Dit was nét ’n toespraak … en dit moet ons ontstel

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas.

Ja, daar is ’n wêreldwye pandemie. Ja, ’n nasionale ramptoestand is afgekondig. Maar moet dit ons grondwetlike regte aantas? Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê gewone Suid-Afrikaners moet besef ons demokrasie is op dun ys wanneer die land deur middel van toesprake geregeer word.

Die paar kostelike grappies op sosiale media het vinnig opgedroog toe die realiteit van president Cyril Ramaphosa se toespraak van Donderdagaand insink: Openbare skole is weer vir vier weke gesluit. Dit beteken daar was vir ’n graad 1-leerder, wat hierdie jaar moet leer lees, skryf en somme maak, nog net nege weke se onderrig in 2020. Dit is 45 dae, wat die eerste skooldag en die eerste atletiekdag insluit! Dít moet ons almal ontstel.

Dit moet ons ook ontstel dat daar steeds skole is wat sedert 18 Maart nog glad nie oopgemaak het nie of waar daar steeds onvoldoende beskermende klere, ontsmettingsmiddels of selfs lopende water is. Dankie tog vir ’n hofuitspraak wat die staat dwing om vir 9,4 miljoen kinders weer daagliks ’n maaltyd by die skool te gee. En ons moet toegee dat daar skole, onderwysers en kinders (lees: ook ouers) is wat nou al vir 15 weke sonder enige blaaskans afstandsonderrig doen. Hulle verdien ’n blaaskansie en die verwagte twee weke sou ruim gewees het.

Ons moet ontsteld wees wanneer politici openbare skole aftakel na staatskole (Suid-Afrika het géén staatskole nie) en gemeenskappe die reg ontsê om self besluite te kan neem oor wat binne elke skool en gemeenskap se konteks die beste vir elke kind sal wees.

Dit moet ons ontstel dat vyf vakbonde, wat tussen hulle sowat 330 000 lede verteenwoordig, dit regkry om die regering sy rug te laat draai op die land se meer as 12 miljoen skoolkinders. Die Grondwet bepaal immers dat ’n kind se beste belang deurslaggewend moet wees in elke aangeleentheid wat die kind raak. Die wetenskap en realiteit skreeu teen die besluit om skole weer te sluit. Die rasionaliteit en redelikheid van die besluit is steeds onduidelik uit die een en ’n halwe bladsy oor onderwys uit die sewe bladsye van die toespraak.

Maar dit is wat dit is: dit was net ’n toespraak.

Ons staan steeds onder die bepalings van die Rampbestuurswet en die regulasies wat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake afkondig. Hierdie regulasies maak voorsiening dat die minister van basiese onderwys direktiewe mag uitvaardig vir die onderwyssektor. Daar is inderdaad ’n stel direktiewe afgekondig en gewysig, en ’n gewysigde skoolkalender is ook ooreenkomstig wetgewing gepubliseer. Geen van die president se onlangse drastiese bepalings – soos om skole vir ’n maand te sluit, nuwe datums te bepaal of duidelikheid oor die akademiese jaar te gee – is iewers in wetgewing vervat nie.

Dit was net ’n toespraak.

Tog is daar nou ’n geskarrel in 23 076 openbare skole om te voldoen aan die president se bepalings. Dit wil-wil herinner aan ’n tyd toe ’n sekere vingerswaaiende staatspresident ook van podiums af die land regeer het. Suid-Afrika het in 1994 weggestap van daardie stelsel af en ons leef nou onder ’n demokratiese bedeling waarin die oppergesag van die reg erken en eerbiedig moet word. Die Grondwet is die grondslag van hierdie stelsel en die Grondwethof ’n baken wat rigting gee, soos in die Grondwethof se uitspraak in Fedsure Life Assurance Ltd v Greater Johannesburg Transitional Metropolitan Council waarin die hof die volgende opmerk oor legaliteit:

“It seems central to the conception of our constitutional order that the Legislature and Executive in every sphere are constrained by the principle that they may exercise no power and perform no function beyond that conferred upon them by law.”

Natuurlik het die staat die mag om sodanige wet of regulasie af te kondig, maar dan moet dit gebeur. Daar is geen nuwe regulasie of direktiewe vir skole afgekondig nie, daar is geen gewysigde skoolkalender opgestel en in die Staatskoerant gepubliseer nie, daar is nie oral opdragte van werkgewers (die onderwyshoofde van die nege provinsiale onderwysdepartemente) aan werknemers gegee nie. Almal spring oor ’n toespraak…

Waar is die Grondwet en die oppergesag van die reg?  Waar is die regulasie en direktiewe as regsbasis vir aksie? Die Britse politikus Edmund Burke het gesê: “The only thing necessary for the triumph of evil is for good men to do nothing.”

Gewone mense mag nie nou stilbly nie… Ons samelewing is op dun ys en dit bedreig ons diepste grondwetlike wese, ons demokrasie en ons vryheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Jaco, ek dien op 2 BL’s. My probleem is dat ouers die media glo meer as regulasies soos die wet vereis.
Hou ons die skole oop aangesien CR se woord nog nie wet is nie, en ons almal weet sy woord is nie goed genoeg nie, en die regulasies word gepubliseer, dan moet ons weer toe maak. Dit skep vals hoop.
Ek dink die DBE doen dit met opset, en ons is bietjie te bang om op te tree, want sien gaan iets verkeerd het ons geen beskerming van die BDE af nie. Die DBE, in my opinie, wag vir die volgende stap van skole af, of om die unies, of om die skole verkeerd te bewys. Solank soos ons niks doen nie, gaan niks gebeur nie. Ons het al beide skole waar ek betrokke is gereed gemaak om weer 11 Augustus voluit te begin, in awesigheid van die “nuwe” regulasies. Ouers wat nie hulle kinders wil skool toe stuur nie, mag hulle tuis laat bly en is onder geen verpligting nie.

Michael ·

Hy doen dit want hy weet die meerderheid burgers het laat blyk hulle vertrou die kommunistiese regime. Jy hoop op goeie mense om iets te doen sla net dit bly hoop. Die meerderheid het nou oor ongeveer 5 maande getoon hulle is tevrede met hoe dinge gebeur en die regime weet dit. Volle Kommunisme is oppad en niemand gaan dit keer nie-die trane van die sheeple gaan nog in die strate afvloei.

Nell ·

Wel al wat ek wil sê is dat daardie ”vinger swaaiende” president van weleer waarna in die berig verwys word toe al gewaarsku het oor die kommuniste op ons voorstoep. Dit is spottendergewys afgemaak as sou daar ‘n kommunis agter elke bos geskuil het.
En nou…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.