Dit is tyd om die vertroue te hernuwe

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging, het Woensdag hierdie toespraak by die vakbond Solidariteit se jaarlikse kongres by die Atterbury-teater in die ooste Pretoria gelewer. Sy toespraak het gefokus op ʼn beter toekoms vir die Suid-Afrikaanse jeug en het aangesluit by die bekendstelling van Solidariteit se nuwe jeuginisiatief, Solidariteit Jeug. Lees Buys se volledige toespraak hieroor:

Geagte president, raadslede, eregaste, personeel en lede van die media,

Ons praat vandag oor ʼn toekoms vir die jeug. Maar dan moet ons seker maak dat die toekoms nie net ʼn voortsetting van die huidige toestand van die land is nie. Daar moet verandering kom, want Suid-Afrika is nie nou op ʼn goeie plek nie: In die politiek veg almal met almal; die staat verval stuk-stuk; die ekonomie staan feitlik stil; werkloosheid en armoede bly hoog; misdaad vier hoogty; rassisme steek sy lelike kop uit; gewelddadige protes is vernietigend; korrupsie word ʼn aansteeklike siekte; daar is ʼn voortdurende moddergooiery op sosiale media; en minderheidsgroepe soos Afrikaners verkeer onder ernstige druk.

Die oplossing is die wedersydse erkenning en respek tussen mense en gemeenskappe, want dit is noodsaaklik vir ons almal se vreedsame, volhoubare en voorspoedige voortbestaan. Daar is egter ʼn belangrike voorvereiste vir ʼn suksesvolle toekoms – en dit is vertroue.

My boodskap vandag is dat dit tyd geword het dat wedersydse vertroue hernuwe word omdat ons land tans gekenmerk word deur groeiende wantroue, toenemende teleurstelling en ʼn stygende woede oor alles wat verkeerd gaan. Hierdie probleem – wat ek ʼn vertrouenskrisis wil noem – is ʼn omvattende probleem wat baie breër is as net byvoorbeeld tussen swart en wit, of tussen verskillende politieke groepe, vakbonde of ander groeperings.

As ʼn beweging van 450 000 lede of gesinne wil en kan ons ʼn betekenisvolle bydrae maak om vertroue te verbeter, en om by te dra tot ʼn toekoms waarin ons almal blywend vry, veilig en voorspoedig kan leef. Dis elkeen se plig om te help verseker dat ons jongmense ʼn mooi toekoms in hierdie land het, en daarom is dit ons almal se plig om aan vertroue onder mekaar, en so vertroue in die toekoms, te bou.

Om vertroue te herbou, beteken nie dat jy jou eie belange hoef te verwaarloos nie – inteendeel. Dit beteken veel eerder dat jy jou eie en die algemene belang moet bevorder deur na oplossings te soek. Dit is so dat ons nie altyd gedeelde sienings het nie, maar ons het gedeelde belange, soos ʼn veilige land; soos ekonomiese voorspoed; soos die strewe na ʼn goeie werk; soos ʼn werkende staat; en soos gesonde verhoudinge tussen mense en gemeenskappe. Die sleutel daartoe is om te fokus op dít waaroor ons saamstem en deur te sorg dat dít waaroor ons in die land verskil, ons nie so hoef te verdeel dat ons mekaar al meer begin wantrou en beveg nie.

Die swak leierskap van die Zuma-jare het ʼn bepalende rol gespeel in die verswakking van eenheid en vertroue, maar as ons toelaat dat sy nalatenskap die land aanhou vergiftig, bly ons gyselaars van die verlede en gee ons aan hierdie treurige “leier” wat die land laat ly het, die finale oorwinning.

Maar as die hoofoorsaak van die vertrouenskrisis oor die afgelope jare die swak president was, dan is die goeie nuus dat hy uitgeskuif is en dat daar nou ʼn nuwe leier is wat besig is om homself te vestig. Dit is ongelukkig so dat mnr. Ramaphosa sleg weggespring het met die kwessie van onteiening sonder vergoeding wat mense verder uitmekaar gedryf het in plaas van nader aan gesamentlike oplossings gebring het. Die president sal moet leiding neem om die verdeeldheid te heel deur almal se fundamentele belange in ag te neem. Dis nou tyd om saam te werk aan die toekoms van die volgende geslag, en nie die land te verdeel op pad na die volgende verkiesing toe nie. Ons jeug verdien beter as politieke slagspreuke.

ʼn Land van verontregtes en gegriefdes?

Ek maak die sterk stelling dat dit lyk of ons land tans gekenmerk word deur ʼn groeiende wantroue, toenemende teleurstelling en ʼn stygende woede, en dat dit op ʼn vertrouenskrisis uitgeloop het. Dit geld vir bykans alle gemeenskappe, en kan onder meer gesien word in die daaglikse nuus wat mens soms laat wanhoop aan die toekoms. Die kern is te veel mense is té kwaad. Die goeie nuus is dat daar oor die algemeen nog goeie persoonlike verhoudinge is, maar politieke verhoudinge mag nie so verswak dat dit uiteindelik hartlike persoonlike verhoudinge besoedel nie.

Laat ek ʼn paar voorbeelde noem:

  • Talle swart mense voel kwaad oor swak of geen dienslewering en is teleurgesteld in die ekonomiese vrugte van politieke bevryding, wat soms onhaalbare verwagtings geskep het. Daarom is daar te veel vandalistiese proteste, in plaas dat griewe langs demokratiese weë gevoer word;
  • Talle armes en werkloses voel die regering laat hulle in die steek en die “rykes” (gewone werkendes) is die oorsaak van hul ellende;
  • Talle wit mense voel kwaad omdat hulle kwalik geneem word vir wat in die verlede gebeur het – dinge wat voor sommiges se geboorte plaasgevind het – terwyl ander nie verantwoordelikheid neem vir wat hulle nou aanvang nie. Dit help ook nie dat die regering die verlede bly blameer vir hul swak regering in die hede nie;
  • Landsburgers van alle rasse voel dat die regering hulle nie beskerm teen geweldsmisdaad nie;
  • Jong swart mense voel dat wit bevoorregting nog steeds voortgesit word, terwyl wit mense voel dat hul betreklike voorspoed ten spyte van benadeling is, en uit harde, eerlike werk spruit;
  • Jong wit mense voel hulle word benadeel deur rassewette sonder dat hulle ooit bevoordeel was, terwyl jong swart mense wat nie benadeel was nie, nou bevoordeel word;
  • Werkers voel hulle kry bykans niks vir al hul belasting nie, en moet al hoe meer vir al swakker en minder staatsdienste betaal terwyl hul swaar verdiende geld gereeld uitgemors word;
  • Sakelui voel die regering maak dit al moeiliker vir hulle om suksesvol voort te bestaan en dat sosialistiese vakbonde dit onmoontlik maak om werk te skep;
  • Talle Afrikaners ervaar dat die regering hulle teiken vir benadeling en hul grondliggende belange ondergrawe;
  • Sosialiste voel weer verontreg omdat hulle voel dat die regering die staatsmag moet gebruik om die “rykes” se swaarverdiende bates te “herverdeel” (die mooi woord vir afvat);
  • Daar is te veel onderlinge wantroue tussen rassegroepe, wat aangeblaas word deur gewetenlose politici wat nie deur die ANC tereggewys word nie. Dit lyk te veel of die EFF-stert die ANC-hond swaai.
  • Mense praat nie meer met mekaar nie, maar bykans net oor mekaar;
  • ʼn Groepie onverdraagsame kommentators (kenners sonder kennis) voer ’n vete teen AfriForum en Solidariteit, en misbruik hul bykanse monopolie in die openbare media deur heeltyd op ons te skreeu en met ekstreme groepe te vergelyk, asof die brandweer aan brandstigters gelykgestel kan word.

Natuurlik kan hierdie lysie langer of korter gemaak word afhangende van elkeen se persoonlike standpunte en ervaring, en vanselfsprekend kan daar ook baie positiewe punte genoem word. Die punt is dat al hierdie en ander knelpunte en vraagstukke besig is om ʼn groeiende vertrouenskrisis tussen die regering en verskillende groepe burgers te skep, en dat daar onder lede van alle gemeenskappe ʼn oplaaiende teleurstelling is met wat in die land gebeur.

Dit help nie om net die verlede onder apartheid, of Zuma se rampspoedige regering te blameer nie. Die verlede is verby, maar ons kan en moet iets aan die toekoms doen. Elkeen van ons kan vandag nog begin om verhoudinge te verbeter deur bloot ander mense op ʼn Christelike manier te behandel, en nie op grond van stereotipes wat jy op TV of sosiale media sien nie.

Gevolge van vertrouensbreuk

Daar bestaan ʼn “kontrak” tussen enige regering en sy burgers. Dit behels dat die burgers die regering toestemming gee om oor hulle te regeer en instem om die owerheid te gehoorsaam en belasting te betaal, mits die regering sy deel van die kontrak nakom deur die land goed te regeer, belasting verantwoordelik te gebruik, en sy kernfunksies soos veiligheid behoorlik na te kom. Die regering kom nie meer sy deel van die kontrak na nie, en dit is die rede vir die vertrouensbreuk met baie van sy burgers, swart en wit. Die ANC se ondersteuners het wel kanale om hul griewe in die party te hanteer, maar minderheidsgroepe is demokraties uitgesluit daarvan en kan nie hul vertrouenskrisis langs “normale” kanale hanteer nie. Die bewys hiervoor lê byvoorbeeld in die tallose gesprekke oor baie jare tussen verteenwoordigers van Afrikaanse organisasies met die ANC en die regering, wat sonder uitsondering op niks uitgeloop het nie. Hierdie vertrouenskrisis is besig om, onder meer, Afrikaners as minderheidsgroep, maar ook die land te benadeel.

Hierdie vertrouenskrisis lei tot vyf groepe se reaksies:

  • Onttrekkers: Hierdie mense het nie meer vertroue in die staat nie, en leef soos geprivatiseerde burgers wat net na hul eie belange omsien;
  • Landverlaters: Van broodnodige hoogs geskooldes wat totaal vertroue in die land verloor het (vertrouensbreuk), en nie net in die regering nie;
  • Opstandiges: Hulle kom byvoorbeeld in opstand teen swak dienslewering, maar niks kan opgebou word deur dinge af te breek of te brand nie;
  • Oorlewers: Hulle dryf maar net saam met die stroom en probeer self oorleef;
  • Opbouers: Hulle is lief vir die land, en al hou hulle nie altyd van die regering nie, reageer hulle opbouend deur te doen wat hulle kan met wat hulle het, waar hulle is.

Voorstel: hernuwe die vertroue met ʼn nasionale dialoog

Die Kanadese denker Charles Taylor het gesê dat tussengroepvertroue in multi-etniese samelewings nie vanselfsprekend aanvaar kan word nie, maar altyd ʼn werk-in-proses is. Dit is volgens hom baie belangrik dat dit gereeld hernuwe moet word omdat vertroue met verloop van tyd begin taan en kwyn, met negatiewe gevolge vir die land en alle betrokkenes.

Solidariteit se Hoofraad het gister besluit dat dit nodig is om vertroue te probeer hernuwe met gesprekke en ooreenkomste met die owerhede. Dit kan iets wees soos ʼn nasionale dialoog. Maar om te verseker dat dit nie maar weer net in ʼn doellose gepraat ontaard nie, bestaan daar twee voorwaardes vir die sukses van so ʼn gesprek:

  • Die eerste is dat wedersydse erkenning en respek vir mense, gemeenskappe en menselewens ononderhandelbaar is. Sekere van die ANC se beleidsrigtings het tot groot wantroue onder Afrikaners gelei. Ek wil dit duidelik stel dat ons uit ons pad sal gaan om vertroue te herbou, maar dat ons (soos Van Zyl-Slabbert) nie dink dat dit demokrasie is as twee wolwe en ʼn skaap “demokraties” moet besluit wat hulle vir aandete gaan eet nie;
  • Die tweede is dat daar nie maar net geluister word na mekaar se sienings nie, maar iets aan die probleme gedoen word. Ons is moeg om te praat oor die probleme soos onbillike rassewette, dorpsverval, geweldsmisdaad, en aanvalle op Afrikaanse skole en universiteite, sonder dat daar iets daaraan gedoen word. Dit lyk of daar ʼn totale onvermoë by die ANC teenwoordig is om verby hul eie eng ideologiese en rassegrense te kyk en om die belange van almal in die land in ag te neem. So ʼn gesprek met die ANC en die regering moet dus nie net ʼn eensydige verduideliking van regeringsbeleid wees nie, maar moet uitloop op ʼn ooreenkoms of ooreenkomste, byvoorbeeld in die vorm van ʼn opvolgskikking of ʼn kulturele ooreenkoms, wat wel in werking gestel word en nie soos al die voriges maar net op die rak bly lê nie.

Die vervreemding onder baie Afrikaners spruit uit ons ervaring dat die regering die grondwetlike ooreenkoms verbreek het waarvolgens meerderheidsregering verruil is vir minderheidsbeskerming. Onteiening kan “wettig” gemaak word deur howe, parlemente en wette, maar dit kan nie daardeur “REG” gemaak word nie. Hier praat ek nie net van die onteiening van grond nie, maar van Afrikaanse universiteite, mense se werk, aandeelhouding in besighede, skole en grondwetlike regte. Dis ons patriotiese reg en plig om standpunt in te neem teen beleidsrigtings wat die land gaan benadeel, of wat teen ons regeer of ons as tweedeklas of onderdane in plaas van vrye en gelyke burgers behandel.

Ons wil graag hê die land moet suksesvol wees, want ons en ons kinders bly ook hier. Ons wil graag help om die land suksesvol te maak, maar dan moet ons nie uitgesluit of uitgeskuif of geteiken word nie.

’n Hoofstroom- 80%-beweging wat streef na normaliteit

Ek wil dit duidelik stel dat ons nog nooit voorgegee het om “namens” Afrikaners te praat nie. Maar ons glo dat ons ten behoewe van bykans almal praat as ons byvoorbeeld eiendomsreg (of ander menseregte) bevorder, omdat onteiening almal in ʼn land benadeel. Ons is ʼn hoofstroom- “80%-”beweging van 450 000 mense wat net streef na normaliteit, en wat nie die twee uiterstes van die politieke spektrum verteenwoordig nie. Die Solidariteit Beweging glo nie aan vreemde, ekstreme, ingevoerde of uitgediende ideologieë nie.

Ons 80%-ideeraamwerk is breedweg:

  • Ons is gegrond op ’n Christen-demokratiese grondslag (met ʼn roepingsbesef);
  • Groeiende markekonomie;
  • Oppergesag van die reg;
  • Gesonde rassebetrekkinge en samewerkende verhoudings;
  • Federalisme, oftewel die erkenning van selfstandige gemeenskappe in plaas van sentralisme;
  • Veiligheid;
  • Goeie werk, en ʼn produktiewe, goed opgeleide en goed betaalde werksmag;
  • Moedertaalonderwys en -opleiding aan dié wat dit verkies;
  • Die gesin as bousteen van die gemeenskap;
  • Afrikaans, ons kulturele lewenswyse, geskiedenis en erfenisse;
  • Maatskaplike sorg vir weerloses; en
  • Veelvoudige identiteite, soos Afrikane, Afrikaners, Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekendes.

Grondwetlike ruimtes en regte is nie “regs” nie, dis net normaal om na normaliteit te streef.

Dis tyd vir ʼn nuwe begin

Ons veg nie vir ʼn beter verlede nie, ons klou nie aan onregmatige voorregte vas nie, maar ons as gemeenskap wil deel van die toekoms wees. Ons jongmense verdien beter as om onwelkom en soos tweedeklasburgers in hul eie land te voel. Ons vra nie die onmoontlike nie, maar net vir vrye demokratiese ruimtes om ons taal en kultuur uit te leef.

Hoekom moet ons weens die toe deure in Suid-Afrika ons tot die buiteland wend? Hoekom bereik ons nie eerder ooreenkomste oor knelpunte en gaan dan saam beleggings in die buiteland werf nie? Hoekom moet die provinsie Noordwes ten gronde gaan, ten spyte daarvan dat AfriForum verlede Oktober ʼn ooreenkoms met die premier gesluit het om te help om die munisipale dienste reg te ruk? Hoekom laat ons toe dat misdadigers ons dag en nag teister, en sluit die polisie nie ingevolge wetgewing ʼn ooreenkoms met AfriForum se buurtwagte om landwyd almal se veiligheid te verbeter nie? Hoekom word die hand van samewerking wat ons uitsteek, nie gevat nie?

Die ANC kan nie alleen die land se probleme oplos nie, en niemand anders kan dit alleen doen nie. Ons wil graag op ʼn opbouende manier help om oplossings vir ons land en ons kultuurgemeenskap se probleme te ontwikkel. Daarom steek ons ons hand in vriendskap na die nuwe president en die regering toe uit. Dis ʼn oop hand, nie ʼn gebalde vuis nie, maar ook nie ʼn pleitende bedelhandjie nie. Ons het respek vir die owerheid, maar ons het ook ons selfrespek. Ons glo baie sterk aan versoening, maar verwerp die verskraling daarvan tot ʼn blote inlywing by die meerderheid. Hoekom met minderhede veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar? As die regering nie vir ons kultuurgemeenskap ook omgee nie, aanvaar ons die verantwoordelikheid vir ons eie toekoms.

Dis tyd vir ʼn nuwe begin: Kom ons begin met mekaar praat en werk saam aan ʼn nuwe toekoms vir die land en al sy mense.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Genieve ·

Dis net die Here wat die land en sy mense kan verander,hulle kan nie hulle self verander nie…kom na die Here toe en hy sal die ander werk doen (Matt 6:33).

John ·

Bogenoemde is die denkwyse van vredeliewende en redelike mens wat die gevare besef sou SA verwoed voortstu… maar sedet 1994 het die land se nuwe leiers vreemde wee begin volg, die belange van die groot bevolking geminag en Mammon as hoof-induna aangestel. Waar ons nou trek is dat Noordwes die eerste gebied word wat ooreenkomstig die Kubaanse bestuurstyl gaan funsioneer. Dit was die plan. En so gaan gebied na gebied val en onder ‘administrasie’ kom. Die 65+ miljoene stel nie belang in die welsyn van 4 milj andere nie. Dog eat dog en the winner takes all, is Afrika se mentaliteit. Wanneer was dit anders? Uitlanders wat hier fatcat-posisies beklee predik free education, free land, en glo skynbaaar dat wit Suid-Afrikaners se monde gesnoer moet word; por dus eerder haat jeens wittes en hul regte aan. Lyk dit of daar nog tyd oor is om mooi broodjies te bak en saam-saam te….

Eish ·

Ter wille van die nageslag is dit verseker die poging werd. Minstens kan daar nie n beskuldigende vinger gewys word dat geen poging vanuit die minderheidsgroep aangewend is nie. Dus sal die geskiedenis Solidariteit daarvoor krediteer.
Synde dat vanuit geen ander belangegroepe soos georganiseerde landbou ensovoorts soortgelyke leierskap openbaar word nie, is dit hef aan vir Solidariteit.
Dalk ook juis nou met CR aan die stuur, die beste geleentheid.
Ek is egter op persoonlike vlak uiters negatief oor die moontlike uitkomste.
Integrasie kon nog nooit deur n enkele land suksesvol bestuur word nie.
Verder, wat bring Solidariteit tafel toe wat n basis vir dialoog gaan verskaf? Tans is ons soos goggapletter op n windskerm, n lastigheid wat afgewas kan word.
Baie sterkte, maar onthou Kodesa…

Luister En Praat Saam [email protected]#WegMetOnreg ·

Enige meerderheidsregering moet besef dat om die meerderheid in die regering te wees, beteken nie dat jy ongeregtighede kan legitimiseer nie. Onreg bly ‘n onreg. ‘n Onreg kan nie reggemaak word deur ‘n ander onreg onder die vaendel van “democratic majority rule” nie.

Hierdie artikel gaan ‘n afrikana word. Ek gaan my kopie raam. Ek is dankbaar dat Flip verwys na veelvoudige identiteite SOOS Afrikane, Afrikaners, Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekendes.

Kom alle Suid-Afrikaners, kom ons pak die uitdaging en geleentheid aan om volhoubaar ekonomiese wêreldkompeteerbaar te wees en ‘n demper op ons ongebreidelde bevolkingsaanwas te plaas. Daardeur sal baie probleme langs die pad wegval en sal selfrespek, selfaktualisering, kreatiwiteit en wedersydse respek seëvier. Daar is rolle en werk vir almal.

JoeV ·

Die ANC besef dalk maar noem dit nie. Om die bevolking wat nie op middel klas inkomste is nie op te hef, moet die land se ekonomie met 100% per jaar vir 10 jaar groei. So hulle het werk om te doen.

Buitelandse [email protected] van Wet En Orde ·

Geagte mnr Buys, Dit is krities belangrik dat Solidariteit hierdie artikel soedig in Engels vertaal en wêreldwyd publiseer. Dit is noodsaaklikheid.

Boerseun ·

wat staan in die manifest? Mineraal regte was gevat, water regste, en nou begin die laaste eiendoms reg. Hierna sal jy nie vreiheid van assosiasie, godsdiens of enige sulke regte he nie want als sal in staatsbeheer wees. Dit is wat die ANC en EFF soek, staatsbeheerde grondbesit. Geen gesprek kan dit verander nie

Sam ·

Die buiteland sal niks kan/wil doen nie … binnekort sit hul in dieselfde duistere bootjie.

Mense, sien jul nie, verstaan jul nie die plan van die bose oor die wêreld om die blanke ras te vernietig nie?! Dan is massa blankes dié wat saamwerk om dit te bespoedig.

Vergeet van die buiteland. Net God kan ons red as ons in waarheid en opregtheid tot Hom terugkeer … nie tot die ‘ek-is-lief-vir-alles god wat die wêreld geskep het nie.

Jerry ·

Mooi Flip. Ek deel jou denke en is daarvan oortuig dat hierdie denkrigting n pad kan stap met die meerderheid Afrikaners, Afrikaanses, Afrikane en Suid Afrikaners en tot groter welslae sal lei vir die skep van n beter toekoms vir almal in die land. Hierdie denkrigting gaan die huidige opdraande stryd baie makliker maak deurdat dit groter sekerheid sal meebring van ons regte en die beskerming van ons belange (plekkie in die son) en waarheen ons op pad is en waar presies ons tans en in die toekoms gaan inpas. Die grootste struikelblok is soos jy tereg se, wantroue. Die oorsake van wantroue tussen die verskillende groepe is bekend en kan dus aangespreek en oor tyd reggestel word deur dialoog oor gemeenskaplike belange en deur eerstens ontslae te raak van vooroordele en duistere motiewe teenoor mekaar.

Hendrik ·

Die groot uitdaging om polpulistiese uitsprake te stop deur die ANC, EFF en die DA want hierdie uitsprake skep vals verwagtinge by die ekonomiese moedelose landsburgers na die afgelope 10 jaar fiasko onderleiding van JZ. Hoe jy hierdie groepering bymekaar gaan kry om hulle te laat onderneem om regtig na die burgery om te sien en nie te probeer uitkom by die staatskas om hulself te verryk nie is die uitdaging. Op die einde sal die realiteit van hoe S.A politiek bedryf word die uitkoms bepaal van die uitreiking na versoening deur Solidariteit.

Eish ·

Ek moet jou dit gelyk gee, jou voortdurende verwysing na hierdie saak het toe tog getoon die enigste werkbare alternatief te wees vir ons gestrandes in die helhool. Alhoewel ek pessimisties is oor die moontlike uitkomste, gedagtig aan die onderhaldelings in die 90’s, is dit dalk tog maar die beste om n klip in die bos te gooi en kyk wat uitspring. Verskoning vir my geniepsigheid.

Hendrik ·

Goeie artikel en alles word raak opgesom. Ek voel nog steeds dat deur ‘n selfstandige gebied ontwikkeling, baie belangrik is. Dit is baie belangrik dat Hamanskraal gemeenskap hul gebied opbou en dat daar fabrieke, hospitale, skole , gevorderde tersiere instellings, veiligheid, tegnologie ontwikkel word en onderhou word om daardie homogene gemeenskap te bedien. Netso wil ek in my gemeenskap dieselfde doen en is besig om dit te doen. Ontwikkel die buite Metro gebiede om choas in die toekomstige Suid Afrika te vermy.

Spike ·

Vroëer was kommunisme die werêld gevaar, maar hierdie is afrika kommunisme. Totale wanorde.

Gerhard ·

Ek kry hierdie gevoel wat hulle noem déjà vu. Ons was mos al voorheen hier. As ek reg onthou was dit die jaar 1994. Ek hoop Solidariteit het nog plan B, C, D (of wat ook al) wanneer die manne aan die anderkant die aanbod weer van die hand wys.

Koos ·

Het al die laaste woorde in Flip se artikel so baie gehoor: ” Kom ons praat en onderhandel die toekoms saam binne”. Wat het Piet Retief anders gedoen? Vra maar net.
Die resultaat op die onderhandelinge is wel bekend.

Casper Labuschagne ·

Nee, die beste plan wat ek het vir ons toekoms is dat ten minste twee miljoen witmense moet emigreer. Diegene wat gaan oorbly sal daarna ‘n $50 per maand skenking van elk van daardie twee miljoen nodig hê om wapens en mediese voorraad mee te koop in die burgeroorlog wat teen daardie tyd sal woed.

Chris ·

Casper gaan jy een van die wees wat imigreer of gaan jy die een wees wat agterbly en saam my die ou waantjie, met my en die Lewende God deur die spruit trek?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.