Dink twee keer oor beleide

stoel-tafel-boek-beleid

Foto: Victoria Heath/Unsplash.com

Deur Edward Blight

Wanneer meeste mense die woord “beleid” hoor, skop hulle vas. ʼn Beleid is nie net iets wat politici skep om ons lewens moeilik te maak nie, maar ook iets wat in enige organisasie geskep word om die een of ander element van ons lewens te reguleer. Die daarstel van beleide is ʼn kuns. Vanweë die belang en verweefheid van beleid en samelewing word Akademia se voorgraadse studente in onderskeie kwalifikasies gereeld hieraan blootgestel, maar alle dissiplines het nie noodwendig dieselfde benadering nie.

In voorgraadse studies in politieke wetenskappe word studente blootgestel aan die formulering van beleid. Die hoop en doel van sodanige beleide is dat die implementering daarvan die samelewing sal verbeter. Gewoonlik word sulke beleide geskep sonder om presies te weet of dit die gewenste gevolge sal kan bewerkstellig.

In voorgraadse studies in die ekonomiese wetenskappe word studente ook blootgestel aan die konsep van beleide, maar gewoonlik is die fokus hier meer op die effek wat beleid op die ekonomie self het. Hier word ʼn beleid krities geanaliseer om te bepaal wat die ekonomiese gevolge sal wees. Die ekonomiese ingesteldheid hou in dat ʼn algemene toename in inkomstevlakke voordelig vir die hele samelewing is. Dus moet die samelewing enigiets doen om die ekonomiese motor aan die gang te kry, om sodoende tot almal se welvaart by te dra.

Daar is waarde aan die ekonomiese ingesteldheid, maar dit kan nie die enigste fokus wees nie. Mense was nog altyd daarop gefokus om soveel moontlik hulpbronne op te gaar, maar dit was nog nooit ons enigste behoefte nie. Bewyse hiervan is in die aard en inhoud van die filosowe van oud se argumente en debatte te sien. Die temas waarmee hulle hulself besig gehou het, bevat soms die mens se soeke na rykdom, maar dit was geensins die hooffokus nie.

Tog kan ons in Suid-Afrika die voordele sien wat rykdom bring as ons kyk na ander lande, en wens dat ons eerder ryker lande se probleme kon hê. As voorbeeld kan ons kyk na Europa en Amerika, waar minder misdaad en armoede bestaan. Die politici in hierdie plekke is gewoonlik ook meer matig, en sou nie durf om verregaande beleide soos grondhervorming voor te stel nie – hulle weet dat hierdie tipe beleid die ekonomiese enjin vinnig sal laat gaan staan.

Maar wat gebeur as mens te veel fokus op ekonomies welstand? Is dit moontlik om as ʼn samelewing té vinnig té suksesvol te wees? Ons het nog nooit hierdie vraag kon beproef in Suid-Afrika nie, maar daar is lande waar dit wel gebeur het. Kyk byvoorbeeld na die ekonomiese wonderwerke van Asië. Suid-Korea het dit binne etlike dekades reggekry om die lewenstandaard daar drasties te laat toeneem. Hierdie vinnige toename in lewenstandaarde het gepaard gegaan met ʼn toename in sosiale probleme soos ernstige drankmisbruik en selfdood.

So, wat van die politiese ingesteldheid? Kan politiese ideologie en politieke magte mense se lewens verbeter? Moderne politiek is gereeld behep met wanbalanse van mag, wat dikwels uitspeel in die samelewing in die vorm van gelykheidsargumente en beleide wat fokus op herverdeling. Soos vroeër gestel, word hierdie beleid dikwels geïmplementeer sonder om presies te weet wat die effek daarvan op die samelewing gaan wees. Dikwels is die probleem dat ondeurdagte beleide die ekonomiese enjin op een of ander manier ondermyn.

Venezuela is ʼn voorbeeld hiervan. Aanhoudende herverdeling en ʼn obsessie met die idee van “gelykheid” het hierdie land se ekonomie byna tot stilstand gebring, en veroorsaak dat die samelewing nie meer funksioneer nie. Basiese noodsaaklikhede soos kos word nie meer deur die vryemark verskaf nie. Die geldeenheid is vernietig en inflasie is heeltemal buite beheer.

Volgens die ekonomiese ingesteldheid reduseer ons die samelewing tot ekonomiese veranderlikes en probeer die formule vir welstand verbeter. Ander faktore, soos byvoorbeeld sosiale probleme, word nie in ag geneem nie omdat hierdie oorwegings buite die sfeer van die ekonomiese dissipline val. Die politieke ingesteldheid ignoreer weer dikwels die ekonomiese enjin, met die verwagting dat ideologiese oortuiging ons beter sal dien.

Die oplossing behoort duidelik te wees: neem beide politieke en ekonomiese faktore en gevolge in ag wanneer dit by probleemoplossing kom. ʼn Geïntegreerde benadering bemagtig ons om genuanseerd na uitdagings in die samelewing te kyk, en beleide daar te stel wat op ʼn gebalanseerde en deurdagte manier hierop reageer.

  • Edward Blight is ʼn dosent in ekonomie by Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.