Dís hoekom ek hoop het

hoop-02

Foto: Crosswalk.com

Deur Stefan Pieterse

Vir my is die mees opwindende boodskap vandag dat dinge tog gaandeweg verander. Verandering daag altyd ou idees en maniere van doen uit en bring nuwe idees, hoop en leierskap.

2016

Die jaar 2016 is gekenmerk deur die “onmoontlike”; van Donald Trump wat nie sy hare kan beheer nie tot ʼn president wat (binnekort) die magtige Amerika gaan regeer, van die Nkandla-hofsaak tot Brexit, en van die DA se oorwinning in verskeie metropole en #Feesmustfall tot die Springbokke se rekordnederlaag teen Italië.

2017

Wanneer die onmoontlike soos hierbo gebeur, hou dit altyd gevolge in waarvoor mens nie voorsiening kan maak nie. So, byvoorbeeld, het die sangeres Barbra Streisand in 2003 vir Kenneth Adelman en Pictopia.com gedagvaar omdat hulle ʼn foto van haar op die internet geplaas het wat sy wou keer. Voor die hofsaak het slegs ses mense die foto afgelaai (van wie twee lede van haar regspan was), maar daarna het honderde duisende mense die foto besigtig. Haar doelbewuste handeling het dus ʼn onbedoelde gevolg, veel groter as haar beplande uitkoms, meegebring. Hiervan gaan ons in 2017 baie sien.

Positiewe tendense

Jong leiers: Daar is soveel jong leiers wat met nuwe oë na ou probleme kyk en vernuwende oplossings bied. Op internasionale vlak rig entrepreneurs soos Elon Musk en Mark Zuckerberg besighede op, wat eeue oue idees die stryd aansê. Hulle oplossings is vars, bemagtigend en fokus op selfdoen (eerder as die staat doen). In Suid-Afrika sien ons dat die privaat sektor en burgery meer aktief as ooit tevore is met instellings soos AfriSake, Solidariteit en Akademia wat buite-oplossings vir binneprobleme skep – sonder om op staatsafhanklikheid te fokus.

Meer en beter idees: Alles wat jy rondom jou sien, was eers ʼn idee. Die internet en moderne tegnologie skep egter groter en vinniger toegang tot nuwe, meer en beter idees. Internet en aanlyn universiteite maak ook die uitruilbaarheid van idees makliker en vinniger.

Gemeenskap: Die politieke pendulum oor die hele wêreld swaai weg van die staat af terug na die gemeenskap omdat dit meer mag in die mens self se hande plaas. Mense is moeg vir valse beloftes, swaar belasting, hoë werkloosheidsyfers en statutêre slawerny soos met apartheid en swart ekonomiese bemagtiging. Vir meer as 60 jaar het die NP én die ANC probeer om politieke oplossings vir Suid-Afrika te bied. Albei kon egter net gedeeltelike oplossings vir ʼn gedeelte van die bevolking vir gedeeltes van tyd bied, en hoe dan anders? Politieke oplossings kan nooit permanensie of sekerheid bied nie. Instellings en gemeenskappe kan wel.

Hoopvolle toekoms

Dit is bemagtigend om te besef dat die toekoms te belangrik is om aan ʼn mislukkende staat (oftewel staatlose staat) of politieke party oor te laat. Die krag lê by jou om ʼn verskil te maak en nie by die president nie. Die krag lê by jou om jou eie welvaart te skep en nie die regering nie. Die krag lê by jou om jou woonbuurt veilig te hou en nie slegs die polisie nie. Die krag lê by jou om ʼn slaggat reg te maak as die munisipaliteit nie kan of wil nie.

Jy hoef nie die slagoffer van ʼn staatlose staat in 2017 te wees nie. Draai na jou gemeenskap, draai na mekaar, en reageer op krisisse deur te bou. Daar is hoop!

  • Stefan Pieterse is die nasionale woordvoerder van AfriSake.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jan Botha ·

Die is nou positief. Ek stem saam, laat ons hierop bou.

John ·

… en ons hoop en onderskraging kom van Wie? Ons bid: “Laat U wil geskied.” Die boompie groei nie sonder seen van Bo nie. Elke boer sal jou dit kan se as hy eerlik is. Ons het dit nou weer mooi geleer. Dinge werk nie sommer maar net uit nie. Of wag ons vir ander gelowiges om te bid en ons klim maar net saam op die wa na beter dae?

Johann Marx ·

“die politieke pendulum oor die hele wêreld swaai weg van die staat af terug na die gemeenskap….” Solank as wat daardie pendulum ook net die 46% van my inkomste wat ek tans aan die “staat” moet afstaan vir weinig of geen diens nie….ook na my bankrekening toe terug swaai…..is ek meer as bereid om alles “self te doen”!!

Theuns ·

Beste Johann Marx,
Ek stem saam met jou en is dankbaar vir wat Burgerlike organisasies vir die Afrikaner doen maar dit gaan gepaard met n dubbele geldelike las omdat ons vir alles twee keer moet betaal? Soos ek dinge sien is daar geen STRAF MAATREELS vir die onbillikheid om vir alles twee keer te betaal nie! Feit is die Polisie, Skole, Universiteite, Munisipaliteite, Eskom en ander “Rentmeester beheerde organisasies” word deur ons betaal vir dienslewering! Die Organisasies is nie “State Owned Enterprises” en persoonlike spaar varkies nie! Ek is bly Stefan is so positief maar as jy tussen die lyne lees is die gemeenskaplikheid wat hy tussen Apartheid en die ANC tref onvanpas en smaak my het hy ook maar ‘n goeie klap van ANC/SAKP propaganda ingekry. Ek kan nie help om te wonder oor sy ouderdom nie? Ek persoonlik het ook nie baie ooghare vir Trump nie maar die aanmerking oor sy hare is onvanpas! Boere Groete.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Positiwiteit is seker een van die belangrikste eienskappe wat ‘n persoon moet besit anders verval ons in depressie en wanhoop. Wat ons egter nie kan wegredeneer nie is die feit dat ‘n paar miljoen mense meer as 50 miljoen mense aan die “lewe” moet hou deur hul werk, belasting en bydraes op vele terreine. DIT is nie volhoubaar in die nuwe SA nie, een of ander tyd vrek die goue gans wat die eiers moet le. Voeg hierby die ongebrydelde moord op blankes, wat afgemaak word as roof of misdaad, en jou positiwiteit gaan nie jou lewe, jou werk en jou toekoms verseker nie. Voordat daar nie daadwerklik stappe geneem word om aan die Witman (boer/afrikaner/Christen) ‘n plek van sy eie te verseker nie, is ons besig om ons te pletter te loop teen die massas van die land. Alleen seggenskap en beheer oor jou eie ekonomie, veiligheid en sekuriteit maak dat daar hoop is. Die groot vraag is : Wie is bereid om soos ons voorvaders te “trek” en voor te begin in ‘n klein deeltjie van ons land en daar vir ons en veral ons nageslag ‘n nuwe toekoms te begin . In so ‘n poging kan burgerlike organisasies nie help nie want hul lede is nie almal “ons” mense nie.

JC ·

Dankie Dr, u kommentaar is knap en vat goed saam die keuses wat voor ons Afrikaners se deur le vandag in ons Vaderland. Kosovo-tipe verklaring van onafhanklikheid en selfbeskikking? Veral met die skynbare goedgesindheid van die nuwe, NUWE wereldorder, kan ons dalk ‘n houding verwag wat ons onafhanklikheid erken as aparte staat?

Henry ·

Waar is die “aparte staat” wie se onafhanklikheid erken moet word?

Frans ·

Goed gedoen Stefan! Hoop is die voorwaarde vir sukses. Die toekoms behoort aan die wat sukses behaal. Vir ons as Afrikaners beteken dit dat ons geleenthede en probleme moet aangryp en dit omskep in sukses. Hiervoor het ons hoop nodig. Jou artikel versterk weer ons hoop.

Maz ·

Daar is hoop ! Farao het ook gedink hy is in beheer. Ons Skepper is in beheer.

De Villiers Hauptfleisch ·

Ek hou van Dr. vd Merwe se vraag (of is dit `n idee): “Wie gaan soos ons voorvaders trek na`n klein deeltjie van ons land waar ons van voor af en onafhanklik kan begin”.
Die rykes soos Johan Rupert, Christo Wiese, Whitey Basson en ander sal nie hul rykdom en pragtige plase agter laat en trek nie. Dit sal maar net weer die armer mense wees, maar sal die rykes bereid wees om hulle te help om hulle ideaal te verwesenlik? Ek twyfel sterk ten spyte daarvan dat die rykes nooit hul rykdom sou kon opgebou het sonder die hulp van die “armes” nie.
Daarom sal ons maar moet bly waar ons is en soos Stefan impliseer, skouer aan die wiel sit en`n goeie van `n slegte saak maak sover dit moontlik is. Nie die regering of die rykes gaan ons help nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.