Dit is my moedertaal!

afrikaans-01

Argieffoto.

Gister het die wêreld, insluitende Suid-Afrika, Moedertaaldag gevier. Die rede daarvoor is dat moedertaalonderrig aangemoedig word en as ’n vereiste vir die suksesvolle groei en ontwikkeling van kinders gestel word. In Suid-Afrika is daar egter net soveel mense teen moedertaalonderrig gekant as wat daarvoor is.

Die debatte die afgelope tyd het egter onwillekeurig my gedagte na my eie kinderjare en opvoeding laat teruggaan. Vir ’n groot deel van my kinderjare was ek ’n regte plaasjapie: my eerste skoene het ek eers in standerd ses gekry toe ek hoërskool toe gegaan het. Niemand op Schuinsdrift in Groot Marico se distrik kon Engels praat nie, en ek het myself Engels geleer deur Zane Grey se Cowboy-boeke te lees. Engelse strokiespente moes die res bybring. Rooi Jan moes vir Afrikaans sorg.

Op hoërskool was my Engels nooit te waffers nie, en in matriek het ek ’n C-simbool vir Engels gehad. Seker omdat my Engels-onderwyseres die bynaam van Daisy de Melker gehad het. Engels op universiteit was nie vir my belangrik nie; die meeste Engelse leeswerk is in Geskiedenis gedoen. Dit was egter as joernalis dat ek vir die eerste keer werklik met Engels te doene gekry het.

Nog later was ek ’n diplomaat, en moes Engels praat waar ek Suid-Afrika op internasionale fora soos die Verenigde Nasies in New York en Wene, Oostenryk, verteenwoordig het. Die uiteinde van die saak was dat Engels my werkstaal geword het. Nog later het ek ’n Engels-onderwyser in China geword en terselfdertyd vir die British Council as eksaminator vir ’n Engelse toets gewerk. Ek was ook dosent in “Advanced English” vir nagraadse studente aan ’n Beijingse universiteit. Vandag nog spreek die Chinese my aan as professor!

Waarom vertel ek hierdie storie: omdat my moedertaal my daardie stewige basis gegee het waarmee ek die wêreld daarbuite kon aandurf. Vandag nog lees ek graag Afrikaanse boeke en beskou dit as ’n onreg dat Afrikaanse universiteite en koerante toegelaat word om óf te verdwyn óf te verengels. En wat my grief is dat sommige Afrikaanse joernaliste en akademici ywerig meewerk om dit reg te kry. Praat van jou eie graf grawe.

As die teenpool moet ek teen my wil my kinders as voorbeeld gebruik. Vanweë my diplomatieke loopbaan het hulle die meeste van hul onderwys in Engels en/of Duits gehad. Slegs een was vir vyf jaar in Afrikaans Hoër Meisies in Pretoria. Hoewel hulle waarskynlik van my sal verskil, merk ek op dat al drie tot ’n mindere of meerdere mate identiteitloos is. Hulle weet nie of hulle in Suid-Afrika of elders behoort nie. Al drie se huistaal is Engels, en hulle is baie goed daarin omdat taalaanleg hul sterkpunt is. Maar hulle beskou hulself nie as Suid-Afrikaners nie.

Hulle is baie suksesvol in hul loopbane, maar aan die ander kant ken ek honderde Afrikaanssprekendes wat net so suksesvol is terwyl hulle deur die medium van Engels werk of gewerk het. ’n Voorbeeld is die leier van die span wetenskaplikes wat Suid-Afrika se kernwapens ontwikkel het. Hy is ’n persoonlike vriend en het al vertel dat die sekerheid wat sy onderrig in Afrikaans gegee het, hom gehelp het om daardie kerngeheime te ontrafel. Ek kan nog dosyne ander name noem. Enkele jare gelede, toe my seun sy honneurs in Engels aan die Universiteit van Pretoria gedoen het, was met enkele uitsonderings al sy dosente tweedetaalsprekers.

Nou kry ons die ANC wat wil hê almal in Suid-Afrika moet in Engels skoolgaan. Afrikaanse skole moet verdwyn en, hoewel Suid-Afrika elf amptelike tale het, moet Engels die lingua franca word. Wat ’n goeie manier om te verseker dat Suid-Afrika altyd ’n kolonie van Engeland sal bly en vir ewig gedwing kan word om die taal van die veroweraar te praat.

Ander lande, soos China, beweeg in die teenoorgestelde rigting: tot enkele jare gelede moes alle skoolverlaters Mandaryns, Engels en Wiskunde slaag om universiteit toe te kon gaan. Vandag is net Mandaryns en Wiskunde nodig. En hulle gaan een van die dae ’n ruimtetuig op die maan laat land!

Ja, Engels is nodig, maar dis nie die taal van my hart nie. Net ’n Afrikaanse duif kon ’n veer van ’n krans by Wuppertal laat val; die Magaliesbergse aandlied klink net goed in Afrikaans.

Dis my moedertaal! En dit laat my veilig voel.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Jerry ·

Die Afrikaner se graf is gegrawe in Suid Afrika en ek herhaal Suid Afrika, en daarmee saam sy belange soos sy moedertaal. Enige persoon ondersteun sy moedertaal en almal besef die waarde daarvan, maar net nie meer in Suid Afrika nie. Enige ander plek of land, maar net nie Suid Afrika nie, dit is wat die Afrikaanse kritici se of probeer se! Die toekoms en die belange van die Afrikaner le in ander lande. Gaan vestig die Afrikaner se belange in lande waar die Afrikaner welkom is. Om aan te hou om dit in Suid Afrika te maak werk is nie n lewensvatbare opsie nie gegewe die rigting van sosialisme waarin Suid Afrika beweeg.

Kosie Kramer ·

Vir 300 jaar het ons vir die Sotho’s en Zoeleo’s en Xhosas vertel dat hulle moedertaal minderwaardig is; Afrikaans en Engels is die enigste amptelike taal. Noudat die skoen aan die ander voet is, wil ons baklei en tekere gaan…

Eish ·

Eish! Nou boor jy n gevoelige senuwee raak. Die een onder die selfondersoektand.

JC ·

Baie dankie Tienie, ons waardeer opreg jou artikel! En Kosie, dit is nie korrek wat jy daar kwytraak nie hoor.

Daar was VELE geleenthede gestel vir die genoemde groepe om hulle EIE tale en kulture te verstewig en te ontwikkel; EN HULLE WOU NIE; om een of ander rede beskou HULLE SELF nog altyd hulle tale as minder werd (hopelik verander die sienswyse, maar ek het nie veel hoop daarvoor nie) , en die IMPERIALE TAAL ENGELS, as koning, AS SOU DIT SKYNBAAR EEN OF ANDER STATUS VERSKAF.

Ons Afrikaners, egter, sal nooit verengels nie, en het ook nog nooit verengels nie; sedert die Groot Trek, die vroee patriot dae en vryheidsoorloe.
En wat meer is: ons volg nou die Vlaminge van Vlaandere (Noord-Belgie) se voorbeeld, en “veg soos honde in die straat vir ons taal”.

Ons sal “baklei en tekere gaan”; want weet jy wat; dit is lekker! Dis Lekker! om vir iets te baklei wat die moeite werd is om voor te baklei; en so opnuut inspirasie te kry, volkstrots te kweek; en iets te he om voor te agiteer en te lewe, naamlik ons pragtige moedertaal Afrikaans.
Indien ander persone nie bereid is om deel te neem aan die besondere avontuur nie wel; dan daar is die deur.

Ons het NIE drogredenasies en negatiwiteit nodig nie. Dankie!

Afrikaans Leef!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.