Dit is wat jy van die Zondo-kommissie moet weet

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Die geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping, wat onder voorsitterskap van adjunkhoofregter Raymond Zondo staan en kortweg die Zondo-kommissie genoem word, is in die lewe geroep om staatskaping en korrupsie, wat veral verband hou met die bewind van Jacob Zuma, te ondersoek.

Verlede jaar was veral die Gupta-broers en hul omkopery van president Zuma en prominente ministers in die nuus. Tans is die fokus op die Bosasa-onthullings, ʼn nuwe slangnes van korrupsie wat oopgekrap word. Soos dit nou blyk, was die Gupta-saak net een deel van die hele staatskaping en strek die net van korrupte politici en amptenare al hoe wyer.

Die Zondo-kommissie vloei uit die voormalige Openbare Beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela, se verslag oor staatskaping in Oktober 2016. Die verslag is inderhaas saamgestel kort voor Madonsela se dienstermyn verstryk het, dus was daar ʼn kommissie nodig om die bewerings te ondersoek.

Die Zondo-kommissie is ingestel in Januarie 2018 (kort voor die einde van president Zuma se bewind), maar die werksaamhede het eers in Augustus verlede jaar begin. Die kommissie kan wel nie vervolg nie, maar persone wat van misdrywe verdink word, danksy die bewyse van die kommissie, kan aan die vervolgingsgesag oorhandig word.

Die omgekoopte persone is te veel om almal by name te noem – dit strek van ekspresident Zuma afwaarts oor ministers, LUR’s, parlementslede tot by staatsamptenare. Sommige van die beskuldigdes is sowel deur die Guptas asook deur Bosasa omgekoop. Terwyl die Gupta-staatskaping al goed gedokumenteer is, ontvou die Bosasa-saak tans.

Die persepsie is dat president Cyril Ramaphosa die kommissie bestuur. Welmenendes sê om korrupsie uit te roei; skeptici sê om sy voorganger Zuma en dié se volgelinge by te kom en hulle uit te werk. Die feit is egter dat Madonsela se verslag die kommissie in die lewe geroep het, en verskeie ministers getuig het dat die Gupta-broers hulle probeer omkoop het.

Gupta-staatskapingsaak:

Die drie Gupta-broers Ajay, Atul en Rajesh, Indiese sakemanne wat in Suid-Afrika gebly het en wat verskeie sakebelange soos rekenaars, die media en mynbou het, het al vir omtrent 15 jaar vaste bande met Zuma. Die patroon was dat hulle Zuma se luukse lewenstyl finansieer in ruil vir politieke invloed om hul sakebelange onreëlmatig te bevorder.

Sekere ministers soos David van Rooyen, Mosebenzi Zwane en Malusi Gigaba was onder die Guptas se invloed. Omdat die invloed van die Guptas so verreikend was, in so ʼn mate dat hulle Zuma effektiewelik as ʼn marionet gebruik het en politieke aanstellings aan hom probeer voorskryf het, was dit meer as ʼn “gewone” korrupsiesaak en word daar gepraat van staatskaping. Toe sekere ministers nie ten gunste van enige omkopery was nie, soos Mcebisi Jonas, Nhlanhla Nene en Vygie Mentor, het die Guptas se bedrywighede op die lappe gekom. Dit moet gesien word teen die agtergrond van die ontplooiende magstryd in die ANC tussen die Zuma en die anti-Zuma-kamp, wie se hoof Cyril Ramaphosa geword het.

Bosasa-saak:

Bosasa (“toekoms” in Noord-Sotho), voorheen Diyambo Holdings wat deel van die ANC Vroueliga was (met die ingeslote politieke konneksies), is in die laat 1990’s deur Gavin Watson gekoop. Bosasa is ʼn dienstemaatskappy en doen, onder meer, spyseniering en die aanbied van funksies. Watson is eweneens een van ʼn paar broers met politieke bande met die ANC, struggle-getuigskrifte en sakebelange.

Bosasa se werkwyse was om enkele ministers en LUR’s, maar veral staatsamptenare, om te koop met groot somme kontant en duur geskenke om in ruil staatskontrakte te kry en ander maatskappye van die tenderproses uit te sluit. Die tendervoorwaardes is so omskryf dat net Bosasa aan die vereistes kon voldoen. Veral tussen die Departement van Korrektiewe Dienste en Bosasa het ʼn korrupte verhouding bestaan en Bosasa het talle kontrakte van die departement vir bouwerk en spyseniering onregmatig gekry, teen onbehoorlik hoë vergoeding.

Die ongerymdhede was reeds in 2009 bekend en daar was ondersoeke, maar dit is vertraag en toe laat vaar. Die vermoede is dat die vervolging in opdrag van president Zuma gestop is. Ook Watson was op vriendskaplike voet met Zuma, wat maandeliks groot somme geld van Bosasa ontvang het. Net soos die Guptas, het Watson sy invloed by Zuma probeer gebruik om onkreukbare ministers en amptenare deur korruptes te laat vervang sodat Bosasa kon voortgaan met sy onwettige bedrywighede. Shaun Abrahams, destydse nasionale direkteur van vervolging, was blykbaar ʼn aanstelling wat danksy Watson se invloed deur Zuma gedoen is.

Watson se regterhand, Angelo Agrizzi, voormalige bestuurshoof van Bosasa wat die omkopery hanteer het, getuig tans voor die Zondo-kommissie. Volgens hom het sy gewete hom gepla ná ʼn amper-dood-ervaring en daarom het hy met die waarheid na vore gekom. Die meer waarskynlike rede is dat Agrizzi sy eie bas wil red deur staatsgetuie te word.

Daagliks kom nuwe besonderhede na vore. Een groot vis is Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake en voorheen LUR in Gauteng vir gemeenskapsveiligheid, wat deur Agrizzi met maandelikse kontant en hope kersgeskenke soos kos en drank omgekoop is. Verskeie amptenare in die departement korrektiewe dienste en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ook maandelikse betalings ontvang om hulle te kon aanwend ten gunste van Bosasa.

Gaan daar gevolge wees?

Die Zondo-Kommissie is nie ʼn hof nie, maar die getuienis weeg swaar. Selfs die NVG is al deurtrek van korrupsie. Baie hang af van president Ramaphosa se erns met die uitroei van korrupsie, selfs al tref dit ook sy eie ondersteuners en selfs sy familie (sy seun Andile word ook belas). Dalk is daar te veel invloedrykes betrek, wat mekaar sal beskerm. Die ANC het reeds verontwaardig op Agrizzi se getuienis gereageer en probeer sy geloofwaardigheid in twyfel trek. Hy het reeds doodsdreigemente gekry. Op die ou end sal daar waarskynlik ʼn paar amptenare as pionne opgeoffer word, terwyl die groot kanonne skootvry kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Ja, dis soos om groot sweer uit te druk. Ons almal moet dit sien en walg daarvan, diegene wat die drukwerk doen word besmet en word dalk nooit skoon gewas nie. Die seerplek gaan dalk genees maar die kiem sal nie gestop word nie – dit gaan net op ander plek begin broei.
Die kiem is korrupsie in algemeen, ANC magsvergryp in besonder.
Die drukkers is die getuies – fluitjieblasers, hulle kom met die vrotsel uit maar sal nooit die reuk daarvan afskud nie.
Die vrotsel – die korruptes gaan self niks oorkom nie – net nog meer skelm word.
As daar maar net ‘n dokter met die regte medisyne was, onsmettingsmiddel om die vrot te verteer, maar ons sit met ‘n kok – sy spesialiteit is paddaboutjies.

Anneli ·

Dit is net so Thinus, uitstekende beeldspraak! O droewe land.

Farmer Brown ·

Die Zondo-Kommissie se voorneme is om die korupsie te ondersoek, maar eintlik is dit meer ‘n advertensie vir die ANC se mag.
JZ was die hele tyd in die hof oor korupsie voordat hy President geword het , hulle stemvee respekteer net leiers wat kan wegkom met bedrog.
Ons almal is defnetief nie van dieselfde lap gesny nie.

Ampie ·

So paar klein visse sal aangekla word, want ‘n roomskerm moet voorgehou word. Geen van die korrupte politici en amptenare gaan ooit tronk toe nie. As jy anders dink leef jy in kammaland.

Basjan ·

Netso Ampie , netso! Die groot visse gaan wegkom en ‘n paar kleintjies gaan geoffer word om geloofwaardigheid aan die hele aangeleentheid te gee.

Pietman ·

‘n Kriminele oortreding volgens die wette van die land is slegs ‘n kriminele oortreding as die President en die NVG sê dis ‘n kriminele oortreding ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.