Distrik Ses was meer as ʼn krotbuurt

distrik-ses

Foto: Whatsonincapetown.com

My ma was 16 jaar oud toe hulle in 1964 soos honde uit haar geboorteplek weggejaag is. Ek het vanoggend met haar gepraat, en haar heimwee en vertellinge van haar grootworddae by 225 Caledonstraat, my oumagrootjie se huis, het die woede en die kwaad net laat opvlam. Mag daai etter wat dai papier geteken het en al sy f-kk-n nasate vir die res van hul miserabele f-kk-n lewens in die hel brand. En mense wat sê ek moenie hul nasate verkwalik nie, f-kk-f!

Dit is ʼn inskrywing op Facebook op die 50ste gedenkdag van die sloping van Distrik Ses, wat ʼn gemengde unieke Kaapse woonbuurt vir hoofsaaklik 60 000 bruin mense was. Dit het verskyn onder die naam van ʼn senior joernalis.

Maar soos met die meeste goed het ʼn saak twee kante, want hier is twee ander beskouings wat as SMS’e in ʼn Kaapse koerant verskyn het:
“Distrik Ses is as ʼn krotbuurt verklaar – gevaarlik en ongesond. My ma was so bly om in ʼn nuwe huis te gaan bly.”

“Ek het Distrik Ses self ervaar. Dit was ʼn krotbuurt en ʼn misdaadnes.”

Hierdie woonbuurt in Kaapstad se stadskom dateer van ongeveer 1867 as huisvesting vir vryslawe, handelaars, vakmanne en arbeiders. In 1901 is swart mense weens builepes verskuif en 2 000 nuwe huise is gebou, maar die groot tragedie het in 1966 begin toe dit onder die Groepsgebiedewet tot ʼn wit gebied verklaar en begin is om huise plat te stoot.

Ander gebiede – soos die Maleierbuurt die Bo-Kaap en ʼn buurt soos Woodstock – is nie deur die nuwe wetgewing geraak nie. In haar boek oor Trevor Manuel skryf Pippa Green, wat die ANC baie simpatiek gesind is, die redes was omdat die Bo-Kaap nie ʼn misdaadnes en in die pad van nuwe snelweë was nie. Hieruit mag ʼn mens dalk aflei dat apartheid nie die enigste rede vir die sloping van Distrik Ses was nie.

Dat die wetgewing nietemin die hart uit ʼn gemeenskap geruk het, kan ook nie weggeredeneer word nie. Die werkersgemeenskap van die Kaap wat nie wit was nie, is verstrooi in die land van hul geboorte.

Premier PW Botha het dit anders gesien en het uitgevaar teen die inwoners se “ondankbaarheid”. Wat hom betref het die meerderheid inwoners in huise gewoon wat aan wit mense behoort het en is hulle uitgebuit en moes hulle in krottoestande oorleef. Ná die verskuiwings het hulle hul eie huise besit.

“Julle moet my bedank vir wat ek gedoen het, want julle woon nou in waardigheid.”

Die “waardigheid” het teen ʼn enorme prys gekom, wat in Die nuwe geskiedenis van Suid-Afrika só opgesom word: “Daar was feitlik geen ekonomiese of sosiale dinamiek in die nuwe woongebiede nie. Buurte en selfs gesinne wat met die verskuiwings verbrokkel het, is afgelaai in nuwe gebiede sonder infrastruktuur.”

Dit bly moeilik om in hierdie tyd ʼn getroue beeld te kry van die ware Distrik Ses. Mense wat hul herinneringe deel, onthou net die positiewe aspekte.

“Dit was in ‘n gebied waar alles pragtig was. Ek onthou die mense, strate, huise, skole, moskees, kerke, bioskope, vermaaksentrums en sportgeriewe. Ons het nie badkamers in ons huise gehad nie en het by die openbare baddens vir stortbaddens betaal.”

In die 1950’s – toe daar groot druk opgebou het vir die sloping van Distrik Ses – het die Cape Times ʼn reeks artikels gepubliseer waarin moeite gedoen is om te ontken dat Distrik Ses ʼn vuil plek vol bordele en bendes was en in die proses sy eie mites geskep waarin klem gelê is op die lewendige, vrolike en feestelike aard van die woonbuurt.

Vandag word die gebied onthou as ʼn plek waarin selfs die bendelede eintlik skadeloos en onskuldig was en die kern van die skollies bestaan het uit kinders wat ʼn lewe gemaak het uit die verkoop van koerante.

Die Distrik Ses-museum wat in 1989 geopen is en David Kramer en Taliep Petersen se musiekspele verheerlik die positiewe aspekte van die buurt en die lewe daar.

ʼn Oudinwoner ontken ook dat dit ʼn krotbuurt was. Mense het elke jaar hul huise geverf. Dit was skoon, binne en buite, vertel hy. Maar baie foto’s van die ou Distrik vertel ʼn ander verhaal….

Dr. Morné Mostert, direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing, stel dit só: “Heimwee … is op ʼn selektiewe verlede gefundeer. Heimwee sluit ook die selektiewe geheue in, wat die [volle] werklikheid verskuil.”

In sy doktorstesis skryf CJ Laubscher oorbevolking (gemiddeld 2,5 persone per bewoonbare vertrek) was een van die grootste oorsake van verval in Distrik Ses. Die gevolg was onderverhuring, gruwelike uitbuiting van huurders, misdaad en sedelike verval wat aan die gebied ʼn “slum”-status besorg het.

“Hoewel sommige vorige inwoners tevrede was met hul nuwe woonplekke, was die meeste ontevrede oor die hoë verbandkoste van nuwe wonings, hoër reiskoste en die verbrokkeling van gemeenskappe.”

Oor die afgelope halfeeu het daar min op die gebied van die hervestiging van oudinwoners gebeur, hoofsaaklik weens rompslomp en omdat die drie hoofinstansies wat die besluite moet neem, onderling verdeeld is en elkeen in ʼn ander rigting beur. Sowat 50% van die grond van Distrik Ses – wat amptelik Zonnebloem heet – word deur die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie (KSUT) beset.

Tot op datum is net 139 wooneenhede gebou en fase 3 (die bou van nog 40 eenhede) is tans onderweg.
Noor Ibrahim (72), skrywer van die boek My Life in District Six, onthou hoe hy met duiwe geboer het. Met die verskuiwing het hy sy duiwe saamgeneem en drie maande in hul hok gehou om hulle gewoond te maak aan hul nuwe blyplek. Hy het hulle toe losgelaat, maar hulle het nie na hul nuwe huis teruggevlieg nie.

Toe hy die volgende dag terugkeer na die kaal erf waar sy huis in Distrik Ses gestaan het, skryf hy, sit die duiwe daar op ʼn hoop en wonder wat van hul huis geword het….

Daar was natuurlik baie ander verskuiwings in die land, ook van wit gemeenskappe, maar geeneen daarvan het dieselfde groot letsel gelaat as Distrik Ses nie.

Noor Ibrahim sê die kinders vra dikwels hoe kon mense dít aan mense gedoen het. Hy vertel hulle dan van die apartheidsjare se swaarkry. “Maar vir dit wat hulle aan ons gedoen het … ons haat hulle nie, ons vergewe hulle.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Berny ·

Al was ek self daardie jare ‘n klein dogtertjie, voel ek ook dat die wit regering onmenslik teenoor Distrik ses se mense was. Ek voel nog steeds so. Noor, dankie vir jou vergifnis. Ons was blank maar het ook apartheid beleef tussen ons eie mense veral nadat my ouers geskei is.

Reinhardt ·

Uiters onmenslik. Daai gedeelte van die duiwe het nou sommer n knop in my keel gesit.

MJL ·

Die waarheid het altyd drie kante: my waarheid, jou waarheid en dan die regte waarheid.

Pieter.v ·

Ek glo dit is n hoofstuk in ons geskiedenis wat ons liefs sal wil vergeet , as jy gaan stilsit en mooi daaraan dink was dit onmenslik en wreed ,kan ons ons voorstel as dit met enige persoon moes gebeur wat op n sekere plek gewooon het, teen jou sin verskuif is sou jy nie ook in opstand gekom het nie? As daar gekyk word na fotos van daardie tyd sal opgemerk word dat geskiedkundige geboue gesloop is wat in sigself n skande is, en ek hoop dat van die ouere inwoners vir ons van daardie geskiedenis sal nalaat.Ek glo Distrik ses kon met die vondse wat gebruik was om alternatiewe blyplek en die verskuiwing van die mense gebruik gewees het, om die plek op te knap en woonbaar te kon maak .

Karma ·

Onteiening en gedwonge verskuiwings het nie net in Distrik 6 gebeur nie. My Oupa aan moederskant het, volgens oorlewering, ook hul ou plasie verloor (hulle is ONTEIEN en het só ‘n ou klein bedraggie ter vergoeding gekry dat hulle nie eens ‘n huisie op die dorp kon koop nie), toe Dysselsdorp (tussen Oudtshoorn en De Rust) as lokasie verklaar is en Kleurlinge soontoe moes verhuis. So, Distrik 6 is nie ‘n verhaal op sy eie nie en daar is ook witmense wat gely het onder die oprig van groepsgebiede.

In elk geval, wat toe gebeur het, bring die huidige volk van SA niks in die sak nie. Wat ons voorouers teen geveg het, met bloed en trane voor betaal het, het in 1994 in elk geval gebeur en nou sit ons met die gebakte pere. Almal het my altyd veroordeel toe ek destyds gesê het dat De Klerk en kie. ons verraai het en ons land verruil het vir ‘n bord lensiesop. Ek weet ek het reg gestem in daardie jare, maar nou stem ek glad nie meer nie. ‘n Mens kan die IVK in elk geval minder vertrou as die ANC regering.

Illa Conradie ·

Distrik Ses wás ‘n krotbuurt en misdaadnes van bendes, maar ook mense se hartplek waar hulle gelukkig geleef het. Die wiel het gedraai en ons erken nou dat die verskuiwing nooit moes gebeur het nie. Nou wonder ek net wanneer die wiel wéér gaan draai en almal gaan erken dat die gróót verskuiwing van die afgelope 20 jaar, van kundige mense uit poste oral in hierdie land, ‘n nog groter misdaad was. Nie net een nie, maar baie woonbuurte het leeggeloop waar groot firmas duisende afgedank het, stresverwante siektes het onder mense gemaai, en ergste van alles, die land se infrastruktuur en ekonomie is daarmee heen. Tans word hierdie groot “verskuiwing” deur die nuwe regime nog deur baie goedgepraat, maar as dié sweer eers oopbars, gaan dit Distrik Ses na ‘n storm in ‘n teekoppie laat lyk. Vergifnis is moeilik as jy met verlies van werk, woonplek, pensioen en gesondheid moet saamleef. ‘n Mens sit maar en wag dat die wiel draai en karma sy werk doen. Soos die Engelse spreekwoord sê: Give a dog enough rope and he’ll hang himself.

Nico K ·

Ek dink ook die verheerliking van Distrik Ses is ‘n emosionele ding. Veral liberale blankes beskryf dit as ‘n plek wat dit ‘n wonderlike “vibe” gehad het. Dit was ‘n plakkerskamp! Wat kon so wonderlik daaraan gewees het. En die persone wat verskuif is, het natuurlik ‘n heimwee daaraan. Maar ons almal weet dat met heimwee onthou ons net die lekker dinge. Daar is nuwe huise vir hulle gebou. En die plekke waar hulle gebly het, is nie deur hulle besit nie. Huurders word daagliks uit hul huise gesit. En niemand dink dit is snaaks nie. (Ek het ‘n vermoede dit was die verskil met die Bo Kaap. Ek dink in die Bo Kaap het hulle die eiendom besit. In Pretoria het Indiers wat uit die stad geskuif is ook die eiendom behou waar hulle winkels gehad het.) Talle mense word om baie redes verskuif. (Ek dink maar aan mense wat moes trek omdat hulle grond ‘n dam geword het. Niks onmenslik daaraan nie.) En dan wat van die honderde blanke boere wat hul plase verloor het. Ek het saam met so boer oor sy eertydse grond gestap. Die huis was swart soos hulle in die huis vuurmaak. En in die famielie kerkhof is daar 3 geslagte begrawe. Wat is die verskil?

Sarie ·

Dit word ook nie genoem dat die eienaars van baie van die plekke was Jode wat elke maand hulle pond vleis van die arm mense kom eis het. Dit het ook in ander Bolandse dorpe in die Boland soos Malmesbury gebeur. ‘n Bruin man het vertel hoe die Jood elke maand gekom het en hulle in vrees en bewing vir hom gewag het. My Oupa se broer het op die spoorweë gewerk en hy en sy familie het in Elsiesrivier gehuur. Ek onthou nog die brief wat hy aan my Oupa geskryf het waarin hy vertel het dat hulle nou moet trek. Elke regering pleeg onreg. Tydens die Anglo-Boereoorlog is vrouens en kinder swart en wit na konsentrasiekampe weggevoer en hulle plase en eiendom verbrand. Die onregte van ons huidige sogenaamde demokratiese regering is net so erg. Die verskil is dat daar in die verlede altyd diegene uit die onderdrukkers se kamp opgestaan het om die onregte te veroordeel. Ongelukkig gebeur dit nie vandag nie. Die enigste een is Rhoda Kadalie wat vandag se onregte kaalvuis uitwys.

Anna-Marie Scott ·

Ek was n wit kind, het in Distrik 6 gekuier en lekker gespeel. Ek dink aan Ada en Leslie wat my bederf het en oral saam gesleep het. Die mense het my gemaak wat ek is. Hulle het daardie dae 2 kinders gehad – Melanie na wie my dogter vernoem is en Mark. Ek wens ek het geweet waar hulle nou is. Was baie lief vir hulle. Dit was vir my wonderlike dae – die koekies en die kondensmelt tee sal ek nooit vergeet nie.

Melanie ·

Dit gee my hoendervleis toe my man hierdie artikel wys. My mooiste herrineringe is van Wesley st inni Kaap en my maatjie was Mark n Jodse seuntjie en Lynne n kleurling dogtertjie en ons het die strate plat geloop en om die hoek was n gemengde buurt. Daar was nooit n kleur grens nie en almal het in vrede geleef.

antonie ·

baie eiendom wat uitverhuur was, het aan jode behoort. Daar was n groot misdaad element tenwoordig in distrik ses, maar om almal te skuif was n groot fout en mislukking, en n ‘pasella’ vir die anti apartheid brigade, dit het hulle ‘ammo’ en motivering gegee om na 20 jaar nog steeds te kla en huil en sing en hoorbeelde op rsg te he, ..tsk, tsk ag shym, huil, huil’ weeping

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.