig is oor hul erfgrond. Hulle neem die skeppingsopdrag ernstig op om die omgewing te bewaar.

Gemeenskapsbetrokkenheid: Dit is vir Afrikaners steeds belangrik om betrokke te wees by gemeenskapsinstellings soos kerke, skole, erfenisterreine en kultuurorganisasies.

Afrikaners was nooit ʼn gewilde en onderdanige minderheidsgroep nie. Hulle het uiteenlopende standpunte en sterk politieke en geloofsoortuigings, maar hul teenwoordigheid en bydrae is onmiskenbaar. Diegene wat dink Afrikaners trek laer, maak ʼn fout. Afrikaners is vandag te vind van  Kaapstad tot Kaïro. In elke Afrikaland.

Moderne Afrikaners leef met selfvertroue hul kulturele identiteit uit, maar bou ook suksesvol brûe na ander kultuur- en taalgroepe in verskeie lande.  Terwyl sommige Afrikaanses se wiele vasval in die modder van transformasie en godsdienstige neutraliteit, het Afrikaners lankal die wa deur die drif getrek met ekonomiese prestasies deur middel van selfdoen-entrepreneurskap.

Afrikaners is betrokke by hulle plaaslike gemeenskap, maar ook internasionaal mobiel. Afrikaners gee nuwe inhoud aan NP van Wyk Louw se lojale verset wanneer dit wat vir hulle kosbaar is bedreig word, maar vat ook hande. Hulle praat met die ANC en beding ooreenkomste waar nodig. Afriforum se samewerking met die ANC om geweld op Tukkies te stop en hande vat met die polisie om plaasmoorde as prioriteitsmisdaad te verklaar, is ʼn uitnemende voorbeeld hiervan. Afrikaners is somtyds kras en baie keer te kordaat, maar lankal nie meer kroes nie. Hulle verken, ontdek, werk, bou, dryf handel , beplan en is onbeskaamd trots Afrikaner.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

NP van Wyk Louw-sentrum

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Afrikaner gemeenskapvorming is baie belangrik vir die toekoms. Ek woon in so gemeenskap en die positiewe gevolg van my besluit om deel van so ‘n gemeenskap te wees is ongelooflik. Gisteraand se ek vir my seun dat hy ervaar nou wat ons in my kinderjare ervaar het. Ons kan in veiligheid woon en hy kan in die strate speel sonder probleme. O ja ek het nie ‘n heining nie en nee ek woon nie in ‘n veiligheidskompleks nie. Werkskepping is deel van so gemeenskap en werkers woon en werk in die gemeenskap. Ons werk in die stad en woon in… Lees meer »

Theuns

Dr Danie Langer. Ek kan net se hierdie geskrewe kommentaar herhinner my hoe ek oor my self moet voel en dink! Ons het regtigwaar groot Geeste In Afrikaans soos wat jy hulle opgenoem het. Dankie.” Kommentaar is Par Exelance”.

Bruno Stef

Dr Danie met alle respek as n mens uitsprake van Willem de Klerk in die verlede analiseer met Beeld as platform en hy as redakteur het hy onder andere die volgende bizarre aanbevelings gemaak. Afrikaners moet vir hulle n swart vriend in Soweto aanskaf en dan oor en weer op sosiale gebied vir mekaar kuier met inbegrip van hulle gesinslede.So ver ek weet het net Kortbroek van Schalkwyk en sy gesin kort voor sy aanstelling as Minister in Soweto oornag in n gastehuis.De klerk het baie diep wonde tussen mede Afrikaners veroorsaak wat ek persoonlik hoop in die nabye toekoms… Lees meer »

Reinhardt

Uitstekende meningsvorm! Dit is werklikwaar so dat daar n sterk identiteitskrises onder jong afrikaanses ontstaan het. Maar dinge is stadig besig om te verander van “jammer oor die verlede en jammer dat ek lewe” na “ek is trots Afrikaans, dit maak my uniek.” Die rede hoekom die MK89 revolusie so popular was, was omdat ons van daai tyd (2003-2010) nie kon inpas met wat van ons verwag word nie. Ons wil Afrikaans praat, maar ons word nie toegelaat in die werksplek nie. Ons weet nie hoe ons voel oor geloof nie. Ons is moeg om jammer te se oor die… Lees meer »

Quincy

Apparttheid; die begrip irriteer my!My persepsie hier oor is visuel. Ek stem glad nie saam oor hoe die buiteland dit defineer nie. Die Afrikaner-volk is hun kultuur. Ons gin ander hul vrede,spasie, hul kultuur en beginsels. As hulle nie die beginsels vir ons kan gin nie of nie ons bestaan kan aanvaar nie… Wat moet ons doen? Want geen ander etniese groep bepaal my waarde nie. Ek is trots op my erfenis! Om my in n hoek vastekeer is dalk nie n slim idee nie. Ek sal die gevolge dra, maar lafhartig is ek nie.