Dis Poetin teen die globaliste; of is dit?

Aanvalle in Kiëf duur voort (Maart 2022) (Foto: Aris Messinis/AFP)

ʼn Familielid vra my onlangs aan wie se kant ek ten opsigte van die Rusland-Oekraïne-oorlog is. So asof die oorlog ʼn sport is en jy hierdie of daardie rugbyspan of bokser tydens ʼn wedstryd of geveg ondersteun. Die feit is dat daar ʼn ernstige oorlog in Europa woed wat die eerste keer sedert die einde van die Koue Oorlog die potensiaal het om in ʼn kernoorlog te ontaard.

Die slagordes vir ons wat die spektakel gadeslaan is reeds opgestel, afhangend van waar jou lojaliteite lê.

Dis die Nazi’s teen die Nazi’s

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Andrey Gorshkov /SPUTNIK/AFP)

Vir die een hoek se ondersteuners (kom ons noem hulle maar die demokrate, omdat hulle graag glo dat hulle demokraties is en alles wat uit die ander hoek kom totalitêr en fascisties is) is die Russiese president, Wladimir Poetin, die katalisator van alles wat verkeerd gaan. Die aggressor wat ʼn volk (die Oekraïners) van hul onafhanklikheid wil beroof en hul selfgeskepte held, Wolodimir Zelenski, Oekraïense president, wil vervang. Met ander woorde, goed teen sleg. Die demokrasie teen die nare Russiese diktator.

In die ander hoek glo die ondersteuners (kom ons noem hulle maar nasionaliste) dat hul man (Poetin) die eintlike antiheld is. Hy beveg die groeiende globale wêreldorde; hy is in ʼn hoek gedruk deur die Weste omdat hulle deur die jare die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo)-lidmaatskap nader aan Rusland uitgebrei het totdat Poetin eintlik geen keuse gehad het as om Oekraïne in te val nie. Die Amerikaners doen dit mos al jare in Irak (twee keer), Libië en Afghanistan, so hoekom kan die Russe dit nie ook doen nie? Met ander woorde, die antiheld wat die groot nare Weste die stryd aansê.

Rook hang in die lug bo Kiëf, nadat die stad Woensdagoggend deur ‘n vlaag ontploffings geruk is. (Foto: Aris Messinis/AFP)

Hierdie twee groepe se uiteenlopende standpunte oor “hul span” het ironies genoeg een ding in gemeen: hul span moet die Nazi’s aan die ander kant pakgee. Poetin word deur die Weste en hul ondersteuners as ʼn reïnkarnasie van Adolf Hitler, Duitse Führer in die Tweede Wêreldoorlog en anti-Semiet, beskou. Aangesien Hitler die verpersoonliking is van alles wat haat, moet hy beveg word. Aan die ander kant vra Poetin sy troepe om teen die “Nazi’s en kriminele” in Oekraïne (van beide is daar wel blykbaar heelwat) te veg.

Dus is die boodskap van beide spanne: ondersteun my span, want ek veg teen die Nazi’s.

Hierdie absurdheid is tekenend van die ongelooflike propaganda wat in ʼn oorlog betrokke is. Soos gewoonlik is dit nie net die waarheid wat in die proses sneuwel nie, maar uiteraard miljoene Oekraïners wat direk daaronder ly. Die res van die mensdom gaan wel die prys daarvoor betaal, hetsy deur kwaai prysstygings van petrol, of deur die gevolglike prysstygings van voedsel wat daarmee gepaard gaan.

Poetin se oorlog

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Dit is eintlik verbasend dat Poetin tot die stap van konflik teen Oekraïne oorgegaan het, omdat Rusland so baie kan verloor. Die redes vir Poetin se inval in Oekraïne kom in kort daarop neer dat Poetin die inskakeling van die ou Oos-Europese lande in Navo wou stuit deur ʼn streep in die sand vir die Weste te trek: Rusland sal Oekraïne eerder inval om dit te keer. In die proses word ʼn onafhanklike land aangeval en hul stede beleër. ʼn Aspek wat min aandag kry, is dat die hele Oos-Europa sedert die einde van die Koue Oorlog in tientalle staatjies opgesplinter het en die hele streek nog erg onstabiel is.

Hoewel Poetin die veldslag behoort te wen, gaan hy sekerlik die oorlog in die proses verloor en Rusland in ʼn swakker posisie plaas. Terloops, dit is nie heeltemal duidelik wat die Russe se taktiek in die oorlog is nie. Dit lyk of hul huiwerig is om eenvoudig die Oekraïense weermag plat te vee. Dit is uiteraard ook moontlik dat die Russiese weermag nie die vermoë het om dit te vermag nie, of dat die Oekraïners meer weerstand bied as wat verwag is.

Hoe dit ook al sy, die idee van kant kies vir een van die twee uiters korrupte “spanne” in die oorlog is eintlik nogal absurd.

ʼn Leierlose span

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski. (Foto: AFP via Oekraïense presidensie)

Oekraïne is een van die mees korrupte lande in die wêreld, met ʼn string oligarge (basies staatskapers na die Gupta-voorbeeld) wat elke aspek van dié ryk mineraal- en landbouland beheer. Zelenski, tot redelik onlangs nog ʼn komiese akteur, is ʼn marionet van die Weste, wat eintlik nie veel inspraak het nie, maar nou as ʼn ikoniese held uitgebeeld word. Die Oekraïense regering is ook in die sakkie van ʼn elite kliek wat die Westerse wêreld in die naam van demokrasie beheer.

Natuurlik haat die regering en baie van sy burgers vir Poetin en vrees Russiese oorheersing. Vir die oligarge gaan dit uiteraard om hul belange en reusewinste te beskerm. Die anti-Poetin sentiment word aangevuur deur die Westerse hoofstroommedia, wat die heroïese Oekraïense terugvegpoging (hul eie Dawid-Goliat verhaal) teen letterlik Hitler (Poetin) aan die gang hou.

Dis alles goed en wel, maar as die Oekraïense regering Navo op ʼn manier by die oorlog kan betrek, kan dit Poetin noop om kernwapens te gebruik. Poetin het hoeka gesê as die Weste Rusland wil vernietig, hy kernwapens sal gebruik, aangesien ʼn wêreld sonder Rusland eerder vernietig moet word.

Die Weste se ander probleem is dat daar geen werklike leiers in ’n ernstige krisis na vore tree nie. Vir baie dekades het hulle staatsleiers verkies wat eerder deur die massamedia voorgedruk is en basies maar tegnokrate vir die miljardêrs (eintlik maar die Weste se oligarge) se belange geword het. Neem byvoorbeeld die gebrek van werklike leierskap deur swakkelinge soos president Joe Biden van die VSA, Emmanuel Macron van Frankryk of Boris Johnson van Brittanje. Die Covid-19-pandemie het bewys die hele spul volg ʼn vooropgestelde agenda en bevorder ʼn soort Euro-Amerikaanse ryk.

Die tsaar van Rusland

President Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, Sputnik, Kremlin Pool via AP)

Aan die ander kant is daar Poetin, die Russiese president. Hoewel Poetin nasionalisties voorkom en oënskynlik die belange van Rusland op die hart dra, is die Russiese regering net so korrup as die Oekraïners met ʼn string oligarge in beheer van die ekonomie. Poetin beheer Rusland al sedert 2000 en maak seker sy politieke opponente word die een na die ander uitgeskakel (gaan google gerus Garry Kasparov en Alexei Navalny vir meer besonderhede).

Poetin het ʼn grootheidswaan dat hy as ʼn tipe tsaar van Rusland die Russiese ryk soos vergestalt in die magtige Sowjetunie moet laat herleef. Vergeet maar van die kommunisme, Poetin word deur magsbeheptheid gedryf en hy sien die agteruitgang van die Weste onder die woke Westerse regerings van vandag as die ideale geleentheid om ʼn nuwe wêreldorde te skep wat nie deur die VSA gedomineer word nie.

In die proses lê daar net mistroostigheid en armoede vir die Russiese bevolking voor. Die Weste het Rusland basies uit die internasionale ekonomiese orde geskop deur sanksies (soos hulle met Iran, Noord-Korea en Kuba gedoen het). Poetin se grootste hoop is dat China, wat tans neutraal teenoor die oorlog staan, die Westerse sanksies gaan ignoreer. Hy hoop basies dat Rusland se isolasie nie weens Rusland se olie- en gasrykdom gaan plaasvind nie.

Vir Rusland, wat nie eens onder die toptienekonomieë ter wêreld tel nie, is die oorlog ʼn geweldig riskante stap; ʼn stap wat deur Poetin se persoonlike ambisie gedryf word.

Einde van die petrodollar?

(Foto: FAYEZ NURELDINE/AFP)

Dit is hier waar die oorlog in Oekraïne interessant raak. China en ander is lankal keelvol vir die VSA se oorheersing van wêreldpolitiek en die internasionale finansiële stelsel. Saoedi-Arabië se Mohammed bin Salman (MBS) het onlangs vir die eerste keer ooit aangedui hy sal die Chinese Joean-geldeenheid aanvaar in transaksies om olie aan te koop. MBS wil die Biden-administrasie straf weens laasgenoemde se beheptheid om fossielbrandstowwe deur “groen krag” te vervang en Saoedi-Arabië dus irrelevant te wil maak.

Hy sien dus hierdie krisis as ʼn geleentheid om die Amerikaners se petrodollars (die eenheid waarin olie verkoop word) te probeer vernietig. China en Rusland probeer reeds jare (sonder sukses) om die dollar as internasionale geldeenheid te vervang deur hul eie eenhede of ʼn kombinasie van geldeenhede.

Die isolasie van Rusland kan dalk net hierdie orde destabiliseer en ʼn nuwe geldeenheid-orde skep. Of dit ooit Poetin se oorhoofse plan was, met die medewete van president Xi Jinping van China, sal ons seker nooit weet nie. Nietemin kan dit een van die gevolge van die Oekraïense oorlog wees.

Multipolêre toekoms

Hoewel die fokus tans op Russiese isolasie met die oorlog is, is dit duidelik dat die Amerikaanse oorheersing (Pax Americana) besig is om vinnig tot ʼn einde te kom. Ironies genoeg kan Poetin se inval Amerikaanse oorheersing ʼn doodskoot gee. Om die waarheid te sê, die kanse daarvoor onder ʼn stiksienige Biden is redelik goed. Die logiese uitkoms hiervan is ʼn meer multipolêre wêreld, met China wat ʼn groot rol speel, maar ook ander opkomende moondhede soos Indië. Rusland, ten spyte van Poetin se ambisie, gaan eerder ʼn mindere rol speel.

Maar eers moet die gevolge van die Rusland-Oekraïne-oorlog verreken word. Terwyl almal langs die kantlyn hul “span” (Weste vs. Poetin) aanmoedig, sterf Oekraïners in hulle honderde terwyl ʼn kernoorlog dreig.

Die gevolge van die oorlog gaan ons eersdaags vol in die gesig tref.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

VaalDonkie ·

puik skrywe. As ek goeie punte vir opstelle kon kry, sou ek ook my mening so weergegee het.

hendrie ·

Dankie! Loshande die mees objektiewe artikel oor die konflik wat ek nog te lese gekry het.

wildtuin ·

Briljante artikel , kommentaar sinvol en logies en volgens my die waarheid. en daar is ook nie emosioneel impulsief kommentaar gelewer nie. Nie net Rusland nie, maar ook die weste het verkeerd gedoen al. Ek het simpatie met Rusland dat hulle nie deur die weste oorheers wil word nie, maar die inval was verkeerd

Barend ·

Nuwe teorie; Of miskien is dit ‘n nuwe poging van die klomp wat die aarde se bevolking wil verminder aangesien die pandemie se vonk nou uit blyk te wees.

As hulle ‘n paar kernbomme gebruik sal dit vinnig kan wees. Die oorlog moet net reg bestuur word sodat almal betrokke kan word.

Die politici en die baie rykes het verseker al wegkruipplekke daarvoor gereed gekry. Buiten vir soldate sal die res van heelwaarskynlik offers word.

VaalDonkie ·

Nogal eienaardig hoe baie rykes en politici die afgelope paar jaar eiendom in Nieu Seeland gekoop het.

Pieter9 ·

Stem oorwegend saam; kern aspekte wat dalk meer belig moet word is dat die ‘opsplintering’ van die Oos Europa was vrywillig. Daar was verskiesings gehou. Daar is/was geen indikasie dat die Weste van plan is om ‘n lewenstyl (lees politieke bestel) verandering in Rusland te bewerkstellig nie. Poetin het paranoia sy oordeel laat oorheers en nou betaal die wereld die prys daarvoor. Die Oekraiine inval kan op geen wyse regverdig word en is my ondersteuning in hierdie geval, 100% met hulle.

VaalDonkie ·

Wel dink so daaraan: vir 8 jaar al word etniese Russe in die Donbas streek vermoor deur die Oekrainse paramilitere magte. Dit nadat die Minsk ooreenkoms sou sorg dat daardie streek onafhanklik sou word en geen geweld teen hulle gepleeg sou word nie. Rusland het besluit 8 jaar is genoeg en beskerm nou hul etniese Russe teen verdere geweld.

Thom ·

Moenie die Minsk ooreenkoms draai soos dit jou pas nie en nêrens maar nêrens is etniese Russe uitgemoor nie ___ ek ken ‘n hele klompie mense wie daar woon __ dit bestaan net in poetin se verwronge denke.

LeonS ·

Gaan doen bietjie navorsing oor die Holodomon, waar die Russe omtrent 100 000 oekrainers doodgemaak en verhonger het,Donbas is n druppel in die emmer van volksmoord, almal steek vas oor Donbas Soos n donkie

Treurwilger ·

Holodomor: die wreedheid en menseslagting onder Stalin Kommunisme in die 1930’s is geensins hier ter sake nie.
Donbas-gebeure is blatante verontagsaming van ooreenkomste.

Treurwilger ·

Skitterende, langverwagte artikel deur Nico Stegmann.

Glo nie dis juis ‘n “grootheidswaan” wat Poetin dryf nie, maar die dreigende aansluit van Oekraïene by ‘n absoluut toondowe NAVO wat die laaste strooi was wat Poetin laat ‘crack’ het.
‘n Ondeurdagte, onbesonne besluit, want die Weste beskou die inval nou sekerlik as ‘n finale bewys dat NAVO nodig is, terwyl die teendeel waar is. Toe die Warskou-Verdrag ontbind is na die Koue Oorlog moes NAVO ook.

Luister ·

Dit was heel onnodig vir Poetin om te “crack”, want NAVO het geen ambisie gehad om aan te val nie. Soos jy sê, nou het dit die teenoorgestelde uitwerking as wat Poetin sou wou hê en wil ander lande soos Finland ook oorweeg om by NAVO aan te sluit. Finland deel ‘n lang grens met Rusland. Wonder of Poetin hulle volgende sal inval?

Richard ·

Dit is merendeels ‘n goeie artikel, maar ek kan nie sien hoekom Zelensky as ‘n marionet van die Weste beskryf word nie, net omdat hy teen Rusland is. Hy is demokraties verkies.

VaalDonkie ·

Zelenski is “demokraties verkies” nes die ou wat Saddam Hussein vervang het.

Anna-marie ·

Sien Victoria Nuland se aandeel in die kies van ‘n “demokratiese verkose” regering in Oëkraiene.

Andries ·

ALLE MAAR ALLE politieke leiers word deur deur die een of ander poppemeester agter die skerms beheer. Dit maak nie saak wie vals, korrup, skelm of listig is nie, hierdie oorlog is volkome onnodig en die menselyding hartverskeurend. Dat Rusland bedreig kon voel deur NAVO is louter onsin – as mens in ag neem hoedat NAVO weermagte verskraal het sedert die val van die Muur.

Vir interessantheid sien Walter Veith se “Secret behind Secret Societies” op YOUTUBE

Thom ·

Hierdie is nie n Russiese probleem nie, dit is n Poetin-probleem.

Kokerboom ·

Dit maak nie saak hoe korrup, politities verwronge ‘n land is, die punt is “jy onderhandel x 10” en regverdig nie die verwoesting van land en sy mene…’n hele land!!!!!Hoe diep siek moet mens wees ???!!!

Akhenatha ·

Uitstekende artikel. Akkuraat. Amerika het verskeie lande ingeval en niemand het iets daaroor gesê nie. Maar as Rusland iemand inval, word hulle beskou as boewe. Die Amerikaners is vrek lui maar skatryk en arrogant omdat hulle almal forseer om hulle geldeenheid te gebruik – die dollar word daardeur strek gehou al is die gemiddelde Amerikaner baie lui. Dis hoog tyd dat die dollar sneuwel – maar word dit dan verang met die One World Currency van die Antichris?
Die oorlog stop nie, want almal KYK na hulle span en die Westerse leiers is te pateties om iets te doen. Intussen lei onskuldige mense.
Oekraiene was dom om terug te veg – hulle moes van die begin af oorgegee het – maar hulle beskerm eerder die kabaal.

Autobahn ·

Goeie vraag, of Putin ‘n globalis is. Ek dink ja, heel waarskynlik. Ongelukkig.

Word die Russe se taktiek in hierdie oorlog nie beïnvloed deur die Russiese burgers wat deur die paramilitêrs van Oekraïne as gyselaars vasgehou word in die stede nie?

Ek dink nog steeds dat Washington en sy vasalle vir Rusland in die oorlog gelok het. Al is Putin deel van die globaliste.

MT ·

‘n Treffer bydrae deur Nico Stegmann. Gebalanseerd, eerlik en in die kol, maw presies 180 grade van die kaf wat ons tot nou toe in die hoofstroommedia moes deurworstel.

Ek vermoed dat Rusland sterker uit hierdie konflik gaan kom as wat meeste kenners wil toegee. Kos en energie word nou grotendeels deur een persoon besit en bestuur

En of die CIA gaan toelaat dat daar ‘n Poetin vir nog lank in die toekoms gaan regeer, is natuurlik ‘n ander vraag.

Autobahn ·

Ek dink Putin is heel waarskynlik deel van die globaliste en ek dink nog steeds dat Washington en sy vasalle vir Rusland in die oorlog gelok het.
Word die Russe se taktiek in hierdie oorlog nie beïnvloed deur die Russiese burgers wat deur paramilitêrs van Oekraïne as gyselaars vasgehou word in die stede nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.