“Dit is nog nie die einde nie” – Renate Barnard

Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

Sedert die grondwethof op 2 September 2014 uitspraak gelewer het in die saak van die SA Polisiediens vs. Renate Barnard & Solidariteit het ek baie stof tot nadenke gehad.

Die eerste gedagte wat deur my kop geflits het terwyl regter Dikgang Moseneke die uitspraak gelees het, was absolute ongeloof dat ʼn volbank regters teen ons beslis en eenparig bevind het dat daar in geen stadium teen my gediskrimineer was nie en dat die nasionale polisiekommissaris regmatig opgetree het deur ʼn pos telkemale vakant te laat.

Die grootste ontnugtering wat ek ervaar het, was die harde werklikheid dat politiek bo reg en geregtigheid geseëvier het. Indien ons die hofsaak op grond van wetgewing en uitgewysde gesag verloor het, sou ek dit kon aanvaar, maar die blatante politieke oogmerke en doelstellings wat lynreg in stryd is met die gees van die Grondwet, maar hoogty vier in die uitspraak, is skokkend.

Die hele Solidariteit-regspan het my skok en ongeloof gedeel. Dit was voorwaar ʼn lae hou en alles behalwe wat ons verwag het – veral gesien in die lig van die gebalanseerde uitspraak van ʼn volbank regters in die hoogste hof van appèl in ons guns.

Die slagordes was egter gou weer opgestel (soos die media dit genoem het) en strategie is bespreek om die pad vorentoe te bepaal.

Baie mense is van mening dat ons die “ verloor” moet aanvaar en besef die “skrif is aan die muur vir wit mense in Suid Afrika”. Dit is nou diegene wat kritiek lewer oor al die geld wat aan hofsake oor regstellende aksie bestee word, diegene wat al hul kinders se enkelkaartjie na Engeland, Australië of Nieu-Seeland gekoop het, omdat daar “geen toekoms vir ons kinders in hierdie gedoemde land is nie”.

Een ding wat ek persoonlik uit die jare lange hofstryd geleer het, is die feit dat God elke mens die vermoë gegee het om uit te hou en te volhard ten einde ʼn doelwit te bereik. Ons lewe in ʼn samelewing van kitskos, mikrogolfoonde en kortpaaie en daarom het baie van ons die vermoë verloor om vas te byt, te volhard en te baklei vir dit wat die moeite werd is.

Dit is daarom van onskatbare waarde om ʼn vakbond soos Solidariteit en burgerregte-organisasies soos AfriForum en die groter Solidariteit Beweging te hê wat gewone mense se hande kan vat en sterk standpunt kan inneem teen diskriminerende praktyke wat deur die huidige regering teen minderheidsgroepe in Suid Afrika toegepas word.

Ek glo vas dat ons witmense met ʼn doel in Suid-Afrika is– of mense dit nou wil weet of nie. Die feit dat God ons voorouers meer as 350 jaar gelede na die suidpunt van hierdie kontinent gebring het en ons nog steeds hier bewaar (ten spyte van baie uitdagings) is ʼn baie duidelike aanduiding dat Hy ʼn plan het met ons, ons kinders en kleinkinders. Dit is belangrik dat ons ons nageslag moet leer om op te staan vir hul regte (op ʼn beskaafde en menswaardige wyse) en om nie moed op te gee en handdoek in te gooi nie. Ons is die enigste voorbeeld wat ons kinders het om na te volg – deur dit wat ons sê en dit wat ons doen.

Die grootste ironie nadat ons in die grondwethof ʼn bloedneus gekry het, is die onblusbare hoop wat ek en die span van Solidariteit ervaar en hierdie HOOP is beslis nie menslike hoop nie. My pa het altyd Romeine 5 vir my voorgehou wanneer ek deur baie moeilike en uitdagende tye in my lewe moes gaan. Toe ek die dag ná die hofuitspraak saam met Dirk Hermann van die kykNET-ateljee terugry Pretoria toe, het dieselfde gedeelte in die Bybel by my opgekom:

Romeine 3:3-5: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Dit is waar dat ons almal gekonfronteer word met swaarkry in hierdie wêreld (wat besaai is met onreg en diskriminasie), maar dit is ook ʼn lewenswaarheid wat ek persoonlik ontdek het dat swaarkry volharding kweek: mens moet elke dag ʼn daadwerklike keuse maak om te volhard (al lyk die “werklikheid” baie negatief en mistroostig). Volharding kweek egtheid van geloof: dit is ook só dat ons geloof moet hê in ons Hemelse Vader se Almag en Sy volmaakte plan met ons onvolmaakte mense. Geloof kweek hoop: en dit is die een ding wat ons aan die gang hou, die HOOP dat daar ʼn sinvolle toekoms is vir ons en ons kinders in hierdie pragtige land waar ons gebore en getoë is.

Dit is soos Dirk na die hofuitspraak gesê het – “HOOP IS BETER AS WEN”!!!

Ek is baie opgewonde oor die pad vorentoe en is uiters bevoorreg om deel te wees van hierdie opwindende en uitdagende reis.
Die geskiedenis word bepaal deur diegene wat dit skryf – ons kan ons eie geskiedenis dikteer deur dit wat ons doen wanneer ons met teleurstellings en uitdagings gekonfronteer word. Die keuse bly ons s’n – aanvaar die nederlaag of staan op en gebruik die regte kanale en metodes om op die langtermyn die oorwinning te behaal.

“Defeat is a state of mind. You are defeated only when you accept defeat and assume the hopeless mindset of a defeated person.” -Donald Trump
Tydens die nabetragting die aand van die uitspraak, is daar eenparig besluit om nie die nederlaag te aanvaar nie, aangesien die hele uitspraak geskoei is op politieke doelstellings en nie op wetgewing nie.

Die volgende aanhalings van Winston Churchill is my persoonlike motivering en bemoediging :

• “Never give in – never, never, never, never, in nothing great or small, large or petty, never give in except to convictions of honour and good sense. Never yield to force; never yield to the apparently overwhelming might of the enemy.”

• “Success is not final… Failure is not fatal… it’s the courage to continue that counts”

Dit is presies wat ons gaan doen – die moed van ons oortuiging hê om die goeie stryd voort te sit en die huidige toepassing van regstellende aksie onder die internasionale gemeenskap se aandag te bring. Ons is dit verskuldig aan ons voorouers, onsself, ons nageslag en ons land.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Renate Barnard

Meer oor die skrywer: Renate Barnard

Renate Barnard het vroeër vanjaar uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bedank en werk nou in die private sektor. Barnard het ‘n bekende gesig geword nadat sy en die vakbond Solidariteit die polisie hof toe gesleep het oor sy weiering om haar te bevorder weens haar velkleur.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Daniel Hoffman ·

Ek wil net baie dankie sê vir hierdie artikel! Ek gaan nou vir die 3de keer probeer om my droom as vlieënier te laat realiseer in SAL se kadetprogram (wat jou gratis opleiding van meer as n half miljoen rand bied)!

Ek was hoogs moedeloos nadat SAL weereens geweier het om enige blanke mans deur te laat, en ook geweier het om ons uitslae of redes vir ons uitlating te verskaf, maar hierdie artikel het my hoop gegee! “Dit is nog nie die einde nie!”

tim ·

Regstellende aksie moet as ‘n projek beskou word. ‘n Projek het ‘n doel en onder andere ‘n begin datum en ‘n eind datum, dit kan nie vir altyd aangaan nie.

Ek haal my hoed af vir jou en die AfriForum span en wens julle sterkte toe met die begin van die bepaling van die eind datum.

Dankie vir die hoop boodskap en sterk wees!

Oom Charles ·

Renate,

Jou voorbeeld is ‘n inspirasie. Daagliks het mense met onregverdige behandeling te doen. Dink maar aan enige plek op aarde, en jy sal dit in mindere of meerdere mate daar vind. Die vraag is alleen hoe mense daarop reageer.

Touopgooi beteken jy kon jou van die begin af die moeite gespaar het. Selfbejammering het nog niemand ooit gehelp nie. Bitterheid en bitterbekkigheid maak van die een wat dit huisves ‘n na-binne gekeerde mens wat op die lang duur net hom- of haarself (en ander in sy of haar invloedsfeer) ondermyn.

Die enigste opsie verg duidelik uithouvermoë en is tegelyk ook die moeilikste roete om in te slaan: staan rustig by jou oortuigings en doen wat reg is, ondanks die terugslae of onaangename verrassings. Assosieer met mense wat glo in vasbyt en moenie jou ore aan ander uitleen wat nie ‘n positiewe bydrae lewer nie.

Ons Hugenote-voorvaders en ander pioniers na hulle in hierdie land het nie gaan lê nie en in hulle leeftyd bydraes van onberekenbare waarde gemaak wat tot die voordeel van baie gestrek het: ook tot die voordeel van diegene wat hardkoppig weier om dit te erken.

Dis nou die beurt van elke enkele Suidafrikaner – wat ookal sy of haar velkleur of persoonlike agtergrond is – wat in reg en geregtigheid glo, om hulle voorbeeld eer aan te doen.

Voorspoed vorentoe, Renate. Daar is baie wat jou voorbeeld sien en vir jou bid.

david ras ·

Renate, ek het net die grootste denkbare simpatie met jou. Jou stryd is eintlik die stryd van al die wit en bruin jongmense in S.A..
Ekself veg al sedert 1994 in die media oor hierdie saak, want ek het kinders en kleinkinders wie se toekoms vir my uiters belangrik is.
In jou artikel verskyn daar een sin wat my bekommer:…”die huidige TOEPASSING van regstellende aksie onder die internasionale gemeenskap se aandag te bring.”

Dit is vir my die kern van die saak—julle (Solidariteit) erken hierdeur die BESTAANSREG van die stelsel, maar maak beswaar teen die gevolge daarvan.
My beswaar sedert 1994 is steeds dat regstellende aksie niks minder is as MINDERHEIDSONDERDRUKKING is nie, en dit op sigself is weer ‘n oortreding van die VN se handves.

Wat Solidariteit eintlik doen , is soos om pleisters op ‘n sweer te plak,om die simptome te verlig, in plaas van die sweer uit te sny. Anders gestel–julle wen die veldslae , maar verloor die oorlog.

As julle werklik wil wen, is dit noodsaaklik om Regstellende Aksie op die vlak van menseregte skending te plaas en daarvandaan aan te val.

Daar word vertel dat tydens die Oorgawe van die Boeremagte by Vereeniging ‘n vegslustige generaal de Wet vir Genl, De la Rey gese het: “ek sal veg tot die bitter einde toe…”waarop genl. De la Rey geantwoord het–“DIT is die bitter einde Chrisjan!”

As Solidariteit nie vining van taktiek verander nie, gaan ons voor dieselfde einde staan.
Mag die VADER ons daarvan behoed.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.