Dit is makliker om slagspreuke te skryf as om beleid uit te voer

Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad. Foto: Google Earth

Iewers in ʼn donker kamer in Luthuli-huis in die propaganda-afdeling sit ʼn persoon of persone waarskynlik en dink driewoordbegrippe uit vir die ANC. Die propagandis se hooftake is om:

  • begrippe uit te dink wat die massas kan mobiliseer;
  • die driewoordbegrippe binne die denkraamwerk van die NDR (Nasionale Demokratiese Revolusie) te hou; en
  • die regering se onvermoë tot dienslewering deurentyd gekamoefleer te hou, en om dít reg te kry, moet denkbeeldige vyande heeltyd opgestel word.

Die driewoordbegrippe moet vinnig van die tong af rol, moet duidelik stel waarteen gemobiliseer word sonder om te veel eie verantwoordelikheid op te neem, want dit moet altyd iemand anders se skuld wees.

Dus, kortom – skep ʼn verwagting, skep ʼn vyand en hoop dit lewer korttermyn- politieke dividende. Die driewoordbegrippe moet binne die ANC se ideologie van die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) pas, en moet aktuele en hedendaagse gestalte gee aan die revolusie, wie se glans uiteindelik maar ietwat verdof het, maar lewendig gehou word met retoriek

Generasie ná generasie is die slagoffer van die ANC se vernietigende slagspreuk “Liberation Before Education”. Hierdie kreet het egter nog steeds nie enige verantwoordelikheid in onderwys teruggebring nie en leerders is jaar ná jaar maar weer die slagoffer van ʼn nog steeds disfunksionele onderwysstelsel.

Meer onlangs was die driewoordslagspreek “White Monopoly Capital” die politieke propaganda van die dag. Die Britse kommunikasiefirma Bell Pottinger was die skepper van dié uitdrukking en is, soos wat die e-posskandaal ontbloot het, deur ‘n Gupta-entiteit gehuur vir die veldtog wat veral deur die ANC se MK militêre veterane en Jeugliga gedryf is.

Sover vasgestel kan word, is die term “radikale ekonomiese transformasie” die eerste keer in 2014 in regeringsdokumente gebruik. Dit is daarna vir lank deur Jacob Zuma gebruik en was teen die einde van sy termyn die gonswoord van die dag.

Ironies genoeg verdedig Cyril Ramaphosa (toe adjunkpresident) die term op 26 Junie 2017 in ANC Today deur te sê “Radikale ekonomiese transformasie is nie ‘n wegbreek van ʼn bestaande beleid nie. Dit verteenwoordig nie ‘n nuwe, onseker pad nie. Radikale ekonomiese transformasie dui op ‘n nuwe fase van versnelde implementering van die bestaande ekonomiese beleidsposisies van die ANC en die regering.”

Ons weet nou al hoe die pad gelyk het veral teen die einde van 2017 en wat ná die ANC se Nasrec-konferensie gevolg het.

Die nuutste in die driewoordpropaganda wat alle debatte oorskadu is “Onteiening Sonder Vergoeding” Dit verlam tans enige ekonomiese vooruitsigte en sal waarskynlik op die agenda bly tot en met die algemene verkiesing in 2019.

Die oordaad van politieke driewoordslagspreuke is nie net ʼn skielike gewaarwording nie. Die politieke kommentator Prince Mashele sê op 13 April 2017 in Durban dat wanneer daar onrustigheid in die samelewing is, gee die ANC ons net meer slagspreuke, soos “Radikale Ekonomiese Transformasie”.  Ironies is die opskrif van die artikel van die Daily Voice waaruit die aanhaling kom, “Afrikaners Governed, ANC gave us slogans”.

Vanuit ANC-geledere kom die waarskuwing ook, want op 22 Maart 2017 sê die adjunkminister van finansies in Uitenhage dat die “ANC bekend geword het vir slagspreukpolitiek” en het hy bygevoeg dat gonswoorde van weinig nut is, want “die ANC se vorige slagspreuke het nooit betekenisvolle verandering tot gevolg gehad nie, maar word telkens met nuwe slagspreuke vervang.”

Professor Piet Naudé, direkteur van die Universiteit Stellenbosch se sakeskool het op Afrika-dag in 2017 as gasdosent by die UCT Graduate School of Business gepraat oor die slagspreukpolitiek, maar met die duidelike waarskuwing: “As ons die vermoë verloor om rasionele debat te voer, is die volgende stap ‘n oorlog.”

Met verwysing na slagspreuke soos “Radikale Ekonomiese Transformasie”, het Naude onder meer gesê dat “leierskap wat gebaseer is op slagspreuke wat nie ondersteun word deur feite nie, ‘n ideologiese beleid skep wat gebaseer is op die idees van ‘n paar mense, wat dalk nie in die belang van die armes is nie.”

Dit is kortom die probleem met slagspreuke. Dit skep onrealistiese verwagtinge. Net so is ʼn tsoenami ontketen met “Onteiening Sonder Vergoeding” waaraan nie die regering, nog minder die opposisie kan voldoen nie. Dit wil lyk asof dit makliker is om propaganda te ontwikkel en lekker-op-die-oor-slagspreuke of driewoordbegrippe uit te dink, maar dit is nie so maklik om dit uit voer nie. Intussen word mense in kampe gejaag en al hoe meer gepolariseer. Dit word al meer duidelik dat Suid-Afrika nie kan funksioneer met driewoordbegrippe nie.

Net so wag ʼn onseker toekoms ook waarskynlik vir politieke partye wat hulself definieer aan die hand van driewoordbegrippe soos die ANC, die EFF en die PAC.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jerry ·

Driewoordslagspreuke het die res van Afrika gedekoloniseer en dit hou die demokraties verkose regerings aan bewind. Dit is ondenkbaar dat die ANC die wenresep sal laat vaar. Die idee dat slagspreuke onrealistiese verwagtinge skep, is juis die idee, want dan kan die wie jy teiken geblameer word. AfriForum wie se propagandamasjien weer oppad is Amerika toe, doen presies dieselfde. Hulle gaan dan juis ook heel tereg nou om die ANC te blameer vir lieg, bedrieg, mislei en plaasmoorde.

Danie ·

Anders as die drie woord slagspreuke van die ANC en Kie. is Afriforum se pogings gebaseer of bloedige en bloedstollende feite. Iets want ons (ek is seker Afriforum ook) bekommer is wanneer die boere die punt bereik het dat hulle net nie meer kan kos voorsien nie. Onthou kos kom van die plaas af na die winkels se rakke. Dit word nie in ‘n fabriek gemaak nie, net verpak. Dan het Suid-Afrika hongersnood. Zimbabwe is nie meer daar om ten minste graan te voorsien nie. Ramaphosa (Jerry se god) het dood eenvoudige gaan lieg aan die oorkant. X aantal jare van nou af, wanneer daar nie meer boere is wat kos voorsien op groot skaal nie, gaan die ou einste weer op sy knieë die wêreld vol reis om te bedel vir kos. Dan is dit se effens te laat.

Die intelligente ding om te doen is om te keer dat dit ooit gebeur dat die kos opraak..

Ystervark ·

‘n Uitstekende insae artikel.

Die dag mag aanbreek dat die ontnugterde werkloses, armes en hongeriges die strate gaan invaar en die sluwe politici en hul eiendom gaan bykom. Leer die sluwe politici dan nie lesse uit die geskiedenis nie? Die agtergeblewenes se geduld en verwagtinge gebaseer op beloftes het ook sy perke. Die plebs is nie so dom as wat die sluwes dink nie.

Arak ·

Dit is ook baie makliker om af te breek en te kritiseer as om te skep en op te bou. Die regering was nog net een blok vernietiging, maar as dit by opbou kom hoor mens net … krieke.

MTSteyn ·

Beste Jan,

Is ek korrek in my aanname dat toe jy die oor van Cyril tydens die Boederbont se onlangse vieringe gehad het, jy hierdie stukkie wysheid met hom gedeel het? Of is jou preke slegs vir die bekeerdes?

Ek hoor graag van jou! En ek sien uit na ons vlg. kuier, my vriend.

Hendrik ·

Hoekom kan ons nie net reguit praat nie? Hierdie ordentlikheid van ons is besig om ons hele voortbestaan te betreig.

Henry ·

Goeie vraag/versoek MTSteyn.
Wonder selwers of mnr Bosman en vriende die onlangse geleentheid saam met die Prez gebruik het om die punte in bg skryfsel ter tafel te lê en indien wel, wat die reaksie was.

Ou Erdvark ·

En raai wie het die ANC wanneer en waar so mooi die waarde van persepsiologie as deel van (oorlog)strydvoering en die skrywe van slagspreuke geleer?

Theresa ·

Lekker gelees aan ‘n artikel vol bloedstollende feite.
Drie woord sinne. Als wat genoem word is waaragtig so verregaande, maar daar sal altyd miljoene wees wat dit glo, aanhang en skreeu.
Kom ons hoop dat die WAH-afvaardiging nooit hoef te gebeur nie. W=we A=are H=hungry.
Kom ons hoop die AHD-versugting hoef nie geuiter te word nie. A=all H=have D=died.
Mag ons die WAH wel ervaar – nie te ver in die toekoms nie, asb. en elkeen moet dit kan dink, sê en uitleef: W=we A=are H=happy.

Johan ·

Die ANC is meesters om te praat, praat, praat, praat, eet, eet, eet, eet. Dis wat hulle wese is. Hou vergaderings, dinkskrums (bietjie teenstrydigheid??) stel komissies aan. Dan praat, praat, praat hulle en eet, eet, eet. So gaan hulle aan. Maar iets doen? Nooit gesien nie. Hul geskiedenis is deurspek daarvan – lees ‘n bietjie. Kon net goed lieg aan die wereld.

Anton ·

Ek hou by die beste drie woord slagspreke soos “Eendrag Maak Mag” en “de la Rey”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.