Dis nie óf gebed óf die wetenskap nie

Deur ds. Schalk Strauss

Argieffoto: Pixabay

Verlede week het die Instituut vir Geregtigheid en Versoening die resultate bekendgemaak van ’n studie wat hulle onder Suid-Afrikaners gedoen het om hul mening oor inentings te toets. Een van die vrae wat aan deelnemers gevra is, was of hulle dink dat gebed meer effektief as die entstof is, of andersom. Die basiese voorveronderstelling waarmee die studie gewerk het, was dat jy óf iemand is wat in gebed glo, óf iemand wat jou vertroue in die wetenskap stel.

Dit het deelnemers natuurlik in ’n onmoontlike situasie geplaas aangesien die vraag só gevra is dat dit godsdiens teenoor wetenskap gestel het. Deelnemers moes dus kies tussen Sola Fide (geloof alleen) en Sola Scientia (wetenskap alleen). Gevolglik het 47% van die deelnemers aangedui dat hulle van mening is dat gebed meer effektief teen Covid-19 is as om ’n inenting te ontvang. Die resultate wek die indruk dat Christene oor die algemeen nie met moderne tegnologie en wetenskaplike deurbrake bybly nie. Dit wek die indruk dat Christene eintlik nie tred hou met die werklikheid nie, maar soos kinders wat in sprokies glo hul geloof in die fabelagtige, bonatuurlike vestig.

Sulke denke is natuurlik die gevolg van ’n weersprekende benadering waarvolgens ons denke oor die hemelse en ons denke oor die aardse, wêrelde van mekaar geskei is. Só ’n benadering hanteer geloof en wetenskap asof dit niks met mekaar te doen het en gevolglik ook niks vir mekaar te sê het nie. Hierdie navorsingsverslag – sy basiese voorveronderstellings, maar ook die antwoorde van deelnemers – toon duidelik hoe deurdrenk ons samelewing van hierdie soort teenstrydighede is.

Volwasse geloof bring egter juis die hemel en die aarde bymekaar. Die Christelike geloof was nog nooit net tot die geestelike beperk nie. Dit bely nog altyd geloof in die God van die hemel én die aarde. Ons leef nie in ’n soort teenstrydigheid waarin die geestelike lewe teenoor die fisiese lewe gestel word sodat ons noodgedwonge ’n keuse tussen die twee hoef te maak nie. Christene leef vanuit die wete dat die geestelike lewe nie los van die fisiese lewe staan nie, maar dit juis beïnvloed en bepaal.

Geloof en wetenskap gaan dus saam. Dit verdiep, verryk en verruim mekaar soos wat professor Alwyn Swanepoel in sy artikel Minderheidsverslag (5): Die onderdrukkende aard van staatisme aandui. Hy stel dat geloof juis die wetenskap kan verryk deur “te wys op moontlike eensydighede of dat dit te haastig is. Die geloof kan ook opmerk dat dinge in die openbare diskoers nie pluis is nie en dat die eintlike geloof vir baie in die wetenskap alleen lê (Sola Scientia).” Aan die ander kant verdiep, verryk en verruim die wetenskap weer die geloof deur dit uit te daag om konkreet te raak en nie in ’n moderne soort gnostisisme te verval waarin die geestelike verabsoluteer word nie. Ons is geneig om alles te vergeestelik terwyl die materiële en die geestelike bymekaar hoort en mekaar veronderstel.

Om hierdie rede werk Christene met ’n ander voorveronderstelling. Ons voorveronderstelling is dat God alles geskep het – die aarde en die volheid daarvan, behoort aan Hom (Psalm 24:1). Nadat Hy die mens geskep het, gee Hy in Génesis 1:28 opdrag dat die mens vrugbaar moet wees, moet vermeerder, die aarde moet vul en, belangrik, die aarde moet onderwerp en daaroor heers. Ons noem dit die kultuuropdrag. Dit word in
Génesis 2:15 herhaal wanneer God opdrag gee dat die tuin deur die mens “bewerk en bewaak” moet word.

Met hierdie opdrag het God die mens se geestelike lewe aan sy fisiese bestaan verbind. Hy sou sy Koning eer deur verantwoordelikheid vir die Koning se goed te neem. Die kultuuropdrag impliseer natuurlik dat God die aarde met al sy grondstowwe tot die mens se beskikking gestel het. Sy opdrag impliseer dat die mens dit sal gebruik en ontwikkel. Iets soos die ontwikkeling van entstowwe sou dus gereken kon word as ’n positiewe uitvloeisel van hierdie kultuuropdrag.

As gelowiges hoef ons dus nie deur verkeerde voorveronderstellings gyselaar gehou te word nie. Vir ons is dit nie óf gebed óf die wetenskap nie, maar beide. Ons glo immers dat God ook indirek werk. Dit beteken dat Hy van sekere middele gebruikmaak om sy raadsplanne tot uitvoer te bring en sy skepping te versorg. So gebruik Hy byvoorbeeld, as deel van sy algemene genade, dokters om mense te genees en wetenskaplikes om deur middel van teenmiddels die gevolge van die sondeval teen te werk.

Hiermee kan ons dit eens wees met professor Gerrit Smit wat skryf: “Ons leef in die troos dat God sy algemene genade aan die mensdom gee sodat ons oor die skepping kan heers, en ook mettertyd oor die virus kan heers, en daarom is ek dankbaar dat selfs ongelowiges in God se Raad gebruik kan word om God se kinders en sy kerk te dien – ook met die ontwikkeling van entstowwe.”

Met hierdie voorveronderstelling bid ons dus vir God se beskerming, maar kan ons ons ook met vrymoedigheid laat inent indien ons risikoprofiel dit vereis. Met hierdie voorveronderstelling eer ons die Koning oor wie se goed ons heers. Dit stel ons in staat om die wetenskap as gawe van ons goeie God te waardeer, maar om ook met verantwoordelikheid daarmee om te gaan sonder om daarvan ’n sola te maak. Om ingeënt te word, trek immers net so min ’n streep deur die effektiwiteit van my gebede as wat die keuse om nie ingeënt te word nie die indruk van groter geestelikheid wek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Snowball ·

Amen sê ek hierop. Dankie vir die logiese en geestelike insig oor inentings. God is die God van die Wetenskap, soos Hy die God van Genade en die God van Genesing is.

annie ·

Dit is ook so dat die Bybel meer sê oor pandemies of nader aan die waarheid, pes. Maar ons en ons se dominees vermy die gebruik van pes want dit dit hou verband met sonde en verkeerd en laasgenoemde vra erkentlikheid aan die regte en opdragte van die Skepper en waar ons verkeerd optree. Ons sal eerder wroeg oor watter entstof ‘vir my’ liewe ekkie beter sal maak om verder voort te ploeg na ‘n vernamer ryker ek wat seën verdien weens ek se human rights; lyende onder ander mense se wrongs.

MakersMark ·

Lees tog die Nuwe Testament ook. Ons hoef nie meer in bygelowe te glo dat God ons straf met pes nie. As God ons moes straf sou nie een persoon staande kon bly teen die oordeel nie.

Snowball ·

Lees gerus weer oor Jona en Ninevé, oor Lasarus en die dogtertjie van Jairus vir wie Jesus uit die dood opgewek het asook die genesing van die melaatses. Mense en individue aan wie God barmhartigheid getoon het, almal sondaars, almal skuldig, net soos alle mense vandag nog is – almal kan net aanspraak maak op kwytskelding en vergifnis van sonde deur die offer aan die kruis; tydens pandemies, tydens oorloë, tydens natuurrampe, tydens ellende, tydens armoede, selfs tydens rykdom, bly God se boodskap dieselfde.

annie ·

Dis ook waar dat ons nou glo dat niks meer sonde is nie en dat ‘n klein skenking aan die ‘ander’ en die kerk ons sondes bedek, sommer ook dié in die toekoms gepleeg. Te lekker…

Snowball ·

Genadiglik nie ons verantwoordelikheid om berou of opregtheid te bepaal nie. Ons gaan elkeen self, leeg, net met ons sondelas ons tyd kry voor die regterstoel, met net Jesus se verdienste om aan vas te hou.

FM ·

baie dankie vir die wel deurdagte berig

mens het nodig om die inligting wyd te deel

Thom ·

Gelukkig verminder die aantal mense wat hulself met die gelooffoefie laat indoktrineer by die dag . Kennis en inligting sink die leuens een na die ander .

OW ·

As geloof ‘n foefie is,waar kom die kennis en inligting vandaan?

Delene ·

Ek bly by die Bybelse beginsel, dat NET jou GELOOF in die Drie Enige God en Jesus Christus jou sal red! Baie Wetenskaplikes is Atëiste wat hulle met onBybelse praktyke, soos kloning besig hou….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.