Dis US en ander politiek korrektes wat Afrikaans ‘laat doodgaan’

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch

’n Groot deel van die openbare gesprek oor en rondom Afrikaans en die Afrikaners word gewy aan die vraag rakende taal- en minderheidsregte enersyds en inklusiviteit en nie-rassigheid andersyds.

Dié naweek was dit weer so toe ’n aantal swaargewig-Suid-Afrikaners behoorlik van mekaar verskil het op die reünie-konferensie van die 61 Suid-Afrikaners wat 30 jaar gelede in Dakar met die ANC/SAKP gaan praat het.

Aan die een kant, luidens koerantberigte oor die saak, het die skrywer Breyten Breytenbach en dr. Theuns Eloff (oudrektor van die Noordwes-Universiteit en tans direkteur van die FW de Klerk-Stigting) gestaan. Die ander kant is verteenwoordig deur die twee broers Essop en Aziz Pahad, asook oudregter Johann van der Westhuizen en dr. André Odendaal.

Terloops, ’n mens moet nie verbaas wees oor laasgenoemde groep se houding nie. Die gebroeders Pahad was in die struggle-tyd lid van die SAKP, terwyl Odendaal as akademikus aan die Universiteit van Wes-Kaapland geen geheim van sy simpatie vir die kommunisme gemaak het nie. Van der Westhuizen se positiewe houding teenoor die ANC was ook al lank bekend.

Afgaande op die berigte oor die gesprek het Breytenbach hom verwoestend skerp uitgelaat oor diegene wat Afrikaans “laat doodgaan”. Hy het gesê dis nie die ANC wat dit doen nie, maar die Universiteit van Stellenbosch (waarmee hy waarskynlik ook die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat in gedagte gehad het). Hy het sulke mense – soos sy gewoonte is – buitengewoon fel as “gekke, lafaards en verraaiers” en “kruipers” beskryf.

Breytenbach se prinsipiële standpunt was die gedagte dat Suid-Afrika se krag in sy diversiteit lê, maar dat dié diversiteit nie van só ’n aard mag wees dat minderheidsgroepe hul identiteit moet prysgee nie.

Volgens die gebroeders Pahad, Van der Westhuizen en Odendaal moet daar eerder op inklusiviteit en nie-rassigheid gekonsentreer word. Aldus die waarskynlik sterk vereenvoudigde weergawe in die berig.

Dié standpunte vorm terselfdertyd die essensie van die gesprek oor die posisie van Afrikaans in die openbare lewe, met inbegrip van die voertaal op universiteit en skool.

Die een groep meen die taal- en minderheidsregte wat deur die Grondwet verleen en deur verskeie internasionale konvensies bevestig word, moet gewoon nagekom word. Dié mense sê om op ’n billike plek vir Afrikaans aan te dring, beteken nie dat daar vir vóórregte vir die taal gevra word nie. Wat gevra word, is waarop die taal en sy sprekers gerégtig is, en basta.

Die ander groep meen deur op regte vir Afrikaans aanspraak te maak, word nie-Afrikaanssprekers (lees: swart mense) uitgesluit. Só kom dit neer op ’n soort bedekte voortgesette apartheid, iets wat volgens sommige in elk geval die bedoeling is van die Afrikaans-voorstanders.

Geen mens by sy volle verstand kan in ons land met sy spesifieke geskiedenis nog ’n situasie voorstaan wat sekere mense – wit of swart, Afrikaans of anderstalig – doelbewus uitsluit en ’n soort apartheid wil voortsit nie. Afgesien van die intrinsieke immoraliteit daarvan, sou dit, gegewe die politieke werklikhede, buitengewoon onverstandig wees. Daarmee gee jy eenvoudig ’n pragtige argument op ’n skinkbord aan die Afrikaans-teenstanders.

Maar die Engels-drywers se houding berus in die algemeen op verskeie valshede.

Om mee te begin kom hul houding in die praktyk neer op die bevoordeling van Engels. En afgesien van die feit dat Engels (o ironie) nog veel meer as Afrikaans ’n koloniale en imperialistiese taal is, het die bevoordeling van dié taal ook uitsluiting en eksklusiwiteit tot gevolg.

Volgens die 2011-sensus is Afrikaans die huistaal van meer as 6,855 miljoen Suid-Afrikaners, en sowat 16 miljoen wat Afrikaans as hul tweede taal beskou. Daarteenoor staan die byna 5 miljoen wat Engels tuis praat. Slegs Zoeloe en Xhosa het meer moedertaalsprekers as Afrikaans.

Van die Afrikaanssprekendes is 50% bruin, 40% wit, 9% swart en 1% Asiër. Bowendien beskou sowat 16 miljoen Suid-Afrikaners Afrikaans as hul tweede taal. Hieruit blyk dat Afrikaans verreweg die mees nie-rassige taal in die land is.

Interessant genoeg, Engels is die enigste taal wat deur meer wit mense (1,6 miljoen) as swart mense (byna 1,17 miljoen) en bruin mense (946 000) tuis gepraat word. Daarby is slegs die helfte van die land se bevolking in staat om ’n gesprek op Engels te voer.

Die Engels-drywers voer gereeld aan dat almal in Suid-Afrika Engels verstaan. Dié taal is dus die aangewese lingua franca wat meer as Afrikaans geskik is as onderrigtaal op skool en universiteit.

Bogenoemde syfers loënstraf dié bewering en wys dat Afrikaans geen millimeter vir Engels agteruit staan nie.

Tog bly dit ’n feit dat sommige studente of kinders feitlik geen woord Afrikaans verstaan nie. Is dit dan nie waar dat Afrikaanse klasse op ontoelaatbare diskriminasie teen sulke mense neerkom nie?

Op sigself is die antwoord ja. Wat daarteenoor staan, is die feit dat veral bruin plattelanders byna nooit met Engels in aanraking kom nie. Diskrimineer eksklusiewe of hoofsaaklik Engelstalige klasse dan nie teen húlle nie?

Waarom sou diskriminasie teen nie-Afrikaanssprekendes dan verkeerd wees, maar diskriminasie teen Afrikaanssprekendes in orde? Om dit maar reguit te stel: Dit getuig van skynheiligheid.

Maar daar is nog ’n argument. Die stelsel van fluistertolkdienste op Stellenbosch en Potchefstroom het gewys dat daar volledig voldoen kan word aan die behoeftes en regte van nie-Afrikaanssprekendes sonder om die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal te beperk.

Met ander woorde, jy kan Afrikaans én inklusief wees.

Engels-drywers het met allerlei bewysbare drogredenasies gekom om dit te kritiseer. Dit sou dan te duur wees (op Potchefstroom kos dit ’n minimale bedrag teen die volledige universiteitsbegroting gemeet).

Ook het ’n beweging soos Open Stellenbosch beswaar gemaak omdat Afrikaanssprekendes die tolkdiens nie nodig het nie en dus bevoordeel word. Dis rassediskriminasie, is gesê.

Wel, die ervaring op Potch is dat die swart studente oorwegend baie positief op fluistertolkdienste reageer en baat daarby vind. Dit lyk oorwegend na ’n klein groepie amokmakers op Stellenbosch wat protesteer – en die feit dat die Stellenbosse universiteitsowerheid se knieë so maklik geknak het, herinner ’n mens aan ’n jellievis.

Breytenbach se stelling hierbo – dat dit nie die ANC is wat Afrikaans laat doodgaan nie, maar die US (en ander politiek korrektes) – is volkome in die kol. Die omgang van verskeie Afrikaanse organisasies met die ANC wys dat die beweging respek het vir beskaafde vasbeslotenheid.

Die US-owerheid en sy meelopers sal goed doen as hulle hier agter onder hul nek af voel. Hulle roep daardie ding ’n ruggraat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

CJ ·

Ag, asseblief! Breyten Breytenbach se oënskynlike veg vir Afrikaans! Dit gaan nie oor taal nie! Soos Leopold duidelik uitwys, is die feite oorweldigend! Maar feite tel nie. Dit gaan oor politieke mag en vergelding! Daar was nog altyd ruggraatloses onder ons wat guns by die magshebbers soek. Ons moet dit as ‘n tragiese feit oor onsself aanvaar en dit verreken in ons toekomsplanne. Die dag wat die Afrikaner aan politieke oorheersing onderwerp is, het die doodsklok vir Afrikaans begin lui, maak nie saak wat die taalfeite en -waarheid is nie. Dat Breyeten en die Dakar-besoekertjies dit nie kon voorsien nie, grens aan die bisarre. Nou word daar geskreeu teen hulle eie maaksel!

So lank as wat die Afrikaner nie politieke mag oor himself het nie, sal ons, en alles wat vir ons dierbaar is, vertrap word (beide deur magshebbers en “Joiners”). Die feit dat daar Afrikaners is wat nog nie hierdie les uit ons geskiedenis kon leer nie, is verstommend!

Leendert ·

Terwyl daar dan nie genoeg universiteite in die land is nie, is daar nie ‘n ander keuse nie en onderskryf mens 100% wat Dr Scholtz hier bo skryf. Dit is in alle geval al baie lank waarvoor die wat pro-Afrikaans is agiteer.

Maar dit word in die wind geslaan en so word Afrikaans stukkie vir stukkie afgebreek. Die uiteinde blyk om die Afrikaner uit als te weer, nie net sy Taal nie, dus stuur die versugting daarop af dat die enigste oplossing, uiteindelik, sal wees soos wat CJ sê. Ons moet net daarteen waak dat die uiteinde nie gaan wees: “Te min, te laat”, nie.

Bert ·

Deel van die probleem is ons eie ‘intellektueles’. Daar is selfs ‘n benaming vir hulle: IYI oftewel Intellectual yet Idiots, deur Nicolas Taleb. Lees dit. Basies mense met soveel grade maar geen praktiese intelligensie nie.

Eish ·

Intussen moet die kinders studeer te midde van die ontwrigting. Die gemiddelde Afrikaanse persoon met kinders op universiteit ervaar die situasie as nog n aanslag op die Afrikaanssprekende. Meeste gemiddelde Afrikaanssprekendes het al goed deurgeloop onder regstellende aksies, die krimpende ekonomie en misdaad. Water vloei die pad van minste weerstand. Mag Akademia spoedig ontwikkel in die Afrikaanse universiteit wat ons met verwagting na uitsien en waar jy nie in n hewige stryd moet toetree om basiese regte nie. Mag die keur van Afrikaanse akademici wie se harte op die regte plek sit, daar doseer.

Gerhardus Petrus Padda ·

Kan n minderheids taal en kultuur oorleef deur inklusief te wees?

Nee dit kan duidelik nie en daar is baie redes en “proxies” uit die geskiedenis wat dit vir ons bewys.

Die taal en kultuur van “empire” kan inklusief wees.

Elkeen sal maar moet kies wat is vir hom belangriker in die lewe.

Terloops, die Christelike gemeenskappe of “ecclesia” in die Nuwe Testament was enklawes teen die wereld.

Koos1 ·

Ek was altyd onder die indruk dat ons in SA die wêreld se beste grondwet het, maar die grondwet word gebruik om die minderheidgroepe pakslae te gee!

JC ·

Presies, dankie Koos.
Ons Ware Afrikaners, m.b.v. instansies soos Afriforum, doen nou maar wereens ons eie ding en bou weer ons eie AFRIKAANSE instansies (Akademia) op!
Hulle kan hul Engels vat en gaan, basta met dit!

Allesverloren ·

Stellenbosse sakelui het ‘n keuse vir Engels gemaak. Jy sien dit oral by hul plase, wynkelders en restaurante. Ook orals in die dorp. Die probleme het begin by ‘n beleid van meertaligheid en veeltaligheid. Die situasie het nou onomkeerbaar verander. Afrikaans sit nog net as versiering op universiteitsgeboue.

John ·

Breyten se jongste digbundel is seker by die drukkers en benodig dringend publisiteit en die De Klerk-Stigting glo die volk wag in spanning op Hoofstuk 2 van hul drama genaamd: Ek… ek … ek. Die res van die die ‘cast’ … is… wie nou weer?

Versoek ·

AfriForum se nuwe ondersoekeenheid moet dringend aandag gee aan substansiële Afrikaner-bemakings, wat spesifiek stipuleer dat dit vir die bevordering van Afrikaans aangewend moet word. Dit is duidelik dat ons eie mense nie meer vertrou kan word nie.

JohanS ·

Afrikaans is in die laaste loopgraaf. Daar is die wat sal voort veg, die wat oorgegee het en die wat met die vyand (in figuurlike sin) heul om hul eie agendas te bevorder. Die vraag is, waar bevind jy jou?
Die geskiedenis sal ons oordeel. Mag dit nie liewer nie té swaar wees nie…

JC ·

Ons baklei Johan(en dit teen ons “eie” mense) soos honde in die straat!

Johann ·

Ons is nou al so gemesmeraais, ons weet nie meer of ons Arthur of Marther is nie. Skande, en dan noem ons ons Afrikaners. Ok, daar is nie ‘n Afrikaner aan die stuur op Stellenbosch nie.

Werner ·

Jy kan nou eenmaal ‘n storie inkleur soos jy wil…op die ou end kry jy elke keer ‘n inkleurboek! Hoog drawende artikels bereik slegs taalkundiges. Die man op straat (wat die groot gros is wat Afrikaans praat!) lees nie die tipe artikels/berigte nie.
Die grootste probleem met Afrikaans is verder die mense wat sogenaamd vir Afrikaans baklei…pasop vir die wolwe in skaapsklere.

JC ·

Goed gestel. Dankie Leopold.
ONS.SAL.NIE.OPHOU.VEG.VIR.AFRIKAANS.NIE.
AL WAT V/D WESTHUIZEN EN KIE DOEN, IS OM TE SORG DAT SEGREGASIE INDERDAAD VERSTERK WORD DEUR HUL OPTREDE EN/OF WEER INGESTEL WORD OP SUBTIELE WYSE, EN SIMPATIE VIR DIE SEGREGASIE GEWEEK WORD WANT HULLE DWING NOU INDERDAAD AFRIKAANSE STUDENTE OM TE KIES TUSSEN ONDERRIG IN HUL MOEDERTAAL OF ONDERRIG IN ENGELS EN DIE STUDENTE KIES VIR AFRIKAANS EN WORD GEDWING OM ANDER OPSIES TE KIES.AFRIKAANS WORD NIE DAARDEUR GERAAK WORD.
HET GEDWONGENDHEID AL OOIT IN DIE WERELD GEWERK??????????????
AFRIKAANSE STUDENTE HERSEGREGEER DUS VAN SWARTES, IN ‘N DESPERATE POGING TEN EINDE TE KAN LEER IN HUL MOEDERTAAL; WAAR DAAR VOORHEEN TEN MINSTE KONTAK TUSSEN BLANK EN SWART WAS; DEUR TE “MIGREER” NA UNIVERSITEITE SOOS PUKKE EN OOK DIE PRIVATE AFRIKAANSE UNIVERSITEITE AKADEMIA EN ANDER PRIVAAT INSTANSIES?
DIE PUNT IS DAT HULLE DAARTOE GEDWING WORD!!!!!!
WAT VERSTAAN DIE GENOEMDE KORRELKOPPE NIE?

Bert ·

Hensoppers en hanskakies sal daar altyd onder ons wees. Elke volk het hulle.

JC ·

Dit is so Bert:) Elke volk het hulle. Dank die Here ek is nie een van hulle nie.

JC ·

V/d Westhuizen en Kie is besig met grootse drogargumente.
Mag jy nie beide Afrikaans en INKLUSIEF wees nie, terwyl dit jou reg is, waarvoor vir dekades opofferinge en moeite gedoen is?
Moet jy NOU kies daartussen om Afrikaans OF inklusief te wees? Watter tipe “demokrasie” is hierdie????
Dis my reg EN NIE ‘N VOORREG om in Afrikaans onderrig te ontvang, dit staan enigiemand anders van ‘n ander kultuur en ras vry om dit te doen EN DIT pedagogies verantwoordbaar te maak om te kan swot in HUL taal of tale welke hulle nie doen nie. Moet ek as Afrikaanse student die skuld toegeskryf word vir hul laksheid en versuim?
Niemand word teen diskrimineer deur die feit dat ek VERKIES om in my moedertaal te studeer nie, nie eers naby nie, en nie eers indirek nie.
Taal gaan na die hart van kulturele groepe se studentelewe op kampus en soveel meer om te kan swot in jou moedertaal. Dink hulle wragtig studente gaan dit opgee, wat beoog hulle anders as segregasie?
“Inklusiwiteit” is ‘n vermomde eufemisme vir mettertydse OORHEERSING(van gedagtes ook!!)
EK GAAN NIE MY TAAL AFRIKAANS OPGEE TEN EINDE “INKLUSIEF” TE WEES NIE, WANT DIT GAAN MY NIE MEER OF MINDER INKLUSIEF MAAK NIE EN IS GEBASEER OP ‘N UITERS VALSE UITGANGSPUNT.

Frans C ·

As jy ‘n hond wil slaan sal jy altyd ‘n stok kry. Afrikaans sal altyd onder enige ANC-regering en sy meelopers die taal van die verdrukker wees.Dit is baie duidelik dat tale verskeidenheid ‘n struikelblok is in die oë van diegene wat hul beywer vir totale integrasie waarin alle volkeverskeidenheid en eie taal ook verdwyn.
In die USSR was daar ook ‘n verskeidenheid van tale maar Russies was die voorrangtaal in die weermag en ander staatsinstansies.Vandag is engels die voorkeurtaal in feitlik alle staatsinstellings en munisipaliteite en soos Afrikaanssprekendes alhoeminder belangrike
posisies beklee sal Afrikaans uitfaseer word,tot dat net ‘n spreektaal oorbly.

Dit is wat gebeur wanneer jy om ‘n tafel gaan sit en met kommuniste ens ‘n ooreenkomskoms probeer bereik,taal, volkseie kultuur ens is slegs lippetaal wanneer dit
by die praktiese implementering daarvan kom. Dat daar ‘n gros mense wat eie belang bo dit stel help ook nie die saak nie.

Merkur ·

Dr Scholtz. Wat ´n verassing vir my om hierdie artikel van jou te lees. Alhoewel ek ook in hierdie artikel nie met alles van jou saam stem nie, vind ek die hoof boodskap baie goed. En die inhoud interessant. Tree daar ´n verandering by jou in en word jy heel moontlik ook patrioties of veg vir, ten minste, jou taal? Welkom in die wêreld van die polities “onkorrektes”. Al is dit laat is dit nog steeds regtydig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.