Dis goed dat elkeen die kwelvrae anders hanteer

Dat die Afrikanervolk in 2011 onder druk is in vele opsigte is ‘n aspek wat mense grootliks oor gaan saamstem.  Die aanloop en geskiedenis oor waar ons vandag staan het soveel dimensies en beskouings waaroor daar nie saamgestem word nie en is dit jammer dat in baie gevalle dit alleen die onderwerp van bespreking geword het.  Ons is so besig met mekaar oor waar die skuld van die verlede lê, dat ons later skoon vergeet van die ANC en die dinge waarmee hulle besig is.  Om heeltyd te staan en brul by die bloedkolle van die verlede verander nog niks nie.  Dit neem geensins weg dat daar juis uit die verlede geleer moet word.  Die een probleem indien daar net daarby vasgesteek word, is dat die omstandighede van toe geensins vergelyk kan word met die omstandighede van vandag nie.  Ander spelreëls (indien mens dit so kan noem) is vandag van toepassing.  Ons moet die hier en die nou hanteer en daarvoor oplossings kry.

Die wyse hoe die ANC sy ideologies gedrewe prosesse hanteer (of dalk nie hanteer nie) soos vergestalt in hul Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) is die kern van ons as Afrikaners se probleme vir die toekoms.

Dr. Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys en Algemene Sekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party

Dit is dan ook so dat Afrikaners hierdie realiteit verskillend ervaar en elk vanuit sy eie verwysingsraamwerk poog om ‘n oplossing te kry.  Het ons al genoeg studie en navorsing gedoen om die NDR volledig bloot te lê?  Groeperinge het oor tydperk heen onstaan en is elk oortuig dat hul weg om te wandel die korrekte een is.  Die dilemma vandag is dat die veranderlikes wat telkens op die Afrikaner inspeel in baie gevalle soos ‘n tsunami onverwags van ‘n kant kom en dan net nog verdere onsekerheid skep.

Ons moet vir onsself duidelikheid kry of daar vir die Afrikaner as volk onder die ANC ‘n toekoms is waar ons waardesisteme en lewens- en wêreldbeskouing gehandhaaf kan word en steeds uitgebou word.  ‘n Klompie jare gelede verklaar Blade Ndzimandi voor Sadou (Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie) dat uitkomsgerigte onderwys ontwerp is om vir die kinders sosialisme te leer.   Die invloed van die staat in die skole met die leerplanne wat afgedwing word, is besig om ons volk se kinders gelydelik sodanig te beinvloed dat hulle later skaam gaan wees om Afrikaner te wil wees.

Vandag ervaar ons grootliks een gemene deler naamlik dat daar ‘n redelike instemming is dat die ANC besig is om ‘n falende staat te skep.  Die wiele is besig om al hoe meer af te kom en “affirmative action” is seker een van die grootste redes daartoe.  Voeg dan nog die onbehoorlike selfverryking en korrupsie wat aan die orde van die dag is daarby en dan word besef dat die vertroue vir die toekoms onder groot druk is.

Hierdie begrip oor waar ons vandag as Afrikaners ons bevind word verskillend ervaar.  Daar is diegene wat dit voorsien het en reeds vir etlike jare hierdie situasie geskets het – dalk net omdat hulle dalk die Afrika-realiteit beter leer ken het oor die jare.  Ander weer het dit nie voorsien nie en het met ‘n soort vertroue in die “nuwe” Suid-Afrika ingegaan en is tans redelik ontnugter.  Dit is tog interessant hoe diegene wat in aanloop van hierdie realiteit van vandag dit aanvanklik probeer regverdig het en nou moet probeer om met gesigwaarde anderkant uit te kom.

My hele beredenering gaan daaroor of ons nou onsself moet besig hou oor wie het op watter stadium die lig gesien oor die ANC en wat hul vir ons volk se toekoms inhou?  Gaan dit nou enige verskil maak?  Natuurlik verskil ek wesenlik met heelwat Afrikaners oor hul keuse oor wat nou, gegewe die werklikhede van vandag, gedoen moet word om vir ons volk wel ‘n toekoms te skep.  Netso verskil hulle weer met my.  My vraag eerstens aan myself, maar netso aan elke ander Afrikaner wat ook bekommerd is oor die toekoms van die Afrikaner is die volgende: Wie kan vandag ‘n waarborg gee dat die “plan” wat hy en sy groepering nastreef wel ‘n oplossing gaan bereik?  Daaruit spruit verdere vrae soos, byvoorbeeld, ‘wat is ʼn oplossing?’

Vir my stel ek dit onomwonde dat die soewereine onafhanklikheid van die Afrikaner steeds vir my ‘n droom (visie) bly.  Dit stel ek heel nugter en realisties met die werklikhede van vandag in ag geneem.  Indien ek daardie droom laat vaar kan die vraag dan tereg gevra word of die Afrikaner as volk dan enigsins ‘n bestaansreg en toekoms het.  Dit is juis hier waar besef moet word dat die ANC se NDR nie die beweegruimte laat waar daardie waardes, wat belangrik is, steeds uitgebou kan word nie – nie solank hulle die beheer oor die keusemaking van ons volk in hul hande het nie.

Nou is dit dan so dat sommiges glo aan die VVK, ander weer binne-Parlementer, ander weer gooi hulle gewig in by die onderwys-krisis in al sy dimensies, ander weer fokus op die sportterrein, ander weer is van oortuiging dat hierdie ‘n geloofstryd is en as sulks hanteer moet word.  Party glo in die Orania-model en ander weer in Kleinfontein, party weer in ‘n kantonstelsel en ander weer aan internasionale druk, sommiges glo dat indien ons kulturele selfbeskikking het dit goed is.  So kan ek aangaan, want daar is nog heelwat modelle waarvan kennis geneem moet word.  Weer my vraag:  wie kan ‘n waarborg gee dat hulle uitgangspunt wel sal werk?

Het ons nie begin spesialiseer daarin om met mekaar oor hierdie verskillende benaderings sodanig te verskil dat hierdie aspekte nou teenoor mekaar gestel word asof dit die vyand is nie?  Moet ons nie volwasse raak in hierdie stryd en vir elk die beweegruimte gee sodat hul benadering ontgin kan word nie.  Daar behoort selfs verder gegaan word deurdat ons mekaar eintlik behoort te ondersteun soos moontlik.  Dit gaan dalk ‘n kombinasie van verskeie benaderings wees wat uiteindelik ‘n antwoord gaan bring.

In hierdie proses moet ons egter verseker dat ons wel op so wyse kultuur skep soos wat God vir ons aangedui het in Sy woord.  Werk ons in elk van hierdie pogings om werklik God se koninkryk hier op aarde uit te bou en te leef tot Sy eer?  Laat ons in hierdie stryd ons integriteit behou en mag ons elke dag optree volgens waardes wat uit die Woord van God kom.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Louis du Plessis ·

Bennie ~

1  Jy toon korrek aan hoe, binne die Afrikaanse gemeenskap, ons tans soms onverdraagsaam van mekaar verskil – soos “vyande”.  Jy stel voor ons moet meer as een benadering tot ons toekoms respekteer, en selfs verder gaan, deur mekaar eintlik “te ondersteun”, want dalk is die antwoord vir ons toekoms ‘n “kombinasie van verskeie benaderings”.  Jy pleit:  Ons “moet volwasse raak in hierdie stryd”.   

2  Dankie Bennie dat jy soos ‘n leier met ons praat. 

Stoffel ·

Dit is interessant dat ek in my eie kop nie eers weet wie ek is nie. Is ek verlig-konserwatief of konserwatief liberaal. Hierdie onverdaagsaamheid en verwyte speel hom dus nie af net in die Afrikaanse gemeenskappe nie maar in baie van ons se gedagtes

Louis du Plessis ·

Stoffel ~ 

1  Inderdaad!  Die stryd tussen die botsende dryfvere in my eie gemoed is waarskynlik deurslaggewender as die stryd tussen partye buite my.  In elkeen van ons is daar ‘n stuk progressiwiteit én ‘n stuk behoudendheid, ‘n stukkie van die ANC én ‘n stukkie van die DA. 

2  Dalk moet ons ‘n rukkie ophou om sosiologies na gebeure te kyk en dit eerder psigologies beskou.  Dalk moet elkeen sy eie teenstrydighede beter bestuur.  Wat Bennie van Zyl dán vir ons sê, is dít:  Waak teen neurose!  Moenie ‘n vyand van sommige van jou behoeftes maak nie; verenig jou uiteenlopende behoeftes soos ‘n leier! 

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.