Dis-Chem: transformasie-spelreëls, ANC-skeidsregter en ʼn ongelyke veld

Jan Bosman van die Afrikanerbond.

Dis-Chem en sy uitvoerende hoof, mnr. Ivan Saltzman, het in hulle naïewe poging om die regering se ras-ideologie gedienstig te wees, in hulle eie slagysters getrap. Hoe meer hulle daaruit probeer kom het, hoe meer slagysters en landmyne is afgetrap.

Dis-Chem is ongelukkig die maaksel van korporatiewe Suid-Afrika, wat die regering slaafs navolg en nie standpunt inneem teen regulasies wat afgedwing word nie. Dis-Chem het verkies om saam te speel in ʼn wedstryd waarvan die spelreëls deur die ANC bepaal word. Dit terwyl die ANC ook terselfdertyd die skeidsregter is en die doelpale skuif, soos en wanneer dit hom pas.

Ongelukkig skep die regering se interpretasie van die Grondwet en wetgewing, soos die rasgebaseerde wysigingswetsontwerp op gelyke indiensneming, die ruimte vir nuwe en meer diskriminasie op grond van ras. So word van werkgewers verwag om rasteikens te stel om boetes te vermy wat erge finansiële katastrofes en bankrotskappe tot gevolg kan hê.

Die ANC se verknogtheid aan ʼn rasgedrewe beleidsraamwerk onder die dekmantel van transformasie, word geïnterpreteer en toegepas buite die letter en gees van die Grondwet. Die ironie is dat die term transformasie nie een keer in die Grondwet voorkom nie, maar dit is waarskynlik die term wat die meeste gebruik word om ʼn bepaalde politieke agenda te pas en te dryf. Van werklike gelykheid, nierassigheid en nie-diskriminasie is hier dus nie sprake nie.

In sy eenvoudige verstaan van die toepassing van transformasie, moet alles wat wit is met swart vervang word. Dit is die probleem met transformasie – dit word nie duidelik gedefinieer nie en is die toepassing ten alle koste uiters problematies. Die huidige konteks waarin transformasie toegepas word, skep die teelaarde vir groter ongelykheid, middelmatigheid, nepotisme, kader-ontplooiing en gevolglike korrupsie – dit is die meeste mense se verstaan en ervaring van transformasie.

As transformasie beteken dat die samelewing − of dit nou op toepassing is van sport, die ekonomie, arbeid of in watter verband ook al − ten alle koste die demografie van die land moet verteenwoordig en van bo af gedryf moet word, is dit gedoem tot mislukking.

In dié proses moet een persoon vir ʼn ander plek maak (die gevolge van regstellende aksie) en is die term ‘gelyke indiensneming’ ʼn ironiese wanvoorstelling van die werklikheid, want hiervolgens kan daar slegs gelykheid wees as alles, of byna alles, swart is. Dit skep trouens ʼn groter ongelyke samelewing wat meriete afskeep of systap. Dit skep ʼn ongelyke samelewing waarin besighede koppe tel op grond van ras en nie op grond van bewese kundigheid of ervaring nie en helaas swakker prestasie op elke terrein denkbaar teweegbring.

As transformasie se uitgangspunt van die begin af was dat ʼn samelewing geskep word waarin mense met talent en potensiaal opgelei en ontwikkel word, waarin talente erken en bevorder word en waarin meriete die norm is, dan sou dit ondersteuning gekry het. Die ideaal was trouens dat ʼn poel van opgeleide en kundige mense in ʼn gelyke samelewing geskep word waaruit slegs die beste mense, wit of swart, die hoogste sport kan bereik. Dit geld vir alle lewensterreine of dit nou in die ekonomie, sport- of die arbeidsektor is. Demografiese verteenwoordiging, soos toegepas deur die ANC se transformasie-ideologie, skep eerder ʼn giftige samelewing waarvan die skade onmeetbaar is.

Dus moet ons ʼn behoorlike verstaan hê van die term transformasie voordat dit onoordeelkundig gebruik word.

Wat transformasie (soos toegepas deur die ANC-regering) nie kan wees nie:

  • Transformasie kan nie beteken dat rasgetalle op besighede en in ander sfere van die samelewing afgedwing kan word nie.
  • Transformasie kan nie van bo af gedryf word as geleenthede eers van onder af geskep moet word nie.
  • Transformasie kan nie beteken dat iemand op grond van velkleur ingesluit of uitgesluit word nie – dit skep ʼn ongelyke samelewing.
  • Transformasie kan nie ʼn syferspel wees wat mense op grond van velkleur beoordeel nie.
  • Transformasie behoort nie ten doel te hê dat daar swakker uitkomste vir Suid-Afrika moet volg nie.

In ʼn Business Day-opiniestuk op 27 Januarie 2015 skryf prof. George Devenish, emeritus professor in publiekreg aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, soos volg:

Werklike transformasie vereis doeltreffende en deursigtige regering. Korrupsie, werkreservering en rasgebaseerde regstellende aksie ondermyn die ekonomiese transformasie van ons samelewing. Wat meer as enigiets anders ook nodig is vir transformasie, is sterk en besielde politieke leierskap wat dinamiese en verbeeldingryke beleide van ʼn sosiaal-demokratiese aard in die hand werk, soos dié in die Nasionale Ontwikkelingsplan eerder as in die African National Congress se Nasionale Demokratiese Revolusie. Eersgenoemde kan na raming ʼn ekonomiese groeikoers van ten minste 5% voortbring.”

Ons moet daarom waarsku teen oordadige en blinde transformasie. Dit skep ʼn mynveld vir alle sfere van die samelewing, soos wat tans by Dis-Chem uitgewys is. Transformasie kon hoogstens ʼn tydelike aksie wees om voorheen benadeelde groepe van hulp te wees. Na 28 jaar kan daar nie meer sprake wees van tydelike maatreëls nie.

Die toepassingskonteks van transformasie in 2022, naamlik ʼn rasgebaseerde syferspel, is onregverdig en immoreel, want dit het  ʼn teelaarde geskep vir vergrype en skep opnuut ʼn ongelyke samelewing. Dis-Chem en korporatiewe Suid-Afrika speel saam in die regering se ideologie wat nuwe generasies gaan benadeel. Dit inhibeer enige inisiatief tot selfverbetering, prestasie en meriete-beoordeling en daardeur ondermyn dit alles wat nodig is sodat Suid-Afrika kan groei!

Terwyl die grondwet verwys na die ongeregtighede van die verlede is die regering, ondersteun deur Dis-Chem en ander maatskappye, besig om nuwe onreg in die hede te skep. Die geskiedenis sal fel oordeel oor die aandadigheid van korporatiewe Suid-Afrika in ʼn bestel wat apartheid vervang het met nuwe onregte deur ras-manipulering en nuwe diskriminasie.

In stede van aktiewe deelname in ʼn spel met ongelyke spelreëls, en ʼn ANC-skeidsregter wat doelpale skuif, moet korporatiewe Suid-Afrika saam met die burgerlike samelewing werk om die politieke speelveld te verander.

Eenheid in diversiteit sal nie deur transformasie en rasteikens behaal word nie en so word nog groter polarisasie geskep met verdeeldheid deur gedwonge diversiteit as eindresultaat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lourens ·

Nes ek gedink het. Enige kritiek op julle muilband-kommentaarbeleid word geweier.

Nettie ·

God slaap nie Lourens. Almal wat Sy Kinders stil gemaak het, vir watter rede ookal, gaan voor Hom moet staan daarvoor.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Afrikanerbond leef in ‘n droomwêreld. Transformasie sal erger word. Die realiteit daarbuite is bitter hard vir Afrikaners. Nuwe planne moet beraam word of dis koebaai vir ons.

skurweberg ·

Is die reaksie van die eienaars nie miskien toe te skryf aan ‘n gewete wat uit die Ou Suid Afrika afkomstig is nie.

Fluisterwind ·

Sou ons die horlosie kon terug draai tot 1992, sal ons weer dieselfde foute maak of nie?

Groen Ghoen ·

Neewat mnr. Jan Bosman. Verdwyn asb. in die vergetelheid saam met die Broederbond en die gemors wat julle klomp knoeiers en konkelaars veroorsaak het. Asseblief.

Republikein in die Wes Kaap ·

Stem saam Groen Ghoen, die nuwe generasie broeders het genoeg skade berokken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.