Dit gaan oor meer as grond

Foto ter illustrasie. Foto: Matthew Miles/Unsplash.com

Deur ds. Schalk Strauss

Die Vryheidsfront Plus se verkiesingsplakkaat met die slagspreuk “Slaan terug”, het daarin geslaag om iets van die innerlike verset en protes wat tans in baie Afrikaners en Suid-Afrikaners se harte leef, te verwoord. Mense kon daarmee assosieer, want hulle is in opstand. Oral in die land word daar op verskeie maniere teen ’n verskeidenheid dinge protes aangeteken.

Tydens die sogenaamde Swart Maandag-protesoptrede van 2017 wys derduisende Suid-Afrikaners hul ongelukkigheid met plaasmoorde. In Oktober verlede jaar reël Solidariteit ’n optog na Sasol se hoofkantoor in Sandton om hul ongelukkigheid met SASOL se aandeleskema, waarin slegs swart werknemers bevoordeel word, uit te druk. ’n Ander deel van die Suid-Afrikaanse bevolking kies om hul verset en protes op ’n meer gewelddadige wyse uit te druk. Daar gaan amper nie ’n dag verby waar daar nie iewers bande gebrand, klippe gegooi en infrastruktuur beskadig word in ’n poging om die regering se aandag op mense se ongelukkigheid te laat fokus nie.

Buiten vir dit wat reeds genoem is, sluit die sake waaroor mense in verset is en waaroor hulle protesteer, dinge in soos grond – die onteiening daarvan, maar ook die behoefte daaraan (of selfs opeising daarvan). Mense is ongelukkig oor swak dienslewering, leë beloftes wat ná bykans dertig jaar nog steeds nie nagekom is nie. En natuurlik werkloosheid. Daar is groot ongelukkigheid oor die stand van die ekonomie – dinge soos hoë brandstof- en kospryse bring mense in opstand. Mense is keelvol vir korrupsie, plaasmoorde en ander vorme van misdaad en wetteloosheid. Sekere groepe, soos die Khoi-San-volk, protesteer omdat hulle voel hul word nie as die regmatige eerste inwoners van Suid-Afrika erken nie, terwyl Afrikaners in opstand kom omdat hul kultuur en veral iets soos moedertaalonderrig en Afrikaanse skole en universiteite toenemend in die spervuur is.

Tog is dit interessant om tussen al hierdie dinge waaroor daar, dikwels met reg, in opstand gekom word, na ’n gemene deler te soek. Wat uitstaan tussen al die sake waaroor mense protesteer, is dat dit hoofsaaklik beperk is tot daardie dinge wat ons aardse sekuriteit bedreig. Dit wat ons welvaart, gerief, leefstyl of selfs net ons vermoë om te oorleef, in gedrang bring, is die dinge waarteen ons in opstand kom. Dit is dinge waarvoor mense selfs bereid is om die wapen op te neem en oorlog te maak. Natuurlik is dit nie verkeerd om teen hierdie soorte onreg in opstand te kom en daarteen te protesteer nie. Die Skrif eis immers dat ons teen alle vorme van onreg en goddeloosheid in opstand sal kom, veral waar die Goddelike lewensbeginsel in gedrang kom. Wat ons egter moet besef, is dat gelowiges se stryd oor baie meer gaan as net grond of daardie dinge wat tot ons aardse sekuriteit bydra. Ten diepste gaan dit oor grondgebied – die grondgebied van die hart. As ons dit nie besef nie, gaan ons uiteindelik baie meer as net ons grond, ons werke, of instellings verloor.

Dit is ’n stryd wat reeds in die tuin van Eden begin het en wat uiteindelik deur die moederbelofte van Genesis 3:15 tot met die wederkoms in die vooruitsig gestel word: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” Paulus sluit hierby aan wanneer Hy in Efesiërs 6:12 skryf: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”

Van hierdie stryd was die kerk nog altyd deeglik bewus. Dit was ’n stryd wat die apostels en baie van ons geestelike voorvaders aan hul lyf gevoel het. Verset in die naam van hierdie stryd, was ook nog nooit vir die kerk vreemd nie en word veral in Petrus en Johannes se getuienis teenoor die Joodse raad verwoord: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” (Hand. 5:29).

Die Hervorming kan sekerlik as een van die hoogtepunte in hierdie stryd beskryf word. Met sy 95 stellinge teken Martin Luther protes aan teen sekere dwaalleringe in die Roomse Kerk. Dit was ’n stryd om die hart van die evangelie met die siele van sondaars op die spel. Hoewel hierdie protes hoofsaaklik ideologies was, het dit by tye selfs tot die opneem van die swaard gelei sodat ons Nederlandse voorvaders bereid was om vir meer as 80 jaar vir godsdiensvryheid te veg (1566-1648).

Weens ons gereformeerd-protestantse wortels, staan die Afrikanervolk stewig geanker binne hierdie tradisie van protes en verset. Ons ontstaansgeskiedenis wat, onder meer, die koms van die Franse Hugenote insluit wie se verset teen Roomse-Katolieke oorheersing tot hul vervolging en diaspora gelei het,  is sprekend van die bloed wat deur ons are vloei.

In die voetspore van ons voorgangers, word ons opnuut opgeroep om nie die eintlike stryd uit die oog te verloor nie. As gelowiges is ons geroep tot verset – verset teen Satan en die sonde; verset teen die verwatering van die Skrif en valse interpretasies daarvan; verset teen die uitdaging van God se gesag; verset teen die liberalisme wat hande vat met humanisme ten einde ’n Skrifvreemde, dog polities-korrekte evangelie op te dis. Kortom, ons is geroep om nie net óns stukkie grond te beskerm nie, maar om die koninklike grondgebied wat aan ons sorg toevertrou is, te beskerm. As Paulus ons oproep om vas te staan (Ef. 6:14), dan is dit ’n oproep om nie ’n duimbreedte van hierdie grondgebied prys te gee nie.

As ons onomwonde verklaar dat ons hiervoor staan, behoort dit ook duidelik te word in die dinge waarteen ons ons verset en waarteen ons protes aanteken. Dit help nie ons stook mekaar deur die dag op met oorlogspraatjies oor grondonteiening, maar saans skuif ons ewe gerieflik langs vroulief in om ons gunstelingprogram op KykNET, Boer soek ’n (vr)ou, te kyk nie. Dit help nie ons baklei vir moedertaalonderrig, maar ons gee nie om as ons kinders reeds van so vroeg as graad 4 al aan onderwerpe soos masturbasie, pornografie en Christus-onterende waardes blootgestel word nie (solank dit darem net in Afrikaans is, of hoe?).

Wie die gesag van die Skrif handhaaf en die strydbyl vir die eer van God en die grondgebied van sy koninkryk opneem, soek nie verskonings vir die hoë egskeidingsyfer in Suid-Afrika nie. Hy ondersteun nie vrye keuse wat moord deur middel van aborsie wettig nie. Hy stry nie teen korrupsie omdat dit hom van dienslewering beroof nie, maar omdat God diefstal en selfverheffing haat. Hy is nie tevrede met ’n Christus-besprinkelde onderwysstelsel nie, maar baklei vir ’n Christus-deurdrenkte een. Hy teken protes aan teen die regulering van godsdiens en verhef sy stem teen die sosiale euwels in sy gemeenskap.

Afrikaners word daarvan beskuldig dat hulle “moeilik” is. As dit dan van ons waar is, laat ons ten minste moeilik wees oor die dinge wat saakmaak. Wanneer ons uit die staanspoor vir die behoud van die geestelike grondgebied stry, sal ons stryd teen grondonteiening, plaasmoorde, geweld, korrupsie, werkloosheid, die gebrek aan moedertaalonderrig, ensovoorts, ook meer geloofwaardig wees.

Wie hom vir hierdie stryd beywer en homself met oorgawe in hierdie stryd werp, kan op grond van Christus se oorwinning saam met Paulus getuig: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.” (2 Kor. 4:8).

  • Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Dirk ·

Wees moeilik oor die dinge wat saakmaak. Ek hou van die boodskap. Wanneer n volk in opstand kom teen dinge waarvoor hulself ook maar te blameer is, dink ek hulle moet eers terugkeer na God toe voordat hulle in opstand kom. As gelowige is dit my beskeie opinie dat n volk wat in opstand kom vir geregtigheid, maar met n sakeryk as die hoofmotief, die stryd nie geloofwaardig is nie.

Anoniem ·

Eintlik gaan dit glad nie oor grond nie, maar net oor geld.

Dirk ·

Manie, ek wens so dat jy verkeerd is, maar ek weet jy is nie. Dit is hartverskeurend sleg en daarom is die volk in groter moeilikheid as wat nodig was!

Dr P E van der Dussen ·

Dankie ds Strauss vir u aanwys van die pad van verlorenheid. Iemand het by geleentheid die slagspreuk “Stryd is lewe” geskep. dit toon lewe en bring lewe. Die Woord van God bevat dit as Goddelike opdrag. Daar is nie ‘n enkele Bybelboek wat nie stryd beveel nie. Bloed het in strome gevloei van die sondeval af. Die Here Jesus het sy hele lewe as mens stryd teen Satan gevoer. Paulus erken: Ek het die goeie stryd gestry. Dit bring ons by die kern: die goeie stryd. Elders se Paulus egter ook: Daar is niemand wat goed is nie, selfs nie een nie. Dit maak duidelik dat die mens se stryd nie om sy welsyn en welvaart mag gaan nie, want dan gaan hy alles verloor. Dit is wat die verleiers van die gelowiges in hierdie land ‘n enkele geslag terug bewerkstellig het. Sommige van hulle het miskien hulle aardse rykdom behou, maar vandag aanskou hulle hoe misleide volgelinge en aardse sekerheid najaag en die stryd prysgee. Alles in die naam van Vrede-Veiligheid-Voorspoed op aarde. Totdat Christus op die laaste dag weer kom, kan en sal daar nêrens op die aarde vrede wees nie vanweë die brullende leeu. Tot dan is elke gelowige ‘n geroepe stryder, elkeen na eie aard, vir en in die Koninkryk van Christus. Ek sou graag verder hieroor met u gesprek voer. [email protected]

Gert ·

Baie dankie dominee! Te veel mense wil deesdae die Skrif verdraai deur voor te gee die enigste optrede vir Christene is om die ander wang te draai. Ek wonder altyd of hulle weet van die geval waar Jesus die tafels in die tempel omgegooi het, dit was glad nie die ander wang draai nie, dit was verset teen ongeregtigheid!

Dries du Toit ·

Dankie ds. Straus vir hierdie absolute skrobering wat die Afrikaner so verdien. As u nie my oë en die wat hierdie artikel gelees het oopmaak en tot nadenke en selfondersoek naarstigtelik laat gryp nie , sien ek geen uitkoms vir ons nie.
Nagte lank nadat ek die Tv afgeskakel het lê ek wakker en worstel ek oor al die goddelose dinge wat ek op die nuus ervaar het. Ontstellende dinge soos moord, verkragtings, korrupsie en diefstal Dit veroorsaak dat ek met n beklemming om my hart tot gebed oorgaan en bid vir my volk wat daagliks deur grondonteiening, aanslagte teen ons taal, kultuur en godsdiens geteister word.
Later in die nag bepeins ek oor die sepies en ander aktualiteits programme wat my menigmale ongemaklik en met weersin vervul. Dan worstel ek oor wat is reg en wat is verkeerd. Buite egtelike seks wat onbeskaamd verkondig word. Boer soek n vrou wat n gemaklike ontspannende program was wat nou sonder waarskuwing boer soek n ou geword het.
Dan worstel ek oor MOET ek my ingesteldheid teenoor hierdie dinge waarteen my innerwese so halstarrig teen skop verander.
Na hierdie artikel dominee het u my nou duidelik weer laat besef dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie maar teen die owerhede, teen die bose magte, teen die wereld oorheerser van die duisternis. Teen die bose geeste in die lug.
Baie baie dankie

jaco ·

Die skrywer is vanaf die Afrikaanse Protestantse Kerk; ‘n kerk wat oop is NET vir wit mense. Dis juis sulke goed wat maak dat daar met gulsige oë na ons wit mense se grond gekyk word.

Rudolf ·

Daar is meer dooie siele wat in die naam van godsdiens deur godsdiens groepe in SA afsterf en ook sal afsterwe, as wat ooit doodgemaak was en word…

Rudolf ·

Dit is oor die finansieele inkomste verryking dat die godsdiensgroepe voort sal gaan, daar is geen ander rede tot voordeel bespeur nie…

Rudolf ·

Dit is hierdie selfde godsdiens patroon wat saam ingestem en voordeel uit ook die appartheids jare verkry en bedeel het, dieselfde godsdiens patroon wat steeds voort probeer bestaan in die naam van n Taal met n godsdiens produk wat gemeet word deur finansieele verryking…

Felix ·

Die wat Christene is, verstaan dit, maar dan is dit so dat watter geloof die mens ook al aangang, kan mens nie sonder die ‘aardse skatte’ oorleef nie, jy het geld vir brood nodig.

Rudolf ·

Ja, hierdie rëel val juis onder die misleidende Christene, want dit is waaruit n Christen bestaan en uitgeken aan word…

Rudolf ·

Beter gestel, misleidende siele, mense wat nog nie tussen wat geloof is teenoor christen skap kon definieer nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.