Dit woel in Afrika vroeg in die jaar

afrika-vasteland-aardbol-kaart-kleur

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Hier is ‘n opsomming van die belangrikste nuusgebeure in die vasteland in Januarie:

DRK:

Omstrede verkiesing van nuwe president. Die presidentsverkiesing in die enorme en onstabiele Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) was tussen 3 kandidate: die kandidaat van die regerende party en vertroueling van die uittredende president Joseph Kabila, Emanuel Shadari, en die twee opposisiekandidate Felix Tshisekedi en Martin Fayulu. Alhoewel daar talle aanduidings is dat mnr. Fayulu die meeste stemme gekry het, het die amptelike uitslag mnr. Tshisekedi as wenner aangewys. Hy is intussen ook as president ingehuldig nadat mnr. Fayulu se beswaar by die grondwetlike hof teen die uitslag afgewys is. (die onderwerp is in meer besonderhede reeds behandel in die artikel getiteld ‘Verkiesing in die Demokratiese Republiek van die Kongo’ op Maroela Media.)

Zimbabwe:

Geweld oor brandstofpryse. Ná ʼn drastiese verhoging in die brandstofpryse, wat ook die pryse vir basiese lewensmiddele raak, het mense betoog en slaags geraak met die veiligheidsmagte, wat met uiterste brutaliteit optree. Van die nuwe president Emmerson Mnangagwa se belofte van ʼn nuwe era vir Zimbabwe en ekonomiese ontwikkeling het daar niks gekom nie. Dit lyk alles na meer van dieselfde.

Soedan – Proteste teen diktator Omar al-Basjir

Sedert Desember verlede jaar is daar gereelde en soms gewelddadige proteste teen die regering van diktator Omar al-Basjir. Dit het begin as protes teen verhoogde brood- en brandstofpryse in die noorde van die land, maar het intussen uitgekring en gaan oor die algemeen teen die Islamitiese bewind van al-Basjir, wat nou al 30 jaar duur. Meer as 30 mense is reeds doodgeskiet deur veiligheidsmagte, wat die proteste probeer onderdruk.

Kenia – Islamitiese bomaanvalle

Die Islamitiese terreurgroep Al-Sjabaab, wat dele van Somalië beheer, het ʼn bloedige aanval op ʼn luukse hotel in die Keniaanse hoofstad Nairobi uitgevoer. Altesaam 21 mense is dood, meestal Keniane, maar ook Westerse toeriste. Die hotel is vir amper ʼn dag deur die terroriste beset en daarna deur die veiligheidsmagte bevry. Alle terroriste is doodgeskiet. Keniaanse soldate is deel van internasionale magte wat probeer om Somalië te stabiliseer en wat deur Al-Sjabaab verskeie kere reeds aangeval is.

Ivoorkus:

Voormalige leier Laurent Gbagbo vrygespreek by Internasionale Strafhof. Die voormalige president van die Ivoorkus, Laurent Gbagbo, is 7 jaar gelede in hegtenis geneem en na die Internasionale Strafhof gebring om daar aangekla te word vir misdade teen die mensdom. Die hof het nou bevind so ʼn gewigtige klagte is ongegrond en Gbagbo en ʼn medebeskuldigde, eksminister Charles Goudé, is vygespreek van die aanklagte. Die klag teen Gbagbo gaan terug na die verkiesing in 2010, wat Gbagbo teen sy teenstander Alassane Ouattara, verloor het, maar geweier het om sy pos te verlaat. Sy ondersteuners het tot ʼn burgeroorlog oorgegaan om die magsoorname te verhoed. Sowat 3 000 mense is daarin dood en Gbagbo is uiteindelik uit sy pos verdryf. Gbagbo is ʼn man uit die Suide en ʼn Christen, terwyl Ouattara uit die Noorde en ʼn Moslem is, sodat die burgeroorlog ook ʼn godsdienstige en etniese dimensie gehad het. Die vryspraak van Gbagbo hou die moontlikheid in dat hy weer as presidentskandidaat in 2020 staan, en daarmee saam die gevaar van ʼn hernude burgeroorlog.

Nigerië:

In die Afrikaland met die grootste bevolking en die grootste oliebronne, Nigerië, vind volgende maand (Februarie) die presidentsverkiesing plaas. President Muhammadu Buhari van die All Progressives Congress (APC) staan weer. Hy is tans in sy eerste termyn as demokraties verkose president (in 2015), maar hy was al in die 1980’s die leier van Nigerië toe hy deur middel van ʼn militêre staatsgreep aan bewind gekom het. Buhari is al oud en daar is vrae oor sy gesondheid. Onlangs het hy die land se hoofregter Walther Onnoghen afgedank weens bewerings dat Onnoghen nie sy bates verklaar het nie. Die opposisie sien dit egter as ʼn aanslag op die demokrasie omdat die hoofregter ook dispute oor die uitslag van die verkiesing moet ondersoek. Die hoofopposisieparty Peoples Democratic Party (PDP) het uit protes teen die afdanking sy verkiesingsveldtog vir 3 dae onderbreek. Nigerië is ʼn baie diverse land wat etnisiteit en godsdiens betref en Moslems van die noorde en Christene van die suide ding met elke verkiesing om die mag mee. Buhari is ʼn Moslem van die noordelike deel, sy voorganger Goodluck Jonathan ʼn Christen van die suidelike deel. Die grootste uitdaging vir die land is die Boko Haram-insurgensie in die noordooste van die land, maar ook korrupsie is ʼn permanente probleem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jerry ·

In SA word te veel mense vermoor en vir ewig die stilswye opgele. Ek sou SA ook nie gelys het nie omrede die oorledenes, indien hulle sou kon praat, niks goeds te se sal he oor wat in SA aangaan nie.

Sebastiaan ·

Aangesien ons on Suid-Afrika is en hier elke dag hope artikels oor gebeure in Suid-Afrika is, was die bedoeling om ‘n artikel oor Afrika noord van die Limpopo te skryf.

Gert ·

Ten minste kan ons sien ons is nie uniek nie, die hele Afrika lyk presies dieselfde.

De Villiers ·

Noudat ek lees oor Soedan het ek gewonder wat toe geword het met ons betrokke regeringsamptenare wat geweier het om vir Omar al-Basjir in 2015 te arresteer nadat die Internasionale Kriminele Hof opdrag daarvoor gegee het toe hy op besoek in die RSA was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.